Liewe Wessel
Ilustrasie deur AB Cloete

Ilustrasie deur AB Cloete

Beste Amelie

Baie dankie dat jy vir Soort Soek Soort ingeskryf het. Ons erken hiermee ontvangs van jou inskrywing.  

    Ons moet jou egter in kennis stel dat ons eergister nuus ontvang het dat Wessel in ’n ernstige ongeluk op hulle plaas betrokke was. Aangesien ons besonder geroer is deur jou inskrywing het ons besluit om tog die besonderhede van die ongeluk en Wessel se toestand met jou te deel. Ons vra egter dat jy hierdie inligting as streng vertroulik sal hanteer, aangesien dit nog ’n geweldige skok vir almal op die plaas, asook die kykNET span wat die eerste verfilming gedoen het, is.

    Wessel se hempsmou is deur ’n lem in een van die stropers gevang en die masjien het hom onder die wiele van die voertuig getrek. Hy was bewusteloos toe die ambulans op die plaas aangekom het en het reeds verskriklik baie bloed verloor. Die personeel in Swellendam se Medi-Clinic kon hom gestabiliseer kry, waarna hy na Somerset-Wes se hospitaal gejaag is (Die hospitaal is bekend vir hulle chirurgie-afdeling). Van wat ons weet is hy in ’n stabiele toestand, maar na dese klink dit asof die dokters geen ander keuse gaan hê as om sy arm te amputeer nie.  

     Ons vra dat jy vir Wessel en sy gesin in jou gebede sal hou. Ons hou jou op hoogte van enige verwikkelinge rondom sy toestand en hoop en vertrou dat dit goeie nuus sal wees.

    Indien daar enige ander vrae rondom die kompetisie en jou deelname is kan jy my gerus kontak. Hieronder my besonderhede:

    Groete

    Nina Meyer

<Attachment1>

—— Original Message ——

From: “Amelie Verwey” <amelie_verwey@icloud.com>

To: “Nina Meyer” <nina@peninsulafilms.co.za>

Sent: 2017-08-07 01:54:08 AM

Subject: Inskrywing: Amelie Verwey

Liewe Wessel

My naam is Amelie Verwey. Ek bly in Kaapstad en ek is 24 jaar oud. Ek en my woonstelmaat het nie ’n televisie in ons woonstel nie, so ek kyk net TV as ek vir my ouers in Durbanville gaan kuier – en dit is selde. Ek het laasnaweek huis toe gegaan (my woonstelmaat is Afrikana toe) en die Vrydagaand met ’n bakkie sop voor die kaggel gelê en sommer vir die aardigheid deur die kanale op DStv gegaan. Ek het gesien Soort Soek Soort is aan op kykNET. Ek het ’n paar vriende wat in film production werk, so ek het op kykNET gesit, net om te sien hoe dit is in vergelyking met hulle shows. Ag, seker net vir die aardigheid. Jou insetsel het net begin (Ek dink ek het die deel gemis waar jy jouself voorstel en vertel oor die boerdery, maar ek kon uit die res van die program aflei jou naam is Wessel en dat julle met koring boer) en ek sou waarskynlik na iets anders oorgeskakel het of die televisie afgeskakel het, maar jou taalgebruik en jou manier van praat het my dadelik aangegryp. Ek weet nie of iemand al ooit vir jou gesê het nie, maar jy het die mooiste, vloeiende manier van praat en jou woorde voel net, ek weet nie, reg. Heelwat van my Kaapse vriende is Afrikaans, maar Kaapstad is nie ’n Afrikaanse stad nie so ’n mens hoor maar min Afrikaans, veral mooi Afrikaans. (Die Kaapse bruinmense praat die mooiste Afrikaans.)

    Terwyl jy gepraat het het ek iets besef: hoe sterk jy moet voel oor waarvoor jy jouself inlaat. Om ’n lewensmaat te kies is sekerlik een van die grootste besluite wat ons in ons leeftyd maak. Om daardie proses in die spotlight, voor die hele wêreld (nou goed, die hele kykNET-mark) te doen, jouself ontvanklik te maak vir enigiets en enigiemand, jou beginsels oor liefde en menseverhoudings, geloof en kinders en wie weet wat nog alles, neer te stippel, jouself weerloos te maak voor die kameralens, dui op volkome oortuiging en ’n diep geloof in jouself. Ek het lank daaroor gedink en dit is seker die gedagte wat my gedryf het om hierdie brief vir jou te skryf. Liefde is iets waaroor ek sterk voel en wat ek wil deel met mense, met iemand, wat net so sterk soos ek daaroor voel. Ek het mense te lief, dit maak seer. Jy was reg toe jy gesê het die liefde word in ’n liefdesbrief opgesom: ’n Mens maak jouself weerloos vir liefde. Jy stort jou hart uit en jy kan dieselfde liefde terugontvang; of ’n No Reply. Dit hang van jou af of jy die brief gaan pos, jou ontblote hart gaan forward. Jy het gesê jy het al vantevore seergekry. Ons het al dieselfde beleef.

     Ek is ’n kunstenaar. In die breë sin van die woord, soos wat jy jouself ’n boer noem. Ek bou nie my identiteit daarop nie, maar dit is ’n onlosmaaklike deel van wie ek ten diepste is. Ek verf en teken. Ek het eers laat op hoërskool begin verf. Ek was in Stellenbosch op skool. Ek het eers op Stellenbosch en toe by ’n kunsskool in Kaapstad studeer en ek run op die oomblik my eie studio in Woodstock. Wel, ek en ’n vriendin. Sy doen beeldhouwerk. Ek het vir haar van jou vertel; sy sê jy klink interessant. In jou insetsel het jy gepraat van vryheid, vryheid om te kan doen waarvoor jy lief is, om te boer en in die natuur te wees, en Wessel, ek kon werklikwaar aanklank vind in wat jy sê. Kuns is iets wat van diep binne my kom en dit is lewensvreugde wat ek probeer uitleef, uit dankbaarheid om lewendig te wees, kan mens seker sê. En boer is ook ’n liefde vir alles om jou en om iets te skep daarvan en te kan trots wees daarop. Dit is wat vir my mooi is. En dit klink seker simpel, maar toe hulle die vergesigte van julle plaas gewys het, met die Swellendamse berge in die agtergrond, toe kon ek myself daar sien, besig om te verf, besig om iets moois uit die wêreld om my te skep. My verbeelding gaan soms op hol – wees gewaarsku!

    Ons albei hou van musiek. Ek het gehou van die liedjie wat jy in die skuur op jou guitar gespeel het. Ek het ook op skool deur ’n Chris Chameleon fase gegaan. En ek is ook mal oor Koos du Plessis! Ken jy Sufjan Stevens? Bon Iver? O, en Father John Misty? Slim musiek, net so mooi, ek dink jy sal daarvan hou. Daar is eindeloos baie musiek wat ek met jou sal wil deel. En ek is seker jy ken Neil Young. Dit voel vir my elke boer is grootgemaak met Neil Young wat iewers in die agtergrond op ’n platespeler sing.

    Baie van wat jy gesê het het my laat dink. Jy het gesê jy hou nie van meisies met tattoos en neusringe en dinge nie. Ek weet nie of jy enige meisies met tattoos ken nie: ek het twee. Een is ’n verfhaal oor my skouer. Ek het die ontwerp self gedoen. Ek weet nie, ek dink dit sê half, ek is ook ’n kunswerk, ’n kunswerk in wording, geskep uit alles om my, besig om te groei tot iets beeldskoon en volkoom. Nie dat ek myself probeer regverdig nie, ek skep net vir jou konteks oor myself, seker soos al die meisies wat vir jou gaan skryf.

    Die ander een is twee versreëls uit ’n Emily Dickinson gedig op my bobeen:

If you were coming in the fall,

I’d brush the summer by

    Jy het gesê jy hou van lees, en ek weet nie of jy bedoel het koerant lees en Huisgenoot lees en of jy boeke en gedigte lees nie. Maar soms lees ’n mens iets en jy voel wat die woorde sê, diep binne jou hart. Jy kan nie rêrig verwoord wat dit jou laat voel nie. Ek het die eerste keer hierdie woorde gelees, op skool, in Kleinmond, saam met my ou van destyds, en ek het net gesit en die woorde oor my gedagtes laat spoel, soos mens soms jou oë toemaak en die wind deur jou hare laat waai. En daai woorde het vir ewig by my gebly. En ek kan nog steeds nie presies sê wat dit vir my beteken nie, maar ek weet dit is die mooiste woorde wat ek al ooit gevoel het. Woorde laat my voel. Woorde is vir my kosbaar. Heelwat van my vriende het tattoos. En dit is iets waaroor ek al baie lank gedink het. (Ek weet nie of jy al agtergekom het nie maar ek dink baie oor goed???) Maar as jy ’n simbool op jouself verewig, moet jy bereid wees om vir die res van jou lewe tydlose waarde daaraan te heg. En dis iets groots. En ek weet nie of ek ooit nog ’n tattoo sal kry nie, maar ek weet as ek nog een kry sal dit ook weldeurdag en ek glo mooi wees.

    Ek het deur die doodsberigte geblaai terwyl die ander boere gepraat het. Die koerant het op die tafel in ons woonkamer gelê. Hulle was maar boring. Albertus Jacobus (Buks of Morras) Mouritz. Hy is nie familie van jou nie nè? Ek het gesien hy kom ook van Swellendam af. Jammer ek dwaal af…

     Jy het gesê jou droommeisie moet kerkvas wees en ’n sterk verhouding met die Here hê. Ek noem myself nog steeds ’n Christen (as mense vra), maar ek gaan lankal nie meer kerk toe nie. Ek probeer wel op Sondae iets in die natuur doen – in die berg stap, see toe gaan – waar ek nader aan my idee van God kan wees, kan stil raak in ’n Goddelike teenwoordigheid. Geloof was vir my nog altyd ’n baie persoonlike ding, en om jou sienswyse daaroor op iemand anders af te forseer het vir my nog altyd wreed gevoel. Kerke is vir my mooi (veral die ou klassieke kerke op die platteland), maar die mense in kerke nie altyd nie.

    Jy het gesê jy is lief vir diere, lief vir hulle lewendigheid. Julle honde, julle boerbokke. Jy het gesê “my natneusies.” Later sê jy jy is lief vir jag, en ek weet nie hoe jy die twee bymekaarbring nie. Ek het in my eerste jaar in Kaapstad ophou vleis eet. Ek het uitgegaan met ’n vegetarian en dit het net op daai stadium sin gemaak. Dit maak nog steeds sin, binne my leefstyl. Maar ek kom ook uit ’n Afrikaanse familie en ek verstaan dat vleisbraai en biltong deel is van ons herkoms. Ek het met my woonstelmaat daaroor gepraat en hy het vir my gesê ek moet onthou dat jag deel is van die mens se DNA, dat dit ’n ingebore ding is. Ek verstaan ons is ongelukkig mense, en daarom eet ons vleis. Dis net, ons dra hierdie onsigbare elektroniese masjientjies saam met ons rond en ons werk en bly in glasgeboue, dit is sekerlik nie meer nodig om nog soos grotbewoners op te tree nie? Ek weet dis nie so eenvoudig nie en dis nie dat ek jou kwalik neem nie, maar ek sal tog met jou daaroor wil gesels. Daar is klomp goed obviously. Ons kan maar laaste oor jag gesels…

    Ek sal graag meer van jou fotografie wil sien. Die indruk wat jy op my gemaak het is dat jy met ’n fyn oog na die wêreld kyk, en dit word dikwels in fotografie weerspieël. Omring deur die mooi natuurskoon om jou, kan dit net in iets moois ontaard!

     Net sodat jy weet, ek hou van verrassings. Ek’s impulsief. Ek skrik maklik. Ek praat soms my mond verby. Tee maak my rustig. Musiek ook. Ek lees op die oomblik The Outsider van Albert Camus, ek lees stadig, ek hou van hoe hy skryf. My gunsteling Afrikaanse boek is Die Swye van Mario Salviatti deur Etienne van Heerden. Ek is op instagram maar nie op twitter nie. Ek gaan so nou en dan op facebook. (Daar is soms goeie quotes en artikels.) Vir oefening in die week doen ek yoga, ek probeer by vier keer ’n week uitkom. Soos ek gesê het ek hou daarvan om buite te wees oor naweke, gewoonlik saam met vriende. My vriende kom van oraloor, hulle bly hoofsaaklik in Vredehoek en Observatory en Rondebosch. Ek bly in ’n woonstel in Tamboerskloof saam met Ryno. Ryno Winterbach, jy het dalk al van hom gelees?

    Jammer Wessel, ek besef nou eers my brief is seker hopeloos te lank, ek hoop iets maak sin! As jy my kies om vir jou te kom kuier voor die kameras en jou ouers, sien ek uit daarna om jou beter te leer ken; indien nie, wens ek jou alle voorspoed toe op die reis wat voorlê en ek hoop van harte dat jy jou sielsmens sal ontmoet. Jy het soveel om te bied en jy verdien ’n leeftyd se vreugde.

     Liefde

    Amelie

#

“En … Dink jy ooit aan Ruann … as jy …”

    “Ja … Ek huil elke keer sodra my asemhaling gaan lê.”

Jacques de Viljee is ’n skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk is al in New Contrast en op Klyntji.com, LitNet en BooksLive gepubliseer. Die lig skyn daar buite is sy debuutbundel en word onafhanklik gepubliseer.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Liewe Wessel gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand