Wat niemand sê oor die Vrystaat Kunstefees nie

Wat niemand sê oor die Vrystaat Kunstefees nie

Dame Fluitaf is terug

Dame Fluitaf is terug, skattas. In die gees van die TV-reekse Gossip Girl en Bridgerton, word sy weer op Klyntji losgelaat om prontuit te belig waaroor almal skinder of versuim om oor te praat. Kom terug om nuwe byvoegings tydens die fees te lees. Sorry, not sorry.

Volg Klyntji se ander dekking van die Vrystaat Kunstefees hier: vrystaatkunstefees.co.za

Die opinies in hierdie onafhanklike rubriek is nie verteenwoordigend van die Vrystaat Kunstefees of enige van die fees se vennote nie.


Fodde maar skitterend
15 Julie 2023, Bloemfontein

Ná ’n week in die Rosestad is hierdie Dame nou kláár gefees. Ek haal nou regtig my mussie af vir elke feesganger wat hierdie koue getrotseer het om die fees te kom ervaar.

Ek het hard probeer om krities te wees, aangesien die Klyntji-redaksie my mooi gevra het om nie terug te hou nie, en om dit wat pla uit te wys. Maar jong, credit where credit is due. Die mense is werklik gaaf, die bestuur van sake is goed gedoen en dit is ’n aangename fees waarby Bloem baatvind.

Dis ’n thumbs up van my af.

Ek het nie aanvanklik so gedink nie, maar die Vryfees sal my dalk net weer sien.

Die uwe feesfodde

Dame Fluitaf

 

OOR MANSDINGE
14 Julie 2023, bloemfontein

Dierbaarste lesers

Die kroon is wérklik omstrede. Maar ek praat van die kroon van vel. Edwin het behoorlik uitgehaal en wys, soveel so dat ’n feestannie in die voorste ry met ’n kniekombersie ongemaklik oor haar knieë begin vryf en half ongelowig opgemerk het: “Magtig.” ’n Huidsbedekking kom darem nuttig gepas in hierdie koue weer.

En op daai noot: Ek verneem Jan Blohm is ook ernstig op soek na ’n bietjie hitte. My skatties, kan ons nie maar hande saamsit om vir hom ’n jong duifie te kry nie? Met sy optrede se staaltjies oor vorige liefdes en hartbreek het hy omtrent aan hierdie tannie se hartsnare gepluk. Kan ons nie maar iemand kry om sy growwe stem te streel nie?

Tarra, lovies!
Dame Fluitaf

 

A-nee-a, ons kan beter
13 Julie 2023, bloemfontein

Dahlings!

Ek is nie die enigste een met ’n skerp oog by hierdie fees nie. Ek hoor my mede-feestannies gesels alte lekker oor die aantreklike, jong manlike akteurs by hierdie jaar se kunstefees. Ons almal soek seker maar ’n warm lyfie om ons vas te hou wanneer die koue oor die Vrystaatse vlaktes daal. Ek hou my maar warm met die Wyn vir die Pyn-restaurant se glühwein by die Scaena Teater wanneer die son sak.

Alle grappies op ’n stokkie, of sal ek eerder sê alle katte in ’n hokkie, hierdie dame het ’n saak op die hart. Sê my as ek verkeerd is, maar ek het gedink dis algemene kennis dat selfone se klank minstens afgesit moet word in die teater. En op daai noot, ons is almal volwassenes, mense, hoekom jouself begewe aan ’n teaterstuk waarin jy weet naakte tonele is, as jy uit die teater uit gaan loop? A-nee-a, ons kan beter. Sit daai selfoontjie af en doen jou navorsing oor die produksies wat jy gaan kyk. 

Maar oukei, dit daar gelaat, ek is nou klaar geraas, hoor. Die fees is régtig ’n jolige affêre. Waar my mede-teatergangers dalk teleurstel, maak die busk-sones met talentvolle kunstenaars en street performers, die sherry by die Wouter Malan Teater en die lekker “vibe”, soos die jong mense sê, meer as genoeg op daarvoor.

Die uwe kwaaitjiekat
Dame Fluitaf

 

DIE TOEKOMS LYK BLINK!
12 Julie 2023, bloemfontein

Liewe lesers

Mensig! Dis asof die weer my rubriek van gister gelees het, want vandag skyn die Vrystaatse wintersonnetjie sommer lekker. Feesgangers verlustig vandag hulself in die warmte terwyl hulle tussen die stalletjies op die feesgronde rondloop en smul aan die heerlike kos en koffie by die vele kosstalletjies. Ek sal self vanaand my koppie koffie inruil vir 'n goeie glasie glühwein of sherry wanneer die koue terugkruip. Hierdie winter gaan nie my feeshou stuit nie!

Ek sien die jong mense en kleuters fees ook lekker saam. Daar stroom omtrent uitgelate klein mensies by die teater vir jong gehore uit. Net langsaan die kinderteater is die literatuurfees 'n hub van lekker eet, lekker kuier, lekker wyn en lekker boeke! Jonk en oud geniet die ATKV-Boeke-Oase en kuier gesellig saam in die Eeufeesgebou se foyer. My hartjie bokspring sommer van blydskap om die jeug so aan't teaterkyk en aan't lees te sien. Die toekoms lyk blink!

Moet nou net nie dink tannie het haar edge verloor nie, hoor. Dis baie gesellig hier in die Eeufeesgebou met De Oude Kraal Deli wat verversings voorsien, maar ek is nie so seker van daardie Lifebuoy-sepies by elke wasbak in die badkamer nie. Dis seker beter as niks.

Ek kuier ook alte joviaal saam met my mede-Klyntji's. Gaan loer 'n bietjie wat raak hulle als kwyt! Dié jong klomp hou 'n ou bok soos ek op haar tone. Maar moenie dink hulle gaan uitpraat nie, dahlings, ek het hulle laat belowe om my geheime te bewaar.

Tot môre, skatties!

Die uwe feesbokkie
Dame Fluitaf

 

Leer maar by die ervare Bloem-feestannies
11 Julie 2023, bloemfontein

My liefste lesers

Tydens my vroegdagstappie hier op die Universiteit van die Vrystaat-kampus lyk dinge nou heeltemal anders as gister! Die fees is omtrent aan die léwe met die eerste feesdag wat amptelik afgeskop het. Ek was dalk gister ’n bietjie oorhaastig met my soeke na ’n feeskaart op hierdie grote kampus, want vandag is als in plek en regoor die feesterrein is kaarte en naambordjies opgesit om die navigasie te vergemaklik tydens hierdie opwindende ekskursie. Tannie het baie plekke om te wees en dinge om te sien by dié fees; daar is nie tyd vir ronddwaal nie. 

Dis net jammer dat die lokale en teaters so koud is. Ek en my mede-feestannies was omtrent aan’t bibber en bewe vandag. Die hande is skoon tydens die pouse van een vertoning onder die badkamer se hand-droeër warm gemaak. Ek sien die ervare Bloem-feestannies bring kniekombersies by die teaters in. Rebelse feestannies dring prontuit daarop aan om warm drankies verby die “geen eet- of drinkgoed”-bordjies by die teaters in te smokkel. Sekerlik is daar ’n aircon of ’n heater wat gestel kan word om die gehore ’n bietjie gemakliker in dié koue te maak. 

Gepraat van ervarings…

Die alternatiewe is maar bra skraal op hierdie kampus as jy nie ’n vleiseter is nie of amandelmelk saam met die verpligte oggendkoffie wil hê, maar aanhouers wen! Soek en jy sal vind, liewe leser, hier en daar is ’n gem van ’n feesstalletjie waar selfs vegetariërs en veganiste geholpe is.

Dahlings, ek is omtrént pootuit met die jolige feesdag agter die rug! Hierdie tannie klim vanaand vroeg in die bed om môreoggend bright and breezy nog ’n volgepakte winterfeesdag met ywer mee te maak.

Die uwe feestannie
Dame Fluitaf

 

Dame Fluitaf besoek DIE ROSESTAD 🌹
10 Julie 2023, bloemfontein

My liewe lesers

Ná ’n wille tyd in die Grootvoëlparadys is ek, die uwe Dame Fluitaf, uitgerus en weer lus vir feeshou. Met my volstruisveerhoed terug in die hat box (Karoo-stof en al) tot ek dit volgende jaar weer Karoo toe neem (*side-eye*). Nou is dit ek en my wolserp, mussie en handskoene — want ek’s in Bloemfontein. Die jonges van die Klyntji-redaksie het mooigepraat sodat ek kom en nou is ek vir die eerste keer by die Vrystaat Kunstefees, van alle plekke.

Al vloek Tannie nie sommer nie, moet ek sê: Dis fokken koud hier. Selfs al sneeu dit nog nie soos in Jozi nie. Pak stapskoene en baie warm klere in, want dis ’n gestap van die een kant van die Kovsies-kampus na die ander. Veral as jy nie die kampus ken nie en daar nêrens ’n kaart in sig is nie.

Dis vandag maar ’n behoorlike geskarrel en ’n ge-opset vir die fees. En in dié koue, shame. Al wat tot dusver belowend gelyk het, was ’n bakkie wat adverteer: “’n Vrag vol koek, is… FANTASTIES!” I’ll believe it when I see it. 

Van môre af behoort die fees in volle swang te wees. Mag die feesgangers in hulle hordes opdaag, en die winterson aanhou skyn. My ogies en ore sal oop wees.

Die uwe Ice Queen
Dame Fluitaf

 
 
 
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wat niemand sê oor die Vrystaat Kunstefees nie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand