Welkom in die voorkamer van die (Afrikaanse) lesbiër
Mannetjiesvrou is die podcast vir panslaners
In Mannetjiesvrou, ’n podcast vir die Afrikaanse lesbiër, kan jy verwag om oor enige iets te hoor van die antieke digter Sappho se werk en Jeanne Goosen se subtiele erotiese gedigte, tot stories van die aanbieders se grootwordjare in Bloemfontein (“die stad van lesbiërs,” soos hulle dit noem) en die lesbiërkultuur in Pretoria — “almal weet die lesbians in Pretoria kom van Rustenburg af”.
Mannetjiesvrou het die lig gesien tydens lockdown om die ruimte vir lesbiër-gefokusde inhoud in Suid-Afrika (en Afrikaans) te vul. Vanuit Richmond, die Moot en Brooklyn, Pretoria, ontmoet Angie Gallagher, Candess Kostopoulos, Christi Kruger en Phia Smit virtueel: onderskeidelik ’n antropoloog wie se ware lewenstaak die verdediging van Huisgenoot as ’n kultuurskat is, ’n betontegnoloog/bordspel-entoesias, ’n filosoof sonder ’n stukkie grond van haar eie, en ’n kopieskrywer en taalversorger.
“Hoewel ons aanvanklik vermoed het daar is ruimte vir ’n potgooi soos Mannetjiesvrou, is dit verblydend dat daar dalk selfs ’n behoefte blyk te wees,” vertel Gallagher ná die eerste twee episodes van die podcast vrygestel is.
Sy gesels met Klyntji oor die inspirasie agter Mannetjiesvrou.
Die antieke digter Sappho het die eerste noemenswaardige bydrae tot die lesbiese kanon gelewer. Hoewel skreiend min van Sappho se werk die toets van tyd deurstaan het, is die fragmente wat vandag van haar liriese digkuns behoue gebly het, genoeg om die debat rondom Sappho se seksuele oriëntasie meer as 2000 jaar ná haar dood lewendig te hou.
Sappho se “Ode aan Afrodite” is haar bekendste volledige bestaande werk wat direk verwys na romantiese liefde tussen vroue, maar in latere vertalings van dié gedig is die persoon waarna die spreker – Sappho self – reikhalsend smag, in ’n man verander. Die Romeinse digter Horatius sou haar later “mascula Sappho” noem, “hetsy omdat sy beroemd is vir haar poësie, waarin mans meer gereeld presteer, of kwaadwillig, omdat sy ’n tribade was”. Só skandelik was haar moontlike homoseksualisme dat stories oor Sappho se dood dié gerugte finaal die nek probeer omdraai het – hiervolgens sou Sappho haarself van ’n krans in die see werp nadat sy deur ’n mitologiese veerman, Phaon, verwerp is.
Van Sappho het ons tot vandag nog die term “lesbiër”; afgelei van die Griekse eiland waar sy ’n groot gedeelte van haar lewe spandeer het. Wat die waarheid rondom Sappho se seksualiteit ook al is, stem die straightwashing van Sappho van Lesbos ooreen met die opinies van antieke geleerdes: na hulle mening was dit pure laster om te sinspeel daarop dat die Digteres (die hoofletter ’n eerbetoon en gelykstelling met Homeros, die Digter) dit durf waag het om met ander vroue in die bed te spring.
Deesdae kom ’n mens ’n spul verskillende lesbiërs teë. Party sê jou sommer reguit hulle speel vir die ander span – van ander het jy net ’n spesmaas. Sommige lesbiërs is vreeslik atleties: hulle speel hokkie of krieket, stoot gewig of gooi spies. Hulle’t dalk vir Kersvader gevra vir karretjies of ketties in stede van Barbiepoppe en botweg geweier om rokkies te dra. Daar is lipstiflesbiërs en butches en veganiste en aktiviste, daar is lesbiërs wat pal op ’n podium is en ander wat kwaliks ’n woord rep en net in vrede wil tuinmaak.
Die moderne lesbiër is wêrelde verwyder van Sappho van ouds, maar dis nog altyd moeilik om jou vinger heeltemal op haar te lê. Mannetjiesvrou is ’n poging om spesifiek die Afrikaanssprekende lesbiër in al haar gedaantes gade te slaan. Dié podcast wil in Afrikaans praat oor die baie fasette van vroue wat ander vroue liefhet en begeer. As volbloedtribades (lees: panslaners) kan die deelnemers maar net praat uit hulle eie perspektief, maar met Mannetjiesvrou wil ons met onderhoudende gesprekke van alle kante na die hedendaagse Afrikaanssprekende lesbiër kyk, ook in terme van die wyer gesprekke rondom seksualiteit en kultuur in die wêreld vandag.
Daar is iets te sê vir die lesbiansisme. Mannetjiesvroue is natuurlik nie sonder meer mannehaters nie – mans word ook uitgenooi om te luister – maar daar is iets aan ’n ruimte waar die oerorde van susters voorop staan. Twee millennia ná Sappho hoop ons om iets te kan boekstaaf vir dié wat later luister na die stories van die lette van die vroeë een-en-twintigste eeu.
Episodes word elke twee weke vrygestel. In die podcast word daar gepoog om met insiggewende en gemaklike gesprekke getrou te bly aan die slagspreuk: “Mannetjiesvrou – leer jou les”.
Luister Mannetjiesvrou hier.