Ons fees-skinderbek: Dame Fluitaf is by die KKNK

Ons fees-skinderbek: Dame Fluitaf is by die KKNK

'n Nuwe skrywer se anonieme rubriek

Dame Fluitaf word vir die eerste keer, in die gees van die TV-reeks Gossip Girl, op Klyntji losgelaat om prontuit te belig waaroor almal skinder of versuim om oor te praat. Kom terug om nuwe byvoegings tydens die fees te lees. Sorry, not sorry.

Die opinies in hierdie onafhanklike rubriek is nie verteenwoordigend van die KKNK of enige van die fees se vennote nie.


Die kITTY kom weer
12 APRIL 2023, NOORD-KAAP

Dahlings!

Ek is so jammer ek het nie gegroet nie, die einde van die fees het my frazzled gelaat. Die feeslewe is ’n voltydse job.

Toe verdwyn ek maar sonder verduideliking, net soos Brümilda van Rensburg van Mirakel se verhoog af disappear het.

Ek het verneem van my getroue lesers, maar ook die wat my eerder sou wou stilmaak. Dié Tannie laat nie vir haar voorsê nie.

Die kitty kom weer.

Tarra, vir nou.

Die uwe xx
Dame Fluitaf

 

Fees van die vleisvreters
8 APril 2023, KKNK

My mede-aardverwarmers

In hierdie dorp is daar baie boerewors, die vleis word beslis gewys. Maar nie almal wil hulle monde met dié tipe ding volstop nie.

My jonger vriendin (’n veganis van Kaapstad) is ook hierdie week in Oudtshoorn. Sy vertel my dit spook in die huis waar sy tuisgaan en dié dwalende gees is beslis ’n voormalige vegetariese feesganger wat hier in die grootvoëlparadys in mekaar gesak het weens hongerte. 

’n Verlepte slaaiblaar hier en gekookte soetpatat daar bied eenvoudig nie genoeg energie vir al die stappery wat die week van haar vereis word nie, meen sy. Die arme vrou. Sy moet volgende jaar maar ’n boksie gevriesde groenteworsies of twee inpak. 

Hierdie hele vleisketoetie laat my aan iets anders dink oor die idee van “allésaam”: Met die meestal Wit gehore voel mense van kleur so uitgesluit soos vegetariërs by die KKNK. Jy kan kom, maar word nie eintlik voor ge-cater nie. 

Iets kort, ek voel dit in vel en been.

Die uwe
Dame Fluitaf

 

GEBEDSVERSOEK VIR KURT
7 April 2023, KKNK

Liewe gelowiges

Een van die dames in my gebedsirkel het vanoggend die mooiste Psalm op ons WhatsApp-groepie gedeel. Psalm 28:7 is ’n kort maar krágtige boodskap wat my toe nou sommer vierkantig teen die bors tref. Dit het my dadelik laat dink aan liewe Kurt Darren wat gisteraand so deur sy jeukerige bors gekwel is. 

Mense! Hoe róérend was daardie optrede nie? Kurt is eenvoudig sonder gelyke. 

Ek vra toe vir die dames op die WhatsApp-groepie om vir Kurt en sy krapperigheid by hulle gebede in te sluit en ek wil daardie gebedsversoek sommer hier ook rig. Mag hy verlós word van daardie halstarrige bors sodat hy vanaand weer kan loof met sy lied op die Castle Lager-verhoog. 

Ek hoop van harte nie die mense by gisteraand se vertoning hou dit teen hom dat hy nie die hoë note in ‘Hemel op Tafelberg’ kon gaan haal nie. Hy probeer net sy bes. 

Die uwe meisie-meisie
Dame Fluitaf

 

HIERDIE EEN IS VIR DIE MEDIA
6 April 2023, KKNK

My beste lesers

Soos julle lees ek ook lekker aan die plaaslike media Die Hoorn en Oudtshoorn Courant en aan Die Burger se Krit oor vanjaar se KKNK. Maar ietsie in hierdie dekking pla my, baie.  

Ek neem dus vandag amptelik standpunt in en kondig aan dat die woord “skaterlag” ge-cancel is. 

Wie is die mense wat op die vloer rondrol en tjank van genot tydens produksies? Of amper skree en voluit huil van lag? Met dieselfde agterdog wat die woord “kragtoer” bejeën word, moet die taksering van ’n produksie as iets wat jou laat “skaterlag”, vermy word. 

Dié woord is ’n totale cliché en die gebruik daarvan getuig van die skrywer se gebrek aan ervaring in skryf ná Afrikaanse skoolopstelle.

Die uwe
Dame Fluitaf 🚫🤣

 

Treurmare vir dié NG Kerke in Oudtshoorn
4 April 2023, KKNK

My beste lesers

Ek verneem die NG Kerk Oudtshoorn-Noord doleer, ’n vreemde geloofswetenskaplike woord vir wanneer ’n gemeente verklaar dat dit in ’n staat van rou is weens die “onskriftuurlike besluite wat hulle kerkdenominasie geneem het”. Volgens dié kerk praat die Bybel “nêrens positief oor die beoefening van homoseksualiteit nie, trouens, alle verwysings daarna is negatief”. Ander NG Kerke in hierdie goedgelowige dorpie wat doleer is Oudtshoorn, Oudtshoorn-Park, Kangovalleie en Volmoed.

Hulle dink nie gaywees is OK nie, en voeg dus “dolerend” agteraan hulle naam om aan te dui dat hulle agterlik is. Hulle is dikbek want almal beoefen nie straight en getroude seks nie.

Dié NG Kerk moet dan seker ook sukkel met Tollie Parton se teenwoordigheid, of die uitgelate produksie My hart is ’n muurbal (en ander gedagtes). Vreeslike sondes word gepleeg. Dis die eindtye! 

Ek haal my verehoed af vir die skrywers, regisseurs en akteurs wat mense kom probeer wakkerskrik uit hulle ellende, oordeel en onkunde. Argaïese geskrifte bring ’n mens ook net so ver, lidmate. 

Die uwe fag hag
Dame Fluitaf

 

Koffie gee woema vir die agtergeblewenes
3 April 2023, KKNK

My beste lesers

Hopelik word hierdie feesmasjien ’n bietjie geolie soos die week aangaan, want elke nou en dan is daar ’n skattebol wat sukkel. 

Tegniese spanne sukkel om dinge aan die gang te kry voor vertonings sodat dit op tyd begin en eindig, en teatergangers sukkel om betyds te wees en boonop wag deurpersoneel vir agtergeblewenes om te begin. 

Dame Fluitaf hoor ook fluisteringe van sekere venue-bestuurders wat sit en slaap langs die verhoog... Klink my nie “lights! camera! action!” verloop oral so glad nie.

Daar is tyd vir rustig wees in die grootvoëlparadys, maar in hierdie gevalle stel ek voor dat die probleemgevalle meer koffie drink, dit help vir woema. Wakker word, skat.

Die uwe drafstapper
Dame Fluitaf

 

Dame Fluitaf oor akteurs wat van perde afval
2 April 2023, KKNK

My beste lesers

Ek is Dame Fluitaf, verlangse familie van Bridgerton se Lady Whistledown. Ek skryf ook graag briewe oor die dingetjies wat ek langs die pad hoor, en dit wat my pla.

Ek en my volstruisveerhoed wandel hierdie week die strate van Oudtshoorn. Ek luister en ek kyk. Stip.

Wees tog maar net versigtig dat jy nie op perde klim wat jy nie ken nie, anders val jy dalk net af soos Amalia Uys tydens ’n kleedrepetisie voor die wakende oog van die media. Dalk is vuurwerke en perde nie ’n goeie mengsel nie, of hoe nou? Laat tog die arme perd in vrede, ons hoor hy heet Shalom. Maar Amalia, here’s to getting back in the saddle, dahling! Ons sien uit om jou triomfant terug in die saal te sien. Dit moet net so stresvol wees vir Nicola Hanekom, Mirre en aalwyn se skrywer en regisseur – ek skink vir jou ’n stywe een wanneer ek jou raakloop, skat.

Onthou tog, ’n gegewe perd moet eers mooi in die bek gekyk word. 

Die uwe
Dame Fluitaf

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Ons fees-skinderbek: Dame Fluitaf is by die KKNK gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand