Sewe hyg-gedigte deur Ludwig Spies
Ludwig Spies (26) is van Hoedspruit in Limpopo. Hy het eers as 'n skrywer en art director by 'n advertising en communications agency gewerk. "Ek het geskryf oor mode, musiek en teater, en het mense oortuig om vervelige skoonmaakmiddels en versekeringsprodukte te koop. Ek het ook antiretrovirale middels se gebruik aangemoedig deur 'n openbare gesondheidsorgkanaal op sosiale media, wat gerig is op MIV se voorkoming, sowel as ingryping en opvoeding daaromtrent." Hy werk nou as bemarker vir Campfire Academy en Tehilla Eco Village. "Ons is 'n groepie hippies wat opleiding en navorsing doen in natuurbewaring en volhoubaarheidsontwikkeling."
Hy hou van "grammatika, Madonna, sigarette, Irvine Welsh, rugbyspelers, die Ooste, die piramides, swartwitpense, brood, Andy Melbourne se Depeche Mode remixes, Andy Warhol, hakskoene, die antieke Grieke, nagklubs, tequila, vryheidsvegters, MIV-bestryders, Terence McKenna, zen en RSG". Hy hou nie van "grondboontjiebotter, die gebruik van 'huidiglik', die kerk, Ricoffy, Coldplay, Fourways, advertensiewese, kapitalisme, los hare, of 'n gesukkel" nie.
Hy voeg by: "Ek het in 'n adventure sport subculture grootgeword waar almal kajakke geroei het. Vir jare lank was my konsep van die ideale man 'n kaalvoet blond met 'n lifejacket en 'n spaan. Ek het vir sewe maande in Bangkok in spykerhakke rondgeslet en city-level fame bereik."
Stefan is 'n held
Jy is mooi soos rotswande,
suiwer soos die klooflug,
gereining deur die woude,
wat hang teen oude kranse.
Die reuk van bas en boslelies
spoel vanuit jou bors,
jou liggaam is die bergstroom,
wat bruis deur al my dors.
Bangkok
In die stilte van die nag,
anker ek aan jou skouer,
drink jou rug my longe in.
Jy troos my soos 'n reënbui,
saggies, silwer wolkesif,
en laat my soos die strate,
skoon, en mooi, en vars.
Liegde
Jy roep my soos 'n dromslag...
trek my myle vêr na jou...
en nes ek jou kon streel,
kry jy die vorm van 'n wou;
'n sandduin,
'n oogblik,
iets wat niks kan vashou.
Ek sien jou tussen suikerriete,
sprinkaanswerms, in doringbome.
Ek soek jou deur verweerde ruite,
soek jou in die strate.
Die vensters kan nie wegsteek
waar my hartklop lê,
vir die nag wat teen die glas opdring,
suutjies dreig my moord te breek.
Op 'n minne-tog
Dis jy wat my gewrigte kraak,
my beendere beset het.
Dis jy wat vanuit
lied're reik
en liggies,
diep,
my hartsnare stryk.
Saam oor berge,
klippiestrande,
dromme-dans in sonneglans,
in oerwoud vrugteskywe eet
in kuile drywe'n lywe vreet.
Neem my weg, sluit my toe
Die storm giet en galm,
gooi die somer teen ons ruite.
Ons skulpie staan gedugtig
toegegroei in ruigte.
Draai my toe in lap en kerslig,
voer my rook en wyn,
weef so deur die weerlig
sinne blink soos sy.
Delirium
Deur harte en in koelte
soek ek na die salf,
van bloeisel-lippe soene,
smagtog deur die nag.
'n Soel bries rol van buite,
lê kniedip op die vloer,
bring so wild' aandgeure,
drome van jonk-here.
Ek tob en talm
vroeg tot nag,
deur kopgeraas en hartewaas,
sweef dit naderaan...
tussen funksie en hipotese
flits sy gesig –
Klaar
Tussen die wasgoed vrék ék.
My bloed op die wit hemp wat
ek gevlék het.
My oë wat oopgerék het,
denkend aan dit wat hy geség het.
Binne die besték van 'n uur het ék
besluit dat my tyd verstrék het.
By sy hart se hek hád ek
geween tot die sonlig verslég het.
In die bék geruk ís ek
en teruggekeer hier waar ék vrék.