Om te leef met kanker en die dood te verwag

Om te leef met kanker en die dood te verwag

Louise Westerhout en Lauren Brits se kunsprojek oor queer liggaamlikheid

“Om te lewe, is onnatuurlik” herinner Gert Vlok Nel my gereeld. En om te sterf is die enigste begrip, die enigste gebeurtenis waarvan ons seker kan wees. Hieraan het ek laas gedink toe ek Sartre teëgekom het in derdejaar-filosofie en selfs toe het ek dit verstaan as ’n abstrakte begrip eerder as ’n werklikheid. Tot ek onlangs kennis gemaak het met die vertoonkunstenaar Louise Westerhout (sy/haar/hulle) se Unclear (2022/2023) en die fotograaf Lauren Brits (sy/haar) se begeleidende fotografiereeks met dieselfde naam.  

Vir Louise is die klein grepie tyd tussen geboorte en dood onduidelik, onseker en onklaar. Hulle is disabled, nie-binêr en leef ’n lewe wat tussen die lyne van heteronormatiwiteit blom. Eendag in 2022 (onthou jy nog daardie warm somer in Kaapstad?) terwyl hulle in hulle tuin staan en blomme bewonder, breek Louise se femur in die helfte. Hulle word dadelik hospitaal toe gejaag en skanderings wys dat die been nie net vanself gebreek het nie, maar dat daar iets binne-in groei. Die osteopaat, by wie hulle al weke behandeling kry vir hul seer been, het niks opgetel nie en gekies om hul pyn te ignoreer. Hy het aangedring dat Louise net sterk en braaf moet wees, dat hulle net harder moet probeer om regop te loop. Volgens hom is dit maklik: Hulle moet net hulself verbeel dat daar ’n draad soos ’n marionet uit hul kop groei. Intussen groei daar iets baie meer werklik: ’n Tumor in hulle beenmurg wat hulle been verswak het tot op breekpunt. By die hospitaal waar Louise aanhoudend misgendered word as “Mrs Westerhout” word Louise vir die tweede keer in 13 jaar gediagnoseer met fase vier-kanker en moet hulle ’n heup-tot-femur-vervanging ondergaan. Siek en sat van hoe die samelewing en die medici queer, disabled, ouer liggame onsigbaar maak óf slegs sigbaar maak deur hulle pyn en trauma, besluit Louise in hulle hospitaalbed om te begin skryf. Hulle nader vir Lauren Brits om die intieme ervaring van disability, mediese intervensie en herstel deur middel van fotografiekuns uit te beeld, en uit dié medewerking ontstaan Unclear. 

Die verhoogproduksie

Unclear is ’n multimedia-vertoonstuk waarin Louise besin oor en prosesseer wat met hulle gebeur op ’n persoonlike, sowel as ’n sosio-kulturele vlak. Ek het dit die eerste keer gesien as deel van die Unmute ArtsAbility Festival by die Kunstekaap. Die verhoog was eenvoudig opgemaak met ’n stoel, ’n loopraam met wiele, ’n hospitaalbedkassie waarop daar ’n bedpan staan en ’n drup. Louise loop in met ’n kruk en hulle is geklee in ’n hospitaaljakkie en -keppie. Maar hierdie werk is nie nog ’n kankertrauma-porn-stuk nie. Dít is duidelik vanaf die eerste reël.

’n Kankerstorie laat die kyker dikwels jammer voel vir die pasiënt, laat ons huil vir hulle pyn en laat ons eindelik toe om weg te loop met ’n soort verligting: Die persoon sterf omring deur hulle naastes, of hulle wen hulle stryd teen kanker met braafheid en ’n ongeërgde, stralende glimlag, of kanker word die katalisator om een of ander groot interne struweling te oorkom. Ek dink hier aan flieks soos A Walk to Remember (2002), My Sister’s Keeper (2009) en The Fault in our Stars (2014). Die persoon met kanker is gewoonlik jonk, heteroseksueel en ’n subjek sonder enige seggenskap, terwyl hulle lewe uitgebeeld word as iets om inspirasie uit te put. Die kyker hoef nooit hulle eie ongemak met siekte en disability uit te daag nie en kan selfvoldaan sê dat hulle óók nou iets oor kanker verstaan. Die kyker word nie rerig gekonfronteer met die werklikhede en nuanse van leef met kanker nie. 

In stede van dié trope breek Unclear al die normatiewe reëls van hoe om “ordentlik” oor kanker te praat en vertoon Louise se ervaring daarvan in ’n heel nuwe, affektiewe register. In die voorgrond vermeng Louise dans, storievertelling en voorlesing om haar storie uit te beeld, terwyl Lauren se fotografiekuns in die agtergrond flits. Louise laat die kyker in op die intieme aspekte van terapie en al die struikelblokke wat ’n queer, ouer, disabled persoon ervaar. Hulle daag ook die kyker uit om anders te begin dink oor kanker: “The only thing everyone tells me vociferously to fight: I must fight my cancer. The ultimate gaslight because my cancer is ultimately ME.” Ons sien hoe Louise telkemale verontagsaam word en sien hoe dít hulle dryf om te baklei teen die sisteme soos misogyny, ageism, ableism en queerphobia wat ongesteldheid eintlik bestendig. “I'm fighting for justice, for access, for accountability, I’m fighting misogyny, patriarchy, I’m fighting my internalised programs of ableism, racism, speciecism, classism,” sê Louise, “but I won’t fight my cancer. Because that is myself.” 

Die kunsuitstalling

Die trangressie van die stuk blyk veral uit die wyse waarop dit aanhoudend (van ruimte, vorm en register) verander. Ná die Kunstekaap verskuif dit na die Young Blood-kunsgalery waar die kykers Lauren se fotografiekuns van nader kan bekyk. Hierin word Louise nie soos die konvensionele kankerpasiënt uitgebeeld nie. Lauren vang eerder die mooiheid van hulle liggaam vas in hul huis, by die hospitaal, in die tuin waar hulle femur gebreek het en in die bed waar hulle seksueel-aangerand is deur hulle abuser — die oomblik waaraan hulle die begin van hul kanker toeskryf. Hulle is nie geklee in hospitaalklere nie, maar is dikwels kaal of in hulle onderklere. Veral treffend is ’n foto waar Louise in hul kombuis staan, omring met skerwe fine bone china. In hul hand hou hulle die oor van ’n koppie en kyk reguit vir die kamera. Nes hulle hulself in die vertoonstuk losmaak van heteronormatiwiteit, breek hulle hier die kodes daarvan wat deur die familie oorgedra word, soos fine bone china van ouma na ma na dogter. Ook indrukwekkend is die wyse waarop Lauren dit regkry om die kyker uit te daag om nie Louise se liggaam te gender nie. Een aangrypende voorbeeld hiervan is waar Louise wydsbeen sit met hulle hande inmekaar geweef en die son wat skitter op hulle vel. Hierdie reeks foto’s spruit uit ’n voortgaande medewerking tussen die twee kunstenaars. In ’n onderhoud met hulle twee in Louise se tuin beskryf hulle hulself as “co-participants in creating beauty” en Lauren vertel hoe hulle verhouding hulle albei toegelaat het om mekaar in te laat in hulle mees kwesbare oomblikke.

Die potensiaal van herfs

Ná Young Blood skuif Unclear na die SCAR-haarsalon op Breestraat vir die mees transgressiewe weergawe daarvan nóg. In dié vertoning nooi Louise kykers uit om deel te vorm van ’n Wiccan-winterritueel van beskerming en transformasie. Soos hulle gereed maak vir die volgende fase van hulle terapie en nadat hulle stamselle onlangs “geoes” is, beweeg hulle met die potensiaal van herfs. Deur middel van hul ancestral Keltiese spiritualiteit maak hulle reg om dit wat moet sterf, af te skud om plek te maak vir vernuwing. Van die begin af word die kyker in ’n deelnemer verander deur Louise op te help by die salontrappe. Bo, in ’n donker kamer, begin hulle die vertoning deur ons te herinner dat ons almal gaan en móét sterf: “[Death] is in fact, as Westerners are in absolute horrific denial of, something that we are all going to have to do. Indeed it is probably the only thing that we know categorically that we have to do in this lifetime. We are born and we die… And we are born again.” Dood is nie ’n mislukking nie, maar ’n natuurlike deel van die natuur se siklusse. In herfs word sterfte sigbaar in helderoranje en geel. In winter ervaar ons dié sterfte intiem. 

Louise beweeg daarna na die middel van die salon omring met spieëls en kerse en die ritueel begin. Mense geklee in Keltiese Wiccan-maskers gemaak uit diere se kopbene steek kerse aan: In die ooste, ’n kers vir lig, rede, kommunikasie, ons eerste asem en ons laaste. Hail and welcome. In die suide, ’n kers vir vuur, inspirasie, passie en moed. Hail and welcome. In die weste, ’n kers vir water, intuïsie, drome en emosie. Hail and welcome. En in die noorde, ’n kers vir aarde, vrugbaarheid, stabiliteit en doelmatigheid. Hail and welcome. In die middel, ’n kers vir gees en transformasie. Hail and welcome. 

Dan begin Louise se metaforiese sterfte: Hulle hare word afgeskeer. In stede daarvan dat toeskouers slegs toekyk, nooi Louise ons in ’n hipnotiese stem uit om ’n spieël en ’n kers te vind. Hulle vra ons om na onsself te kyk en bewus te raak van die “ek” wat luister na ons gedagtes, wat bewus is van die self selfs wanneer ons verlore voel. Hulle daag ons uit om weg te draai van wat met hulle gebeur na ons eerste beminde, en om onsself in die oë te kyk en te sê: “Ek is lief vir jou. Ek sien jou. Ek sal jou nie verlaat nie.” Daar, in die ontmoeting met onsself, daag hulle ons uit om kennis te maak met wat óns in die herfs wil oes, en wat metafories moet sterf en begrawe word om die aarde te voed. Die vertoning eindig met Louise wat hulle weergawe van Kermit the Frog se ‘It’s not easy being green’ sing, terwyl hulle tee- en poppy-sade uitdeel om te plant. “It’s not that easy bein’ green... When I think it could be nicer bein’ red or yellow or gold,” sing hulle op die noot van Keltiese musiek, “[and] when green is all there is to be it could make you wonder why. But, why wonder? Why wonder? I’m green... It’s beautiful, and I think it’s what I want to be.” Só ver-queer dié weergawe van Unclear die haarskeerproses wat mense met kanker deurgaan soos hulle gereed maak vir chemoterapie. Dit fok rond met die idee dat die haarskeerproses altyd ’n hartseer gebeurtenis is, verweef met verlies, en daag ons uit om nie net voyeurs te wees in die proses nie. 

Elke vertolking, weergawe, vertaling en uitvoering van Unclear oor verskeie mediums daag idees van disability as monolities uit en stel ’n nuwe paradigma voor om ’n queer, disabled, ouer liggaam en hulle geskiedenis te verstaan. Dit ver-queer as’t ware disability en spoor ’n mens aan om die uitbeelding van dié soort liggame te herdink. Op hierdie wyse verbreed Unclear die grense van queer-kultuur en onderstreep hoe alles eintlik onduidelik, onseker en onklaar is. 


Die zine ens.

Die Unclear-zine kom in die vorm van ’n mediese lêer met kleinmaatweergawes van die fotoreeks wat naas mekaar gestel word, met gedigte geskryf deur Louise. Die bladsye van die zine kan uitgehaal word om die volgorde daarvan te verander of om uitgestal te word. 

Fine art prints van die fotoreeks en zine is beskikbaar vir aankope via @laurenbrits op Instagram en lesers kan @louisewesterhout vir nog opkomende vertolkings van Unclear. Lesers kan ook Louise se rendition van ‘It’s not easy being green’ kyk.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Om te leef met kanker en die dood te verwag gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand