Kaapstad se eie drag daddy, Sir Gently
Shelley Pryde oor drag kings, gender en die drag scene in Kaapstad
Oor die afgelope paar jaar het die kuns van fopdossery, beter bekend as drag, spoedig van die buitewyke van die samelewing in die kollig in beweeg. Met die houvas wat heteronormatiwiteit op die samelewing het, sou min mense 15 jaar terug kon voorspel dat dié gender benders wêreldwyd hoofstroom-sukses sou behaal.
Terwyl fopdossers in die verlede weinig sigbaar was buite die queer onderwêreld van nagklubs en ballrooms of by jaarlikse pride parades, verskyn hulle deesdae op TV-skerms, sosiale media, die planke van Broadway en selfs in biblioteke (kinders kan deesdae Drag queen story hour in biblioteke in die VSA bywoon waar ’n drag queen vir hulle ’n storie lees). Dit is grotendeels te danke aan die reeks RuPaul’s Drag Race, wat blitsvinnig gegaan het van ’n reeks met ’n baie klein begroting en ’n nog kleiner (queer) gehoor, na ’n invloedryke reeks wat deur allerhande gehore wêreldwyd geniet word. Die reeks het al verskeie toekennings opgeraap en selfs die ooms by die braais weet deesdae wie RuPaul is, al sal hulle dit dalk nie maklik toegee nie. Fopdossery is natuurlik niks nuuts in Suid-Afrika nie en selfs as die ooms by die braai nie vir RuPaul ken nie, weet hulle definitief van Suid-Afrika se mees beroemde Wit vrou, Evita Bezuidenhout. Ons land het inderdaad ’n lang geskiedenis van bekende fopdossers soos Marc Lottering se Aunty Merle en meer onlangs Manila von Teez en Wynand Kotze se Tollie Parton. Balls en ballroom-kultuur, wat steeds Drag Race beïnvloed en te siene is in byvoorbeeld Paris is burning, floreer al vir dekades in die moederstad en elders in Suid-Afrika. GALA se fotoversameling van Kewpie, wat gesien kan word by die Distrik Ses Museum, kan daarvan getuig. In Kaapstad kan mens deesdae oor naweke drag queens by brunch, Beefcakes, zero21 en menigte ander plekke sien optree. ’n Paar plaaslike drag queens het selfs hul eie TV-reeks gekry – Beaulah: Queens van die Kaap het onlangs op Showmax geloods en is ’n realiteitsreeks wat die lewe van sewe van Kaapstad se bekendste drag queens, insluitend Manila von Teez, volg.
Ten spyte van die hoofstroom-roem wat fopdossery geniet, is die drag king-gedeelte van die fopdossergemeenskap steeds grotendeels aan die buitewyke van die samelewing, soveel so dat die meeste mense nie eers weet dat drag kings bestaan nie. In Kaapstad is daar egter ’n florerende scene van drag kings. Ek gesels met Shelley Pryde/Sir Gently, een van die kings wat seker maak dat dié scene net nog meer groei. Shelley (sy/hulle) is ’n navorser, opvoeder en kreatiewe praktisyn, wat moonlight as ’n drag king genaamd Sir Gently. Hulle is tans besig met hul eerste jaar van hul PhD in feministiese studies aan die Universiteit van Washington in Seattle. Sy doen navorsing oor drag en queer performance/naglewe-kulture in global south-streke vis-à-vis globalisering, dekolonisasie en ruimtelike politiek.
PS Loer gerus na hierdie woordelys, waar ek ’n paar terme wat in die onderhoud gebruik word, verduidelik.
CHAN: Sir Gently, ek ken jou nou al goed, maar ek wil graag hê dat jy jouself en drag kings aan Klyntji-lesers bekendstel. Vertel ons bietjie wat is ’n drag king nou eintlik?
SIR GENTLY: Die mees algemene verduideliking van ’n drag king is dat dit ’n vrou is wat soos ’n man aantrek, maar in werklikheid is dit soveel meer as dit. As ons deur die geskiedenis terugkyk, is drag nog nooit werklik beperk deur binêre genderkategorieë soos “man” en “vrou” nie. Enige iemand van enige gender kan ’n drag king wees, insluitend ’n cis-man. Ek ken kings van regoor die genderspektrum, van lesbians en transmascs* tot transfemmes* en alle geure van enbies*. Ek dink dit is baie meer akkuraat om te sê dat ’n drag king ’n kunstenaar is wat die aanduiders, estetika en stereotipes wat met masculinity* as medium geassosieer word, gebruik. En dit beteken nie noodwendig dat dit uitsluitlik beperk is tot masculinity of tot ’n enkele tipe masculinity nie. Vir my gaan dit oor ’n spel met gender wat masculinity gebruik as ’n beginpunt. En dit sluit in die satirisering van “man-ness”, sowel as die terugwinning en opeising van masculinity vir liggame en identiteite wat histories demonised is vir hul “verkeerde” masculinity, of wat toegang tot sekere tipes masculine uitdrukking geweier is.
Sommige drag kings sal dus “cishet-mans” op ’n meer straightforward manier naboots of koggel, maar ander gebruik masculinity op meer vloeibare maniere om genderidentiteit en -uitdrukking te verken op ’n wyse wat verskil van die “normatiewe” idees van wat ’n “man” of ’n “vrou” veronderstel is om te wees.
CHAN: Wie is Sir Gently en wat doen hy?
SIR GENTLY: Ek beskryf oor die algemeen vir Sir Gently as beide pansy* en pervert. Dit is juis die teenaanligging van hierdie twee dinge wat vir my interessant is en waar ek sou sê Sir Gently bestaan.
Aan die pansy kant geniet ek dit om te speel met wat cishet-patriargie as “mislukte” masculinities beskou: argetipes soos soft boys, nerdy boys en eensame losers trek my aan. Ek was eenkeer ’n overgrown baba, ek was al ’n ou man, ek voer een toneel op waar ek verlief raak op ’n kaktus. Ek sê ook gereeld dat Sir Gently eintlik maar ’n twink is; ek hou ook daarvan om queer en sogenaamde effeminate “manlike” identiteite te ondersoek.
En dan, aan die pervert kant, dink ek dis waar ek bietjie kras en onbeskof kan wees, deur byvoorbeeld dinge te sê wat ek in elk geval wil sê maar wat heeltemal anders ontvang sal word as ek as “vrou” geïnterpreteer word. In my regte lewe is ek al telkemale unladylike genoem, maar wanneer ek Sir Gently is, dan word daardie gedrag skielik van my verwag. En ek vind dit interessant, nie net omdat ek skielik “snaaks” of “unrespectable” mag wees nie, maar ook omdat om ’n “pervert” te wees in drag blootlê hoe problematies sommige van die gedrag is wat mans mee wegkom.
Sir Gently laat my toe om ’n spesifieke ruimte in beslag te neem, maar ek probeer terselfdertyd om dit bewustelik te ondermyn. So, ek sal bietjie “naughty” wees, maar ook uitwys dat ek dit doen “omdat ek ’n ‘man’ is”, of ek sal doelbewus fail met die doel om ’n punt te bewys. Ek hou van daardie campiness van drag, die campiness van die gehoor inlaat op die grap – hulle almal weet ek is nie regtig die man wat ek speel nie, maar deur hom te beliggaam kan ek op spesifieke maniere met hierdie vrae rondom gender speel en ek dink dit is waar die subversiveness van die kunsvorm vandaan kom.
CHAN: Hoe het jou persona ontstaan en watter invloede is betrokke daarby?
SIR GENTLY: Ek het in Sjanghai, waar ek vir vier jaar gewoon het, begin drag doen. Ek het een jaar vir ’n drag-kompetisie by ’n lesbian bar, Roxie, ingeskryf en gewen, en daarna het ek al meer geïnteresseerd geraak en myself in die drag-gemeenskap daar geïntegreer. Baie mense is verbaas as ek dit sê, maar Sjanghai het eintlik ’n ongelooflike en unieke drag scene en die gemeenskap is baie verwelkomend; altyd besig om nuwe mense wat drag wil probeer, in te bring en op te lei. Deesdae is ek bevoorreg genoeg om drag shows in ’n hele paar lande te kan sien, maar wat mense in Sjanghai doen, is regtig spesiaal: Dis hoogs konsepsueel, dis super snaaks, dis altyd verstommend en interessant en anders en kunstig. As Sir Gently probeer ek eerlikwaar net om hulde te bring aan wat ek daar ervaar het; my benadering is regtig te danke aan die Sjanghai-kings en -queens.
Ek is dus grootliks beïnvloed deur Sjanghai-drag, maar ek is ook natuurlik geïnspireer deur ander kings wat ek al gesien het en selfs queens en ander drag-kunstenaars. Daar is groot name soos Landon Cider, Throb Zombie, Hugo Grrrl, King Molasses, Tenderoni, en so aan, sowel as my eie drag-familielede, soos my drag-pa* Mitch Bitchpleaser en sy drag-pa Dorian T Fisk, en ook Uncle Wang, een van die nuwer Sjanghai-drag kings. Daar is so baie kings en vreemde drag creatures daarbuite wat super interessante dinge doen en ek love om dit te sien.
CHAN: Jou optredes vertel gereeld ’n storie wat allerhande vorme van mag uitdaag deur die gek te skeer met toksiese masculinity. Ek dink byvoorbeeld aan jou optrede waar jy gholf gebruik om kommentaar te lewer op die euwels van kapitalisme, en jou Pray the gay away-optrede. Hoe gebruik jy en ander drag kings humor en die vertoonkuns van drag om mag op ’n unieke manier uit te daag en die binêre grense van gender te bevraagteken? Daag alle drag kings mag uit weens die aard van die kuns?
SIR GENTLY: Vir my is die boodskap van my stuk altyd die beginpunt en die heel belangrikste aspek. Ek wil altyd iets oordra of kommentaar lewer op iets of iets bevraagteken. Humor en narratief is maar net die maklikste entry point, want ek is van nature aangetrokke daartoe – ek’s nie regtig ’n danser nie en ek het geen formele opleiding in teater of vertoonkuns nie, so ek kan nie terugval op daardie soort goed nie, want dis nie my sterkpunte nie. Ek sou sê met drag, anything goes regtig, maar as mens regtig jou benadering en persona wil slyp, is dit altyd ’n goeie idee om staat te maak op die dinge waarmee jy goed is – selfs al is dit om ’n gek te wees!
Ek dink humor kan so powerful wees, maar dis nog iets waaraan ek ook gereeld dink – die lyn tussen die ondermyning van dominansie en die konkretisering daarvan deur humor. Ek probeer eersgenoemde doen, maar dit beteken nie ek kry dit altyd reg nie. Dis iets waarmee ek konstant worstel.
Ek sal nie sê dat mag noodwendig eksplisiet deur alle drag kings uitgedaag word nie, alhoewel mens kan argumenteer dat die daad van kinging dit tot ’n mate inherent doen, maar ek dink wel dat kings oor die algemeen neig daarna om meer polities as queens te wees. Daar is natuurlik talle politiese queens daarbuite, maar miskien omdat queens soveel meer in hoofstroom-media verteenwoordig word, sien ons meer queens wat bly by vermaaklikheid in stede van uitdruklike politiese kommentaar of aktivisme, en party queens wat soms self vrouehaat en rassistiese stereotipes deur drag herhaal. RuPaul’s Drag Race self is soms hieraan skuldig. Maar ek dink omdat kinging meer ondergronds is, het dit hierdie borrelende potensiaal en mense doen dinge met drag wat baie anders is as dit wat jy op TV met die RuPaul queens sien. Ek vermoed dit is ook as gevolg van die posisionaliteit van dit alles – om ’n “masculine” persona te beliggaam in ’n patriargale samelewing beteken mens beliggaam ook ’n tipe dominansie, terwyl die beliggaming van ’n “feminine” persona heel anders is. En dalk ook net omdat daar baie lesbians in kinging is, en om een of ander rede is lesbians net mal oor diskoers en politiek!
CHAN: As ’n vurige ondersteuner en kyker van alle vorme van drag, merk ek ’n taamlike en interessante verskil tussen drag kings en drag queen se optredes. Hoe dink jy verskil die twee en hoekom? Watse produktiewe moontlikhede bestaan juis weens die verskil?
SIR GENTLY: Ek ondervind dat kings geneig is om meer hegte gemeenskappe te ontwikkel. Ek weet nie of dit orals die geval is nie, maar dit was so vir my in beide Sjanghai en Kaapstad. Miskien is dit omdat kings gewoonlik ’n kleiner groep is en verenig word deur die feit dat ons minder blootstelling kry, minder booked word en minder verstaan word. Soos ek reeds genoem het, kom ek agter dat kings meer polities is in hul optredes. Dis interessant, die meerderheid queens is geneig om te fokus daarop om glamorous looks te skep, te lip-sync en poised te wees, terwyl ek dink kings benader drag op ’n verskeidenheid maniere. Byvoorbeeld, waar jy by ’n queen-vertoning kan verwag om baie meer tradisionele drag-optredes te sien, sal jy by ’n king-vertoning dalk enigiets sien van toorkuns, live singing, musiekinstrumente, paaldans, vuuretery, improvisasie, noem maar op. King-vertonings is geneig om baie uiteenlopend te wees.
CHAN: Hoekom dink jy het drag kings dan nog nie die soort hoofstroom-sukses behaal wat drag queens geniet nie? Dink jy dit gaan/moet anders wees in die toekoms en dink jy drag kings moet byvoorbeeld ingesluit word in Drag Race?
SIR GENTLY: Dit is ’n baie goeie vraag en een wat ek en baie ander kings heeltyd gevra word. Ek dink nogal baie daaroor. Hoekom kry kings minder sigbaarheid en minder besprekings en minder respek? Om eerlik te wees is ek nie seker waarop dit neerkom nie. Soms spekuleer ek dat dit een of ander misogyny is of iets wat ontstaan uit hoe AFAB* queer mense gewoonlik in queer-geskiedenisse onsigbaar gemaak word. Ek dink ook aan die feit dat geïdealiseerde femininity so consumable is in ons samelewing, so natuurlik is queens baie meer bemarkbaar vir ’n hoofstroom-gehoor.
Dit gebeur gereeld dat mense vir my goed sê soos: “Ek het hierdie een drag king eenkeer gesien en hy was so swak, so ek het gedink kings is kak.” En ek dink dit sê baie, want hoeveel middelmatige, of laat ek eerder sê, beginner-drag queens het jy al gesien? Ek het al baie gesien, en tog is mense minder geneig om een “slegte” voorbeeld van ’n queen te sien en te aanvaar dat sy ’n hele massiewe diverse gemeenskap van performers en kunstenaars verteenwoordig. Dis baie meer geneig om met kings te gebeur. Ek sal self so ver gaan om te sê dat “slegte” drag eintlik ’n plekkie in die son verdien – soms is dit uit die DIY, die amateur, die “slegte” drag dat ’n paar interessante radikale moontlikhede na vore kom en ook nuwe maniere van dink oor en performance/gender doen. Dit is die queer art of failure!
Rakende die vraag oor RuPaul’s Drag Race en kings op skerm – ek dink mense moet eerlikwaar net wakker skrik en vir kings toegang gee. Reekse soos Dragula en House of drag het reeds kings ingesluit en die kings was merkwaardig. So RuPaul’s Drag Race en die andere wat nog nie kings book nie, moet nou net hul mag gebruik en mense ’n voet in die deur gee, en die kings sal die res doen.
CHAN: Ek wonder tog ook watse produktiewe moontlikhede vir drag as kuns en as spel bestaan en ontstaan juis weens drag kings se marginale status?
SIR GENTLY: Ek dink nes enige ondergrondse of onderverteenwoordigde subkulturele groep is hierdie ruimtes dikwels waar die mees ondermynende dinge gebeur, omdat daar nie die druk van kommersialisering of ’n beroep of ’n hoofstroom- of massagehoor is nie. So, al is dit soms ’n uitdaging en ’n onreg dat kunstenaars soos kings onderverteenwoordig is, is dit ook ’n geleentheid en ’n moontlikheid, want ons kan dinge doen en dinge sê wat miskien meer “onsmaaklik” is, minder palatable. En op ’n eksplisiete manier op sosiale geregtigheidsnarratiewe of meer radikale kwessies aandring.
Ek bedoel as ons dink oor hoe (Jack) Halberstam oor die verhouding tussen subkulture en die hoofstroom skryf, is dit dikwels vanuit die gebied van subkultuur dat uitdagings tot die norm ontstaan en geïntegreer word in breër kultuur, en heen en weer, heen en weer. Ek hou daarvan om te dink dat kinging dit op een of ander manier doen.
Ek dink ook net dat kings oor die algemeen reeds en steeds baie opwindende dinge vir drag doen, dinge wat ’n invloed op breër drag scenes het ten spyte daarvan dat dit te min erken word. Dit is dalk ’n druppel in die oseaan op die oomblik, maar dit is daar.
CHAN: Kan jy vir ons bietjie meer vertel oor die drag king scene in Kaapstad en Suid-Afrika? Op watter maniere kan mense deel raak daarvan en waar kan mense dit sien? Hoe het jy en ander drag kings die scene so vinnig laat groei? En wat maak die drag king scene in Kaapstad en/of Suid-Afrika uniek in vergelyking met, byvoorbeeld, Sjanghai waar jy opgetree het en jou persona ontwikkel het?
SIR GENTLY: Kings en masculine fopdossery bestaan al vir dekades in Suid-Afrika in verskeie vorme – ek meen jy kan gaan kyk na die Kewpie-argiewe en voorbeelde daarvan van daai tyd sien. En to give credit where credit is due – voor die huidige krop van kings, het Dope Saint Jude se king-geselskap Bros B4 Hoes omtrent 10 jaar terug die weg gebaan.
Die kings scene in Suid-Afrika is maar baie, baie stil en klein van toe af, maar daar’s ’n groot shift wat van verlede jaar af begin gebeur het. Toe ek teruggetrek het van Sjanghai af, het ek geweet ek wil baie graag ’n king-gemeenskap hier ontwikkel en per toeval was ek nie die enigste een nie. Ek het toevallig vir Casual Harry ontmoet, wat een van die min aktiewe drag/boylesque-kunstenaars in Suid-Afrika was, en hy was besig om te probeer om ’n king-vertoning saam te stel. En van daar af het ’n drag king collective in Kaapstad begin ontwikkel en het sedertdien weens King Saltycrax na Johannesburg versprei. Ons het nou al ’n paar vertonings gehad – ek het self drie vervaardig – en hulle is baie goed ontvang en was baie pret.
Wat ek hou van die gemeenskap wat ons ontwikkel, is dat dit baie maklik is om betrokke te raak – die etos van die kings collective is dat drag vir almal is, so selfs al wil mense nie noodwendig balls to the walls gaan en op die verhoog wees en ’n toneelstuk doen nie, word daar baie ruimte geskep om te eksperimenteer met drag-grimering en -beliggaming en basies net deur middel van drag met genderuitdrukking te speel. Ons bied gereeld vaardigheidswerksessies aan om mense bekend te stel aan drag-grimering en verskeie opvoerings- en beliggamingsvaardighede.
As mense meer wil weet: Inligting oor werkswinkels en vertonings word op die Instagram page @kingscollab gepost, en mense kan uitreik as hulle wil aansluit. Die Kings Collab page is nie my baby nie en ek verlaat binnekort Suid-Afrika, so ek sou aanraai dat mense ander kings nader as jy belangstel om betrokke te raak. En al is jy net ’n bietjie nuuskierig, kom net na die vertonings en kom kyk! Baie baby kings het aangesluit nadat hulle na ’n vertoning gekom het. Die kollektief probeer regtig om verskeie vorme van drag meer toeganklik en meer sigbaar te maak, en daar is ’n paar ander opwindende projekte aan die kom. Ons probeer om ’n gemeenskaplike drag-garderobe te skep, sodat mense wat nie noodwendig kan bekostig om ’n klomp goed te koop nie, ook met drag kan eksperimenteer en hulpbronne beskikbaar het. Daar is ook drag king-bingo’s en verskillende soorte vermaak buiten vertonings wat opduik, plus meer kings loop in balls en so aan en so aan.
Toe ek daar was, was Sjanghai se king scene ’n baie hegte gemeenskap – soos ’n groep broers. En daar is baie fokus op gemeenskap in stede van kompetisie geplaas. Ek sien ’n soortgelyke vibe in Kaapstad nou met die kings collective en ek hoop dit bly so, want ek dink daar is mag in daardie soort kollektiwiteit. Dit gaan nie daaroor om die beste te wees of mekaar op te bou nie, maar eerder om ruimte te skep vir gemeenskap en vir diverse tipes queer-uitdrukking en -opvoering.
CHAN: Tot watter mate word drag kings aanvaar, ingesluit en gevier in die queer gemeenskap hier of het drag kings maar steeds ’n marginale status?
SIR GENTLY: Ek dink oor die algemeen sodra jy mense in die deur kry, aanvaar hulle drag kings, maar dit kan moeilik wees om sekere mense by die deur in te kry. Maar terselfdertyd, om eerlik te wees, dink ek persoonlik nie dis ’n groot probleem nie – ek dink nie noodwendig dat die doel moet wees om ’n hoofstroom-gehoor te lok nie. Natuurlik moet mense eet, so dis altyd lekker om ’n groter gehoor te hê, want dit beteken meer inkomste vir die kunstenaars, maar ek wil ook nie noodwendig hê dat kinging moet co-opt word deur groot rolspelers wat dalk die boodskap kan bederf nie. Ek is mal oor die gehoor wat na ons vertonings kom. Ek dink daar is werklik ’n behoefte aan sapphic ruimtes en ruimtes vir transmasc en nie-binêre mense in Kaapstad, veral nadat ons Raptor Room verloor het, en ek dink die kings shows begin daardie ruimte vul. Al die programme wat ek tot dusver vervaardig het en in was, het hierdie wonderlike queer gehore gehad, saamgestel uit mense wat ek nie noodwendig so gereeld saam in ander ruimtes sien nie, en dit is vir my baie opwindend.
Wat die breër drag-gemeenskap betref, was die meeste queens met wie ek in Kaapstad interaksies gehad het baie opgewonde en ondersteunend oor kings wat op die toneel kom. Ek dink hulle erken ook die rol wat kings speel en wat ons bydra tot die kunsvorm. Kinging is definitief anders, maar dit is steeds geldig, en ek sien dat die queens dit erken en ondersteun, wat regtig bemoedigend is.
CHAN: Ek is nuuskierig tot watter mate drag jou verstaan van jou eie gender, as Shelley, verbreed en/of verdiep het. Hoe verdiep en verbreed drag kings die samelewing se verstaan van gender? Of wat onthul drag kings oor gender deur hul optredes?
SIR GENTLY: Die vraag oor hoe my begrip van my eie gender en Sir Gently se genderuitdrukking met mekaar verband hou, is ’n journey waarop ek steeds is en waarop ek waarskynlik vir die voorsienbare toekoms sal bly. Ek dink tot ’n mate is Sir Gently ’n uitdrukking van ’n aspek van my gendervariasie, een wat ek nie noodwendig die behoefte voel om in my daaglikse lewe uit te druk nie, maar wat steeds ’n uitlaatklep nodig het. Dis wat Sir Gently is. Dit is nogal snaaks, want as Shelley dra ek 99% van die tyd net swart uitrustings, maar alles in Sir Gently se kas is super helder kleure en goed wat over the top is, so daar is duidelik ’n deel van my wat dít óók wil wees, al hou ek daarvan om in my daaglikse lewe minimale swart uitrustings te dra.
Ek dink dit is ’n vloeibare ding; Sir Gently is soort van ’n masker, maar nie in die sin van enigiets bedek nie, meer dat ek deur hom dele van myself kan openbaar waarvoor daar nie elders ruimte is nie. Maar dan is dit natuurlik ook duidelik ’n opvoering en ’n oordrywing – dis iets wat buite my persoonlike identiteit is. Ek voel nie asof Sir Gently ’n heeltemal aparte “karakter” is wat ek opvoer nie, wat baie drag-kunstenaars doen. Sir Gently is meer van ’n uitbreiding van myself, maar een wat net in die vorm van Sir Gently kan bestaan. Ek reken dis nogal ’n powerful gevoel om te ervaar hoe drag ’n alter ego uit jou uit kan trek wat eintlik ook net nog ’n ware weergawe van jouself is.
Ek dink drag kings, ten minste in my ervaring, is baie eksperimenteel en vloeibaar in hul benadering om die “masculine” oor te dra. Natuurlik is daar altyd king-optredes wat net té hard steun op die misogynist/toxic masculine trope tot op ’n punt waar ons niks meer “vertroebel” nie – maar oor die algemeen sien ek hoe kings regtig probeer om binêre begrippe van gender omver te werp. Daar is ook baie drag-kunstenaars wat nie met óf kinging óf queening identifiseer nie, maar bloot drag-kunstenaars is wat met gender speel sonder enige werklike perke, wat ek dink ook baie interessant is. As Sir Gently probeer ek ook ’n bietjie daarvan doen. Ek probeer beslis nie om enigiemand te flous en te laat dink ek is regtig ’n cishet-man nie, Sir Gently is veels te over the top daarvoor.
Ek reken dit kom terug na hoe daar iets besonders interessant daaraan is om masculinity self in beslag te neem of op te voer of te parodieer of na te boots, as die simbool van mag in ’n patriargale samelewing, as die “dominante” genderuitdrukking: Baie kings sê dat hulle powerful voel tydens hul optredes. En as ek dit hoor, onthou ek dat hierdie queer mense is wat dikwels in ander gebiede van hul lewe baie magteloos voel. Ek dink drag gee mense ’n manier om genderuitdrukking te verken sonder om noodwendig te voel dat hulle ’n etiket daarop hoef te plaas – ek weet dis wat drag vir my gedoen het voordat ek regtig gemaklik was om myself nie-binêr in my daaglikse lewe te noem. Baie mense ontdek hul gender deur te eksperimenteer met drag, maar ander het net ’n lekker tyd daarmee en ek dink daai is als pragtige ervarings.