Notes oorie Kaaps Woriboek

'n Way om te unknot vanaf die violent en exclusionary verwagtinge vannie colonial project

Die Kaaps Woriboek issie naam vannie heel eeste Kaaps drietalige woordeboek. Die milestone vanne publication is gelaunch in April 2026, byrie Castle of Good Hope, en was brought to life by Quentin Williams, die voositter vannie Societie virrie Advancement van Kaaps (SAK), in collaboration met Heal the Hood Project ennie Centre for Multilingualism and Diversities Research (CMDR) byrie Universiteit vannie Wes-Kaap (UWK).

Die Kaaps Woriboek help om Kaaps los te maak vanaf systemic marginalisation en stigmatisation. Issie eeste ernstage stap ommie taal te bevestag as ’n literary and academic language. Wat nog befok is vannit: Die boek unearth en trace die history van Kaaps, haa influences ennie language making experiences van haa speakers tot soe ver assie 15th century. Die Kaaps Woriboek gebruik dai linguistic histories om Kaaps se current spelling system te beskryf en te bevorder. 

In Julie 2026 het SAK en CMDR ’n Kaaps Workshop gehou, angebied deu Williams en Theo(dore) Rodrigues. Die publiek is invite om mee te lee oorie Woriboek ennie Kaaps spelling system. Hie wassie geleentyt gevat om met writing exercises verder uit te brei oorie dictionary se harre wêk. Ek het altwie dae vannie workshop bygewoon mettie Kaaps Woriboek styf onne my blat. Ek deel graag my notes gemaak tydens die workshop, sowel as my reading experience vannie Kaaps Woriboek. 

BULLET POINT: WHAT KAAIN METTIE SPELLING VANNIE WOORT WORIBOEK? 

Soema innie begin vannie Kaaps Workshop het Quentin clarity gegie oorie pronunciation difficulties vannie woordeboek se naam. Hy joke dat hy gereelt moet explain “dit issie ’n worry-boekie”. En ek moet sê, die boeie van Afrikaans laat my oek nog trip oo die klanke van Wori. Een vannie hurdles is daai enkele /o/ waa ’n double /o/-klank veronnestel is om te wies. Innie Kaaps Woriboek wôt dit beskryf as Kaaps se verkorte vokale: “In vîgilyking mêt hoe die lang /e/ klank ênnie /o/ klank in Afriekaans ytgispriek wôt, wôt hierie klanki in Kaaps asi êngkil /e/ ôf /o/ klank, respectively ytgispriek” (82). 

Asse example virrie enkele /o/-verskynsel maakie boek gebruik vannie Afrikaanse woort oorbly, wat in Kaaps sal geskryf wôt as obly. Dit mean dattie Kaaps Woriboek die inskrywing skol (247) vertaal in Afrikaans as skool. Rodrigues het later mee hie’oo gepraat assie “one sound, one symbol” principle vannie International Phonetic Alphabet (IPA). Die IPA isse alphabetic system gestig in 1888 wat gebruik wôt om allie klanke vannie wêrelt se tale te transcribe. Die mees onlangse routine revision vannie IPA stel voo dat een simbool gebruik moet wôt om een klank te represent. Rodrigues vergelyk die IPA mettie DNA van alle gesproke tale. En het oek mention gemaak oo hoe influential die IPA system was om die klanke van Kaaps accurately te codify. 

Maa dan sukkel my mont oek mettie letter /i/ innie woort Wori. Ek lees dit heeltyt assie klank /ie/. Die Kaaps Woriboek explain dattie simbool en klank /i/ represent drie patrone in Kaaps. Dit appear waa die letter /u/ sou wies in Afrikaanse woorde, soes julle. Ennit function as litwoort vi Kaaps in plaas van ’n (die ooblysel vannie ouer litwoortvorm een). Innie title vannie woordeboek, annie anne kant, verskyn die letter /i/ byrie klank wat “dikwils derie lêttî /e/ annie bigin, middil ên yndi van Afriekaansi wori soesie /e/ in ‘gerook’ [maniefêst]” (82). Asse result sallie woort in Kaaps geskryf wôt as giroek (168).

BULLET POINT: INNIE BEGIN WASSIE KHOEKHOE SE WOORDE

Die Kaaps Woriboek begin met 28 bladsye van ancestral remembrance en recognition geback deu historical facts en lived realities. Die reading experience isse personal one. Disse practice of remembrance wat daa’in aid om my onbekende voo’oues verder te realiseer vanaf passive instruksievolgers na active participants, selfs pioneers in the making and remaking of language and meaning.

Die boek gie ’n mens klompie nuwe discoveries. Een van my favourite is dat history onthou die indigenous Khoekhoe het interactions gehat mettie Portuguese, Engelse en Nederlanders reets honnede jare voorie arrival van settler colonialism. Wat betieken daa was a long history van taalkontak en taal-exchange tussen Khoekhoe en Europeans. Die excavation noemie Khoekhoe-nasies se name en berieken wat hulle leefwêrelde betieken virrie taal wat vandag uit ôs monne kom. 

Die world famous vriendelikyt vannie first nations, en hulle victory oo Dom Francisco Almeida en company, feature oek. Maa die Kaaps Woriboek gebruik dai bekende geskiedenis ommie indigenous peoples se gasvryhyt en resistance te document as language en meaning-making technology. Linguistic devices wat later sal shape gie an Khoe Dutch en ontmoeting sal maak met “Malys-Pôtigies, Arabies, Bahasa-Malys, ên veli anni sot skênkitali soes Bugis, Djavanes, ên Hôkkien Chinese” (8).

Die reading experience isse personal one. Disse practice of remembrance wat daa’in aid om my onbekende voo’oues verder te realiseer vanaf passive instruksievolgers na active participants, selfs pioneers in the making and remaking of language and meaning.
— Keith Oliver Lewis

BULLET POINT: KROTOA IS DAI GIRL WAT SY DINK SY IS!

Ek hoo die launch vannie Kaaps Woriboek was gehou innie Krotoa’s Chapel byrie Castle of Good Hope. Is fitting, want dié main-girl se taalkundige wêk asse interpreter, sowel as haa lived experiences wôttie onneskat innie dictionary nie. Haa liewe reveal an my ’n narrative shift oorie interactions tussen Khoekhoe en enslaved persone. 

As mens deurie geskiedenis lees, dan sien jy gereelt die colonisers beskryfie verhoudings tussen ôs Khoekhoe en indigenous ancestors as hostile en violent. Dattie Khoekhoe het soms slawe wat weghalloep, gevang en truggeniem om betaling. Of accusations dat slawe wat uittie bloute verdwyn het, is probably vermoor deurie indigenous nations. Die othering van oppressed people against each other, wiet ôs, en sien ôs in post-apartheid-Suid-Afrika, is net beneficial tot die colonial project. 

Maa die Kaaps Woriboek broaden ôs imagination also na anne truths oorie gemeenskap tussen persone surviving under colonialism, en later apartheid en systemic racism. Die boek gebruik die experiences van Khoekhoe-vertalers soes Krotoa asse window into these connections: “Krôtoa hêt Niedîlants goet gipraat ên kôn sēlfs da’in liēs ên bit. Sy hêt giwont giraak ôm Ieroepiese kleri ti dra, Niedîlantsi kôs ti iet ênnie Niedîlantsi liewinstyl ti liewe. Sy hêt oek Kriehols-Pôtigies vannie slawe angile” (8).

BULLET POINT: ÔS MONNE ONTHOU 

Dissie language activism van late Mogamat Alexander (1961–2026), die author van boeke soes Dictionary of loanwords in the Cape Muslim vernacular (2022) ennie Cape Muslim vernacular (2023), wattie Kaaps speakers se klanke compare met ’n liewentage archive. In May 2022, byrie Al-Ikhlaas Academia Library, praat hy especially oorie significance van hoekommie Kaapse community sê “djy” (150) in plaas vannie Afrikaanse jy. Dit is ommat ôs ancestors dai distinctly buzzing /ʤ/-klank saamgebring het oorie waters. 

Die Kaaps Woriboek expand op Alexander se wêk. Dit gie recognition an, en prioritise, die phonetic influences van allie vroeë tale gepraat innie Kaap. Ek het getel. Daa is mee as 20 tale genoem wat Kaaps gehelp shape vint het. Ennit gecreolise het into die taal wat dit vandag is. Die lys van donor languages sluit in Khoe-tale, Europiese tale en allie tale wat geliewe het innie monne van slawe afkomstag van “Bênga, Batavia, Balli, Ceylon, Madagascar ên Angola, ên mesti was van Indiesi, Arabiesi ên Chinese êrfenis” (9). Daa wassie ’n choice’ie; die speakers vannie tale moes ’n taal-system (slave lingua franca) create vi communication met hulle owners, mettie Khoekhoe en met mekaa.

Byrie Kaaps Workshop het Williams en Rodrigues die opportunity gevat ommie phonetic influences mondelings te demonstrate. Nes innie boek, mention hulle oekie musicality en ritme wat Kaaps speakers inherit het vanaf hulle enslaved ancestors. Die invloed van Bahasa-Malay wôt byvoobeelt genoem virrie Afrikaanse woort gaan, wat in Kaaps translate as gan (=gat) (163). Die Kaaps Woriboek noem die enkele /a/ as deel van Kaaps se verkorte vokale. Bahasa-Malay se presence is oek hoobaar innie “invloet vannie vo’afgaandi lêttî /r/ ôf /s/ [in woorde soes] ‘agtimirrag’ ên ‘biesag’” (81).

BULLET POINT: FREEDOM DREAMING DEU TAAL

Is meestal Williams wattie bywones vannie workshop usher deurie archives. Wat nié innie Kaaps Woriboek issie, is Williams se gesprek oo freedom dreaming. Die konsep, first gecoin in Robin Kelly se boek Freedom dreams (2022), verwys na enslaved en oppressed persone se radical imaginations van vryhyt. Visions of liberty angebring deu onder andere education en critical reflections oo hulle eie realities. Williams het freedom dreaming opgetel innie liewens van Louis van Mauritius en Abraham van de Kaap. Dié twie ancestors is bekent vi hulle involvement innie Jij-slave rebellion van Oktober 1808. 

Williams explain dattie enslaved persone nie toegelaat was om hulle owners, of ienage Wit persone, te address as “jij” of “sy” nie. Dai voonaamwoorde was net reserved vi mense van equal stature. Abraham announce toe dat assie slawe rebel en vryhyt bekom, sal hulle die owners kan address as “jij” en “sy”. Nie mee “u” of “baas” nie. Hence die Jij-rebellion. Williams noem dit freedom dreaming in action: “[T]o undo slavery through the deconstruction of language.”

Alhoewel die rebellion nie suksesvol was nie, en beide Louis en Abraham gehang was, remind die Kaaps Woriboek se bestaan mens tog annie 1808 se act of linguistic unshackling.

BULLET POINT: DJY, 'DJY' NIE VI MY NIE! DJY BEL VI MY!

Die getuienis van hierie twie ancestors se liewens laat my wonne oorie legacy van djy. Dit skyn ’n bietjie lig oppie lang geskiedenis van Kaaps speakers se complicated verhouding met voonaamwoorde. In siekere kontekste is dit deemed as disrespectful. Even as laaities het mens gereelt clapbacks gehoo soes: “Djy, ‘djy’ nie vi my nie” of “my naam begin nie mette ‘djy’ nie”. 

Die Kaaps Woriboek onnesoek oek dai verhouding. Dit kyk bietjie dieper into hoe die Kaaps speaker negotiate mettie respectability van voonaamwoorde en anspreekvorme. As deel van Kaaps se ontwerpkenmerke, noemie boek:

i Vêdiri culturally-rooted patron issie repetition vannie anspriektêrim [...]. Wanniri kint mêt sy/hâ ma, pa ôf grotouhî praat, wôt dit as me rispêk biskou - ên wôttit dikwils culturally viwag - ômmie anspreiktêrim ti hêrhaal edî as ôm djy ti gibryk [...] [byvoobeelt] Mammie, gan mammie saam winkils toe? [...]. (24)

BULLET POINT: WAT ISSIT MET ALLIE KAPPIES EN HOEDJIES OP KAAPSE VOKALE?

Rodrigues noem dat Kaaps speakers morsie nog tytie. Dit sien mens mettie verkorting van vokale inne wêkwoort soes aanvang wat in Kaaps veskyn as anvang (107). Maa Kaaps se snelhyt wôt oek genotice innie verwydering van /r/-klanke assit ’n Kaaps vokaal volg. Die r-scraping lei tot veranneringe innie vokaal-sound en gie ’n kappie (ˆ) an dai vokaal. Die Kaaps Woriboek gebruik, as examples, die Afrikaanse woorde werk en bors, wat in Kaaps transcribe as wêk (269) en bôs (120). 

Wat vi my hie uitstaan, issie Kaaps Woriboek se expansion oppie kappie-klankpatroon in Kaaps grammatika. Veral wat gebeu mettie klinker /a/ ennie klank /i/ na r-scraping. Onne die heading Diacritic markers staan daa: “[Die kappie symbol wôt] gibryk ômmie giskrapti /r/ ti represent in wori soes waarby ên water (in Afriekaans) wat as wâby ên watî, ên boyfriend (in Ingils) wat as bîk in Kaaps gimanifêst wôt” (83).

BULLET POINT: ARABIC ENNIE TIME TRAVELLERS

Rodrigues het remark dattie Kaaps Woriboek hom laat voel asof hy innie selle tyt liewe as Abu Bakr Effendi (1814–1880). Effendi wôt onthou assie author van Kaaps se vroegste geskrewe tekste. Hy het dit geskryf in Arabic skrif (vandag bekent as Arabies-Afrikaans). Tydens die Kaaps Workshop was een van Effendi se tekste gewys, en die kappie was alreeds dai tyt in gebruik om Kaaps klanke te transcribe. Die woordeboek herroep daai gebruik.

Die parallels wat Rodrigues oproep tussen hom en Effendi, is interesting. Ek notice dié similarities veral in wat Achmat Davids (1939–1998) discover het oorie eeste Kaapse tekste geskryf deu Effendi-hulle. 

Davids se thesis (1991), wat later as The Afrikaans of the Cape Muslims (2011) gepublish is, het ontdek dattie Arabies-Afrikaanse skrywers simbole in Arabic moes invent ommie fonetiese klanke van Kaaps vas te vang. Innie verwerking van Davids se boek Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (2018) deu Hein Williams noem laasgenoemde dattie “geskrewe weergawes van die spreektaal was so presies dat dit vandag feitlik as fonetiese ‘klankopnames’ van vroeë Afrikaans gereken kan word”. Nou in 2026, centuries later, gebruikie Kaaps Woriboek die IPA as scaffolding om Kaaps se geskrewe vorm te base op hoerit nou klink in ôs monne.

BULLET POINT: 'ÔS ISSIE DIE LANGUAGE POLICE'IE'

In 2021, mettie initial announcement vannie Kaaps drietalige woordeboek-projek, het vandag se selle concerns opgekom. Dai tyt was daa reets vrae oo standardising. En wat dit sou betieken virrie heterogeneous praters en skrywers van Kaaps. Die concern weeg swaar, especially in 2026 waarie wounding van 101 jaa se exclusion en oppression deu standaardisering nog daagliks experience wôt. 

Die Kaaps Woriboek praat oo dié systemic marginalisation van Kaaps onne Afrikaans nationalism en apartheidwetgewing. Oppie selle tyt reference dit die letsels gelos deurie Engelse se colonial activities. Die woordeboek weier om doekies te drai ommie state funded apparatus wat gebruik was om Kaaps en anne Afrika-tale te onnedruk. Byrie Kaaps Workshop mention Williams dat hulle approach issie om te standardise nie; “it has always been to define Kaaps as a language”. 

Williams noem dattie anxiety van standardisation is iets wat hulle in ag geneem het vanaffie begin vannie dictionary se compilation. Tydens die workshop wôttit duidelik gemaak: In contrast met standardisation, focus die boek oppie formulation van Kaaps. Williams sê: “We produced a dictionary, cleared up some of the sounds, and developed writing conventions so that we can accurately and authentically capture the way Kaaps is spoken.” Dit betieken vi my dattie Kaaps spelling system soek nie en stel nie belang inne suiwer en untouched Kaaps nie. Dit prioritise en gie ’n platform annie dinamiese en flexible taal-practices van allie Kaaps speakers. 

BULLET POINT: IT'S ABOUT TIME

Abu Bakr Effendi ennie vroeë Kaaps skrywers se linguistic bydrae speel ’n groot rol innie Kaaps Woriboek se spelling system. Hulle was ammal deel vannie early Cape Muslim community. Ennie woordeboek centre die invloed deu historical facts, sowel as innie inskrywings. Die Woriboek bevat Kaaps inskrywings wat spreek tot die Cape Muslim community se leefwêrelt. Dit include bekende woorde, soes Walaikum Salaam (266), Salaam (242), poewaasa (235) en barakat (111). Daa’s oek Kaaps woorde wat verbant hou mettie particularities vannie Cape Muslim se religious practices: bacha (109), Jummah (191), jawap (187), juz (191) en nog baie annes. Dit is long overdue en oppie man af mettie waarryt: Kaaps, en oek Afrikaans, was nog nooit net ’n christentaal nie. 

Op die manier add die Kaaps Woriboek verder tot die wêk van Achmat Davids en Mogamat Alexander. Oppie selle tyt biet dit oeke fondasie an skrywers soes Gaireyah Fredericks en Zubayr Charles wat skryf in Kaaps ennie Cape Muslim vernacular. Gaireyah Fredericks, die author van Een voet innie kabr, het even bygedra tot die Kaaps Woriboek asse compiler, editor en translator. Sy het oeke gedig innie Woriboek, getitel ‘x’. Ommat die boek geen woorde het wat begin met /x/ nie, dien dié gedig assie ienagste x-inskrywing vannie Woriboek.

BULLET POINT: GEMISTE GELEENTHEDE

Iets wat ek opgelet het, issie Kaaps Woriboek se inconsistent gebruik van usage labels. Die labels warn die leser oorie limitations oppie usage van ’n woort. En verskyn gewoonlik in cursive tussen hakkies. By die inskrywing malnai staan: “[D]erogatory term vi iemant wat ienagi iets sal doen sônni ôm ti dink ôf ti care hoerit iemant ôf iets influence [...]” (212). Die definition van ma-se-poes (214) waaskie dat dit ’n vloekwoort is. Die woort gam (163) wôt geregtig as stigmatisation beskryf. Maa dieselle noukerage aandag en care wôt nie geskenk an offensive woorde soes môffie (217), môffierag (218), môffievrint (218) of bunny (122) nie. Alhoewel queer persone dié seermaakwoorde trug geclaim het en nou gebruik om lovingly na mekaa te verwys, bly dit derogatory innie monne van nie-queer persone. Die miskyk vannie violence van die woorde is baie meer as net remiss. Dit is vensters wat inkyk oppie persistence ennie maklike normalisation van queer hate in Coloured communities. 

BULLET POINT: DIE FUTURE VAN KAAPS

Tydens die Kaaps Workshop wassie demand vi Kaaps as onnerigtaal op meeste participants se lippe. Veral die tienwoordage onnewysers en onnewysstudente het met borrelende optimism gepraat oorie benefits van Kaaps innie klaskamer. Dit laat my dink an die Heal the Hood Project se initiative ommie boek innie hanne van skoolkinnes te kry. Hulle post gereelt videos op hulle Instagram account van leerders wat wêk met en discussions hou oorie Kaaps Woriboek.

Dit issie equality en justice wattie dictionary na streef: “Assie kinnis die Kaaps Woriboek ôptel ên hilliself dâ’in sien, is dairie justice’ie?” vra Williams. Die Kaaps Woriboek issie eeste definitive stap innie rigting om Kaaps se status te elevate vanaf ’n marginalised taal na een wat behoot in skoolkurrikulums en lecture halls. Dit help ommie pat forward voo te berei. Maa invite oek vi ôs as praters en skrywers om betrokke te raak in Kaaps se linguistic remaking. Williams roep op ôs ommie Kaaps corpus verder te develop deu literature te skryf innie Kaaps orthography. Wat my bybly, is sy woorde dat these questions now, have never been asked this urgently. Daa isse erkenning dattie presence vannie Kaaps Woriboek trap nou die deur oep virrie development van kurrikulummateriaal ennie official inclusion van Kaaps op alle vlakke vannie sameliewing. 

Die Kaaps Woriboek issie eeste definitive stap innie rigting om Kaaps se status te elevate vanaf ’n marginalised taal na een wat behoot in skoolkurrikulums en lecture halls. Dit help ommie pat forward voo te berei.
— Keith Oliver Lewis

***

Die Kaaps Woriboek introduces itself as a historical reference resource. Dit locate die gebruik van Kaaps asse taal wat gesprout het uitie monne van mense wat vir lank gestoot is na die margins van Suid-Afrika se geskiedenis. Die excavation van Kaaps laat my dink annie moeilike wêk van Tessa Dooms en Lynsey Ebony Chutel in Coloured: how classification became culture (2023). Hie point Dooms towards die frequent anxiety om artifacts en timelines te produce virrie history en existence van Coloured identity. Tog erken Coloured oek hoe crucial dit is om te wiet waavandaan en waadeu Coloured persone kom. Die reading vannie Kaaps Woriboek laat mens Kaaps ervaar asse precious artifact. ’n Artifact wat accessible gemaak wôt vi ammel.

Die Kaaps Workshop het my laat realise hoeveel unlearning ek nog het om te doen. Die geleentyt om prakties die Kaaps spelling system uit te oefen met behulp vannie dictionary, maak’it al klaa bietjie makliker. Die Kaaps Woriboek biet vi my nog ’n way om te unknot vanaf die violent en exclusionary verwagtinge vannie colonial project. En nou kan mens’it doen in jou eie taal. Ek is excited virrie nuwe ontmoetings met ôs buried histories en taalskeppingvermoë. En sien uit na die gesprekke oo identity forming ennie acts of linguistic agency wat dit tot gevolg gan hê. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Notes oorie Kaaps Woriboek gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand