Mooi Nooi: die vele lewens van Noitjie van die Onderveld

Mooi Nooi: die vele lewens van Noitjie van die Onderveld

Foto’s: Louis van Zyl, tensy anders vermeld

Hoe 'n beeldjie 'n geskiedenis ontsluit

Hierdie storie begin, soos soveel ontdekkings, met iets wat nie heeltemal hoort nie.

’n Foto. 1976. Portret van mev Tini Vorster. In die South African Digest ’n tydskrif wat deur die destydse Departement van Inligting uitgegee is. 

So lyk argiefwerk dikwels. Selde kry jy ’n volledige verhaal. Jy ontdek fragmente. In hierdie geval was dit eers die foto. Maande later volg nog ’n fragment: ’n getikte afskrif van ’n artikel oor die portret. Die publikasie waarin die artikel verskyn het, is onbekend.

Die foto is van ’n formele olieportret. Met die eerste oogopslag lees dit soos soveel ander met dieselfde visuele grammatika: ’n geposeerde figuur in formele kleredrag binne ’n sorgvuldig saamgestelde omgewing. Alles werk saam om status en aansien te kommunikeer.

Links: Portret van mev Tini Vorster (1976) in die South African Digest. Regs: artikelafskrif uit ’n onbekende publikasie. Argiefmateriaal uit die Van Wouw Argief Versameling, UP Museum Argief

’n Vrou regop in ’n rottangrugstoel. Sy glimlag nie. Die vloerlengte tabberd val sag om haar liggaam. ’n Eenvoudige halssnoer, armband en ring voltooi die ingetoë komposisie. Ook die interieur is keurig georden. ’n Muurversiering. Swaar drapering. Salonmeubels. Die vertrek is tegelyk huislik én formeel. Dit is ’n vertoonruimte; alles spreek van ordentlikheid.

En tog is daar iets wat die oog laat talm. Links, op die kaggelrak, staan ’n klein bronsfiguurtjie. ’n Meisie in Voortrekkerdrag en velskoene: Anton van Wouw se Noitjie van die Onderveld.

Fisies is sy klein. Donker teen die ligter vertrek staan sy op haar eie voetstuk, effe eenkant, maar onmiskenbaar binne Tini Vorster se wêreld. Die oog glip maklik oor haar, maar sodra sy opgemerk word, is dit moeilik om haar weer weg te dink. Die twee figure kyk nie na mekaar nie. Daar is geen gebaar wat hulle bind nie. Tog is dit moeilik om die gevoel af te skud dat hulle saam gelees moet word. Min dinge in formele portrette is toevallig; voorwerpe word sorgvuldig gekies. Noitjie is daar met ’n rede. Die vraag is: Waarom word juis Noitjie langs Tini Vorster geplaas?

Die vraag word dringender wanneer ’n mens uitvind wié die vrou in die portret is.

Tini Vorster was die eggenote van BJ Vorster, Suid-Afrika se eerste minister van 1966 tot 1978. Die portret is in 1976 in opdrag deur Rui Preto Pacheco (1922–1989) geskilder ter herdenking van Vorster se tiende ampsjaar. Pacheco was veral bekend vir sy formele portrette en staatsopdragte. Hierdie werk is by Libertas, die amptelike eersteministerswoning in Pretoria, voltooi. Dit was dus nie bloot ’n persoonlike portret nie, maar ’n staatsportret, geskilder in die hart van die apartheidstaat. Juis daarom lees Noitjie se teenwoordigheid meer as bloot dekoratief. Die oorspronklike olieportret se huidige verblyfplek is onbekend. Tydens my navorsing was die foto die enigste spoor wat ek daarvan kon vind.

Teen die tyd dat sy op Tini Vorster se kaggelrak verskyn, was Noitjie lank nie meer net ’n beeldjie nie. Oor byna 70 jaar het sy nuwe betekenisse opgeneem soos sy van die uitstalruimte na huise, skole, tydskrifte, monumente en uiteindelik ook die politieke verbeelding beweeg het. Om haar plek in hierdie portret te verstaan, moes ek haar opeenvolgende lewens naspoor.

Daardie ondersoek het die vertrekpunt gevorm vir Mooi Nooi: sculpting identity – art, nationalism and womanhood, die uitstalling wat ek in 2025 as deel van my meestersgraad in kontemporêre kuratoriale praktyk aan die Universiteit van die Witwatersrand saamgestel het. As deel van die navorsing het ek hierdie vrae nie net in ’n geskrewe tesis ondersoek nie, maar ook kuratories deur historiese voorwerpe, argiefmateriaal en kontemporêre kunswerke met mekaar in gesprek te bring. Die uitstalling was deel van die navorsingsproses. Noitjie het die vertrekpunt geword vir ’n groter vraagstuk: Hoe voorstellings van vrouwees nie net bestaande idees oor identiteit weerspieël nie, maar dit aktief help vorm. Tydens die navorsing het dit my telkens opgeval hoe dikwels mense Noitjie herken het, nog voordat hulle geweet het wie sy is. Dalk is dít juis hoe sulke voorwerpe werk. Hulle leef so lank saam met ’n gemeenskap dat hulle uiteindelik vanselfsprekend word.

Noitjie is een van die mees bestudeerde vrouefigure in die Afrikaanse visuele kultuur. Nie omdat sy noodwendig Van Wouw se belangrikste beeld was nie, maar omdat sy mettertyd veel meer betekenis begin dra het as bloot dié van ’n beeldhouwerk. (Lees byvoorbeeld Elsabé Brink se artikel The “Volksmoeder”: a figurine as figurehead en Lou-Marié Kruger se boekhoofstuk Anton van Wouw’s Noitjie van die Onderveld, Afrikaner nationalism and the construction of the Volksmoeder discourse.)

Die eerste van Noitjie se vele lewens begin by haar skepper Anton van Wouw (1862–1945). Van Wouw was ’n bepalende figuur in die vestiging van die Westerse beeldhoutradisie in Suid-Afrika. Benewens openbare monumente, het hy ook kleiner bronsbeelde vervaardig. Monumente soos die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein en die Vrouemonument in Bloemfontein het sy reputasie help vestig.

In 1907 het ’n sindikaat Van Wouw finansieel ondersteun om ’n reeks kleiner bronsbeelde te vervaardig. Noitjie van die Onderveld is as deel van die reeks by die Giovanni Nisini-gietery in Rome gegiet. (Ironies genoeg is een van die bekendste voorstellings van Afrikanervroulikheid nie in die Transvaal of die Vrystaat gebore nie!) Van die eerste uitgawe is slegs 15 vervaardig – een vir elke lid van die sindikaat. Die beeld op Tini Vorster se kaggelrak is een van daardie oorspronklike 15. (Baie van hierdie besonderhede het uit navorsing in die Anton van Wouw-argief in Pretoria en gesprekke met die argivaris en kunshistorikus Gerard de Kamper voortgespruit.)

Die beeldjie is 42 sentimeter hoog. Wat my eerste opval, is haar silhoeët en houding: ’n stil, ingetoë figuur met haar hande gevou voor haar liggaam. Die patroon van die kappie, die plooie van die rok en die subtiele modellering van die gesig getuig van die sorg waarmee sy gemaak is. Tog is dit nie die detail nie, maar haar houding wat die oog hou. In profiel word sy byna ’n enkele, ononderbroke lyn van kappie tot soom. Onder die kappie is haar kop effens gebuig en haar blik neergeslaan. Die oog word afwaarts gelei. Haar blik ontmoet nooit ons s’n nie.

Tydens haar eerste openbare verskyning is Noitjie met waardering ontvang. Die Pretoria News (ook in die Anton van Wouw-argief bewaar) beskryf haar in 1908 as volg:

[T]he most charming of the bronzes is a presentment of a dainty little Dopper maiden, kappie and bertha complete, a very demure, sweet little old-world picture, reminiscent of the austere Puritanism of the faith which led the old “voortrekkers” confident and undoubting in the van of South African civilization. 

Hierdie beskrywing is veelseggend. Reeds hier word Noitjie nie as ’n spesifieke individu gelees nie, maar as ’n tipe: die boeremeisie. Die Engelse titel waaronder die beeld in die argiefmateriaal verskyn, Boer girl, bevestig hierdie interpretasie. Dat hierdie tipering inderdaad Van Wouw se bedoeling was, blyk uit ’n aantekening wat ek tydens my navorsing in die Van Wouw-argief ontdek het. Volgens die aantekening het hy wel ’n jong model gebruik, maar nie haar gelaatstrekke nagevolg nie. Hy het eerder, in sy eie woorde, die “tiepe wat ek wou maak goed genoeg van buite geken” (’n ou spelvorm – nie ’n spelfout nie!). Omdat Van Wouw haar nie as individu nie, maar as tipe uitbeeld, is sy tegelykertyd iemand én niemand in die besonder nie. Juis daarom laat sy ruimte vir verbeelding en projeksie. Tipes reis immers makliker as individue. Hulle kan eindeloos herhaal, versprei en telkens met nuwe betekenisse gevul word.

Omdat Van Wouw haar nie as individu nie, maar as tipe uitbeeld, is sy tegelykertyd iemand én niemand in die besonder nie. Juis daarom laat sy ruimte vir verbeelding en projeksie.
— Karolien van Zyl

Maar Noitjie se lewe eindig nie in die uitstalruimte nie. Kort ná haar debuut in Johannesburg en Pretoria is sy in 1909 ook in Londen uitgestal.

Daarna begin sy sirkuleer.

Vir meer as ’n dekade verskyn haar beeld op die voorblad van elke uitgawe van Die Boerevrou, die eerste Afrikaanse vrouetydskrif. Was Noitjie ons eerste voorbladnooi? Haar figuur verskyn ook op gedenk- en fondsinsamelingsposseëls. Met Noitjie formuleer Van Wouw die herkenbare figuur van die Afrikanervrou in ’n kappie, met ’n lang rok en velskoene. ’n Visuele tipe waarna hy later in sy monumentale werk sou terugkeer. So word Noitjie deel van die visuele taal van Afrikanernasionalisme. En anders as die groot monumente van Afrikanernasionalisme wat openbare verering vereis, werk Noitjie op ’n heel ander manier.

Die Boerevrou-voorblaaie uit Spesiale Versamelings, Departement Biblioteekdienste, Universiteit van Pretoria

Sy is klein genoeg om op ’n kaggelrak te staan; klein genoeg om in ’n sitkamer of skoolsaal te verskyn. ’n Mens kan daagliks by haar verbystap, haar afstof, saam met haar grootword. Mettertyd word sy minder ’n kunswerk en meer deel van die agtergrond waarteen ’n wêreld homself leer verstaan. Haar krag lê nie in monumentaliteit nie, maar in intimiteit. Miskien is die mees suksesvolle ideologie juis dié wat uiteindelik soos dekor begin lyk.

Toe Die Boerevrou in 1931 sluit, neem die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria Noitjie se profiel as skoolwapen aan. Die kleine bronsnooi het die kunswêreld ontgroei en ’n lewe van haar eie begin lei. Hoe lewendig Noitjie se nalatenskap steeds is, blyk uit die opskudding wat in 2016 ontstaan het toe die skool besluit het om hul skoolwapen te moderniseer. Sommige oudleerders het die nuwe ontwerp as ’n “Barbie met ’n kappie” afgemaak. Selfs die rigting van Noitjie se blik het ’n twispunt geword. Moes sy steeds afkyk in stille besinning, of met selfvertroue vorentoe kyk? As kompromie is die embleem wel gemoderniseer, maar Noitjie se afwaartse blik behou.

Wat my hier interesseer, is nie die uitkoms van die debat nie, maar die feit dat Noitjie meer as ’n eeu ná haar ontstaan steeds as ’n kulturele simbool funksioneer. Die hewige reaksie wys dat mense nie bloot oor ’n skoolembleem of ’n beeldjie gestry het nie. Hulle het gestry oor die waardes en ideale wat Noitjie veronderstel was om te beliggaam.

Die vraag was dus uiteindelik nie of sy haar kop moet lig of laat sak nie, maar watter ideaal van Afrikanervroulikheid sy behoort te beliggaam. ’n Nederige volksdogter wat haar plek ken, of ’n selfstandige meisie wat haar eie toekoms bepaal? Agter die debat oor die logo het ’n veel groter vraag geskuil: Aan watter beeld van vrouwees behoort ’n nuwe geslag Afrikanermeisies hulself te meet? 

Vir meer as ’n eeu was die antwoord eenvoudig: die volksmoeder – die sogenaamde ideale Afrikanervrou. Beskeie, diensbaar en toegewy aan volk en gesin.

Oor dekades heen het Noitjie in haar vele verskyningsvorme aan hierdie ideaal ’n herkenbare gestalte gegee: ’n ideaal waaraan vroue geleer het om hulleself te meet en waardeur hulle ook deur ander gelees is.

In die werk van kunstenaar Hannalie Taute betree Noitjie nóg ’n lewe. In Monumental moment (2015) herbedink Taute Van Wouw se ikoniese figuur. Noitjie is onmiddellik herkenbaar, maar haar gesig is nou ’n skedel. Met hierdie ingryping ontmasker Taute die volksmoeder as ’n historiese konstruk eerder as ’n tydlose ideaal. Voor Noitjie sit ’n tweede vrouefiguur – kaal en lewendig. Sy hurk op die rand van die voetstuk asof sy ontlas, in ’n ommekeer van die eerbied wat monumente gewoonlik geniet. Taute ontneem die volksmoeder van haar onaantasbaarheid.

Taute se gesprek met Noitjie eindig egter nie met hierdie een kunswerk nie. Oor die volgende vyf jaar keer sy telkens na die werk terug en ontwikkel dit tot Size matters (2020). Monumental moment verteenwoordig die keerpunt waar Taute van die monumentale volksmoederideaal wegbeweeg; Size matters verbeel nuwe moontlikhede vir Afrikanervroulikheid. Noitjie staan nie meer alleen op haar voetstuk nie, maar word opgeneem in ’n uitbundige wêreld van plante, diere en liggaamlikheid. ’n Wêreld wat wemel van lewe. Die ingetoënheid van Van Wouw se beeld maak plek vir oorvloed en transformasie. Soos haar vele lewens getuig, is Noitjie se geskiedenis een van voortdurende herlesing.

Hannalie Taute, Monumental moment (2015). Foto’s van kunswerke met vergunning van die kunstenaar

Hannalie Taute, Size matters (2020)

Teen 1976, toe Noitjie haar verskyning op die kaggelrak in Libertas maak, was sy dus reeds veel meer as ’n dekoratiewe beeldjie. Oor dekades heen het sy van ’n beeldhouwerk tot ’n herkenbare kulturele tipe ontwikkel: die ideaal van die Afrikanervrou. Nou begin Tini Vorster se portret anders lees. Die bronsmeisie op die kaggelrak bring daardie geskiedenis die portret binne.

Die twee figure staan naby mekaar, maar behoort ooglopend aan verskillende wêrelde. Die jong meisie in ’n kappie en velskoene is gewortel in ’n verbeelde pioniersverlede; die vrou van die eerste minister sit in die sentrum van staatsmag in apartheid-Suid-Afrika. Die portret plaas hulle binne dieselfde raam.

Die effek is byna genealogies. Dit is asof die beeldjie ’n lyn van kontinuïteit suggereer. Die jong Voortrekkermeisie leef voort in die volksmoeder; die volksmoeder weerklink op haar beurt in die figuur van die eerste minister se vrou. Die portret bring dus nie bloot twee individue byeen nie, maar twee historiese verbeeldings van Afrikanervroulikheid.

Dat hierdie leeswyse nie bloot verbeelding is nie, blyk uit die omstandighede waaronder die portret ontstaan het. Volgens die argiefartikel oor die portret is Noitjie van die Onderveld op aanbeveling van Tini Vorster se sekretaresse by die komposisie ingesluit as ’n simbool van haar “diens en beskeidenheid”. Meteens word die bronsfiguur die sleutel tot die portret. Wat soos ’n onskuldige beeldjie lyk, bevestig ’n bepaalde voorstelling van Afrikanervroulikheid ingebed in ’n groter nasionale verhaal.

Die tydsberekening maak hierdie keuse des te merkwaardiger. Die portret is in Junie 1976 tydens ’n banketete onthul. Binne dae sou die Soweto-opstand uitbreek en die apartheidsregering ’n legitimiteitskrisis tegemoetgaan. Teen hierdie agtergrond lyk die bronsfiguur op die kaggelrak nóg minder toevallig. Noitjie funksioneer hier as ’n visuele waarborg van kontinuïteit. Sy verbind die politieke hede met ’n verbeelde oorsprong en met ’n ideaal van Afrikanervroulikheid wat reeds oor dekades heen gevestig is.

Noitjie se geskiedenis wys hoe kulturele simbole werk. Identiteit word nie net deur toesprake, wette of monumente gevorm nie, maar ook deur die alledaagse voorwerpe waarmee mense saamleef. Juis daarom bly sulke simbole relevant. In tye waarin nasionalisme en eenvoudige identiteitsverhale weer wêreldwyd veld wen, is dit die skynbaar onskuldige simbole waaraan ons die meeste aandag behoort te gee.

Ideologie het immers nie altyd groot verklarings of monumentale gebare nodig nie. Soms staan dit eenvoudig daar, klein en klaarblyklik onskadelik, tussen ’n horlosie en ’n blompot: net ’n poppie op ’n kaggelrak.

Identiteit word nie net deur toesprake, wette of monumente gevorm nie, maar ook deur die alledaagse voorwerpe waarmee mense saamleef. Juis daarom bly sulke simbole relevant.
— Karolien van Zyl

Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Mooi Nooi: die vele lewens van Noitjie van die Onderveld gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand