Die ander dogter: 'n plaasvervanger vir verlies

Die ander dogter: 'n plaasvervanger vir verlies

Sandra Prinsloo in Die ander dogter. Foto’s deur Fiona MacPherson

Sandra Prinsloo se vertolking van susterskap en tussenruimtes

Ek was oortuig ons sou nooit met die Land Rover met sy roof rack onder in die Joburg Theatre kom nie, maar ná 25 minute se geswoeg in die parkeerarea staan ek en ’n vriend in die kleinste huisbak denkbaar op die negende vloer om Die ander dogter te gaan kyk, met Sandra Prinsloo in die hoofrol van die solostuk. In die huisbak probeer ek aan hom verduidelik wie Sandra Prinsloo is en dat sy ’n big deal is, maar hy het nog nie eens Egoli gekyk nie. The Gods must be crazy lui wel ’n klokkie. Ek groet vir Saartjie Botha, die feesdirekteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees (waar Die ander dogter ook vanjaar op die planke is), wat saam met die Joburg Theatre en regisseur Lara Foot aan die produksie gewerk het.

Die ander dogter is ’n storie oor susterskap. Die solostuk is geskoei op die Nobelbekroonde outobiografiese memoir L’autre fille (2011) deur Annie Ernaux, en vertaal in Afrikaans deur Naòmi Morgan. Alhoewel die meeste stories oor susterskap van meet af kompleks is, word hierdie verhouding verder gekompliseer deur die skrywer se suster wat lank reeds oorlede is, voordat sy gebore is. Dit is eers op die ouderdom van 10 dat Ernaux (die skrywer en die outobiografiese ekverteller in die memoir) per ongeluk ’n gesprek hoor wat haar ma met hulle buurvrou voer, en sy uitvind dat sy ’n sussie gehad het wat op ses aan witseerkeel dood is. Met hierdie openbaring hoor sy ook dat haar ouers net een kind wou gehad het en dat die ander dogter meer gehoorsaam as sy was. Meteens besef sy dat sy gebore is om die plek van haar suster in te neem.

Dan ontstaan die vraag: Wie is die ander dogter? En hoe vul jy as volwassene daardie skoene van iemand wat net as kleuter geleef het? Is die ander dogter die een wat oorlede is, of die dogter wat as plaasvervanger heet? Ernaux moet vir die res van haar lewe in stilte met hierdie vraag worstel, aangesien haar ouers nooit direk teenoor haar erken dat hulle nog ’n dogter gehad het nie. Die memoir is geskryf as ’n brief waarin Ernaux met haar gestorwe sussie probeer kommunikeer, lank nadat haar ouers reeds dood is en sy self reeds diep in haar sestigs is. Ernaux se uitgewer Claire Debru het haar genooi om ’n bydrae te lewer vir die Franse literêre versameling Les Affranchis. Die skrywers is versoek om ’n brief te skryf wat hulle nooit vantevore geskryf het nie, met Kafka se beroemde brief ‘Letter to his father’ as literêre vertrekpunt. Ernaux het besluit om die brief aan haar oorlede suster te rig, wat sy nooit geken het nie.

Dit herinner my ook aan The white book (2016) deur Han Kang, wat soortgelyk outobiografies gebaseer is op die skrywer wie se suster jonk dood is. Hierin poog die skrywer om ’n tasbare gestalte aan haar suster toe te skryf deur ’n brief wat haar suster met wit voorwerpe vergelyk. Hoe lyk die verlies van ’n suster wat mens nooit geken het nie? Beide Ernaux en Kang se karaktervertellers se verlies word gekoppel aan ’n oorlewendeskuldgevoel (survivor’s guilt). Die briewe word omskep in ’n liminale tussenwêreld waar dit moontlik is om met die afgestorwenes te kommunikeer, en in Ernaux se geval, by tye ook te konfronteer.

Hierdie tussenruimte word meesterlik eenvoudig vertoon deur Wolf Britz (wat die stelontwerp behartig het) om die transformatiewe aard van die brief as ’n klein studeerkamer uit te beeld wat in ’n vakuum binne ’n deursigtige membraan bestaan. Die fokuspunt in hierdie verhoogontwerp is ’n eenvoudige lessenaar en stoel. Die kamer is sirkelvormig, op ’n platform wat kan roteer, om die oorgang metafories te fasiliteer. Ernaux (vertolk deur Prinsloo) is dus heeltemal afgesonder van die buitewêreld in haar geslote gedagtegang wat haar vaskluister in die verlede. Foto’s uit Ernaux se kinderjare flits voor die gehoor. Die verhaal wat ontvou, is ’n saak tussen haar en haar suster. Die persoonlike aard van hierdie vreemde vorm van verlies maak dit ongemaklik om te aanskou.

Wanneer die platform van die verhoog draai, dui dit op die ineengevlegtheid van die verlede, verbeelding, hede en herinnering – ’n vergestalting van die sirkelgang van geboorte en dood, sowel as die identiteit van die twee susters wat “uitgeruil” word. Die filosoof en literêre kritikus Mikhail Bakhtin (1895–1975) verwys hierna as cyclic repetitiveness, ’n fenomeen wat verband hou met die sirkelgang van die natuur. Die beligting op die verhoog beliggaam ook die atmosfeer van ambivalensie deur slegs selektiewe dele te belig om ’n intieme gevoel te skep. Soms dui dit op ’n blaredak, byvoorbeeld wanneer Ernaux terugdink aan die dag toe sy haar ma se gesprek gehoor het in ’n tuin. Byklanke gee die gehoor ’n verdere aanduiding van waar Ernaux se gedagtes afspeel, en dit voel as ’t ware of die toneelstuk grotendeels binne haar verbeelding afspeel, eerder as die studeerkamerruimte wat die hede verteenwoordig.

Om terug te spring na die begin van die stuk: Die toneelstuk open met Ernaux wat uitdrukkingloos na ’n babafoto staar. Die foto word geprojekteer op ’n seil wat die verhoog versluier in sepiaskakerings en die illusie skep dat Ernaux in haar gedagtes ingekeer is. Ernaux mymer dat sy as kind altyd onder die indruk was dat dit ’n foto van haar was, maar eers later tot die besef gekom het dat dit van haar suster Ginette moet wees. Die verhoogruimte word dus telkens as tussenruimte gemarkeer deur die ruimte as ’n plek-tussen-plekke te posisioneer waardeur die karakter oor drumpels van haar verlede beweeg. Hierdie drumpels word deur middel van terugflitse en musiek aan die gehoor gekommunikeer.

“Die verhoogruimte word dus telkens as tussenruimte gemarkeer deur die ruimte as ’n plek-tussen-plekke te posisioneer waardeur die karakter oor drumpels van haar verlede beweeg.”
— Celeste Theron

Wanneer Ernaux se gedempte skuldgevoelens na vore tree in die brief, word die gewig van haar woorde al hewiger. Prinsloo is in swart satyn geklee: Niks word oor haar identiteit verklap nie, behalwe vir die dele van haarself wat ooreenstem met dié van haar suster. Die swye van haar ouers gee haar geen ander keuse as om haar onbeantwoorde vrae aan haar afgestorwe suster te stel nie. Die eensaamheid van so ’n geheim moet enorm wees. Vir 70 minute neem Prinsloo die gehoor gevange in die beswyming van Ernaux se driftige brief. Prinsloo verbreek nie vir een oomblik haar karakter se gedagtegang in die monoloog nie. Daar is nie ’n sekonde om asem te skep of te bevraagteken nie.

Die stuk is teer, sonder om sentimenteel te wees. Dit voel uiters vreemd om oor ’n karakter te rou wat nooit vir die hoofkarakter bestaan het nie; tog is die rouheid in die teks eg. Die brief verteenwoordig nie net hierdie ritueel om te rou nie, maar ook ’n gesprek wat misplaas is tussen ma en dogter. Deur die dood te ontken in haar swye, gee Ernaux se ma haar nooit die geleentheid om die verlies van haar suster te verwerk nie. Dit laat my opnuut besef watter sentrale rol ’n ma speel in die verhouding wat jy met jou suster kweek. Susterskap is tot ’n groot mate aan die ma-verhouding verwant.

Ek sukkel om aan Afrikaanse literêre voorbeelde te dink waar susterskap op hierdie wyse ondersoek word. Dit is moeilik om jouself te probeer verstaan deur ’n suster wat afwesig, dood, ontoeganklik, of vervreemd is. Soms moet jy oor ’n suster rou wat nog leef. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die ander dogter: 'n plaasvervanger vir verlies gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand