Wynand Kotze se TikTok, meer as 'n quick fix

Wynand Kotze se TikTok, meer as 'n quick fix

Bring jou glas, hie is wyn vir die pyn!

Wat doen jy as jy dink Instagram isse fokop en jou feed lat jou net tien kee mee insecure voel as wat jy gedoen het voo jy ingelog het? Waantoe gan jy as jy sien jou Facebook feed is ge-flood met conspiracy theorists en dat Tannie Magda onner innie pad oek nou wiet wat selfs wetenskaplikes noggie ontdek het nie? 

Die akteur, skrywer en podcast-aanbieder, Wynand Kotze, het besluit om sy talente vir TikTok in te span. 

Ienage ieman kan hulleself record, dit oppie internet post en tussen die massas verdwyn. Maa met meer as 100,000 followers en 1.4 miljoen likes op sy profile, moes Wynand iets regdoen. Miskien issit sy fyn sarkasme en pynlike close to home-verwysings, of die feit dat sy videos in Afrikaans opgeniem wôd en dat hy sóe vi homself sy eie hoekie innie TikTok-wêreld ytgekerf het? Dalk sy dramagraad en honneursgraad in kreatiewe skryfkunde wat hom die ekstra competitive edge gie om quality entertainment te vervaardig eerder as om net geraas te maak oppie internet? 

Wynand is immers geen vreemdeling virrie vermaaklikheidsindustrie nie. Sy teaterproduksie, Kansel, wat die Premierefees byrie Universiteit Stellenbosch in 2018 gewen, en oek byrie Toyota US Woordfees 2019 ’n speelvlak gekry het, is tot ’n draaiboek ontwikkel en het nuwejaarsdag vandeesjaar op kykNET veskyn. Sy podcast, WynVirDiePyn, wat elke wiek in sy woonstel in Kaapstad opgeniem wôd, feature gaste soos Margit Meyer-Rödenbeck (aka Dowwe Dolla), Stian Bam, Devilsdorp se Marizka Coetzer, en Louw Breytenbach (die gewese Mnr Gay Wêreld 2021 wat).

WynVirDiePyn op TikTok is snaaks, nie oo hy komedie doen en sy naam gat maak nie, maa omdat hy jou ytroep in jou gesig oo jou kak maniere, questionable beliefs wat jy nou nog aan vasklou omdat jou ouers doen en natuurlik hoekô jy single is. Dis refreshing om komiese sketse op ’n sosiale media-platform te sien in Afrikaans. Hy wôd nie net nou en dan mistaken vi Bobby van Jaarsveld nie (julle kan vi Bobby vra), maa hy spreek oek sosiale kwessies met betrekking tot die LGBTQI+ gemeenskap aan en skep ’n platform waa ammel accepted is. 

VERONIQUE: 116-duisend followers later, hoekô het jy rêrag hierdie toep ge-download? Was jy bored? 

WYNAND: Ek was beslis verveeld, en ook honger vir ’n ruimte waar ek my (bitter) self kan wees. Ek leef ook vir die reaksie van ’n gehoor, goed of sleg — en die gebruikers op daardie toep deel graag wat in hulle gedagtes aangaan. Tot my spyt, soms, en ander kere verskaf dit aan my groot, groot vreugde. Maar ja, verveeld, en as ’n wannabe-kunstenaar en -performer, het ek affirmation nodig gehad. Mense wat so nou en dan lag emojis comment. Dit gooi oneindig baie petrol op hierdie vuur!

TikTok oordeel minder as Instagram of Facebook. Ek het onlangs Instagram aktief begin gebruik, en fok, daar is so baie pretensie daar. MIN mense daar klink of lyk soos regte mense — amper alles gaan deur ’n filter. So ek probeer nog Instagram uitfigure. Facebook is… vreemd. Dit het ’n plek geraak vir belaglike conspiracy theories en Steve Hofmeyer-fans. Ek veralgemeen nou, maar amper elke keer as ek daar ’n draai gaan maak, skrik ek oor hoe dom mense kan wees. En om in vandag se tyd dom te wees, is ’n besluit. 

VERONIQUE: Na watter pyn verwys jy innie naam “WynVirDiePyn”?

WYNAND: Die pyn waarna ek verwys, wissel. Soms is dit ’n koppyn en ander kere is ek steeds nie oor die pyn van verwerping nie. Die meeste mans in my lewe het my nie gesoek nie. Regdeur van my pa tot my onlangse kêrel. En voor ek oor iets kan lag, romantiseer ek dit eers. Want ek lag. Ek lag oor alles, of dit nou aanstootlik of ongemaklik is. Dis wat my ook deur daardie pyn gekry het, die feit dat ek alles kon ver-grap nadat ek daaroor gehuil het. Huil is cute, maar lag is hot.

VERONIQUE: Jy het jou honours degree voltooi in 2020. Dink jy, jy sou dit op ’n anne manier teen dié tyd al groot gemaak het as dit nie vi lockdown wassie? Help die feit dat jy drama geswot het jou met content of is jou bek maa net van nature soe glad? 

WYNAND: Jy sal ’n heks moet vra. Of die kerk, of iemand anders wat die toekoms kan voorspel. Ek het wel baie momentum gehad voor Covid. Ek was besig met een of twee professionele teaterproduksies (met ander woorde, ons het geld gekry daarvoor) by die US Woordfees. Ons was op pad KKNK toe en sou ook by ander feeste gaan draai het — en toe… Covid. Ek het dit wel groot gemaak tydens Covid, Veronique. Ek kon nie ophou vreet nie. Haha. Lag, dis ’n grappie. By the way, Suid-Afrika het nie celebs nie. En dis sad as mense op sosiale media begin dink hulle raak “famous”. Vir wie? Beyoncé is famous, liefie. En dalk Bobby van Jaarsveld. Die res van ons? Mmm. Ag, whatever. As famous-wees vir jou belangrik is, gaan vir goud. Ek dink dit is ongelooflik oppervlakkig en kortstondig en ’n bietjie soos monopoly-speel. Niks daarvan is real nie. 

Die feit dat ek drama geswot het, help beslis! My dramagraad het my vrygemaak van al my vooropgestelde idees van menswees. Ek is baie meer gemaklik in my eie vel, as gevolg van my drama-opleiding. Malan Steyn, my skryfdosent in my honneursjaar, het my ook geleer hoe ’n goeie en boeiende storie lyk. En mens skryf maar eintlik met elke video ’n klein storie. Ál verskil is, op sosiale media het jy drie sekondes om mense se aandag te kry. Anders scroll hulle verby. 

VERONIQUE: Ek wiet jy is ’n sucker vi ’n goeie cabaret en daa is moerse baie van die elemente in jou content op TikTok. Jy het half die perfekte mengsel van comedy en theatre wat focus op social themes, gemeng met political satire. Was dit allie pad jou plan of het jy ’n gap gesien vi iets waarin jy goed is en lief voo is en dit gevat?

WYNAND: Ek wens ek het so diep gedink daaroor. Ek is baie lief vir debat, en ek is ook baie lief vir ’n goeie grappie. Ek poog om die twee te kombineer. My droom is om dit op die verhoog ook te doen. Daarom probeer ek vir myself ’n gehoor kweek, sodat ek kaartjies kan verkoop!

VERONIQUE: Is jy bekommerd oorie feit dat mense innie bedryf nie TikTokkers ernstig opvattie en dat dit dalk ienage toekomstige wêk kan beïnvloed?

WYNAND: Daar is ’n groot gros mense in die “bedryf” wat dink hulle is te cool vir sosiale media. Vir ander is dit die euwel van ons tyd, en dit kan verseker wees. Veral as jy nie ’n dik vel het nie. Ek dink sosiale media gee vir doodgewone performers, soos myself, ’n plek om te leef en te skep sonder die baie streng voorwaardes van hoofstroom-TV. Sosiale media laat jou ook toe om met wat jy het, vir jouself werk te skep. Jy het nie duur toerusting en kameras nodig nie. Die meeste van my videos maak ek op my bank, op die naat van my rug. En al wat ek doen is om ongemaklik en sonder ENIGE filter mens te wees. En hoekom sal dit toekomstige werk negatief beïnvloed? Van wanneer af is dit ’n negatiewe ding vir kunstenaars om vir hulself werk te skep in ’n industrie wat reeds so selektief is? As daar enige iets is om op te merk, is dit dat ek probeer om te wys dat ek ’n harde werker is, en dat ek ook geleenthede verdien. En as hulle nie my talent wil raaksien nie, ook goed. Ek is vir niemand kwaad nie. Dan hou ek maar aan videos maak vir die mense wat dit wil sien en dit dalk nog geniet ook. 

Dit is BESLIS nie vir almal nie, maar so what? Ek hou ook nie van almal en als nie, so ek kan dit ook nie van enige iemand anders verwag nie. Ek wens net soms mense het die vermoë gehad om verby te scroll. Jy hoef nie van alles ’n event te maak nie! Daar was ’n tyd waar as jy nie van ’n rokkie in ’n winkel gehou het nie, jy net verby kon stap. Vandag staan mense voor daai rok, kots daarop, laai dit op die internet EN skryf ’n gedig daaroor. Hoekom? Kry ’n fokken stokperdjie.

VERONIQUE: In jou videos praat jy oorie miskonsepies rondom vryskutwerkers. Wat is jou eintlike gevoel oo vryskut?

WYNAND: Ek kan nie karre regmaak of harte opereer nie. So wat is die alternatief? Ek vryskut, want ek is te gay vir enige iets anders. Grappie. ’n Mens kry glo gay mechanics. Eeuw. Punt is, ek het BAIE respek vir mense wat werk op ’n vryskutbasis. Dit is ongelooflik stresvol en onvoorspelbaar. Jou lewe bly egter kleurvol, en elke dag is ’n nuwe ervaring en ’n mens is net so dankbaar as jy werk het. My ouma sou dit “genade” noem. Ek dink dit help ook dat mense my soms verwar met Bobby van Jaarsveld. Soms kry ek werk wat eintlik vir hom bedoel was. 

VERONIQUE: Jy praat gereeld oo sosiale kwessies soes rassisme, homophobia en die recent COVID-19 vaccine op jou platform. Issit ’n saak van wattie hart van vol is, of het jy ’n groter verantwoordelikheid gevoel met jou following?

WYNAND: Nee, nee. Dit borrel in my. Ek het baie opinies, omdat ek baie lees en baie dokumentêre kyk. Ek deel die helfte daarvan nie op sosiale media nie. Mense kan nie meer debat voer nie, ons is heeltemal te sensitief daarvoor. Ek glo wel dat komedie die perfekte manier is om ernstige sake meer verteerbaar te maak vir die publiek. As mense vir jou lag, vertrou hulle jou — en dan kan jy hulle verraai. Jy weet? So ja, ons lag… maar hopelik as jy klaar gelag het, gaan dink jy.

VERONIQUE: Baie van jou videos gaan oo die Afrikanerkultuur. Hoe voel jy oorie woord Afrikaner en wat betieken Afrikanerkultuur vi jou?

WYNAND: Die taal en die so-called “kultuur” het nog way te veel gatekeepers. Die taal gaan sukkel om voort te bestaan as ons dit in watte gaan toedraai. Taal gaan tog maar oor kommunikasie? As jy verstaan wat ek sê, het ek suksesvol gekommunikeer, maak nie saak hoe ek daar uitgekom het nie. Ek weet ook nie rerig wat “kultuur” meer beteken nie, en wat ek mag eien as my eie nie. Nou praat ek maar Afrikaans met mense wat wil terugpraat, en leer hoe om te kommunikeer met die wat my nie verstaan nie. 

VERONIQUE: In jou segment “Klein Dorpies” oor dinge wat net plattelanders sal vestaan, sê jy: “Op ’n klein dorp mag almal sê Frikkie is gay. Behalwe Frikkie. Frikkie mag dit nie self erken nie.” Issit ’n werklikheid waarmee jy identifiseer of was jou upbringing meer accepting?

WYNAND: Baie! Hoe maak dit sin? Almal mag agter jou rug sê jy is gay, maar jy moet dit net nie self sê nie. My grootwordjare was vreemd. In my skool was ek celebrated. Die meeste mense het van my gehou en ek was baie onderwysers se witbroodjie, maar ek het nooit regtig geleef as ’n gay man in my dorp of skool nie. Ek het eers in my eerstejaar op universiteit vrede gemaak met wie ek is. Maar ek het ook weirdly nog nooit gevoel of ek vir iemand of vir myself gelieg het nie. Selfs toe ek nog “innie kas” was. Ek het die waarheid geleef wat vir my bereikbaar en toeganklik was, op enige gegewe tydstip van my lewe. Die enigste mense wat my wel verwerp het daarvoor, is my pa. My pa en een of twee liefdevolle christene. 

VERONIQUE: Wie is jou gunsteling TikTokker en watter accounts MOET mense volg?

WYNAND: Lynette13. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wynand Kotze se TikTok, meer as 'n quick fix gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand