Die kuborg in die Antroposeen

Foto deur Charles Levy van die atoombom oor Nagasaki in 1954, via Wikipedia

In Sticky drama skryf Dominique de Groen jubelend oor die einde van die mens se tirannie oor die planeet

Noudat ons byna daagliks ’n vloed of veldbrand moet trotseer en massa-uitsterwings van spesies ’n gereelde ding word, raak Toast Coetzer se ‘Natuurgedig’ (Nuwe stemme 2, 2001) ’n motto vir die wanhoop waarmee ekodigters worstel: 

destyds het ouens soos van wyk louw en opperman
nice gedigte oor die natuur geskryf.
ons het nie meer tyd vir sulke kak nie.

Die dringendheid van die klimaatkrisis maak dit inderdaad byna pervers om nog mooi gediggies te skryf oor die natuur (só “daar doer”, só “buite”). Trouens, die impak van die mensdom (antropos in Grieks) se aktiwiteite op die planeet is só groot dat dit ’n transformatiewe uitwerking op die aarde en atmosfeer het. Vandaar die beweging onder ekokritici om die geologiese epog van die Holoseen (wat strek vanaf sowat 11 700 jaar gelede tot nou toe, en wat die Pleistoseen opvolg) te herbenoem na die Antroposeen. Nie alle navorsers stem saam dat die Antroposeen as ’n geologiese tydperk geklassifiseer moet word nie. Om hierdie rede is ’n taakspan wetenskaplikes, genaamd die Anthropocene Working Group (AWG), deur die subkommissie oor kwartêre stratigrafie saamgestel, wat tussen 2019 en 2024 die meriete van die Antroposeen as ’n formele eenheid van die geologiese tydskaal beredeneer het. As die voorstel sou slaag, sou die Antroposeen amptelik die epog van die Holoseen vervang. Op 26 Maart 2024 is die voorstel egter deur die kommissie verwerp (sien Subcommission on quarternary stratigraphy, 2024).

Dominique de Groen se digbundel Sticky drama (2019) bied ’n scenario aan waar die booswig, die spreekwoordelike vlieg in die salf (die mens), opgeklits word in die groot kosmiese sop van saambestaan om ’n alternatiewe manier van bestaan te illustreer: die post-ramp en post-“mens”, met karakters oor verskeie spesies heen, onder andere skaaldiere, bakterieë en kuborgkarakters.

Die leser word onmiddellik met die aanvang van dié verhalende digbundel gedompel in ’n verbeelde wêreld; êrens in die toekoms waar die mens se vingerafdruk nog sigbaar is op die planeet, maar waarin die “menslike toestand” van die verteller vaag en dubbelsinnig is. In hierdie alternatiewe, postmenslike werklikheid illustreer De Groen ’n wêreld waarvan die mens deel is, maar waarin alle entiteite in die nuwe heterargiese (teenoor ’n hiërargiese) sisteem tegelyk kragte uitoefen op mekaar en nuwe verhoudings vorm.

Gelees deur die lens van die posthumanisme en die konsepte wat daaruit vloei, soos die kuborg en transliggaamlikheid, kan die digbundel nuttige insigte bied oor hoe ons die bestaande denkraamwerk van antroposentrisme kan skaaf en verander na ’n posthumanistiese ontologie. 

Ek dink en daarom is ek nie deel van die sisteem nie

Die oorsake van klimaatverandering is kompleks: Natuurlike prosesse soos vulkaanaktiwiteite en dié van die son, tesame met ongebreidelde uitbreiding en ontwikkeling (in kort, die kos van die kapitalistiese sisteem) én die ontginning en verbranding van fossiele is te blameer, ja, maar die groot sondebok is die Westerse humanistiese idee dat die mens nie net buite die omgewing staan nie, maar ook die middelpunt van alles is. Die meeste kritici is dit eens dat die Eeu van Verligting en Descartes se bekende “Cogito ergo sum” die katalisator was vir die plundering van die planeet se sogenaamde “hulpbronne” tot diens van die mens. Die human van Newton en Descartes se humanisme is egter ’n baie skraal skyfie van die totale mensdom se diagram. Mens, in die Verligtingstradisie, bedoel hoofsaaklik: manlik, Europees, Wit, heteroseksueel en niegestremd. 

Links: Die Vetruviaanse man deur Leonardo da Vinci, via Britannica. Regs: Giuseppe Arcimboldo, The instruments of human sustenance (Humani Victus Instrumenta): cooking (ná 1569). Etswerk, 37,9 × 27,7 cm, via die Met

Feministiese teoretici kritiseer sedert die 1960’s dié spesifieke definisie van die Westerse humanistiese mens wat die meerderheid van die mensdom uitsluit. Deur te woeker met die teoretiese verbreding van die konsep van menslikheid, ontwikkel die posthumanistiese filosofie as ’n denkraamwerk waarin die mens nie sentraal geplaas word nie. Dié denkraamwerk heroorweeg eerstens die posisie van die mens ten opsigte van die omgewing en bevraagteken tweedens die grense tussen die menslike en niemenslike; manlik en vroulik; en natuur en kultuur, ten einde die idee van (Westerse) menslikheid af te takel. 

Die posthumanistiese denkraamwerk is belangrik vir die ontwikkeling van ’n wyse van voortbestaan in die Antroposeen. Wanneer die grense tussen mens en organisme, of mineraal en plant of dier vervaag, kan die kennis van ons vervlegdheid met alle materie in ons omgewing uiteindelik lei na ’n meer verantwoordelike omgang met mekaar en die sisteem waarvan ons deel is. 

Daar is verskeie instrumente in die posthumanistiese arsenaal wat ons kan help om anders te dink oor die mens se posisie in die aardesisteem. Die fokus van hierdie artikel is die denkinstrumente van die kuborgidentiteit en transliggaamlikheid, onderskeidelik deur akademici Donna Haraway en Stacy Alaimo omskryf.

Wanneer die grense tussen mens en organisme, of mineraal en plant of dier vervaag, kan die kennis van ons vervlegdheid met alle materie in ons omgewing uiteindelik lei na ’n meer verantwoordelike omgang met mekaar en die sisteem waarvan ons deel is.
— Cecilia Steinberg

Die kuborg in Sticky drama

Haraway se konsep van die kuborg is een van die hulpmiddels wat kan lei tot ’n herbesinning oor die begrip van menslikheid. Anders as die tradisionele konsep van die kuborg as ’n sisteem van mens en masjien, is Haraway se kuborg ’n saamgestelde wese waarin die grense tussen die mens en masjien, asook niemenslike organismes vervaag. Die kuborg word hierdeur ’n tussenganger wat ’n heterargiese, wederkerige verhouding tussen die menslike en niemenslike fasiliteer. Uit hierdie beginsel word daar só getorring aan die konsep van menslikheid dat die mens deur middel van die kuborgidentiteit op ’n verantwoordelike wyse wegbeweeg van die oorgeërfde Westerse denkwyse wat gepaard gaan met hebsug, oorheersing en uitbuiting. 

Aanvanklik betreur De Groen in die digbundel die bedreiging wat die natuurlike omgewing in die gesig staar (‘Oogst’, 10). Met elke daaropvolgende gedig word daar egter verder wegbeweeg van die mens-gesentreerde wêreld en die niemenslike karakters verwerf meer agentskap. Die katalisator van hierdie omwenteling van posisie en mag is “een oogverblindende lichtflits” (9), ’n gebeurtenis wat die mens se ondergang as booswig (en apex predator) verteenwoordig. Post-ramp word die antroposentriese strukture wat verantwoordelik is vir die Antroposeen, sistematies afgetakel. Dit word uitgebeeld deur die intuimeling van “markte” (aandelebeurse), die verskuiwing van Cartesiese asse en deur die verwysings na kapitalistiese instrumente (soos “dooie” kapitaal wat die antroposentriese sisteem in plek gehou het). Oorweeg die gedig ‘Diepe tijd’ (25–7):

Diepe tijd

In de nucleaire schemerzone
hebben de dieren, planten
en mineralen van de eilanden
ongeziene krachten verworven
vele malen groter dan die van de mens.
Eonen verstrijken:
Cactaceaceen
Birgusceen
Limulidaceen.
De kleuren trekken weg uit dingen
vloeien smeltend samen in het zand
dat steeds harder
steeds gesatureerder straalt.
Al de markten
die in de loop der eeuwen
lukraak op elkaar zijn gestapeld
storten een voor een in
tot heel de structuur
naar beneden komt
en een harde geometrische plas vormt
waarin de dieren zwemmen
tussen dood geld.
Overal ontstaan nieuwe organismen
in een explosie van leven
zoals in het Cambrium.
Op een oeroud eiland
van plastic
vermenigvuldigen polystyreenmossen zich
in de schaduw
van oude, eerbiedwaardige polyesterbomen.
Hier leven de geesten van mensen.

Terwyl die antroposentriese omgewing ineenstort, word lewensvorme in fluïede, hibriede gedaantes omvorm – insluitend die liggaam van die liriese ek-verteller wat in ‘Oerslijm’ (16) vertel: “Mijn lichaam loopt over / van gesmolten dieren / wachtend om te stollen / en herboren te worden”. Uiteindelik betree die verteller die wêreld as ’n fisieke, getransformeerde wese wat met ’n nuwe liggaamlike werklikheid met die veranderde omgewing omgaan. Die gedig ‘Koraal’ (43–4) illustreer die gedaanteverandering van die menslike verteller na ’n kuborgagtige identiteit:

Koraal

Ik kom boven
gehuld in fragmenten van de druipende zon
die heerst onder de grond.
Kleverige grijze planten
buigen grimlachend hun stengels naar me toe.
De grond is bezaaid
met stukjes microplastic.
Ik slik ze in
breek ze af tot petroleum.
Ik glijd naar het rif
waar de laatste
en eerste mensen leven
in poriën
van sponsachtig koraal.
Onherkenbaar getransformeerd
glip ik onopgemerkt binnen
temidden van magische voorbereidingen
onder het licht van verre gasreuzen
die schitteren
in het nieuwe duister.
Ik spuw de petroleum uit
in oude olielampen
die een gelig licht werpen
op de koralen wanden. [...]

Transliggaamlikheid in Sticky drama

Die kuborgagtige wyse van bestaan as tegelyk dier, tegnologie en omgewing bied ’n geleentheid om die deurlaatbaarheid van die menslike-niemenslike grens en interspesieverhoudings te ondersoek. ’n Onderdeel van die teoretisering oor liggaamlike grense is Alaimo se konsep van transliggaamlikheid. Transliggaamlikheid word omskryf as die wederkerige deurkruising van elemente tussen menslike en niemenslike liggame. Die beginsel daarvan is dat alle wesens as beliggaamde entiteite verweef is met die dinamiese, materiële wêreld. 

Op soek na die natuur “daar buite”. Foto deur Charlotte Brooks, via Library of Congress

Wanneer die menslike grens deurkruis word deur substansiële materiële wisselinge, vervaag die grense tussen die mens en die omgewing en word die interverbondenheid van alle materie in die sisteem beklemtoon. Deur die nasporing van die vloei van materie regoor menslike en niemenslike liggame, word grense tussen entiteite herdefinieer. Die konsep van transliggaamlikheid verteenwoordig gevolglik ’n posthumanistiese ontologie waarin daar geen begrip van natuur as buite en apart van die mens bestaan nie. Hierdeur kan daar opnuut gekyk word na die posisie van die mens in die ekosisteem. Daar is ruimte vir die heroorweging van ’n alternatiewe kennisbasis wat die nuwe posisie van die mens reflekteer.

Die vloeibaarheid van transliggaamlikheid en porositeit van liggame word deurlopend in Sticky drama deur die fisieke uitruiling van stowwe tussen liggame vergestalt. Dit word ook beliggaam deur sensoriese kontak tussen entiteite, met hierdie kontak wat tot die vorming van nuwe werklikhede lei. Veral biologiese beelde van are, slagare, haarvate en infeksies kom as motief in die teks voor, asook die nosie van liggame wat op ander entiteite geënt word. Dit is duidelik in ‘Hymne’ (40), wat die skep van nuwe soorte / spesies wat deur die oorkruising en deurkruising van elemente ontstaan, illustreer. Die impak van kapitalisme (die “onzichtbare hand van een dode markt”, 40) wat in die verteller se bloed beweeg, dui op kapitalisme se vernietigende uitwerking op die omgewing. Die nalatenskap van die kapitalistiese sisteem word sigbaar gemaak in gifstowwe en mikroskopiese deeltjies plastiek wat in die bloedstroom van die verteller aangetref word. Verder vertel die verwysing na planete in die liggaam die verhaal van spoorelemente wat nie net in die liggaam aangetref word nie, maar ook op ander planete, die spreekwoordelike “sterrestof” waaruit ons liggame bestaan.

Hymne

Elektriciteit stroomt door mijn aders.
Een magisch object
stroomt door mijn aders.
Duizend afgronden
krioelend van leven
stromen door mijn aders.
Genen doen een zijwaartse schuifeldans
in mijn aders.
De onzichtbare hand
van een dode markt
roert in de besmette vloeistof in mijn aders.
Een stoet van planeten
trekt door mijn aders.
Ik infecteer mezelf
met mijn bacteriële broeders
ieder wezen
dat ooit bestond
stroomt door onze aders
we stromen door de hunne
en worden licht
zwevend door de kosmos
tussen enorme koolstofketens.

Deur die liriese en jubelende beskrywing van hierdie “alledaagse” liggaamlike werklikhede, vestig die gedig ’n hernude bewondering vir die ineenvervlegdheid van die liggaam met die materiële. Dit kan ’n vervlegting wees met mikroskopiese entiteite, soos mikrobes; met die “toweragtigheid” van elektrisiteit of witbloedselle wat beskerm teen siekte; met die infektering met mikroplastiek weens omgewingsbesoedeling; en / of met planete.

Materiële uitruiling word in die bundel ’n deel van die wordingproses van die verteller. Hierdeur word ’n oorgang van binne en buite elke liggaamlike vorm geïllustreer; die grense tussen entiteite word as deurlaatbaar voorgehou; en die verhoudings tussen entiteite word as wederkerig en heterargies uitgebeeld. Dit bring die besef dat mense nie gebonde, aparte organismes is nie, maar biologiese sisteme as deel van ’n groter sisteem.

'n Ligpunt in die donker tonnel

Die onderlinge verhoudings tussen die entiteite in die wêreld van Sticky drama word gekenmerk aan jolige gemoedelikheid en euforiese, spirituele ontwaking. Die slot van die bundel, wanneer die multi-spesiekoor van karakters die lied ‘Somewhere over the rainbow’ sing, onderstreep die oorkoepelende tema van die bundel: Daar is ’n werkbare wyse waarop die menslike kan saambestaan met alle entiteite waarmee die planeet gedeel word – hetsy dier, plant, of mineraal.

De Groen skram met Sticky drama nie weg van die verskrikking van die Antroposeen nie, maar illustreer deur die behendige aftakeling van die humanistiese begrip van mens dat daar tog ’n paar nice gedigte ontgin kan word oor die natuur. Die natuur wat “van de kleinste placozoa tot de grootste / kelpie” (77) insluit.

De Groen skram met Sticky drama nie weg van die verskrikking van die Antroposeen nie, maar illustreer deur die behendige aftakeling van die humanistiese begrip van mens dat daar tog ’n paar nice gedigte ontgin kan word oor die natuur.
— Cecilia Steinberg

Geil
Cecilia Steinberg

Uit die vloed, uit die klam
ontspring ’n oordaad,
lewe bloei kleur, verstik in stof,
blom in pluime soos nebulas
in waterpoele, tuine,
gif wat in patrone stink
en aan die rand die donker spikkel
waar alles nader krul.

My asem in die smoor word min
deur stilte oorval, vandat ons taalloos swem
in slym is alles eenders van gedagte,
hoor die kleur, kyk die klank, projekteer,
my mond word dun, my tong word slaap
in die onstuitbare beleg van praat.

Ek begin al nader aan die swartkolk staan.
Die een wat buig soos lig, wat tyd so vou.
Die een wat my kan uitkry by ’n toekoms
van toe ons primitief was. 


Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die kuborg in die Antroposeen gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand