Dosomethin': die kuns van klank in die werk van Abraham Mennen

Dosomethin': die kuns van klank in die werk van Abraham Mennen

Foto’s: Karnita Patience, tensy anders vermeld

'n Onderhoud oor saksofone, soundscapes en sonic knowledge systems

“Music is time made aesthetically perceptible.” – Hermann Hesse aangehaal in Joachim-Ernst Berendt se The third ear: on listening to the world (1988)

Hoe maak mens klank visueel konkreet? wonder ek in die Seattle-parkeerarea, versonke in my eie gedagtegang, toe ek byna in Abraham Mennen vasloop wat pas vir sy onderhoud opgedaag het. Daar is ’n ritme in die afgelope 20 jaar dat ons mekaar bly raakloop. Abraham, soos die man in die Bybel, dink ek toe ek die bebaarde en begaafde saksofonis aanskou, wat onlangs bekroon is met die toekenning vir die beste visuele kunsaanbieding by die Vrystaat Kunstefees vir sy klankkunsinstallasie Dosomethin’. Die installasie het ook die toekenning ontvang vir die mees grensverskuiwende werk by die fees. 

As saksofonis, komponis en improvisator is Abraham welbekroon. Hy het op twaalfjarige ouderdom sy debuutkonsert (Scaramouche deur Darius Milhaud) saam met die Johannesburgse Simfonieorkes uitgevoer, en het al saam met wonderlike musikante opgetree, soos Louis Moholo, William Parker, Hamid Drake, Oliver Lake, Herbie Tsoaeli, Hilton Schilder, Kyle Shepherd, Kesivan Naidoo, Shabaka Hutchings, Sibusile Xaba, Siya Makuzeni, Reza Khota, Dizu Plaatjies en The Brother Moves On.

Abraham het sy BMus eerste klas met onderskeiding verwerf by die Royal College of Music in Londen onder Kyle Horch, met die steun van die Jane Melber and Michael West-beurs – waar hy die konsertkompetisie, sowel as die June Emerson Woodwind Ensemble-prys saam met die Kudo Saksofoonkwartet gewen het.

Terwyl ons soek na ’n stillerige tafel om by te gaan sit, merk ek op dat Abraham weinig verander het vandat ek hom die eerste keer ontmoet het op skool – behalwe vir die baard. Ek onthou hoe hy my leer whiskey drink het, een reënerige dag in sy ouerhuis se tuin onder ’n groot sambreel, met rooibostee en heuning. Sy ouers se whiskey het ’n onuitputlike bron van ontdekking geword, toe hy ’n digbundel en mikrofoon in my hand stop en sy saksofoon gaan haal in die sitkamer. Wat destyds vir my uiters intimiderend sou wees onder nugter omstandighede, het ontvou in iets speels waar ons vir ure met klanke en woorde getoor het. Dit was voor die dae van Uber en ek het die volgende oggend in sy Joan Miró-hemp die enigste magneet op sy yskas bestudeer terwyl hy kruie in die tuin gaan pluk het: Whatever you do, make sure that you’re a good one. Abraham was nog altyd ’n doer. A good one. 

“Wat doen jy vandag?” het hy my daardie oggend by sy huis gevra toe hy vir my die varsgeparsde sap oorhandig. Ek het net daar en dan geweet hy bedoel wat is jou calling? – en ’n identiteitskrisis ontwikkel in my.

Terug by die hede. Abraham is tans besig om sy DMus by die Universiteit van Pretoria te voltooi. Die titel van sy voorlegging heet An autoethnographic study exploring the use of conventional and non-conventional extended techniques on the saxophone and their use in sonically derived knowledge systems of Southern Africa. As ek nog per woord per artikel betaal was, sou daai non-conventional titel my kar kon volmaak as ek dit probeer unpack. Vir veerkragtigheid fokus ons in ons gesprek net op sy installasie Dosomethin’, wat as deel van sy residency geskep is in samewerking met die International Institute of the Arts (IIA) van die Universiteit van die Vrystaat. 

“Die residency het drie aparte kreatiewe uitsette gehad. Die een was hierdie klankstandbeelde, die ander een was musiek met saksofoon en uHadi (daar is ook ’n public workshop daaraan gekoppel) en die derde een was ’n jazz-reeks wat ons vir drie aande perform het,” deel hy my mee in sy sagte stem. Hy vra my of ek weet wat ’n uHadi is. Ek knik, alhoewel ek eers later sou uitvind dat dit ’n tradisionele Xhosa-instrument is wat bestaan uit net een snaar en ’n kalbas. 

Abraham verduidelik dat die residency moontlik gemaak is deur die IIA, onder die hoof van Alexander Johnson. “Hy ken my al vir jare lank. Hy is ’n komponis en was eers die hoof van Tuks se musiekdepartement en School of the Arts, voordat hy gescout is om die IIA te stig. Ek dink hy glo in wat ek doen, en toe wou hy vir my daai geleentheid bied om die artist in residence te wees.”

In ’n video op die Vrystaat Kunstefees se Instagramblad beskryf Abraham die installasie as ’n uitnodiging tot gesamentlike deelname en medeskepping. Besoekers word aangemoedig om aan die klankbeeldhouwerke te raak en sodoende skep elkeen ’n unieke klank. “Everything in the world has a sound, and we can make music from it; it doesn’t necessarily have to be put in the traditional boxes of tonality and harmony, and everyone that comes in here opens up a different soundscape. There is no start or end to the composition. It’s one long open piece.”

In sy boek Sound affects: how sound shapes our lives, our wellbeing and our planet (2025) beskryf Julian Treasure ’n soundscape as die “auditory equivalent of a visual landscape”. “The concept of ‘soundscape’ is concerned with the quality of listening [and] what is perceptible as an aesthetic unit in a sound milieu. In other words, a soundscape is a triangular relationship between the listener, the acoustics of the space and the sounds in the space” (bl.69). 

Foto’s: Alet Pretorius

Whatever you do in time stays done

Die klankkunsinstallasie Dosomethin’ bestaan uit vyf beeldhouwerke wat Abraham ontwerp het om as instrumente te dien. Dit spyt my dat ek nie die werk in konteks kon beleef by die fees nie en net deur videobeelde daarmee kan omgaan. Die beeldhouwerke is gestroop van enige sensuele kurwes en fieterjasies. Dit bestaan hoofsaaklik uit langwerpige reghoeke van hout en staal. Die oneindige ruimte tussen die beeldhouwerke met hulle skraal staalpote gee vir my die gevoel van vervreemding. Tog is daar iets speels aan die soepel tipografie wat hy gebruik, en die een klankbeeld wat opgestel is soos tafeltennis. Die ruimte is afgebaken met swart gordyne wat die plek isoleer van die res van die ruimte. Is dit instrumente van geweld? 

“It is a strange business, this showing of your work to friends,” skryf John Berger in A painter of our time (1958:128). “You stand back and look at the easel with them. And there on it is this thing you’ve once shared everything with. Sometimes, it’s like going to identify the face of a dead friend in a morgue. Sometimes it’s like peering through the window to watch your young daughter playing unawares in the sunlight.”

Ek lees die noukeurig uitgestippelde instruksies wat in die lug hang. Somehow is dit nogal eerie as instruksies so in die niet verskiet. Aan wie behoort die outoriteit van die stem as dit nie deur ’n muur gesteun word nie?

Dis ’n spel, besef ek, maar hoe speel mens dit? Voordat mens aan die spel mag deelneem, moet jy na die instruksies luister. Die eerste een lees: “Resist the initial impulse to just do. Observe. Understand what is happening. Dosomethin’ when the moment feels right. Let it breathe.”

Dit laat my dink aan nog ’n gedagte van John Berger:

Capitalism has brought with it a higher degree of self-consciousness than ever existed before. This self-consciousness is an advance beyond a life of intuition. But the final creative aim of self-consciousness must be to consciously lose itself, to return to a reliance upon intuition within certain consciously created limits. [...] The same thing affects art. Capitalism has finally destroyed the traditions of art it once inherited or created, because art also needs the same kind of liberation of intuition – in both artist and spectator. It is because there can be no controlled freedom of intuition that there is so much pure irrationalism in art today – the cries of help to the subconscious, and the return to savage, unlimited, pointless intuition. (A painter of our time, 1958:127)

Die tweede instruksie lui: “Dosomethin’. Enter the space with the knowledge that whatever you do in time stays done. When adding to the space, please consider that your contribution exists in conjunction with everything that came before, is happening, and that which is still to come. Respect the cohesion. Do responsibly.” 

Dis nogal ’n authoritative speletjie. Daar is ’n angs in my as iemand vir my sê hoe om asem te haal – groovy en ernstig terselfdertyd.

Wat is die verwagting en waarvoor stem mens in? Ek kan nie help om te dink aan Hannah Arendt se teorie oor die banality of evil nie, maar ek is dalk oorsensitief wanneer dit kom by instruksies. Hierdie konsep kom uit haar boek Eichmann in Jerusalem (1963), waar sy verslag gedoen het oor die verhoor van Adolf Eichmann – een van die hoofargitekte van die Holocaust – en hom nie as monsteragtig of sadisties beleef het nie, maar as ’n gewone, vervelige burokraat wat bloot gehoorsaam was aan bevele en die instruksies uitgevoer het.

Abraham is verras oor my verwysing na Arendt se verslaggewing: “Jy bedoel oor die Nazi?” wil hy weet. Ek bedoel maar net: Kan instruksies nie na banale euwels lei nie? Read the room, tugtig ek my later.

Hy verduidelik dat die eerste weergawe van Dosomethin’ plaasgevind het in ’n klein kamer waar die instruksies teen die vertrek se muur was en daar musikante was wat elke aand opgetree het wat mens kon join het: Die instruksies verduidelik maar net ’n standaardproses wat mens gereeld teëkom in die kunswêreld. Anders is mense se eerste instink om net ’n instrument te “bang” as hulle daar verby stap, verduidelik hy.

Ek moet sê, dis true, mense kan terrible wees wanneer dit by interactive art kom. In hierdie opsig is Marina Abramović se seminale stuk van 1974 Rhythm 0 die mees vreesaanjaende voorbeeld van hoe ’n interaktiewe kunswerk kan skeefloop. Een van die deelnemers in die gehoor het ’n gelaaide rewolwer teen haar kop gedruk, nadat sy verskeie voorwerpe ten toon gestel het en vir die gehoor gesê het hulle kan vir die volgende ses uur doen wat hulle wil met haar liggaam. Eers was die deelname speels en lig, maar soos mense se bravade toegeneem het, het hulle haar klere van haar lyf gesny, haar met lemme gesteek en haar amper vermoor.

Die gesprek beweeg in ’n nuwe rigting in. Die skaal van die werk is enorm, en Abraham vertel my hoe elke element van scratch gemaak is. Hy lag wanneer hy my vertel hoe “labour intensive” dit was, en dat hy die watertenk – aan die punt van die installasie – moes volmaak met omtrent 20 emmers wat hy een vir een moes opdra na die tweede vloer van die gebou.

Interessant genoeg, is klank ouditiewe vibrasie. Die menslike liggaam bestaan omtrent uit 60% water, en water is ’n uitstekende medium vir klank. As jy mooi daaroor gaan dink, is jou liggaam ’n akkoord, met elke deel van jou liggaam wat vibreer teen ’n sekere frekwensie. Elke atoom, sel en orgaan in jou liggaam vibreer met klank. Is dit dan far-fetched om af te lei dat jou liggaam in harmonie met die omgewing moet wees om ’n gesonde lewe te lei?

As jy mooi daaroor gaan dink, is jou liggaam ’n akkoord, met elke deel van jou liggaam wat vibreer teen ’n sekere frekwensie. Elke atoom, sel en orgaan in jou liggaam vibreer met klank.
— Celeste Theron

Hoe klink die klank van kuns?

Ons almal weet jy kan hoor sonder om te luister. Klank is ’n vibrasie wat deur ’n oordragsmedium (soos ’n gas, vloeistof of vastestof) as ’n akoestiese golf oorgedra word. Jou ore is uiteraard jou grootste vriend, wat gehoor aanbetref, en jou in staat stel om klank te absorbeer, maar ons luister eintlik met ons hele liggaam na vibrasies. Dis waarom die klassieke perkussionis Dame Evelyn Glennie ’n indrukwekkende loopbaan kon uitkalwe op verskeie klawers – al is sy doof vandat sy haar gehoor op die ouderdom van 12 verloor het. Interessant genoeg is dit ons kapasiteit om te hoor wat eerste in die baarmoeder geaktiveer word. Op 12 weke kan ’n fetus al na die hartklop van hul ma luister.

Op die videomateriaal van die installasie hoor ek ’n klinkhelder hol klank, heavy breathing en die diep donker dreuning van ’n snaar wat deur die hele vertrek strek. Dan is daar iets kil wat skitter soos kristal oor die dreuning, ’n slagyster wat konstant kap en die skril ritmiese krapgeluid oor staal teen my rugstring: die gestalte van klank as ’n nagmerrie.

My klankkennis is beperk en ek gaan moet gryp na ’n paar grashalms.

Is jou werk deur John Cage geïnspireer? wil ek by Abraham weet.

“John Cage: groot topic,” antwoord hy. “Kyk, ek is baie bewus van John Cage, en ek het al baie van hom geleer en baie van sy goed gelees, maar ek het ’n baie contentious verhouding met hom. Ek skryf nou ook op die oomblik baie oor hom – wel, ek het eintlik besluit om nie oor hom te skryf nie.”

Wat dink jy van Edgard Varèse? probeer ek na nog ’n clue gryp. (Varèse was ’n musikant wat bekendheid verwerf het vir sy eksperimente wat hy uitgevoer het met klank.)

“Ek het baie oor hom geleer tydens my voorgraads by die Royal College of Music in Londen. Interessant genoeg, hier in Suid-Afrika bestudeer die undergrads al die same-old same-olds: barok, klassiek-romanties in musiekgeskiedenis, maar oorsee verwag hulle dat jy alreeds daai musiekgeskiedenis ken teen die tyd dat jy daar aankom in eerstejaar. Ons het net op 20ste-eeuse musiek gefokus, en obviously is Varèse ’n groot figuur daarvan.”

Hy verduidelik verder: “Die rede hoekom dit glad nie in my raamwerk val nie, is net omdat alles wat ek doen, fokus op wat mens noem sonic knowledge systems. Dit is ’n sisteem om musiek te maak. Daar is natuurlik die Westerse sonic knowledge system en verskeie Afrika-knowledge systems. Dan is daar verskeie knowledge systems van Indië … om dit selfs klassieke musiek te noem, is verkeerd, want Indiese klassieke musiek of Suid-Indiese klassieke musiek en Noord-Indiese klassieke musiek is way meer established en ‘klassiek’ as Westerse klassieke musiek. Dis hoekom ek verkies om eerder te praat van Westerse kunsmusiek.”

In ander knowledge systems werk dinge egter bietjie anders, vertel Abraham my. “Die ding van Westerse kunsmusiek is die dichotomy van komponis-en-performer-verhoudings: Iemand skryf iets en dan moet iemand dit speel. In ander knowledge systems werk dinge nie so gesplete nie: Die speler word beskou as ’n composer of performer. Mens noem dit die composer-performer. Dis een entity. As ek byvoorbeeld speel, is ek beide composer én performer. Dis hoekom ek glad nie ’n Westerse raamwerk wil gebruik nie. Dit maak nie sin nie. Die groot emphasis is op co-creation en collectivism teenoor die individualism, maar dis alles groot broad strokes.”

Sy DMus gaan oor hoe die saksofoon gebruik word in die music knowledge systems van Afrika – spesifiek in Suid-Afrika. Abraham sê dat hy nooit sal ontken dat Westerse raamwerke hom iewers beïnvloed het nie, en sou mens sy praktyk vanuit ’n Westerse perspektief benader, sal dit waarskynlik val onder spectralism, musique concrete of minimalism.

Die ding van Westerse kunsmusiek is die dichotomy van komponis-en-performer-verhoudings: Iemand skryf iets en dan moet iemand dit speel. In ander knowledge systems werk dinge nie so gesplete nie.
— Abraham Mennen

Is daar ’n verskil tussen experimental en explorative musiek? wil ek weet.

“Ja,” antwoord hy, “ek sal sê eksperimenteel en explorative is twee verskillende goed. Die term eksperimentele musiek word veral gebruik wanneer mense klanke gebruik wat nie noodwendig geklassifiseer word onder tradisionele tegnieke nie – extended techniques is wat ons dit noem op saksofoon. Dit behels byvoorbeeld om sonder die mondstuk te speel, of om net met die mondstuk te speel, slap-tung, growl, flapper tung … al hierdie klanke, essentially. Soms noem mense hulleself experimental, veral in New York waar eksperimentele musiek so huge is (dis miskien al wat iemand sal doen vir hulle loopbaan). Maar ja, binne eksperimentele musiek kan daar baie rigtings wees. Enige eksperimentasie kan gesien word as explorative.”

As ’n visueel-ingestelde ontleder en voeler, wil ek meer van die estetiese eienskappe in Dosomethin’ weet.

“Die visuele teenoor die sonic; dit is definitief waar die groot interest in Dosomethin’ vir my lê,” verduidelik Abraham. “Dit bestaan binne die visuele kunswêreld en obviously sê ek dit, want dis fisiese sculptures wat ek gemaak het (en musiek bestaan binne klank en tyd; dis nie tangible nie, jy kan dit nie gryp met jou hand nie). Dit is sonic arts … Alhoewel ek ’n coherent aesthetic in al die sculptures gesoek het en dieselfde materiaal gebruik het sodat dit een aesthetic het, was die klank vir my die guiding principal. Die klankkuns moet eerste kom en die visuele aesthetic tweede. Elke keer as ek op ’n plek gekom het waar ek ’n besluit moes maak, het ek my afgevra: Wat sal beter klink? Hoe gaan ek beter vibrasie kry uit hierdie ding? En dan het ek net seker gemaak dat dit sal inpas by die overall aesthetic.”

Ná ’n uur se gesels en verskeie gesprekke oor WhatsApp, erken Abraham dat hy meer aanklank vind by die voel-kant van kuns.

“Die egte kunstenaars in my opinie is dié wat nie die heeltyd hoef te grapple met akademia nie,” meen hy. “Akademia verdoof vir my so bietjie die waarheid van die kuns. Ek dink baie mense praat en skryf ongelooflik baie oor hulle kuns, maar dan praat die kuns nie self nie. So ek verkies dat die kuns die meeste van die praatwerk doen. Obviously in hierdie situasie het jy nie die kans gehad om die exhibition te sien nie, of te beleef nie, of te weet wat dit is nie, en het jy net ’n second-hand experience gehad, so dit help om hieroor te praat. Maar ja, dis deel van hoe ek skryf en dink en voel oor musiek.”

Mense is lief daarvoor om musiek as ’n metafoor te gebruik om na die konneksies van die kosmos te verwys. Van die antieke Pythagorean “musiek van die sfere” tot die “harmonie van die natuur”, het ons kollektief gesoek na die lied van hemelliggame. Met die ontdekking van super string theory het hierdie metafore meteens begin klink na ’n werklikheid. Die teorie behels dat daar ’n mikroskopiese landskap bestaan uit fyn geweefde snare wat die ontstaan van die kosmos orkestreer.

Almal luister anders na die landskap om hulle, maar die hoofelement in Dosomethin’ is in die doing en dat jou liggaam deel is van hierdie lied. Soos performance art, is elke ervaring uniek en gebonde aan die tyd waarin dit afspeel, maar jy moet die risiko neem en aan iets raak om geraak te word deur die kollektiewe ruimte van klank waarvan jy deel is.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Dosomethin': die kuns van klank in die werk van Abraham Mennen gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand