In dié kunswerke word die stilte van die Tankwa-Karoo ingepalm

In dié kunswerke word die stilte van die Tankwa-Karoo ingepalm

Foto’s verskaf

Kom staan stil by Jacques Mollentze

Jacques Mollentze is ’n veelsydige visuele kunstenaar met ’n fyn ingesteldheid vir die magic in geringe dinge. Hy beskryf homself as ’n wandelende swerwer wat belangstel daarin om stories te ontgin uit die verskeie materiale waarmee hy omgaan. As ’n multimediakunstenaar wissel sy werke van keramiek, waterverf, akriel en doen hy ook grafiese ontwerp en digitale bemarking vanaf sy studio in Woodstock – maar dit is die stories wat hy probeer opdiep in die stilte van volkome teenwoordigheid wat sy keuse van medium bepaal.

Jacques is ’n born and bred Joburger wat erken, nadat hy teruggekom het van Asië af, dat hy nie weer die rokerige stad gaan doen nie: “Ek was vir vyf jaar in Asië waar ek ’n nomad was en Engels gegee het, maar die Karoo is waar my hart is en die Kaap is waar my huis is,” vertel hy my toe ons onlangs gesels. Om stilte te skep en te ervaar speel ’n sentrale rol in sy skeppingsproses. Vir Jacques is skepping ’n meditasie, ’n geleentheid om diep asem te haal en sonder oordeel jou gedagtes in die proses te verwerk.

 Jacques het onlangs ’n skulpturele keramiekinstallasie geskep vir AfrikaBurn wat mense lei deur ’n meelewende meditasie: Palm to Soul. Die werk bestaan uit 11 keramiekhande wat elk ’n ander gebaar voorstel; die hande neem nie, maar bied vir die toeskouer ’n oomblik om oor na te dink en asem te skep. In elke gebaar is daar ’n unieke meditasie gegraveer wat jou lei deur ’n sirkelvormige pad na besinning. Die hande is gemonteer op ’n stellasie wat die illusie skep dat die hande gewigloos in die lug dryf in die ruimte.

Jacques het met besonderse vernuf ’n intieme klein wêreld geskep in elke palm wat jou intrek: gebare wat spreek tot jou in stilte. Die eerste hand herinner jou jy is deel van die kosmos, met vingers wat uitreik na die skepping. Dit is silwer afgewerk en met skulpe, stokke en kristalle versier. Op die tweede palm is daar klein hande geverf, wat jou herinner jy is nooit werklik alleen in hierdie skepping nie en dat mens nie onaangeraak deur hierdie lewe kan beweeg nie. Ons elkeen los ’n afdruk op mekaar. Met elke hand kom daar ’n instruksie om uit te voer, en so beweeg jy deur hierdie sirkelvormige raaisel in hierdie rou landskap wat jou herinner jy is bloot ’n skepsel in ’n groter siklus. Elkeen van hierdie skulpturele werke is absoluut pragtig. Daar is ’n son, ’n maan en ’n ster, maar my gunstelinggebaar is die hand wat gevul is met aardse weelde wat jou anker aan die grond.

Die werk nooi die deelnemer uit om stadig en doelbewus te beweeg deur hierdie siklus om die droë oop landskap, sowel as daai innerlike ruimte binne jouself te verken. Die werk is redelik afgesonder van die res van die fees, sodat die stilte van die Tankwa-Karoo ingepalm kan word. Hier word die stilte van die omgewing nie as ’n leemte ervaar nie, maar as ’n ruimte wat die polsslag van teenwoordigheid en bewussyn laat uitklink. Elke werk word ’n spieël, sowel as ’n kaart – ’n uitnodiging om jouself binne die kosmos te plaas.

Palm to Soul is ’n projek wat verder gaan voortleef ná AfrikaBurn. Jacques beplan om die werk te ontwikkel om ander takke daaruit te laat spruit waarby meer mense betrokke is.

Hier word die stilte van die omgewing nie as ’n leemte ervaar nie, maar as ’n ruimte wat die polsslag van teenwoordigheid en bewussyn laat uitklink. Elke werk word ’n spieël, sowel as ’n kaart – ’n uitnodiging om jouself binne die kosmos te plaas.
— Celeste Theron

Buiten kuns, het Jacques ook ’n indrukwekkende grafiese ontwerpportfolio. Sy ontwerpstyl is nog old school: handgeverfde etikette en inkillustrasies word gekombineer om outentieke stories te vertel en logo’s te skep. Sy waterverfwerke is dromerig geskilder soos die prentjies van jou gunstelingkinderboeke in die 90’s. Dit is duidelik dat hy deurdag met elke element wat hy gebruik, omgaan en sy sketse wat hy vooraf maak, is net so interessant om na te kyk as die eindproduk wat hy lewer.

“My ouers het gedink ek moet graphic design gaan swot, omdat kuns vir my net ’n hobby was, maar vandat ek besluit het om ’n shared studio te kry in Woodstock, spandeer ek helfte van my tyd hier. Die res van die tyd werk ek as ’n graphic designer, art director en doen ek ook bietjie digital marketing.”

Om stadig en deurdag deur die lewe te beweeg is deel van Jacques se lewensuitkyk. Dis hierdie etos wat veral sy grafiese ontwerpstyl uitsonder, in ’n wêreld waar ons begin gewoond raak aan gemiddelde produkte wat vinnig geproduseer word met die hulp van AI en enige iemand deesdae hulleself ’n art director of graphic designer noem. Nóg ’n plek waar hierdie instelling veral vergestalt is die werkswinkels wat hy in Tamboerskloof aanbied, waar deelnemers die geleentheid gebied word om te leer hoe om sy waterverfskildertegnieke met journaling te kombineer. 

Wat Jacques my vertel, laat my dink aan wat Isabelle Stengers skryf: “Slowing down is not only about capitalism. It is about giving a chance to the event, to the encounters which have you feeling and thinking [...]. We must utterly disentangle [progress] from mobilisation, when you quietly destroy what you define as an obstacle to progress. And this is the test for everybody.”

Stilte is nooit net leegheid nie, maar ’n veelvlakkige ervaring wat deur filosowe en kunstenaars al op uiteenlopende maniere benader is. By Plato, byvoorbeeld, dui stilte op die kalm, onveranderlike sfeer van die vorme – ’n toestand waarin die gees rus vind deur die ewige waarhede te aanskou. Foucault daarenteen wys hoe stilte nie altyd bevrydend is nie, maar dikwels ’n produk is van toesig, dissipline en onderdrukking. By Derrida verskuif stilte na die ruimtes tussen woorde; die “erasure of being” wys hoe betekenis mens altyd ontglip, hoe stilte self deel van taal word deurdat dit die gapings en ontsegging merk waarin betekenis onstabiel bly. In Tao Te Ching verwys Lao Tzu na stilte as ’n poort na die Tao, ’n vrugbare leegheid – ’n ontvanklikheid vir die vloei van die natuur, waar sagtheid en stilte meer krag dra as lawaai en geweld. 

Die komponis, John Cage, is weer absoluut gefassineer deur die natuurlike geluide wat ons omring, en die feit dat daar nie so iets soos absolute stilte bestaan nie. (John Cage het “stilte” gekomponeer in sy beroemde stuk 4′33″ (1952), wat dikwels “die stil stuk” genoem word [alhoewel dit in werklikheid glad nie stil is nie, omdat die geluide wat mens omring as mens stilraak, die leemtes vul].)

Dit bring my terug by Jacques se werk: Terwyl die gehoor van Palm to Soul die geluide rondom hulle inneem, ervaar elke individu die kunswerke op ’n unieke manier. 

Palm to Soul is uiteindelik ’n offerande, ’n gebaar van gee en ontvang. Dit is ’n installasie wat geïntegreer is in teenwoordigheid wat deelname van die toeskouer vereis en die stilte wat mens in jouself kan vind, minder vreesaanjaend maak deur die instruksies wat dit gee te koppel aan selfversekerde mantras. Die werk word ’n plek van ontmoeting tussen mens en materie; toeskouer en landskap; en die liggaamlike en die geestelike – ’n tasbare herinnering dat stilte self ’n taak kan wees.

Die werk word ’n plek van ontmoeting tussen mens en materie; toeskouer en landskap; en die liggaamlike en die geestelike – ’n tasbare herinnering dat stilte self ’n taak kan wees.
— Celeste Theron
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van In dié kunswerke word die stilte van die Tankwa-Karoo ingepalm gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand