Wessel Pretorius: teatermaker vir 'n nuwe generasie

Wessel Pretorius in ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: die ongewerwelde-trilogie. Foto’s verskaf
15 jaar op en agter die verhoog
As daar een stem in die kontemporêre Afrikaanse teaterlandskap is wat die delikate balans tussen poëtiese melancholie en vlymskerp komedie verstaan, is dit Wessel Pretorius. Hy vlek die binnegoed van menswees oop met alles wat hy doen. Soos Marisa Keuris in 2017 vir Literator skryf: Pretorius is duidelik ’n dramaturg van sy tyd.
10 jaar gelede sit ek in ’n klein vierkantige wit tentjie by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op die klein stukkie gras voor die burgersentrum. Ek sit heeltemal te naby aan die akteurs – David Viviers en Wessel – en hopeloos te beknop met ander teatergangers.
Dié geleentheid is heel gepas Uitkampteater genoem, want kamp suggereer tog ’n soort ongemak, maar uitkamp is ook voete opsit, asemskep en die siel verkwik.
In daardie 20 minute steel David en Wessel ons harte in Klara Maas se hart is gebreek – die biografie van ’n traan. Dit word later ’n vollengte produksie Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: die vloeistof-trilogie, waarin die onwaarskynlike helde ’n traandruppel, ’n bloeddruppel en ’n spermsel is.
In 2024 keer die duo terug verhoog toe met ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: die ongewerwelde-trilogie. Dis ’n driestuks monoloë wat fokus op die lewe, hartseer en surrealistiese ervarings van randfigure en ongewerweldes in die samelewing. Een van die karakters is ’n kunssinnige vrugtevlieg met ’n eensydige liefde vir die akteur Timothée Chalamet.
In 2024 sien ek Wessel ook in die welbekroonde The unlikely secret agent, waarin hy vyf rolle vertolk en ook in Londen gaan draai.
Maar kom ons draai die horlosie terug: Wessel het in Nelspruit (Mbombela) in ’n sportmal familie grootgeword, maar sy kop was van jongs af in die wolke. Daar is nie ’n teater op die dorp nie; hy skryf in sy verbeelding opvolge vir sy gunstelingflieks. Die persoon wat die grootste impak op sy lewe gehad het, was ’n dramaonderwyser Jan Prinsloo.
Dink Wessel dat Jan trots sou wees op die teatermaker wat hy geword het?
“Ek dink nie Jan sou my ooit toegelaat het om te gemaklik of tevrede te raak nie,” deel hy met my. “‘Wat’s volgende?’ sou altyd sy eerste vraag gewees het, gevolg deur opbouende kritiek. Sy stem bly steeds ná al hierdie jare soos my Jiminy Cricket as ek die maklike uitweg wil vat. Ek dink tog hy sou trots gewees het op my toewyding aan teater.”
Die twee het selfs vir hom ’n verhoognaam Titus Barkley uitgedink. “En Titus skemer nog sterk deur,” vertel hy voort. “In my kop het ek by RADA gaan swot, ’n seisoen saam met die RSC gedoen en is ek huisvriende met Ian McKellan. Daar is ’n deel van my wat nog poog om die lewe te lei wat my tienerself gelukkig sou maak.”
As hy vandag vir daardie 15-jarige Nelspruit-seun raad kon gee, is dit eenvoudig: “Dit bestaan. Alles waarvan jy droom is doenbaar. Wees weird. Lees langs die atletiekbaan. Gebruik Katharine Hepburn as ’n rolmodel. Dit gaan alles later dividende betaal.”
Ná hy in 2004 matrikuleer, voltooi hy sy dramahonneurs by Maties. Reeds in 2010 word hy as student genomineer vir ’n Fleur du Cap vir mees belowende student vir Art deur Yasmina Reza, saam met Wilhelm van der Walt en Christiaan Olwagen. Dié stuk het pas weer by die Baxter-teater gespeel met Ludwig Binge in Christiaan se voormalige rol.
In 2011 begin Wessel skryf aan Ont-, gebore uit ’n tyd toe sy ma met kanker gediagnoseer is, hy sy identiteit as gay man begin ontdek het en sy hart gebreek is. Ook dié stuk word welbekroon en toer internasionaal as Undone. Die ontelbare 48 vertel ontelbare kleinverhale en hierin is hy skrywer van die teks en die enigste vertolker van al die karakters se verhale. Ander teaterstukke volg: Waterpas, Die dag is bros, Sandton City grootdoop, I love you Sally Field (and other stories) en Renaissance.
Wessel is vanjaar 15 jaar deel van die Suid-Afrikaanse teaterlandskap, maar die lys van toneelstukke wat hy al geskryf en regisseer het, is hopeloos te lank om te noem. Ook die pryse en nominasies vir Fleur du Cap-, Fiësta-, Woordtrofees-, Woordveertjie- en Kanna-toekennings.
Om dit te illustreer, sien ek hy skryf einde verlede jaar op sy Instagram-blad: “2025: Ont-; Die een wat bly; Kuns; Faustus in Africa!; Othello; Brussels; Montpellier; Hamburg; Athens; Barcelona; Naples; Zurich; Weimar; Paris; Abu Dhabi; Geneva; London; Home.” Dis meer as wat die meeste mense in ’n dekade vermag; vir Wessel is dit skaars ’n jaar.
Saam met medespelers Asanda Rilityana, Buhle Stefane, Atandwa Kani en Eben Genis in Faustus in Africa! Mongi Mthombeni en Jennifer Steyn is ook deel van die geselskap. Verhoogfoto’s deur Fiona MacPherson
By vanjaar se kunstefeeste bewys Wessel weer waarom hy as een van ons generasie se mees veelsydige teaterkragte beskou word.
Presies 15 jaar nadat Ont- die eerste keer die lig gesien het, het hy die teks afgestof en deur ’n meer volwasse lens bekyk. Dié keer sit hy in die regisseurstoel, terwyl die talentvolle Wian Taljaard die skoene volstaan om die grootwordproses van ’n jong Afrikanerseun opnuut te ontleed.
Met Saartjie Botha se ge-gebergtes, waarin die veteraan-akteur Nic de Jager sy swanesang lewer, is Wessel ook in die regisseurstoel. Dit is ’n roerende storie oor ’n bejaarde emeritus professor wat net voor sy 90ste verjaardag heeltemal oorweldig word deur die lewe. Die agteruitgang van liggaamlike en kognitiewe vermoëns wat nie vir die wêreld weggesteek kan word nie. Die wêreld wat voortsnel in ’n ander trajek. En jy wat wag. Die stuk is ook by die komende Woordfees (2026) op die planke, met Carel Trichardt in Nic se plek.
Vroeër vanjaar, by die Suidoosterfees in Mei, debuteer Wessel se nuutste werk: Eerste vir alles (teks en regie), met Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck in ’n bittersoet komedie oor Adam en Eva wat eeue ná die paradys besin oor die huwelik en die liefde. Margit vertel aan my dis ’n droom om saam met Wessel te werk. “Hy verstaan ’n deadline. Hy’s ’n kenner op sy vakgebied, verstaan komedie só goed en dis herkenbare ‘slim’ komedie.” Ook hierdie toneelstuk is by Woordfees te sien. Buiten ge-gebergtes en Eerste vir alles, is Wessel ook by die fees betrokke as vertaler vir ’n Middel en regisseur, vertaler en aanpasser vir Vlindervry.
Hy stof ook vanjaar een van sy ander stukke af: My hart is ’n muurbal, vertaal as Squash, wat onlangs in die Kaap en Stellenbosch gespeel het. Dis verskeie stories wat ’n liefdevolle satiriese blik gee op die ervarings van gay mans wat moes grootword met Steve Hofmeyr se musiek.
Vorige optredes van Kuns en ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, ensomeer: die ongewerwelde-trilogie. Foto’s deur Clifford Roberts
Maar dis nie net as dramaturg, akteur en regisseur wat hy uitblink nie. Hy het ook ’n boek op sy kerfstok Die dag is bros/Sandton City grootdoop (2017, Protea Boekhuis) en een van sy kortverhale ‘Love in autumn’ is opgeneem in Die meisie met uitroeptekens in haar oë (2021, Pan Macmillan South Africa).
“Ek was nog nooit regtig ’n groepmens nie,” verduidelik Wessel oor die balans tussen satire en deernis. “Uit daardie vantage point in die hoek kan jy mense dophou en vir hulle stories verbeel. Dis ’n waardevolle afstand vir satire. Terselfdertyd het ek as gay tiener in Nelspruit vinnig geleer hoe om ongemak en vernedering met die absurde en humor te meng. Ons is almal inherent eensaam, en al is dit my enigste sukses as kreatiewe persoon, wil ek daardie eensaamheid verlig deur my werk.”
Daardie vermoë om die menslike kondisie vas te vang laat gehore dikwels voel dat hy die polsslag van die samelewing verstaan. Wessel bly egter beskeie: “Ek is nie uitermatig bewus daarvan dat ek my vinger op die pols hou nie. Ek bly maar net nuuskierig en luister na die gevoel van die tyd. Jou eie vrese en opgewondenheid is gewoonlik ’n universele reaksie wat net op verskeie maniere vermom word.”
“Terselfdertyd het ek as gay tiener in Nelspruit vinnig geleer hoe om ongemak en vernedering met die absurde en humor te meng. Ons is almal inherent eensaam, en al is dit my enigste sukses as kreatiewe persoon, wil ek daardie eensaamheid verlig deur my werk.”
Wessel word vanjaar 40, ’n mylpaal wat vrae oor verganklikheid oopkrap, maar hom ook help om broosheid op die verhoog te ontgin: “My dertigs het my nederig gemaak. So ek is op ’n baie ontvanklike plek vir ander mense se weerloosheid en vrese. Dit maak jou onmiddellik klein van ego en groot van gees.”
As hy sy lewensuitkyk in een begrip moet opsom, kies hy kintsugi: “Las die skerwe met goud.”
Sy passie vir teater bly onblusbaar en hy vertel hy is mal daaroor om saam met opkomende kunstenaars te werk. “Hulle energie herinner my om nooit te sinies te raak nie. Maar daar’s nog baie skrywers se werk wat ek wil besoek – nog Shakespeare, Edward Albee, Tom Stoppard.”
Dis oor koffie by ’n straatkafee dat ek onlangs hoor hoe ’n tannie vir haar vriendin in Pretoria-Afrikaans verduidelik: “Die sukses van Pretorius se produksies lê daarin dat hy die polsslag van die samelewing verstaan. Jonger gehore hou van die vinnige pas, die moderniteit en die eerlikheid van sy karakters, terwyl ouer gehore die ryk skrif, die knap toneelspel en die respek vir die kunsvorm waardeer.”
Sela.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Wessel Pretorius: teatermaker vir 'n nuwe generasie gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




