Op reis na Helsinki en Tallinn

Op reis na Helsinki en Tallinn

Foto’s verskaf deur die skrywer

Diepte van ervaring > breedte van ervaring, skryf Marnell Kirsten vanuit Swede

Ek het nooit regtig oorweeg dat ek ’n travel-styl het nie – ek was vroeg in my 30’s toe ek vir die eerste keer oorsee gereis het. Dit het egter intussen verander en ek het besef dat ek aan hoofsaaklik twee ongeskrewe reëls kleef wanneer dit by reis kom. Eerstens, bring soveel moontlik tyd in ’n nuwe plek deur. Ek is nie tevrede met ’n toer-cruise of om vir drie uur deur ’n stad of dorp se besigste toeristeareas te stap voor die boot weer vaar nie. Ek verkies om langer te bly en ’n plek waarlik te beleef eerder as om een hakskeen in vyf verskillende stede te plaas vir lank genoeg om ’n yskasmagneet te koop en dan te kan sê dat ek daar was.

Dit bring my by die tweede punt: As dit by reis kom, is diepte van ervaring vir my veel belangriker as breedte van ervaring. Ek wil soggens gaan draf, die strate later sonder Google Maps kan stap en selfs ’n gunsteling-local-hond hê om daagliks aan aandag te gee. Aan die einde van my week of wat in Rome in 2022 het die buurt se kleinwinkeleienaars vir my ciao geskree en gewaai toe ek met my tas metro toe sukkel. Dít is wat ek uit travels wil hê.

Saam met hierdie twee “reëls” gee ek my ook graag oor aan die onbeplande en die ongewone – daar is min dinge so lekker as om ’n whiskey te drink in ’n kelderkamer van ’n 18de-eeuse brug saam met ’n paar mense wat jy pas op ’n spookstorietoer in ’n nuwe stad ontmoet het. My onlangse travels na Helsinki en Tallinn het aan beide reëls voldoen én ’n goeie skeutjie onbepland en ongewoon bevat.

Luleå → Stockholm

Toe die geleentheid opduik dat ek vir twee verskillende redes onderskeidelik in Stockholm en Helsinki moes wees vir werk – en dít ’n naweek uitmekaar – het ek die kans met ope arms aangegryp. Veral toe ek besef het dat dit reg voor Paasnaweek is en dat ek my trip met nog ’n paar dae sou kon verleng vir ’n behoorlike reis. Ek was nou al ’n paar maal in Stockholm en al is dit vir my ’n mooi stad, bly dit vir my ietwat gedwee. Die stad se net-na-die-wegraping-stil Oktoberstrate het my die eerste maal daar vreeslik ontstig – dit was asof ek in ’n De Chirico-sklidery loop waar elke oomblik óf onheilspellend óf niksseggend was. Ek soek dus gereeld ’n manier om ’n trip soontoe op ’n ander manier op te kikker – dié keer was dit ’n rit op die nagtrein in ’n privaatslaapkompartement. (My eerste Sweedse treinervaring met vyf ander vroue in close quarters was nie die beste nie …)

Die privaatslaapkompartemente op die nasionale SJ-treine is quaint met ’n wasbak en klein bedkassie, wit beddegoed en ’n heel gerieflike bed. Teen so ’n rapsie meer as 3 000 Sweedse kronor (sowat R5 500) vir ’n rit tot in die hoofstad, sou ek egter gehoop het dat die geriewe skoner sou wees en dat ek nie heelnag sou genies het van die stof in die kompartement nie. Die plaaslandskap buite Uppsala is pragtig, en dit was heerlik om teen sonopkoms daar verby te ry en die bokkies in die landerye te sien wei, voor die landskap bebou raak en mens die mooi ou geboue langs die spoorlyn sien soos jy later Stockholm Sentraal nader.

Stockholm, vroegoggend

Stockholm Sentraal

Stockholm → Helsinki

Ek was ietwat skrikkerig vir die bootreis, want ek het nie ’n idee gehad wat om van so ’n lang trip oor die Baltiese See te verwag nie. Tydens my eerste besoek aan Stockholm het ek immers by die Vrak Museum of Wrecks gelees van die ferry, die MS Estonia, wat in 1994 op roete tussen Tallinn en Stockholm gesink het – die grootste vredestydskeepsramp ná die Titanic, waarin 852 van die 989 mense aan boord gesterf het. Ek was steeds senuagtig toe ek die string motors en vragmotors sien wat almal ook aan boord moes gaan, en meer nog toe ek gesien het dat my kajuit op vlak 2 was – onder vlak 3 en 4 waar al hierdie voertuie sou parkeer. Toe ek my tas in die kajuit gaan bêre en hoor hoe die voertuie bo my in die pens van die boot ry, het ek eers aan Noag en toe aan die derdeklas-uitbeeldings op die fliek Titanic gedink, voor ek dadelik ’n glas rooiwyn gaan soek het.

Ná die boot vertrek het en die duty free-winkel aan boord oopgemaak het, het dit baie vinnig duidelik geword dat hierdie boot grootliks ’n party boat sou wees. Mense het bier en hardehout buite die wakende oog van Jan Taks gekoop asof dit ’n rariteit is. En vir Swede wat alkohol slegs in winkels kan koop wat deur die regering besit en beheer word, en dan opwaarts van 20% belasting op drank betaal, is JT se afwesigheid beslis ’n skaarsheid. Die vooruitsig van ’n party boat is vir my geensins aanloklik nie, so ek het Suid-Afrikaanse Pongrácz gevind en in ’n hoek met ’n uitsig gaan sit en lees vir die aand. Dis daar waar ek die volgende oggend met my koffie ook gaan sit het tot ons Helsinki in die bewolkte koelte ingevaar het. My eerste indrukke was presies wat ek verwag het – ná ’n paar klein eilandjies het ek die Uspenski Katedraal, die Helsinki SkyWheel en Helsinki Katedraal sien uittoring bo die ander geboue in die grougrys waar lente ook nog nie haar opwagting gemaak het nie, en ’n gevoel gehad dat ek terug is in Stockholm, alhoewel met ’n alternatiewe skyline. 

Ná ek my tasse by die hotel gaan los het, het ek begin verken en dadelik van Hakaniemi na Taka-Töölö (nee, ek het nie ’n idee hoe mens dit uitspreek nie) gestap om ’n vlooimark te soek wat ek op Google Maps gespot het. Dit was nie wat ek verwag en gehoop het nie, en ek is fort om Engelse boekwinkels te soek voor ek na ’n laatmiddag simfonie-uitvoering is by die Temppeliaukio Kerk. Die kerk is geheel en al in soliede klip ingebou en lyk van buite meer na ’n grot as ’n kerk. Die binnekant word met natuurlike lig gevul en die akoestiek is so fantasties dat Brahms en Mendelsohn tot meer as hul reg kon kom. Die volgende dag het ek rondgestap en die Helsinki Katedraal en Uspenski Katedraal gesoek voor ek met pistachio-roomys weggeraak het in die strate en ek later my weg teruggevind het na die Helsinki SkyWheel waarvoor ek ’n kaartjie gehad het. Laasgenoemde was egter ongelooflik teleurstellend – om net te sit en ’n nuwe plek uit ’n klein hokkie met tinted vensters te sien is nie regtig vir my nie. Net ’n entjie daarvandaan langs die kosstalletjies van Kauppatori het ek gesien dat die ferry vertrek na Suomenlinna, ’n seefort met Wêrelderfenis-status, en ek het onbepland besluit om die middag op die eiland deur te bring. Dit was pragtig en moody, ’n plek wat ek in die Brontë-susters se skryfwerk verwag, en ek het myself meer as een maal verbeel dat ek iemand “Heathcliff, Heathcliff!” hoor roep. Ek en my supermarkaarbeie was oorval deur scavenging seemeeue en ek is terug stad toe met seer voete en ’n paar poskaarte as souvenirs. 

Tydens die week het ek in die Kasaniemi-area gebly om my kursus by die Helsinki-Universiteit te voltooi. Die hotel is langs ’n tweedehandse klerewinkel en een van die beste boekwinkels wat ek ooit gesien het – perfek! Die universiteitsgebou is langs die plein voor Helsinki Katedraal en dus ook ’n klipgooi van Kauppatori se kosstalletjies af, so ek kon elke middag lohikeitto, romerige Finse salmsop, gaan eet by die hawe terwyl ek in die son sit en lees het. Die seemeeue was weer eens lastig, maar as mens jou arms genoeg waai hou hulle tog ’n afstand. Die res van die tyd het ek die stad smiddae ná klas platgestap – as ek moeg geraak het, het ek ’n tram geneem. Helsinki se publieke vervoer is fantasties en mens kan die bus, die tram, die metro, die ferry, of die trein vat met jou kaartjie, sonder om dit te wys of te validate, mits jy ’n kaartjie vir die regte sones het.

Die Temppeliaukio Kerk van binne

Uspenski Katedraal

Helsinki Art Museum (HAM)

Helsinki Katedraal

Helsinki Katedraal

Die strate van Helsinki

Suomenlinna-seefort

Dit was pragtig en moody, ’n plek wat ek in die Brontë-susters se skryfwerk verwag, en ek het myself meer as een maal verbeel dat ek iemand ‘Heathcliff, Heathcliff!’ hoor roep.
— Marnell Kirsten oor die Suomenlinna-seefort

Die middag ná my laaste klas het ek besluit dat ek ’n behoorlike Finse sauna-ervaring wou hê en ek het aanvanklik beplan om na Uunisaari op ’n eilandjie suid van die stad te gaan. Die geriewe was egter gesluit tot Mei en die volgende opsie was die fancy Löyly met sy moderne geriewe en baie gewilde restaurant en bar. Mens bespreek ’n twee uur slot en ingesluit in die prys van €26 is handdoeke, ’n locker en stortgeriewe, en jy kan in die beskutte binnearea rondom ’n kaggel sit en bubbly drink of enigiets van die restaurant se menu eet op jou tab. Dit was duidelik dat Löyly ’n gewilde ontmoetingsplek is vir local vriende om mekaar ná werk te ontmoet vir ’n stylvolle swetery. Daar is twee saunas met uitsigte oor die see en twee waar jy in absolute donkerte en weg van uitsigte na buite kan sit en sweet en na binne kyk. Ek was voorheen net aan matige Sweedse saunas gewoond, maar het ’n paar Tanya-van-The-White-Lotus-oomblikke gehad waar ek uit die sauna gestruikel het met ’n “these Finns are trying to kill me”, ná die locals nog ses skoppies water oor die klippe gegooi het, my oë van hitte begin traan het en my juweliersware my vel begin brand het. Ek het hierna wel die beste nagrus in ’n lang tyd gehad. 

’n Sauna met ’n uitsig oor die Baltiese See

“Los jou skoene en jas in die kas”

Helsinki → Tallinn

Die volgende oggend is ek met die ferry na Tallinn. Hierdie keer het ek darem beter geweet wat om te verwag en die trip self is net twee en ’n kwart uur. Dit was ’n reënerige dag. Dit was te koud en nat om op die deck te sit en die boot het tussen sy restaurante en lounges te min sitplek vir almal as die deck nie ’n opsie is nie, so ek het op die mat in ’n gangetjie tussen die casino-area en entertainment-area sit en werk. Ek kon van die een kant hoor as iemand iets wen op die slots en van die ander kant die Bingo-game en Finse polska-opvoering hoor. Ek het nie regtig geweet wat om van Tallinn te verwag nie – ek het al gehoor dis baie mooi, maar het ook grootgeword in ’n tyd toe mites rondom die “rooi gevaar” uit die Oosblok nog nie uit die kollektiewe Calvinistiese verbeelding gesypel het nie. Dit was egter dadelik duidelik dat die mense vriendelik is, die argitektuur ongelooflik mooi is en dat die atmosfeer van cool jou stom laat. Ek weet steeds nie mooi hoe om dit te beskryf nie, maar Tallinn het amper ’n tasbare edgy vibe wat my baie aan Kaapstad laat dink het. Ek was egter skaam om te erken dat hierdie selfde vibe in die Kaap se gentrified areas is. 

Waar ek aanvanklik verwag het dat ek versigtig sal moet wees om rond te stap in die ou stad, kon ek nie verder verkeerd gewees het nie. Die ou stad was 500 meter van waar ek gebly het, oorkant ’n kunsakademie, en ek kon dadelik gaan verken. Neitsitorn met sy beloftes van spookstories en die onheilspellende monnike wat buite waak hou, het my dadelik gelok. Ek het ongelukkig geen geeste gesien nie, maar die uitsigte uit die vier torings en vanaf die ou stadsmure was indrukwekkend genoeg. Ná my laaste werksoproep vir die dag, is ek uit vir aandete in die ou stad. Ek het gesit en lees terwyl ek hopeloos te veel na die couple oorkant my gestaar het – ek was seker een van die twee was Macklemore.

Sypaadjie-sitplek by Veino

Op pad terug na my Airbnb het ek gemerk dat die piepklein wine bar, Veino, wat ek vroeër die dag gesien het, oop was. Terwyl ek beplan het om net my kop by die deur in te steek en te sien hoe die decor lyk, is ek dadelik en hardop verwelkom deur locals wat aangedring het dat ek inkom en eers ’n glas wyn drink. Ek het harder gelag en meer gesels as wat ek gedink het ek sou, terwyl Sofie, my nuwe vriendin, my vertel het van Estonië se geskiedenis, haar pa en haar broer en haar tyd in Brasilië. Sofie het aangebied dat ek Paas-Vrydag gaan ontbyt eet by die vyfsterhotel waar sy in service werk. Ek het amper nie gegaan nie, want ek het verwag dat Sofie een te veel sparkling Shiraz gedrink het om te onthou, maar ek is die volgende oggend in die super fancy restaurant gegroet met “yes ms Marnell, we’ve been expecting you” en ’n glas regte champagne. Die hoeveelheid kos was genoeg vir ’n huishouding en die champagne-bottel was soos die weduwee se kruik – ek het weer besef hoe nou welvaart en absolute onnodige oormaat verband hou met mekaar. 

Die Vrydag was ’n goeie een, met baie sonskyn en ’n paar limoncello spritz terwyl ek in die son sit en lees het. Ek is die middag na ’n musiekuitvoering in die St Mary Katedraal – om Adagio daar te hoor, gespeel deur ’n orrel en ’n mandolien, was werklik ’n hoogtepunt. Teen dié tyd was my voete al goed seer, maar ek wou meer en verder stap, want ek was in vervoering met hierdie stad en is die volgende oggend weer met die ferry terug Helsinki toe. Om ’n ander area te sien, het ek in die ultra-cool Kalamaja rondgestap, met sy geskiedkundige houthuise in Vana-Kalamaja (Ou Kalamaja), sy trendy buurt-bars op al wat ’n hoek is, spontane graffiti en beplande murals en die pièce de résistance, die hele area rondom Depoo, met al sy food trucks en live musiek wat spontaan meng met padel-bane en permanente tafeltennistafels in ruimtes waar mense met kos en drank en vibrancy bymekaarkom.

Voor ek die volgende oggend weer weg is, het ek gaan draf – ek wou die see sien, want ek kon haar die vorige aand baie sterk ruik. Ek is deur Kalamaja af see toe, verby woonstelblokke en hip geboue, tot by Tallinn se Wit Olifant, Tallinna Linnahall. Die Linnahall is in 1980 klaar gebou vir die 1980-Olimpiese Spele in Moskou. Binnelandse Moskou het geen venue vir seil-events nie, en Linnahall, met ’n klein seeport en helipad, is gebou as ’n veeldoelige sport-venue. Die gebou, in Brutalist-boustyl, is nou vervalle met die ysskaatsbaan en konsert-venue wat lank nie meer gebruik word nie, bied ’n blik terug in tyd, waar die Soviet-era monstrously groot opgeroep word en op dinamiese maniere geprotesteer word. Min mense (ek ingesluit) steur hulself aan die versperrings wat die publiek weghou van die gebou: Dit word met graffiti en straatkuns versier en inwoners gebruik die gebou as ’n uitkykpunt om die sonsondergange vandaan dop te hou.

Protes blyk beskermd te wees in hierdie stad met vele redes om die waarde van protes en teësetting te onthou. Die grootste en mees konstante polisieteenwoordigheid wat ek in Tallinn gesien het, was rondom Kohvik Maiasmokk, die oudste koffiewinkel in die stad. Oorkant die hoofingang van die winkel is ’n permanente pro-Ukraine-protesuitstalling met posters, datavisualiserings, fotostories en allerhande souvenirs wat onder 24 uur polisiebewaring beskerm word. Hierdie lewendige en amper sacred mengsel van geskiedenis, hedendaagsheid, verering en protes is ’n allegorie van hoe ek Tallinn as geheel ervaar het. 

Oorkant die hoofingang van die winkel is ’n permanente pro-Ukraine-protesuitstalling met posters, datavisualiserings, fotostories en allerhande souvenirs wat onder 24 uur polisiebewaring beskerm word. Hierdie lewendige en amper sacred mengsel van geskiedenis, hedendaagsheid, verering en protes is ’n allegorie van hoe ek Tallinn as geheel ervaar het.
— Marnell Kirsten

Tallinn → Luleå

Ek het die volgende dag weer Helsinki toe gevaar om my vroeë vlug terug Luleå toe te vang. Weer eens was daar mense met trollies drank en dié keer was daar hele families wat mekaar gehelp het om die trollies te trek en te stoot. In my biased verwagtinge het ek hierdie samewerking eerder van die Estonians verwag – dis heerlik as my vooropgestelde idees verkeerd bewys word en my verwysingsraamwerk in die proses verbreed. Op pad terug na Luleå het ek baie tyd gehad om te dink oor al die maniere waarop my verwagtinge oortref is en ek onverwagse lekkertes beleef het op hierdie trip. Veral drie dinge is as amper universele waarhede bewys: Probeer soos jy wil, jy kom nêrens in die wêreld weg van ’n treinstasieduif nie; waar jy ook al in die wêreld is, gaan daar seemeeue op standbeelde sit; studente regoor die wêreld raak dronk en oproerig met draagbare speakers (ja, selfs in Finland). 

Veral drie dinge is as amper universele waarhede bewys: Probeer soos jy wil, jy kom nêrens in die wêreld weg van ’n treinstasieduif nie; waar jy ook al in die wêreld is, gaan daar seemeeue op standbeelde sit; studente regoor die wêreld raak dronk en oproerig met draagbare speakers (ja, selfs in Finland).
— Marnell Kirsten

Terselfdetyd is ek verras (aangenaam en minder so) deur ’n paar dinge. Helsinki het vir my eerily bekend gevoel, seker ook omdat dit my aan Stockholm herinner het. Maar een oggend toe ek deur die strate van die stad gedraf het, het ek besef hoekom ek dit bekend en ietwat eentonig gevind het – die een fynpienk gebou se afwerking was so perfek en glad dat dit my eerder aan die Sistynse Kapel en die ambiguous gevoel wat ek daar gekry het, herinner het. Die gevoel van iets wat so vlekkeloos en perfek opgetouch is dat dit amper fake en leeg voel, soos een van daai veselglasrotse met geen inhoud nie. Ek sê nie dat Helsinki nié ’n great stad is nie, maar dit het geen besonderse gevoelens by my aangewakker nie en dis heeltemal moontlik dat ander mense heel anders sal voel as ek. Daarteenoor was Tallinn ’n morsige (op die beste maniere) mengsel van oud, nuut, alledaags, trendy en goeddeurdagte design details. Die stormwaterdreine by Balti Jaama-stasie is ’n voorbeeld hiervan met klein vissies wat met ’n random patroon die eentonigheid van die ovaalgaatjies breek. Die historiese houtgeboue word nie vlekkeloos en perfek gehou nie, maar word irreverently met posters en straatkuns versier om besoekers goed te laat verstaan dat mense lééf daar en ek kon nie anders as om meegesleur te word daardeur nie.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Op reis na Helsinki en Tallinn gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand