Die padda wat moes opsit met 'n gerokery

Die padda wat moes opsit met 'n gerokery

Jack Beal, Frogs and toads (1973). Kunswerke via Art Institute of Chicago

Kimon de Greef se boek, The ego trip: die waarheid is vreemder as fiksie

Hier is ons: die selfbewuste soogdier wat met soveel selfversekerdheid ons eie ondergang bewerkstellig, maar op soek is na die selfvernietiging van ons beskouing as ’n self. Ego kom direk uit Latyn, wat eenvoudig “ek” beteken. Deesdae is dit alledaags om te hoor die-of-daai persoon is op soek na ’n ego death. Wie van ons verstaan nie die behoefte om aan die saaiheid van ons alledaagse selfagting te wil ontsnap nie? Dit is ’n uitdaging om die verskil tussen die ideale beeld van jouself en die werklike uit te wis, veral in ’n wêreld waar niks meer eg voel nie. 

Ek het onlangs met Kimon de Greef gesels oor sy nuwe boek The ego trip: psychedelic toads, a trail of deaths, and the guru who peddled transcendence (2026, Penguin Random House, Doubleday).

Die boek handel oor Octavio Rettig Hinojosa, ’n Meksikaanse dokter in sy dertigs, wat sy dwelmverslawing oorkom het met nóg dwelms: deur ’n padda se klierafskeiding te rook, bekend as 5-MeO-DMT. Dit word dikwels na verwys as die God-molekule. Die gedagte klink dalk grillerig, maar as jy bereid is om by die dood om te draai, is jy dalk in vir ’n treat. Om vir eens verlos te wees van jou vlees, asook jou gees – en dan daai groot geheime vereniging te bereik met die kosmos, ’n crack code tot die obskure eed van euphoria. Maar eers moet jy verstaan dat 5-MeO-DMT van die Sonoro-woestynpadda afkomstig is, wat woon op die buitewyke tussen Meksiko en die Verenigde State van Amerika. Dit is uiters giftig om oraal te neem, maar indien die afskeiding uitgedroog en gerook word, ontstaan daar ’n chemiese omskakeling wat die meeste mense oorleef.

Rondom 2018 het die algemene gevoel teenoor psigedelika drasties begin verander. Nuwe navorsing het aangedui dat psigedeliese terapie belofte inhou om behandelingsweerstande depressie te genees, verslawing te oorkom en vrede vir vermoeide mense te bring, lees ek in The ego trip (185). Die missie van die nuwe psigedeliese rewolusie: 5-MeO-DMT. Waar ander psigedeliese middels die werklikheid verwring, vervang 5-MeO-DMT jou wêreld met ’n groot niksheid, waar leegheid eens gelê het. Dit word beskryf as ’n ego death, ’n gevoel van suiwer bewussyn, wat gewoonlik slegs vir gevorderde mediteerders toeganklik is. 

Wie van ons verstaan nie die behoefte om aan die saaiheid van ons alledaagse selfagting te wil ontsnap nie? Dit is ’n uitdaging om die verskil tussen die ideale beeld van jouself en die werklike uit te wis, veral in ’n wêreld waar niks meer eg voel nie.
— Celeste Theron

Dink aan ’n toestand waar alle pyn en sorge eensklaps verdwyn. Die ervaring duur net 20 minute, hoewel daar ook ’n langtermyn uitwerking is. But there’s a catch, en dit behels meer as net om die arme enorme Sonoro-woestynpadda te vang: Octavio Rettig Hinojosa veroorsaak onmin in die omstrede paddarook-rewolusie, deur gevaarlike sjamanistiese sirkels te skep (waar hy as sjamaan heet), wat al tot vier mense se dood gelei het.

Kimon het hom toevallig bewimpel in hierdie psigedeliese padda-tameletjie en het nie noodwendig ’n buitengewone behoefte gehad om hom te verdiep in die hedendaagse psigedeliese rewolusie nie. Sy belangstelling lê eintlik by wildstropery, waaroor hy al ’n boek geskryf het Poacher: confessions from the Abalone Underworld (2018), en hy het ’n meestersgraad in bewaringsbiologie. Sy nuwe boek is ’n uitbreiding van ’n storie wat hy in 2022 vir die New Yorker geskryf het: The Pied Piper of psychedelic toads. Hy was gaaf genoeg om vir my die boek te stuur toe ek hom kontak, en om tyd af te staan vir ’n onderhoud online. 

Kimon het ’n deurdringende blik en hy drapeer hom half ontspanne op ’n bank. Hy het my laat weet ons gaan vinnig moet gesels, sy vrou is siek en hy moet na hulle baba kyk. Die onderhoud vind plaas in Engels, en ek het die gesprek vertaal.

“Ek dink met psigedeliese middels wat ’n bietjie meer mainstream geword het, het ek meer daarin begin belangstel, maar ek sou nooit gedink het ek gaan ’n hele boek oor psigedelika skryf nie,” vertel hy my. “Ek het hierdie storie begin as ’n soort wildstropery-storie, oor padda-stropery, en dit was eers later dat ek begin delf het in hierdie ander dele van die storie wat toe baie groter geword het. Ek sou sê bewussyn is intrinsiek fassinerend. Ek dink die idee dat ons dink en waarneem en voel, en dat daar klein molekules is wat daardie prosesse radikaal kan verander, is baie interessant. Ek het dit nog altyd interessant gevind, maar ek het beslis deur ’n agterdeur by hierdie storie uitgekom.”

Nadat Octavio en sy vriend hulle crack cocaine-verslawing oorkom het deur van die Sonoro-woestynpadda se uitskeidings te rook, het hulle dit aan ’n klein inheemse stam in die noordelike dele van Meksiko bekend gestel. Die gemeenskap het verskeie ellendes in die gesig gestaar, soos narkotiese dwelmhandelry, wat tot geweld en korrupsie gelei het met Meksikaanse en Colombiaanse dwelmkartelle. Kyk, Octavio was nie ’n gewone junkie nie. Hy het flair. Verstand. Hy is immers ’n dokter – en hy het boonop die vernuf om sy begeestering uit te voer. Om die waarheid te sê, Octavio het geroepe gevoel om sy pad na lig te deel.

“As ek wou, het ek die geleentheid gehad om my lot te verander en dié van die mensdom,” haal Kimon hom aan in die boek (alle vertalings uit die boek is my eie) (9).

Octavio het geglo dat dit die kortste pad is om te verstaan dat ons almal een is, en die gebruik van padda-rokery voorgestaan as ’n voorvaderlike vorm van genesing en verbintenis met jou medemens – maar hy was lukraak at best ten opsigte van die manier waarop hy die gebruik daarvan toegepas het. Hy administreer groot dosisse, wat hy noem “breakthrough doses”, wat sterk genoeg is om deur enige psigologiese weerstand te beur. 

“Sodra ek begin inasem het, het die drange begin verdwyn,” verduidelik Octavio aan Kimon. “Die padda-medisyne het my teruggebring na dieselfde plek – innerlike vrede, kalmte, liefde” (10). Om die gebruik van die Sonoro-woestynpadda se afskeiding te bevorder, het Octavio dit legit gemaak deur ’n fabelagtige oorsprongmite te versin wat die inheemse Seri-gemeenskap daarmee verbind het (ook bekend as die Comcaac). In 2011 het Octavio nagskofte gewerk by ’n apteek en bedags paddas gerook, maar dit was nog voordat hy bekend was as el doctor sapo (die padda-dokter).

Die Seri-gemeenskap woon in twee klein visserdorpies in die kustelike woestyn, noord van Kino. Hulle gebied val onder magtige kartelle wat dwelms smokkel na die VSA, wat veroorsaak dat dwelmverslawing bly toeneem, selfs onder kinders (50). Die isolasie en armoede van die gemeenskap het dit moontlik gemaak vir Octavio om die Seri-gemeenskap se hoof Chapo Barnett te oorreed om in te koop in die padda-storie, en aanvanklik het hulle hom bygestaan in die gebruik daarvan, totdat hulle besef het dat Octavio besig is om hulle uit te buit.

Die argeologiese rekords waarna Octavio verwys as ’n bewys dat Seri ’n lang geskiedenis van padda-rokery het, was op sy beste onbeslissend: Paddas in Meso-Amerikaanse ikonografie kon ’n wye reeks ander betekenisse simboliseer, van vrugbaarheid tot seisoenale reëns, en daar kon eweneens ander verklarings gewees het vir hul geraamtes wat in ashope opgeduik het. Daar was ook geen koloniale verslae van paddas wat in rituele gebruik is nie, anders as ander psigoaktiewe tradisies wat noukeurig deur die Spanjaarde gedokumenteer is (37).

Jean-Eugène-Auguste Atget, Saint-Cloud (1923)

Alhoewel alle brulpaddas gifstowwe produseer, is dit slegs die Sonoro-woestynpadda wat 5-Me0-DMT afskei. Die beperkte habitat van die padda, ’n endemiese spesie wat nêrens anders op aarde voorkom nie, het beteken dat die hele wêreld se voorraad uit die Sonoro-woestyn moes kom (121) – maar hier is die kwaak van die saak: Dis nie regtig nodig om paddas te betrek om die visioenêre effekte van 5-MeO-DMT te ervaar nie. Die molekule kan relatief goedkoop in ’n laboratorium vervaardig word, maar Octavio se versinsels was so verleidend, dat die meeste gebruikers die meer “natuurlike” vorm van 5-MeO-DMT verkies. So aanpasbaar as wat die Sonoro-woestynpaddas is, was hulle nie voorbereid op die aanslag van psigedeliese belangstelling wat Octavio gekweek het nie.

Gerugte oor roekeloosheid het Octavio gevolg sedert sy eerste internasionale toer, vroeg in 2013, toe hy na Salt Spring gevlieg het, ’n klein Kanadese eiland naby Vancouver (80). Hy het geen mediese voorsorg getref vir sy kliënte nie en geen gesondheidsiftings gedoen nie. Daar was geen besprekings oor veiligheid nie, geen intensiestellings nie en geen ander psigedeliese welsynspraktyke is uitgevoer nie (82).

Die meeste padda-rokers regoor die wêreld het geglo dat hulle ’n eties-getoetste, inheemse sakrament koop, maar die werklikheid was veel donkerder: Dit het nie net die uitbuiting van die paddas behels nie, maar ook dié van die inheemse werkers wat die paddas moes versamel (117). Dit moet bygevoeg word dat “toad medicine” wel streng gesproke ’n hernubare bron is (131). Die Sonoro-woestynpadda kan sy toksiese stowwe hergenereer nadat dit leeg getap is, en tegnies kan dieselfde padda weer gemelk word, soos ’n koei, maar die skaal van die globale aanvraag sal dit nie volhoubaar maak nie. Weens die geheime aard van hierdie besigheid, weet niemand hoeveel “toad medicine” elke jaar geoes word nie.

By gebrek aan institusionele hekwagters, en met die veld van psigedeliese terapie wat nog vorm aanneem, was dit moontlik vir figure soos Octavio om vinnig na vore te tree. Tog was dit sy uitlatings dat hy ’n vergete psigedeliese praktyk laat herleef het, wat hom laat uitstaan het bo die ander kwaksalwers (21). Mens betaal omtrent $5 vir ’n sak vol paddas. Dit is ordentlike geld in ejidos, ’n plek waar armoede volop is (124).

Oor die vier sterftes wat plaasgevind het tydens Octavio se paddarook-seremonies, het hy gesê alhoewel die sterftes vir hom traumaties was, was dit ook die “grootste seëning” van sy lewe (104). Dit is slegs die vier sterftes wat gedokumenteer is; niemand weet of daar meer mense al dood is nie. Daarna het hy kil en ironies gereflekteer: “Ek weet ná daardie ondervinding dat die medisyne veilig is. Ons mense, ons is gevaarlik” (104).

Dit laat dink my aan ’n aanhaling van Nietzsche, uit sy boek Human, all-too-human: “Convictions are more dangerous enemies of truth than lies” (483). Het die mens dan so walglik en gevaarlik geword dat ons ten alle koste onsself wil suiwer van die self? 

Die Sonoro-woestynpadda kan sy toksiese stowwe hergenereer nadat dit leeg getap is, en tegnies kan dieselfde padda weer gemelk word, soos ’n koei, maar die skaal van die globale aanvraag sal dit nie volhoubaar maak nie.
— Celeste Theron

Ek vra vir Kimon wanneer hy vir die eerste keer van hierdie padda-rokery gehoor het, en van Octavio.

“Ek dink een of twee mense het my daarvan vertel, van hierdie hardcore psigedelika wat hulle van paddas kry, en ek dink iemand wat ek geken het, het ’n tattoo van ’n padda gehad. Maar ek het nie geweet daardie scene bestaan nie, totdat ek in 2020 begin verslag doen het van die voorsieningskettings vir die paddas,” antwoord hy. “Dit het al hoe duideliker geword dat daar hierdie larger-than-life figuur is, wat op ’n manier daardie wêreld tot stand gebring het. Wel, dit het voorheen bestaan, maar hy het dit in hierdie wêreldwye verskynsel omskep en met hierdie oorsprongstorie vorendag gekom – en reeds teen die tyd dat ek van hom gehoor het, was daar ’n massiewe poging deur die psigedeliese padda-gemeenskap om hom te deplatform, weens al die ernstige beskuldigings en so meer. Dit het begin sin maak om op hierdie karakter te fokus. Ek het nie eers geweet dat dit ’n New Yorker-storie gaan word nie.”

Wat het hy verwag van Octavio, toe hy hom die eerste keer gaan ontmoet het in Kino in 2021? wil ek weet.

“Ek het ’n groot hoeveelheid angs gehad dat hy nie daar sou wees nie. Dit was my eerste opdrag vir die New Yorker, en hulle het baie geld bestee om my, as ’n freelancer wat nog nooit vir so ’n groot publikasie geskryf het nie, daar te kry. Ek het gedink hy gaan nie opdaag nie, omdat hy nogal wisselvallig op boodskappe geantwoord het. Ek het ook geen idee gehad of dit net ’n eenmalige ontmoeting sou wees nie. My hoop was dat hy my sou toelaat om langer daar te bly, wat toe wel gebeur het. Ek het omtrent drie weke saam met hom deurgebring. Ek wou sien hoe dinge van die grond af lyk. Ek wou hom sien in aksie en bevestig of die omstredenheid rondom hom waar was.”

Namate angs oor die welstand van die wêreld se enigste bekende psigoaktiewe dier gestyg het, het steun vir bewaringspogings van ’n onverwagse bron gekom. Hamilton Morris, die aanbieder van die VICE-dokumentêr oor padda-rokery, het spyt geword dat hy die praktyk bemark het. Soos wat Sonoro al hoe gevaarliker geword het, het die vraag na die “medisyne” net toegeneem. Die kwesbare balans het begin verskuif toe Octavio die middel in 2006 bekend gestel het. Die populasiestatus van die Sonoro-woestynpaddas is onbekend.

Robert Eagerton, Frog leaping after circle (datum onbekend)

Ek wil by Kimon hoor wat Octavio se innemende kwaliteite is.

“Ek dink eerlikwaar dat hy opreg mense wil help. Ek dink hy het goeie intensies die meeste van die tyd, maar ek dink nie die intensies maak soveel saak soos die gevolge van sy dade nie. Ek dink daar is ’n gaping tussen sy goeie bedoelings en hoe hy dit toepas. Hy is snaaks, hy is intelligent en hy is ongelooflik charismaties. Dit was vir my interessant om my reaksie teenoor hom waar te neem. Ek het gevind dat ek gereeld sy geselskap geniet, en wanneer ek dit besef, het ek ’n nota daarvan geneem, want wat ek teenoor hom gevoel het, is wat ander mense ook moes beleef. Hy is ’n enigmatiese mens. Ek het nie myself aan daai gevoel oorgegee nie; ek was baie skepties en bewus van die dinamika.”

Kimon vra of hy my iewers verloor het, omdat ek vir lank daarna net stilbly, maar die waarheid is, ek is dumbfounded. 

“Die feit dat hy so enigmaties is, maak hom nog meer skrikwekkend vir my, want sy dade word toegedraai in hierdie verteerbare pil wat maklik is om te sluk,” gaan hy voort.

Ek wil by Kimon weet wie op hierdie vyf jaar lange navorsingsreis die grootste indruk op hom gemaak het.

“Ek sal sê hierdie verlore ou wat ek ontmoet het van Suid-Afrika, wat afkomstig is van Bellville. Hy was op soek na iets. Hy het baie traumatiese kinderjare gehad. Sy pa was in die Suid-Afrikaanse weermag en het bietjie bosbefok gegaan. Hierdie kid was in verskeie rehabilitasiesentrums, en nou was hy besig om te reis deur Suid-Amerika, op soek na sjamanistiese genesing. Hy was in hierdie Seri-land/fairyland, want die storie oor die inheemse gemeenskap wat paddas rook, het posgevat. Sy storie is in die boek. Dit was net so mal om iemand van Suid-Afrika daar te ontmoet. Hy het so mislei of gullible en weerloos voorgekom.”

Hy vertel verder: “Ek het dit eers byna humoristies gevind, maar toe ek sy storie hoor, en dat hy hierdie vrou het iewers in Meksiko wat besig is om te sterf aan kanker, toe besef ek almal in hierdie storie doen dit vir baie real redes, en as ’n verslaggewer kan ek dit soms vergeet – maar dís eintlik die regte storie. Ek dink toe by myself: En hier is jy, in die middel van hierdie psigedeliese toeriste-sirkus, besig om na iets eg te soek, of na hierdie sjamaan wat dalk nie bestaan nie, maar tog kan ek daarmee relate. Ons almal wil ’n beter weergawe van onsself wees.”

Die verhouding tussen die praktisyn en die kliënt is gelaai met ’n geweldige magswanbalans, wat neerkom op die argetipiese verhouding tussen student en ghoeroe. Dit lei ook gereeld na seksuele uitbuiting, waarop Kimon in die boek uitbrei. Die probleem is dat die skade rondom psigedeliese middels nóg verder strek as geskonde seksuele grense. Deelnemers aan sulke seremonies ervaar gereeld psigose of doen fisiese beserings op. Mense sterf of pleeg selfdood – alhoewel die afwesigheid van formele verslagdoening dit onmoontlik maak om te weet hoeveel (88).

Sedert 2018 fokus aansienlik meer navorsers op die terapeutiese voordele van psigedeliese middels as op die risiko’s daarvan, wat lei tot ’n onnodig rooskleurige uitbeelding van die veld.

In die boek beskryf Kimon ’n toneel waar een vrou tydens so seremonie sonder toesig deur die modder kruip en stuiptrekkings kry en alleen gaan lê onder ’n boom en bloei. Wanneer Octavio daarvan bewus gemaak word, is sy reaksie om haar tot in die swembad te rol met sy voet (94). Maar miskien is die mees skokkende toneel waar Octavio se eie girlfriend sterf en sy reaksie daarop is dat die bloedjong Ana Patricia Arredondo nooit sy partner was nie.

Daar is tog hoop in hierdie storie, sê ek vir Kimon. Dit is ook so dat verskeie mense wel van hulle verslawings genees geword het, of weer lig gevind het na ’n eindelose donker tonnel. Die eerste wetenskaplike opname van 5-MeO-DMT-gebruikers, wat vroeër daardie jaar (2018) deur Alan Davis en kollegas gepubliseer is, het wel bevind dat meer as driekwart van diegene met depressie ’n verbetering in hulle simptome gerapporteer het.

Kimon help my vinnig reg met daai stelling en beklemtoon dat 5-MeO-DMT slegs ’n tool is.

“Soos alle tools, hang dit af hoe jy dit gebruik, en dis nie ’n magic bullet wat alles fix nie. En daar is ’n dinamika in hierdie industrie waar die slagoffers wat nie ’n goeie ervaring gehad het nie, blameer word. Soos dat jy te bang was, of dat jy nie genoeg aan jou innerlike self gewerk het nie, en dis fucked-up.”

Die boek is baie dig en deeglik geskryf. Dit volg nie net die verhaal van Octavio as gomtor, kwekmaaier en charlatan nie, maar skets ook die kultuur-historiese agtergrond waarteen dit afspeel. Die chemie agter 5-MeO-DMT word in die eerste hoofstuk duidelik verduidelik. ’n Groot deel handel oor die geskiedenis van die Seri-gemeenskap, wat wys hoe hulle tradisies deur die paddaroker-toeriste-industrie misbruik is, maar ook hoe hulle van hierdie industrie afhanklik geword het en hoe dit hulle sosio-politieke omstandighede in sekere maniere verbeter het. Kimon ondersoek ook die besigheidskomponent agter 5-MeO-DMT en praat met die aristokrate wat hierdie rate aan die gang draai: Enter Amanda Feilding, wat verlede jaar oorlede is.

Binnekort is 5-MeO-DMT dalk die nuwe Ozempic, ’n kitsoplossing vir ’n probleem wat dui op iets groters. In die boek onthou Kimon ’n gesprek wat hy gehad het met die psigiater Alan Davis wat navorsing gedoen het oor 5-MeO-DMT: “When the ego is dissolved, and you are completely at one with what you’re perceiving as God or the universe, there is no difference between you and that thing. You are that thing. When your ego reasserts itself, there’s potential to hold on to that belief – that there’s no difference between you and God” (178).

Of jy nou ’n soeker, swerwer, of eksperimenteerder van ongewone geestestoestande is, of bloot net verlang na ’n pyndoder vir ’n pap psige, sal hierdie boek jou dalk só boei dat jy binnekort begin soek vir vliegtuigkaartjies.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die padda wat moes opsit met 'n gerokery gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand