Hoe doen 'n mens dié Wilma Stockenström gestand?

Natasha Harmse skryf 'n duet vir Jung en Stockenström

Ter viering van Wilma Stockenström se 90ste verjaarsdag vanjaar is daar op 5 en 6 Augustus makietie gehou in haar geboortedorp, Napier. ’n Straat in die dorp is ook by hierdie geleentheid na haar vernoem. 

Hierdie kunswerk is een van ’n reeks tekeninge van Wilma Stockenström deur die kunstenaar, Henk Serfontein. Stockenström se gedig "Winterslaap" uit haar 1976 digbundel Van vergetelgeid en van glans dien as inspirasie. Die reeks is voorheen hier op Klyntji belig.

In ’n Dekat-artikel oor Stockenström is daar ’n mate van konsensus oor haar persoonlikheid en talent: Dat sy ’n mens sonder pretensie is wat dinge sien soos hulle is. “Volgens haar hoef jy nie die lewe te verander nie; jy aanvaar dit en beeld dit uit soos dit is.” Vir Daniel Hugo (in Dekat) het sy “’n onnavolgbaar unieke digterlike stem” wat beaam word in Alettie van den Heever se onlangse proefskrif, getiteld Wilma Stockenström as digter van die donker ekologie (2021). Hierin kyk sy na die digter se werk deur die lens van Timothy Morton se donker ekologie. Behalwe Stockenström se kenmerkende gebruik van ironie en ander postmoderne tegnieke word sy ook beskou as ’n “uitdager van tradisionele idees rondom vroulikheid en geslag, die patriargie en die politieke status quo” (Van den Heever, bl.35). Maar boweal is sy “’n digter van die aardse elemente – plante, diere en minerale is vir haar van veel groter waarde as menslike emosie” (Hugo in Dekat). Katinka Heyns se beskrywing van die digter klink daarom besonder raak: “Hierdie mens, Wilma Stockenström, is ’n seldsame dier.”

Die Napier-Ekspedisie het gesorg vir jolige musiek op die dorpskerk se stoep, oorgenoeg koek- en kosstalletjies om jou aan te verlustig en ’n kooruitvoering van Boerneef se ‘Voshaarnooi’ wat my nou nog bybly. ’n Aanbieding deur Ronel Foster oor die bekoorlike Die kremetartekspedisie en Skoenlapperheuwel, Skoenlappervrou het begrip verleen aan die dag se vieringe, en Katinka Heyns het gesels oor Die storie van Klara Viljee, vergesel deur ’n uittreksel uit die film. Ook die drama-departement aan die US se voorlesing van uitgesoekte Stockenström-gedigte (’n spesiale bloemlesing saamgestel deur die organiseerders Marius Swart en Linda Botha) was magies.

Hierdie mens, Wilma Stockenström, is ’n seldsame dier.
— Katinka Heyns

Ten spyte van die bron van inspirasie wat hierdie twee dae gebied het, het ek vasgehaak by die skrywe hieroor; hoe doen ’n mens dié Wilma Stockenström gestand?

Wat volg, is ’n homage aan die legende, die OG – ’n samevoeging van enkele Stockenström-verse wat in gesprek tree met dele uit Carl Jung se Liber Novus wat ek vry vertaal het. Jung se Liber Novus (ook bekend as The Red Book) is vir die eerste keer in 2009 gepubliseer onder redaksie van Sonu Shamdasani. Dit is gegrond in ’n reeks visioene wat hy tussen 1912 en 1918 gehad het en wat hy sy “konfrontasie met die onbewuste” genoem het. Hy het sommige van die beelde wat aan hom geopenbaar is, beskou as voorkennis vir die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Dit lei tot die eerste weergawe van die manuskrip wat later Liber Novus word.  Dié manuskrip ondergaan ’n lang reeks wysigings voordat Jung dit met eie hand in sierskrif in ’n groot rooi folio aanbring. Hy voeg ook illustrasies by. Dié formaat boots Middeleeuse manuskripte na (Philemon Foundation). Dit val op hoe gemaklik Wilma Stockenström se poësie in gesprek tree met die tot onlangs ongehoorde innerlike stem van Carl Jung.  

 

Van stokke en van strome: 'n duet vir Jung en Stockenström 

Vry vertaal uit Liber Novus, bl. 273:

Kyk mooi, dan sal jy sien: Alle dinge lewe deur jou; riviere dra jou lewe deur valleie, stoot klippe bo-oor mekaar, ook plante en diere groei deur jou en daarom moet jy sterf. ’n Blaar wat in die wind dans, dans met jou; diere dink oor jou – die ganse aarde neem alles van jou sodat jy weerspieël word daarin. Niks gebeur waarin jy nie misterieus verstrengel is nie. Jou hond beroof jou van jou pa wat lankal dood is en kyk na jou soos hý altyd na jou gekyk het. Die bees wat wei in die veld, betower jou met haar kalm sekerheid soos ’n ma. Die sterre fluister hulle diepste geheime en die sagte valleie van die aarde troos jou soos ’n moeder. 

‘Almoeder’ uit Vir die bysiende leser, bl. 47:

Om te weet dat waar ek trap
onderaardse riviere vlermuisstil
vloei, laat my bedeesder stap. Knielend lê ek my oor
op die ryp- en klipbeskotte grond
en span my in om te hoor
waar die hart van die aarde
klop. ’n Sterk gestel
het sy, die saggeaarde.
Die somergras, weer uitgestoot
deur die swartgebrandheid, staan
prilgroen in oorwinning oor die dood.

Vry vertaal uit Liber Novus, bl. 271:

Liewe besie, my vader, ek eer jou, mag jy geseënd wees, amen. Watse onsin praat ek? Ek aanbid ’n dier – dis seker die woestyn wat praat! Dit blyk aan te dring op ’n gebed. Hoe verruklik is dit hier! Die rooierigheid van die klippe is wonderlik; dit weerkaats die gloei van ’n honderdduisend opgebrande sonne – elke korreltjie sand het eertyds rondgerol in primordiale seë waarin primordiale monsters geswem het. Waar was jy, mensdier, in daardie dae? 

‘Die Bome My Vaders en Moeders’ uit Vir die bysiende leser, bl. 12:

Die bome, my vaders en moeders,
se lang gespierde arms,
se groot groen rokke,
se kinders by dosyne,
se optog van bloeisels in die parke en langs die strate,
my vaders en my moeders, die bome,
ek slaan my arms om julle,
druk julle blare teen my wang
en vou jul geur soos ’n doek om my hare.
Bly goed wees vir my.

Vry vertaal uit Liber Novus, bl. 277:

Ek hoor jou nie meer roep nie en ek sien nie meer jou spore nie. Saam met die westewind, wat kom oor die see, reis ek oor die groen vlaktes en deur die bosse, grasspriete knak onder my voete. Ek praat met die bome en die wilde diere en die klippe wys my die weg. 

‘Die Siener’ uit Vir die bysiende leser, bl. 41:

Ek het die oog van die kraai,
dryf tussen swart vlerke
oor brokstukke mure, repe planke,
sien blou kraletjies tussen die klippers en die potskerwe raak.
Ek pik en pik aan die stukkende matras.
Ek groet die aand waar ek woon in die sonsondergang.

Vry vertaal uit Liber Novus, bl. 264:

In die groot spiraal van chaos draai die mens se ewige bewondering saam. Die wêreld is weer wonderlik. Die mens behoort ewe veel aan orde en chaos. As jy buite jouself kyk, sien jy die afgeleë bosse en berge en bo hulle rank jou sig op in die sterre. En as jy in jouself inkyk, lyk die bosse en berge en sterre afgeleë omdat die binnewêreld net so omvangryk is as die een daarbuite.  

‘Aalwyn in die Droogte’ uit Vir die bysiende leser, bl. 19:

Die ergste is dat die lewe dwarsdeur
’n droogte aangaan en dat dit nie
wil endkry nie, die verbete beur
van wortels vlak al in die rondte,
dat die blare handewringend toevou
om die gees, en, gevaarrooi geverf,
krimpend asem ophou
tot eindelik die vernedering oorgaan.

Vry vertaal uit Liber Novus, bl. 275:

Ek nader my vriende en groet beleefd, hulle skrik en begin gebede prewel. Ek kyk af: ek is oortrek met groen blare wat uit my liggaam spruit. Ek groet hulle ’n tweede keer, laggend. 

‘Die Klip’ uit Vir die bysiende leser, bl. 28:

Teenaan ’n oupa van ’n ou klip
het ek gaan platsit, toevallig, en die muf
ingeadem van swamme en spore.
Waaraan, wonder ek, meet ’n mens
’n klip? 

Vry vertaal uit Liber Novus, bl. 271:

O moeder klip, ek het jou lief, ek lê styf teen jou warm liggaam soos ’n kind. Wees geseënd, my oermoeder, amen.  

Illustrasies via Philemon Foundation

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Hoe doen 'n mens dié Wilma Stockenström gestand? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand