Ek is nie jou Oom óf Tannie nie
Op soek na 'n genderneutrale woord in die Namibwoestyn
Toe die einde van 2022 aan my deur hamer, besluit ek en my pa om in my rooi i10 te spring en die langpad Namibië toe te vat. Ons gaan vir my suster J, en haar man L, en kinders W en A kuier, waar hulle tussen woestyn en oasis op ’n plaas duskant die Oranjerivier woon.
Gepantser met ’n Spotify playlist featuring Björk, Caroline Polachek, Hurray for the Riff Raff se Life on Earth (2022), en ook Patti Smith se Just Kids (2011) op Audible is ek gereed vir tien uur in ’n kar met my pa wat daarvan hou om met my te baklei oor politiek, en dink “nie-binêr” sou nie bestaan het as dit nie was vir rekenaars nie. Ons slaap oor in Vanrhynsdorp by ’n hotel waar daar nog ’n Bybel dreigend op die bedkassie sit, en douvoordag val ons weer in die pad. Naamborde vir plekke soos Somerverdriet en Knersvlakte rol verby en om ons kerf die son en droogte die sagte skakerings van groen uit die landskap en verander dit in dorre rooi en bruin. Terwyl Patti gesels oor haar kinderdae en haar struwelinge met vrouword, maak ek gereed vir die onvermydelike misgendering wat dié vakansie vir my voorlê. Dit is die eerste keer dat ek weer in Namibië gaan kuier vandat ek openlik as “Chan” leef en “hul/hulle/hulle s’n” as voornaamwoorde gebruik, en ek wonder hoe ek ’n week van “sy/haar” in die woestyn gaan oorleef.
Aangekom in die land van min water en nog minder mense, hardloop klein W, my nou amper vierjarige susterskind, in my arms in en roep luidkeels “Rooie!”. Hoewel die grootmense my nog steeds op my (ietwat stowwerige) geboortenaam noem, is ek “Rooie” vir die kinders. W het my só gedoop na aanleiding van my rooi kar. Daarna het hy my nooit weer “tannie” genoem nie; vir hom pas Rooie duidelik beter. Dit klink wel soos die bynaam van ’n rooikop eerstespanrugbykaptein, maar ek is eerder ’n rooikop voor ek “tannie” is.
W dink duidelik al lankal aan die saak van my genderidentiteit, want die volgende oggend by ontbyt, ná ek hom per ongeluk by sy pa se naam genoem het, kom sit hy by my met sy inkleurboek en pap en gee vir my ’n gender-volgens-’n-vierjarige-les wat Judith Butler sal beïndruk. Tussen happe Rice Krispies deur verklaar hy: “Ek is nie L nie! My pa is L!”
Ná hy ’n wyle stilweg sit en dink verklaar hy: “My pa is ’n pa, ek is ’n pa, my oupas is ook pa’s. My mamma is ’n ma, my sussie is ’n ma, en my ouma J en ouma S is ook ma’s!” (neem in ag sy sussie is skaars twee jaar oud).
“O,” sê ek, “en wat is ek?”
Self-versekerd antwoord W: “Rooie is niks!”
Hy wag ’n oomblik, kyk met skreefogies vir my reaksie, en vra dan: “Is Rooie ’n seuntjie?”
(Is ek ’n seuntjie? Ek dink eerder aan myself as ’n boi.)
Met ’n huiwerige stem antwoord ek: “Nee, nie eintlik nie, my kind.”
“Sien, Rooie is niks! Daar is niemand soos Rooie nie; daar is net een Rooie!” verklaar W.
Sonder dat ek ooit vantevore met hom daaroor gesels het, verstaan hy instinktief iets oor my genderidentiteit wat vir sy ouers en grootouers volksvreemd is.
Nou ja toe, uit die mond van die suigeling: ek is nie ’n ma nie, nie ’n pa nie, ek is niks!
Maar, liewe leser, as ek niks is nie, hoe praat ek?
Ek stamel wanneer ek vir jou wil sê ek is hulle oom/tannie, want ek is nie een van die twee nie. My verhouding met hulle kan nie beperk word tot ’n skuinsstreep nie, te klankryk vir die stilte van niks, te welig vir ’n ou woord. As ons nou heeltemal eerlik is met mekaar, het “tannie” en “oom” buitendien ’n reeks vreemde konnotasies wat ek eerder sal wil afskud in die rol wat ek inneem in my susterskinders se lewens.
Hoewel die meeste tale menigte woorde het vir oom/tannie, het amper geen tale genderneutrale terme nie. Ook in Afrikaans soek ek land en sand, maar woorde syfer tot niet deur my vingers. Sonder ’n woord vir die verhouding tussen ’n nie-binêre persoon en hul sibkinders verskans taal, onder andere, die idee dat nie-binêre mense só op die buitewyke van die samelewing is dat ons nie eers sulke verhoudings het nie. Daarby verskans dit ook die binêre idee dat trans mense net transgressiewe lewens lei en nie ook ietwat normatiewe aspekte, soos sorg vir ons sibkinders, kan geniet nie. Nietemin sit ek en W en A dan lekker op die mat en bou blokkies. Ek leer vir W om te swem en kleur saam met hom in. En A,’n baie liefderike tweejarige wat altyd vir een of ander rede op ’n drafstappie is, kom elke dag na my toe vir drukkies. Soos Maggie Nelson in The Argonauts (2015) uitwys, is die normatief/transgressief-binêr duidelik onvolhoubaar.
Ek post ’n paar mooi foto’s van ons avonture op Instagram en een van my vriendinne reageer in ’n boodskap: “Ek wou vir jou sê ‘Hallo Oom/Tannie Chan’ maar kon nie die regte woord kry nie toe los ek dit maar eerder.”
Respek vir grootmense word mos goed ingeprent in Afrikaanse kinders en die woordeskat van dié “respek” is “oom” en “tannie”, ongeag of jy nou 18 of 60 is. Maar hoe roep my susterskinders my dan? Wat noem ander nie-binêre mense met sibkinders hulself? Hoe praat jy met geneentheid van jou nie-binêre maters wat ook hul sibkinders leer swem? Dis tog so uitgerek om die heeltyd “nie-binêre mense met sibkinders” te herhaal.
Die kreatiewe moontlikhede wat bestaan wanneer ons taal skep wat buite genderbinariteit staan, is natuurlik eindeloos. Soos Halberstam in Trans aandui, is hierdie soort improvisasie met taal iets wat die queer gemeenskap al vir jare doen. Die mediese kenners gee vir ons ’n naam waarvolgens hulle ons (gewoonlik as siek) kategoriseer, en ons sit die term in drag. Waar hulle sê “homoseksueel” gebruik ons veel eerder “dolls”, “girl(ie)s”, “gay”, “lesbian”, “scissor sisters”, “queer”, “fruity”, “sapphic”, ensovoorts. Waar hulle praat van “transseksueel” sê ons eerder “trans”, “trans mense”, “trans girlies” of “transgender”. ’n Lekker voorbeeld van dié tipe spel in Afrikaans is Gayle, die queer kodetaal wat hoofsaaklik deur queer Bruin gemeenskappe gebesig word, of die podsending Mannetjiesvrou, waar ’n groep lesbians onder andere gesels oor woorde vir lesbian-wees.
Só eis ons taal vir en oor onsself terug deur te speel. Nie net skep dit ruimte vir nie-binêre mense om uiting te gee aan ons ervaringe nie, dit help ons ook om te sê: “Ons is hier! Ons het ook sibkinders!” In sulke taal kan ons ons hoekie van die wêreld nie net beter verstaan nie, maar dit ook beaam. Dit laat ons toe om queerly te besin oor hoe ons in verhouding met mekaar tree en weg te doen met beperkende norme daarrondom.
***
Omta
Wanneer die hitte van nog ’n Namibiese dag uiteindelik breek en die kinders slaap, gaan ek na die sosiale media hive mind en stel dié vraag aan my Instagram followers: wat is die genderneutrale term vir “oom/tannie”?
Die reaksies het natuurlik van skreeusnaaks tot lief en sag gewissel. Waar een skertsend meen dat ons sommer “ouderling” moet gebruik en die NG Kerk laat les opsê, meen ’n ander dat “oom” die potensiaal het om gender te transendeer. Party stel voor dat ons leen uit ander tale, soos “zizi” uit Italiaans of “dod/dodi” uit Hebreeus of doodgewoon “bestie” uit Engels of “chommie” uit isiXhosa. Ander dink weer dat ons eie taal mooi woorde het wat gepas is, soos “geliewe”. Dit het veral interessant geraak toe ’n paar reaksies ’n bietjie met Afrikaans speel deur dit te buig of te breek. Steph, die kunstenaar agter die illustrasie hierby, stel byvoorbeeld “oomtie” voor wat oom en tannie kombineer, terwyl iemand anders “sibouer” voorstel; “sib” en “ouers” gekombineer.
My gunstelingwoord kom toe egter van Thirdy Januarie af wat voorstel dat ons “omta” gebruik, ’n woord wat hy self mee vorendag gekom het. Toe ek dit lees, het dit my hart gesteel. Boonop kan ’n mens dit lekker verklein na “omtie”. So besluit ek toe dat dít die woord is wat ek wil gebruik om na myself te verwys en stel dit dan nou ook aan jou voor as die woord wat ons vir alle omtas kan gebruik.
Nie net breek dit “oom” en “tannie” in die helfte nie, dit doen weg met die dominansie van ieder. Jou oom is nie meer die gesaghebbende (en ’n bietjie grillerige) man wat jy dalk voor bang is of vermy nie. Jou tannie is nie meer die koekiesbakkende vrou wat dalk té nice is nie. Omta, met hul oop lettergreep, omhels ’n mens affektief-sag en spreek boekdele van die teer, sorgsame verhouding wat bestaan tussen ’n omtie en hul sibkinders.
Binne die woord skuil “om”, wat vir die meeste mense bekend sal wees as ’n heilige klank, lettergreep, mantra, of gebed wat ’n wye reeks interpretasies het. Een van hierdie interpretasies is dat “om” die verhouding tussen ouers en spirituele onderwysers verteenwoordig. ’n Ander is weer dat “om” iets is waardeur ’n mediteerder met die geesteswêreld in aanraking kan kom. In die Khmer-taal, die nasionale taal van Kambodja, is “om” ook ’n genderneutrale aanspreekvorm wat gebruik word vir jou omtas wat ouer is as jou ouers.
Die tweede lettergreep van die woord “ta” herinner ’n mens nou weer aan die sentrale karakter en storieverteller in AHM Scholtz se Vatmaar, Ta Vuurmaak. Dit klink ook soos die isiXhosa woord “tata” wat die respekvolle aanspreekvorm is vir ’n vader, oom, of ouer man. Dus, hoewel “ta” in “omta” afgelei is van “tannie”, beliggaam dit eintlik ook die meer masculine elemente van die woord.
’n Spirituele onderwyser, ’n skakel met die geesteswêreld, ’n storieverteller, en ’n vorm van respek, só verweef “omta” al die aspekte van ’n omta wees, terwyl dit steeds ruimte laat vir verdere interpretasies. ’n Ware androgene woord wat ook affektief hierdie nuanse beliggaam deur hoe dit klink — omta is na my mening die ideale opsie.
Ns. Gaan saam met my op ’n sonic reis deur my week in Namibië:
Chan Croeser is ’n nie-binêre skrywer en letterkundige en is tans besig met hulle PhD-navorsing in Vergelykende Letterkunde by die Universiteit Stellenbosch. Hulle navorsingsbelangstellings is onder meer queerheid, gender, affek, spook- en grieselverhale, spektraliteit, volksoorleweringe, en orale letterkunde.