Sien jou by Klyntji Klub 🪩

130 kersies op die Ons Klyntji-koek – kom kuier saam by Woordfees

In 2026 bestaan Ons Klyntji al 130 jaar.

Dit is in der waarheid die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif – gestig in 1896, herleef in die 1940’s–50’s en weer in die 1990’s. Sedertdien verskyn die gedrukte Ons Klyntji-zine elke jaar – nou ’n meertalige samekoms van kreatiwiteit. Gereelde lesers weet al hoe die res van die rympie gaan: Klyntji.com bestaan van 2014 af as ’n onafhanklike webjoernaal wat fokus op diverse en progressiewe Suid-Afrikaanse kuns en kultuur. Saam verteenwoordig Klyntji – die verskillende weergawes van die tydskrif oor die jare plus die zine en die webjoernaal – ’n DIY-houding en ’n denkwyse wat bevraagtekening, uitdaging en speelsheid op die voorgrond stel.

Hoe anders dan as om Ons Klyntji se 130ste verjaarsdag met groot bohaai te vier?

Ons haak op 10 Oktober 2026 by die gawe mense van Woordfees in om vir jou ’n dubbele dosis Klyntji-gees te bring. Ons begin met die launch van Ons Klyntji 2026 om 16:00 en hou dan groot paartie van 18:00 tot laataand – beide by Aandklas in Stellenbosch. Hierdie makietie gaan nie ’n stywe affêre wees nie; ons gaan dans dat die biesies bewe by ’n club night soos g’n ander, saamgestel deur Jaco van der Merwe met performances deur Die Hotel Henry, Jason B, Gktimo, Chefstibo, Dierbaar, Altra-Mal, DJ Yellow en Plaat Japie.

Kry jou kaartjie vir die zine launch hier en vir Klyntji Klub hier.

Ons politoer solank ons dansskoene – sien jou daar!

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Sien jou by Klyntji Klub 🪩 gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand