Naak en swetend saam met vreemdelinge in Swede ♥
Kallbadhuset
Kall: Kaal, naak, net jy en jou birthday suit ♥
Bad: Bad soos bad, maar eintlik meer soos swem
Huset: Die huis, die gebou/plek van kaal-swem
In Swede is daar ’n sauna geleë waar die Kattegat met die Oossee verbind en waar Kopenhagen van Malmö afsny. Dit is ’n plek van ritualistiese roetine en ’n besoek is nie iets wat in minder as ’n uur afgelê kan word nie. Eers in die sauna, vir vyftien minute of so, dan spring jy in die yskoue see. En dan, wanneer jy jou asem gehaal het, doen jy alles weer, sauna, see, sauna, see – ten minste drie keer. Dit is ’n sensuele juxtaposition: die versmoor-warm stoom en die kristal-koue golwe wat oor die klippe slaan en jou tref. Kom met ’n handdoek en jou gewilligheid.
Kall–
Die sauna-ervaring. Dis soos die kampvuur waar mense vergeet van tyd en stories vertel of hulself iewers heen dagdroom. Staar deur die venster en laat dit met jou gebeur. Almal is kaal; die CEO’s kaal langs dié wat aan hulle slaptjips bedien, kaal langs die construction workers, kaal langs die UX designers, almal heel kwesbaar. Almal op dieselfde skoon bladsy.
En vir jou eie selfbeeld is dit ’n genesing. Daar is iemand wat langer is as jy, iemand wat korter is as jy, iemand wat groter is, iemand anders is maerder, iemand is ligter, donkerder, mooier, ouer, jonger as jy, langer hare, groter oë, beter tande, skewe ore, minder hare, platter voete – wat dit ook al is wat jou pla oor jouself. Dit maak nie meer saak nie. Jy begin vinnig voel dat jy die enigste doos is wat daaroor sit en dink.
Wanneer jy eers daar uitstap gloei jy soos ’n stukkie kool wat onder in die vuurmaakplek gelê het. Jy trap die sneeu en ys plat onder jou warm voete, hulle voel niks nie want hulle’s altyd the first to go. Ek en my amateur anatomy-kennis glo dis omdat voete so vêr van die hart af is, teen die tyd dat die bloed daarby uitkom is dit in elk geval nie meer so warm nie – dit verduidelik hoekom jou voete altyd lekker numb raak in die Kaapse see.
Bad–
Swem-ervaring. Koud, terapeuties, ’n anti-depressant, endorfiene en dopamien. Kopenhagen kyk terug na jou en jou skitterende liggaam oor die horison. ’n Fisiese meditation. Die water is die meeste dae 4 of 5 grade koud, en buite is dit skaars warmer in die lug. In die winter is dit so koud dat as jy dit waag om diep asem te haal, kry jy brain freeze.
Die see se koue laat my stomgeslaan en ek klim vinnig weer uit. Dit voel asof honderd-duisend naalde orals jou vel net effens aanraak, amper ’n lekker soort seer. Jou warm bloed vloei nou haastig deur jou hele liggaam, jou hart klop dringend, jou longe, jou voorkop – alles klop. Dis die endorphins, dis goed vir jou – dit spoel die depressie en angs uit jou uit.
Die winter hier is lank en donker. Dis eintlik die beste seisoen om te swem in Kallis. Dan staan jy net daar vir ’n oomblik, papnat-kaal, tone in die sneeu, met die koue maan wat oor jou lyf skyn en die minus-grade-lug embrace jou soos ’n drukkie. Fisies is dit ’n tipe euphoria. Die hitte van jou binneste laat die stoom van jou af sweef. In daai oomblik voel jy so purely fisies dat jou brein uiteindelik bietjie shut up. Jy’t geen sin van datum of uur nie, van 21st century-kak en nuus nie.
Huset–
Ek kan nie eintlik iets sê oor die gebou se geskiedenis nie. Dit lyk oud, dis meestal hout en het al een of twee keer afgebrand. Maar die plek self is ’n sosiale instelling in die stad, en in Swede het die meeste van die kusstede hulle eie kallbadhus.
Dis ’n plek waarheen mense gaan om alleen en stil te wees, deur hulle gedagtes en gevoelens te dink en voel, met die genesende hulp van water. Maar dis ook ’n plek waar vriende en familie ontmoet, tyd saam deurbring, mekaar kry vir koffie en koek by die restaurant. Ek het baie kere saam met my klasmaats en kollegas daarheen gegaan. Ons sweet kaal langs mekaar, en keer dan terug na die wêreld.
Queer Kallis is spesifieke dae sonder mans- en vroue-afdelings. Hulle verwyder die skeiding vir gendered liggame sodat almal orals kan wees. Dit voel soos ’n begin vir die Malmö-gemeenskap om bewus te wees daarvan dat daar meer liggame en genders is as net die man/vrou-dichotomy wat so in ons kele afgedruk word. Die begin van ’n bewussyn oor die spaces wat ons geërf het van ons ouers en hulle ouers, wat ontwerp is om uitsluitend te wees. Watse soort spaces skep ons, en vir wie is dit ongemaklik, en wat kan ons daaroor doen?
Queer Kallis is net een dag in die maand. Dis eers ná daai dag dat ek besef het dat daar party mense is wat ek nog nooit op enige van die ander dae gesien het nie – skielik bevraagteken ek die hele space, wat gebeur al die ander dae? Ek verstaan nóú eers, dis vir my ’n moerse eye-opener oor my eie voorregte wat onmiddellik baie fisies voel.