Sport as kuns: die miniatuurfiguur op die doek van Werner Bronkhorst

Sport as kuns: die miniatuurfiguur op die doek van Werner Bronkhorst

Alle foto’s met vergunning van wernerbronkhorst.com

Wonderkind uit Pretoria in Sydney, Seoel, Dubai, Berlyn, New York, Londen, Los Angeles …

Werner Bronkhorst het drie goed onder die knie: spoed, sport en ’n kop vir besigheid – en hy pas dit uiters effektief toe as ’n moerse suksesvolle kunstenaar. Dan is die 25-jarige kunstenaar nog ’n pa van twee en ’n family man: ’n rooskleurige Country Road-droom in Sydney. Let wel, dié jong kunstenaar wat die wêreld met sy kuns platreis, is eintlik Suid-Afrikaans; met sy verloofde Charli Te Puia aan sy sy en ’n hele span medewerkers wat by elke vlak van sy fassinerende finansiële sukses betrokke is (meer daaroor later). Hoe bestudeer mens hierdie veelsydige siel uit Pretoria se kuns sonder ’n tikkie jaloesie?

Sy sukses is werklik besonders. Met bykans 2 miljoen volgelinge op Instagram en amper ’n miljoen op TikTok, het die algoritme sy werk waarskynlik al op jou pad gestuur. Vroeg in sy twintigs het Bronkhorst reeds ’n retrospektiewe uitstalling The whole world’s a canvas in Suid-Korea gehad wat meer as 100 van sy werke vertoon het. Met agt en counting kunsversamelings agter die rug, is hy een van die produktiefste kunstenaars waarvan ek weet. Sy gesig was onlangs op die voorblad van Harper’s Bazaar Arabia en hy is op die Forbes-30 onder 30-lys om dop te hou (in die kunstekategorie) – maar dinge was nie altyd so rooskleurig soos sy palet nie.

The whole world’s a canvas wat in Seoel en Busan uitgestal word

HUMBLE GROOTWORDJARE SAAM MET KEITH HARING

In ’n onderhoud met MADE IN BED noem Werner dat hy van kleins af deur popkuns beïnvloed is:

Popkuns is iets wat my van kleins af aangegryp het. Ek was mal oor die kleur, die eenvoud en die idees daaragter. Of dit nou Keith Haring se werk was wat die status quo ondersoek en uitgedaag het, of Andy Warhol se werk wat eintlik maar herhaling op herhaling was, maar op so ’n mooi manier en op ’n manier wat ek gekritiseer het, maar wat ons as samelewing weerspieël het. Dit is waarvan ek as kind gehou het, en waarvan ek vandag nog hou. En dit is presies wat ek probeer doen. (my vertaling)

Volgens wat ek op sy Instagram-profiel en uit verskeie ander aanlyn onderhoude wys raak, kom hy uit ’n “lower middle class family” wat sy talent raakgesien en gekoester het. Vandat hy ’n kind was, het hy op elke oppervlak en toestel in sy kamer geskilder. Op hoërskool was Keith Haring sy ultimate hero en hy is nog sy hele lewe lank ’n toegewyde kunstenaar. Ek sukkel wel om te glo dat hy van ’n humble agtergrond kom (niemand uit my verwysingsraamwerk gaan na een van die mees gesogte seunskole en toer alleen na 11 verskillende lande voordat hulle 17 word nie), maar ongeag hoe dik of dun die pap aangemaak word wat sy agtergrond aanbetref, is een ding duidelik: As dit pap reën, moet jy skep.

Wat veronderstel was om net ’n gewone gap year in Sydney te wees, het vir die voormalige Pretoria Boys High-knaap uitgedraai op ’n gap life groter as wat die meeste mense van kan droom. Covid het onverwags opgedaag; toe ontmoet hy vir Charli op ’n treinstasie en weet hy, hy kom nooit weer huis toe nie. Hulle het enigiets gedoen om aan die lewe te bly. Werner het plastiekbottels herwin, blare opgeraap, murals geverf en uiteindelik meubels begin maak. Toe die twee ontdek hulle verwag hul eerste dogtertjie op 20, het sy kuns ’n ander rigting ingeslaan. Alhoewel Charli nie van ’n kunsagtergrond kom nie, het sy verstaan wat kuns vir Werner beteken, en was sy boonop business savvy. Sy het voorgestel dat Werner ’n konseptuele reeks meubels ontwerp, wat byna onmiddellik op groot aanvraag was. In ’n onderhoud op NYOTA vertel hy:

Toe ek uitgevind het Charli is swanger met Florence, het dit my perspektief heeltemal verskuif, nie net oor die lewe nie, maar ook oor my kuns. Dit was die oomblik dat ek besluit het om doelgerig te skep, om my passie in iets te verander wat ek kon deel en verkoop. (my vertaling)

Met die oorskot van die meubelstukke het hy kunswerke begin maak. Nooit het hy verwag dat sy eerste versameling soveel traksie sou kry op TikTok en Instagram nie. Die versameling (genaamd The white stripes op Instagram, maar White lines op sy webtuiste) het binne twee minute uitverkoop. Hy is intussen twee keer gedagvaar deur kunstenaars wat daarop aanspraak gemaak het dat hy hul verftegniek “gesteel” het (wat nogal geniepsig is, as jy my vra). Sy tweede versameling The strokes het net so spoedig uitverkoop, asook sy derde versameling The streets. 

