Verstom oor Die stomme aarde

Hemelliggaam: Aarde. Houtskool en gemengde media op argiefpapier
Henk Serfontein se kuns omhels 'n meelewende omgee vir die omgewing
’n Doodse stilte sak oor die nuuskierige skare toe Henk Serfontein en Hannah Loewenthal verskyn op die maat van Max Richter se ‘Recomposed: Vivaldi – Four Seasons’ en sonder waarskuwing met hulle meditasie wegspring. Daar is ’n magnetisme in die manier waarop hulle mekaar dra deur die oerlandskap wat die performance skets, met lyne wat gedans word en ’n dans wat geteken word. Soms is die lading gewigtig waarmee hulle wals oor die papier, ander kere is dit vry en beweeglik. Wat wel uitstaan, is die ingesteldheid op die geringste emosionele gebaar waarmee hulle toegewing en ondersteuning bied.
Af en toe knipper Henk sy oë blitsig wanneer hy fokus, maar hy en Hannah verbreek selde oogkontak. Sy abba sy visuele verlossing, byna soos ’n ma. By tye is sy handgebare weerbarstig met kort krapperige merke wat hy op ’n uitgerolde papier weergee, wat as doek dien teen die galery se muur. Dan is daar weer langsame grasieuse hale in die houtskool-dans. Lieflik. Verleidelik. Maar daar vind ook ’n katarsis plaas. Hulle ontvang en weerkaats mekaar se gevoelens met deernis en respek.
Vir 45 minute is ek vasgenael op hulle vlietende bewegings. Drie mense staan op en loop uit, maar ek verroer nie ’n ooglid waar ek op die vloer sit in die boonste kamer van die HUB-galery in Kaapstad nie.
Aardmoeder is ’n eksperimentele uitvoering wat deel uitmaak van Henk se kunsuitstalling Die stomme aarde, wat deur die ekogesinde poësie van Wilma Stockenström geïnspireer is. Die uitstalling en performance het vroeër vanjaar by die KKNK gedebuteer, waar Henk as die feeskunstenaar vir 2025 gekies is. Die stomme aarde was daar deel van die fees se visuele kunste-aanbieding met die titel Diepe grond, met Liza Grobler as kurator.
Henk loop al ’n lang pad saam met Wilma Stockenström. In 2018 is hy by die Fiëstas bekroon vir beste visuele kunsaanbieding vir sy uitstalling WINTERSLAAP, waar hy intieme oomblikke van Wilma Stockenström in houtskool vasgevang het.
Dit is nie die eerste keer dat ek Henk en Hannah teëkom nie. Met my eerste poging om Aardmoeder te sien by die KKNK, was ek laat vir die optrede. Ek was net betyds om te sien hoe Henk en Hannah die houtskool van mekaar afstof op die verhoog van die St Jude’s Anglikaanse Kerk in Oudtshoorn. Dié keer het ek byna dieselfde lot oorgekom – nadat ek van Swellendam af Kaap toe gejaag het, het ek my karsleutels in my kattebak toegesluit en ek moes ’n locksmith soebat om my te kom help sodat ek die optrede nie weer misloop nie.
Ná die performance van Aardmoeder in Oudtshoorn, het die skraal sonlig wat die kerkvensters geval het, ’n intieme atmosfeer geskep wat alles versag het toe Henk bedees na vore tree om homself bekend te stel. Met sy kaal voete plat op die aarde en sy gesig besmeer met roet, stel hy my voor aan Hannah met die hoë wangbene in haar gitswart gewaad.
Voor ons begin gesels, vind ek eers my pad alleen deur sy kuns wat in die kerk uitgestal is. Elke houtskoolmerk word versigtig bekyk. Uit poeierige hale wat byna deursigtig oormekaar vloei, bou hy deurdagte diepte in sy werk. Ek kan sien waar sy gewrig swaar gelaai was met emosie waar die swart pigment van die houtskool dieper deur die papier penetreer. Sy houtskoolsketse bestaan uit ontwortelde botaniese tekeninge wat dryf in die lug, ’n reeks klipgedigte met die titel Klipspraak en houtskooltekeninge van planete. Sy sketse is hiperrealisties en analities en met uiterse bekwaamheid benader. Swart op wit. Tel plante en planete nog as stillewes? Dit is stil. Iets lewe.
“Sy sketse is hiperrealisties en analities en met uiterse bekwaamheid benader. Swart op wit. Tel plante en planete nog as stillewes? Dit is stil. Iets lewe.”
Klipspraak V: Almoeder. Houtskool en gemengde media op argiefpapier
Klipspraak VI: Die klip. Houtskool en gemengde media op argiefpapier
Daar is ’n uittreksel van Stockenström se gedig ‘Die stomme aarde’ by die uitstalling se ingang:
Walms niks. En ons het gemeen die voorvaders
sal met hulle grondmonde met ons praat,
rookwoorde vir die onvolkome tolke.
Die klipskeure, buite bereik van die dag
se goudlig, was ouvrousplete, dooie
ingange, verskrompeld agter vyeboomwortels
se lykwitgreep. Die slote, vertrek van pyn,
die knersvlaktes, die brulsand het stilgebly
en gehoed en die stemme van ons voorgeslag
het dieper in die grond se maag gesak.
Stockenström skryf met woorde wat wemel en herinner aan ’n menslike liggaam: Ek sien die verrimpelde fyn plooie van die aarde wat strek oor Henk se enorme papier. Soms raak sy lyne heeltemal weg en ander kere kom dit sterker na vore om vorm te verskaf of sekere lyne te beklemtoon. Die weefsel van die wortels kom lewendig voor. Die ontwortelde botaniese liggaam lyk soos ’n orgaan wat sweef in sy eie sonnestelsel. Elke ontwortelde plantliggaam is omhul in ’n swart nag. Plant of orgaan, wonder ek wanneer ek die membrane van nader beskou.
In haar proefskrif, Wilma Stockenström as digter van die donker ekologie (2021: III), beskryf Alettie van den Heever haar as volg: “[S]y basuin die onsêbaarheid van die aarde uit, terwyl sy aanhou om stamelend en selfspottend stem te gee aan die ononthulbare surplus van syn en betekenis.” Sy benader Stockenström deur Timothy Morton se raamwerk van literêre ekologie. Die eerste boek waarin daar eksplisiet op “literêre ekologie” gefokus is, het reeds in 1974 verskyn, skryf van den Heever. Joseph Meeker se The comedy of survival: studies in literary ecology stel die term literêre ekologie voor om te verwys na die studie van biologiese temas en verhoudings wat in literêre werke uitgebeeld word. Dit is waaraan ek dink terwyl ek my aan Henk se sketse verwonder.
Sy fyn waarnemingsvermoë en bemoeienis met elke houtskoolskets omhels ’n meelewende omgee vir die omgewing. Nes Stockenström, is hy ’n mens sonder pretensie met ’n hunkering na ’n groter eenheid tussen mens en natuur. Elke botaniese element word byna op ’n mikroskopiese vlak weergegee en opgeblaas. Hy probeer nie enige iemand hier van enigiets oortuig nie. Sy werk weerkaats ’n heelheid tussen plante, planete en mense.
Nadat ek deur die kunsuitstalling gestap het, het ek, Henk en Hannah bloots teenoor mekaar op die kerkverhoog gaan sit. Henk verduidelik hulle proses breedvoerig, terwyl Hannah hom aandagtig dophou met haar kop op haar knieë. Hannah was Henk se buurvrou, en toevallig ’n fantastiese danser. Dis daar oor hulle heining waar hulle eendag besluit het om hulle kragte saam te snoer en ’n gemeenskapsprojek van hoop te stig vir ’n groep kinders van Huis Andrew Murray in Wellington met spesiale behoeftes. Die Bloekomboom-projek is gebore in samewerking met ’n kindersielkundige om dans met tekenkuns in slypskole vir kinders van 6 tot 12 jaar oud te kombineer. Henk en Hannah bestuur die projek al vir ses jaar saam met dieselfde groep kinders.
Ná jare wat hulle so na aan mekaar gewerk het, was die tyd ryp vir iets nuuts. Henk kon sy versigtige handgebare in houtskool toevertrou in Hannah se lewendige arms. ’n Dans is geskep uit roet.
Vergetelheid, wat ’n mooi woord om te sê alles gaan verby, dink ek toe ek verby die houtskoolhale en tatoeëermerke na die ander letsels op Henk se liggaam kyk, en skaam van my eie wonde bewus word. Henk vertel hoe hy beide sy ouers versorg het tot hy hulle moes afstaan aan die dood. Sy stemtoon is sag en meesleurend soos ’n stroom water wat uit ’n diep kuil van die aarde ons bestaan bevraagteken. Terwyl hy praat, kyk Hannah soms op om iets te beaam.
Terwyl ons so sit, sien ek ’n sensitiwiteit in hom raak. Ek sien dit in die vog wat opdam in sy oë en merk die glinster in Hannah se toegespitse blik. Voor ons weer sien, sit ons al drie en huil op die vloer vir geen spesifieke rede nie.
“Dit het nog nooit met my in ’n onderhoud gebeur nie,” het Henk sy skouers opgehaal.
Vir ’n oomblik het ek oorweeg om die onderhoud te stop en ons trane af te lag, maar toe besluit ons drie, net daar, om daai oomblik te aanvaar vir wat dit is. Ek het so ontbloot gevoel terwyl ek na Henk geluister het, omdat ek die heeltyd binne my vir hom wou sê I get it: Elke kunswerk is ’n klein huldeblyk van wat dit verg om te leef, en dit verg baie, daarvan getuig elke fyn lyn wat Henk uitlig. Dis waarom Henk so moeisaam en bedag met houtskool omgaan. Sy werke leef weens sy aanvoeling vir hierdie aarde se kwesbaarheid.
“Ek het so ontbloot gevoel terwyl ek na Henk geluister het, omdat ek die heeltyd binne my vir hom wou sê I get it: Elke kunswerk is ’n klein huldeblyk van wat dit verg om te leef, en dit verg baie, daarvan getuig elke fyn lyn wat Henk uitlig. Dis waarom Henk so moeisaam en bedag met houtskool omgaan. Sy werke leef weens sy aanvoeling vir hierdie aarde se kwesbaarheid.”
Toe ek nou weer die geleentheid kry om Aardmoeder in Kaapstad te sien, waar ’n seleksie van die Diepe grond-uitstalling by die SPIER Arts Trust vertoon word tot 22 Julie, was ek aangenaam verras deur die vol gehoor wat vir die performance opgedaag het. Ná die tyd het ek omgedraai op die vloer en diep binne my geglimlag toe helfte van die gehoor nog lank net daar gesit het. Ek dink aan Henk se woorde in die KKNK-feesgids: “Omdat liggame beweeg in reaksie tot die buitewêreld, is die liggaam se lyne objektief, buigsaam en dinamies. Beweging en dans word in die uitvoerende tekening die aktiewe uitoefening en vertolking van die subjektiewe bewuswording van klankgolwe.”
Die stomme aarde skep ’n plek van verbeelding waar kuns en woorde woon in die ingewikkelde stel verhoudings tussen die mensdom en die omgewing. Met ’n lang druk en geringe beweging van Henk se hand, groet hy my buite die galery in Kaapstad. Alles is verby.
Hemelliggaam: Maan. Houtskool en gemengde media op argiefpapier
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Verstom oor Die stomme aarde gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.