Binne die kort tydperk waarin hy hom as kunstenaar aan die wêreld bekend gestel het, het hy ’n indrukwekkende oeuvre geskep. Aanlyn het sy werk vinnig momentum opgetel; ek vermoed omdat dit so tasbaar is, selfs op ’n skerm. Dis bevredigend om te kyk hoe hy sy kwas doop in dik, helderkleurige verf en die doeke daarmee smeer, en dit dan weer met ’n paletmes bewerk.

SKEP EN SPEEL OM TE WEN

Vandag het Werner en Charli twee jong kinders, ’n hele span wat saam met hulle werk en talle reusehandelsmerke op sy collaboration-kerfstok – Porsche, Hypebeast, F1, Red Bull en Horsefeathers. Op Instagram pryk foto’s van hom saam met Ed Sheeran, Martin Garrix en Lando Norris. Verlede jaar het hy as residentkunstenaar opgetree by Wimbledon in Londen en was hy in Singapoer vir World Aquatics – maar dis veral sy samewerking met Malbon Golf wat mense se aandag getrek het. Toe Werner op Stephen en Erica Malbon se radar beland, het hulle hom genader om ’n enorme samewerkingsprojek met Malbon Golf aan te pak, net voor die Ryder Cup, met ’n bekendstelling by Malbon se SoHo-winkel. Die Golf is art-uitstalling bestaan uit agt oorspronklike kunswerke, drie limited edition-drukwerke wat slegs binne die winkel beskikbaar is, en ’n versameling van co-branded klere-items. 

Volgens wat ek aflei, gebruik Werner Instagram as sy hoofinstrument om sulke handelsmerksamewerkings te bewerkstellig, waar hy die hele proses noukeurig dokumenteer. Sy praktyk wissel sodoende op ’n interessante manier tussen beeldende kuns, kommersiële kultuur en die visuele ekosisteem van moderne sport. Dit is duidelik dat hy uit die staanspoor sy kuns as ’n sport benader en beoefen het en dat hy speel om te wen. Hy het byvoorbeeld van die begin af ’n ateljee gehuur (eers ’n enkelmotorhuis) en werk nou vanuit ’n enorme warehouse studio, The Lab, in Sydney. Sy proses begin gewoonlik op sy iPhone, waarop hy vinnige sketse maak wanneer hy begeester voel, wat dan gedokumenteer word in notaboeke.

Werner en Charli het iets uitgefigure wat die meeste mense ’n leeftyd neem, indien hulle ooit so gelukkig is: om te skep met ’n doel. Terwyl die lewe rof is daarbuite, bied Werner se sprokie ’n klein oase vir jou amigdala – die hoop dat harde werk wel vir jou ’n luukse lewe as kunstenaar kan bied. Werner het die kapitalistiese kern van popkuns skaamteloos vervolmaak. Alles in sy ateljee word in ’n produk omskep. Daar is authenticity-sertifikate wat in aluminiumomhulsels afgelewer word. Elke uitstalling kom met merch. Jy kan ook kleuterklere by hulle koop.

Met die feit dat sy werk so spoedig uitverkoop, betaal jy omtrent R100 000 vir ’n limited edition-drukwerk van ’n seiljagbootjie. Kyk bietjie hier na van sy pryse. And let it sink in.

Dat sy werk so hoog in aanvraag is, spreek van mense se diep behoefte om weg te breek uit die wêreld waardeur ons oorweldig word, en van die eenvoud waarna mense streef. Een van die bepalende kenmerke van sy sukses is immers sy aanpasbaarheid en gewilligheid om nuwe gereedskap en platforms, veral sosiale media, te omhels.

Board meeting, 2023

Swell day, 2023

White lines-uitstalling in Sydney, 2023

SPORT AS LEEF- EN KUNSSTYL

Vanuit ’n kunshistoriese perspektief, kan Werner se werk beskou word as ’n heraktivering van landskapskilderkuns binne ’n post-digitale, post-Instagram- visuele ekonomie. Die landskap is nie meer romanties of nasionalisties nie, maar funksioneer as ’n verhoog vir sport en spel. Kommersialisme is nie ’n byproduk van sy sukses nie, maar ’n strukturele deel van sy praktyk; sy talle (luukse) brand deals wys hoe sy werk ingebed is in die visuele taal van aspirasie.

Vir iemand wat met soveel erns optree, skep sy werk tog die indruk dat dit moeiteloos ontvou. Dit is toeganklik, speels, manlik en verwyderd van die euwels van die wêreld. Hy vang ’n stemming van sy sorgelose bestaan in Sydney vas op sy droomtaferele: Dik poeierblou kwashale word golwend oor mekaar aangewend om ’n see van sonnige dae te skilder vir sy miniatuursportfigure wat daarin dryf. Die figure is surfers, duikers, swemmers, leeglêers en mense wat hulleself verlustig in dekadente sportsoorte. Hy gebruik duursame kunsmateriaal om die vlietende genot van sy figure te verewig.

Met ’n oog vir die liggaamlike inspanning van ’n atleet, fokus hy daarop om die fyn besonderhede van beweging weer te gee met piepklein kwashale, om miniatuur- hiperrealistiese figure te skilder op ’n dik teksturele agtergrond. Die magnetisme van sy doeke lê in die eenvoud van sy komposisies; dis ritmies, byna altyd simmetries, met ’n haptiese kwaliteit wat sensueel bevredigend is om na te kyk. Sy palet hou by ’n streng kode van skakerings met elke versameling waaraan hy werk. 

In sy werk is daar geen herinnering aan geweld of oorloë te bespeur nie. Opvallend is die individu op elke doek wat bloot besig is om uiting te gee aan sy fisieke krag in die water, op die sportveld, ’n boot, of in ’n sportmotor. Sydney se luukse laissez-faire-lewensuitkyk word weerspieël in die figure wat behaaglik deur die enorme ruimtes tuimel waarin hulle sonder grense dryf. Sy werk herinner my aan David Hockney en bestaan uit ’n see van swembaddens, bote en ontspanning met die S-vormige kurwes waarmee Hockney so vry omgaan. Alhoewel daar ander Suid-Afrikaanse kunstenaars is wat ook met miniatuurfigure verbind word, soos Lorraine Loots, word die styl byna primêr aan Werner toegeskryf weens die enorme finansiële sukses wat hy daarmee behaal het.

Uit die 911 what’s your emergency-uitstalling, 2024

Van naby lyk die figure effens styf en houterig, omdat hulle so strak op die groot oppervlak geplaas word – byna soos ’n strokiesprent – aangesien daar dikwels geen skadu is om die figure in die agtergrond te laat wegsmelt nie. Die minimalistiese aard van sy werk is selfs teenwoordig in sy los lapbroeke en Crocs waarmee hy oor sy ateljee se blinkgepoleerde vloer swiep. Mens kan byna die sweet op sy voorkop ruik. Die totaliteit van die beeld wat hy skep, is dié van ’n jong kunstenaar wat sonder skroom homself lewenslustig oorgee aan elke aspek van die lewe: baba-op-die-heup en kwas-in-die-hand. Die fisieke aard waarmee hy sy verf aanwend, word dus ook ’n sport. Uiters effektief, sportief en produktief.

Werner moedig ander kunstenaars aan om hul werk op Instagram te deel en meer betrokke te raak by die kunswêreld op jou skerm. (Kyk byvoorbeeld hier en hier na ander kunstenaars wat deur sy styl geïnspireer is.)

Sy sukses dui daarop dat daar ’n jonger gehoor is wat in kuns belangstel, but they want it packaged: broek-canvas-en-baadjie, en dat groot handelsmerke kuns as aas gebruik om hierdie teikenmark te bereik. Kykers en verbruikers is lus vir iets lekker visueels waarin hulle kan ontsnap, maar tog meer gebonde voel; net soos sport. 

Die totaliteit van die beeld wat hy skep, is dié van ’n jong kunstenaar wat sonder skroom homself lewenslustig oorgee aan elke aspek van die lewe: baba-op-die-heup en kwas-in-die-hand. Die fisieke aard waarmee hy sy verf aanwend, word dus ook ’n sport. Uiters effektief, sportief en produktief.
— Celeste Theron

Forbidden grass-uitstalling in Londen, 2024

Stay in your lane, 2025

Feeling free, 2025

Werner, Charli en span by die Wet-uitstalling in Sydney, 2025

Top shot, 2025

Get served, 2025

Singles-uitstalling in Londen, 2025

The pilgrimage, 2025

Hot shots, 2025

Six of the best, 2025

Crack-uitstalling in Dubai, 2025

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Sport as kuns: die miniatuurfiguur op die doek van Werner Bronkhorst gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand