Uit die vrugteslaai tot in die kapokaartappels

Uit die vrugteslaai tot in die kapokaartappels

Ek en Jackson — twee Suid-Afrikaners in Luleå, Swede

Marnell Kirsten besin oor kultuursemiotiek en meer vanuit Luleå, Swede

Die dag in September 2023 toe ek in die rooi bus van Luleå se lughawe na my nuwe huis ry, speel daar ’n advertensie, geborg deur die plaaslike munisipaliteit, op die bus se TV-skerm. Ek ken op daai stadium nog net basiese Sweedse woorde, so ek verstaan nie die hele advertensie nie, maar maak wel uit dat hej (hallo) baie herhaal word en sien dat almal in die advertensie vreeslik glimlag. Dis ’n trietsige, reënerige dag en ek kom pas uit ’n Kaapse winter, maar ek dink: Great, ten minste is ek hier in ’n ooglopende vriendelike plek. ’n Week later toe ek my plaaslike foon het, kom ek met die hulp van Google Translate agter dat die hej’s en glimlagte deel van ’n plaaslike reklameveldtog is om mense aan te moedig om mekaar te groet as hulle verby mekaar stap op straat – iets wat nie regtig hier gebeur nie en ’n kommer is vir die munisipaliteit se planne om mense na Luleå te trek. As ek dit teen daai tyd nog nie geweet het nie (en natuurlik het ek), laat hierdie my vinnig besef hoe anders my nuwe tuiste is as die sosio-kulturele konteks wat ek ken in Suid-Afrika en die Kaap. 

Luleå is in verre noord-Swede, ongeveer twee uur se ry suid van die poolsirkel, so selfs die klimaat is totaal anders as dit waaraan ’n sonkind gewoond is en voor lief is. Twee weke na ek aanland, begin dit sneeu en als bly wit tot Mei van die volgende jaar. Teen einde Oktober is die dae baie korter en teen Desember weet my lyf nie meer wat van haar circadian-ritmes geword het nie. Die son kom op en daar is so drie uur daglig, maar sy bly op ’n lae trajek op die horison en ek verstaan skielik hoe ’n blom wat verwelk moet voel. Die hele korte dag is ’n sonsopkoms. Ek leer baie vinnig die ins and outs van donsbaadjies ken. Ek móét, want dis die koudste winter in 25 jaar en my hond, Jackson, het saam met my van Suid-Afrika af getrek, so selfs as dit -38˚C is, moet ons gaan stap. In -38˚C kan ’n mens dit egter net so 10 minute hou voor jou wimpers deur ysnaaldjies beset word en die laaste bietjie persoonlikheid uit jou lyf sypel. 

Jackson met Gråsjälören in die agtergrond

Wafels op Gråsjälören

Wintersee

Moose-voetspore

Reindeer

Donsbaadjies moet mooi opgepas word en volgens Google se hulp is dit die heel beste om sulke klere saam met tennisballe te was. Die balle help met die sirkulasie van lugvloei in die masjien en keer dat die donsvere almal saamkloek in die een hoekie van jou baadjie. Ek gaan sportwinkel toe om tennisballe te koop en moet eers wag, want my Sweeds is basies en die bestuurder sal my in Engels kom help. Ek vra na tennisballe en die persoon vra my dadelik: For washing or for playing? Vir die soveelste keer besef ek, ’n student-of-culture-by-trade, die belangrike rol van kulturele konteks in hoe ’n mens sin maak van die wêreld. As ek die woord tennisbal in ’n Suid-Afrikaanse sportwinkel sal sê, is die kans waarskynlik skraal dat ’n winkelassistent dadelik aan wasgoed gaan dink. Kultuursemiotiek en die brose verhouding tussen betekenaar (signifier) en betekende (signified) spook meer as een maal in die daaropvolgende 15 maande by my. 

Die letterlike name wat winkels hier het, is aanvanklik vir my komies – Elgiganten (die elektriese reus), Babyproffsen (die baba-pro) en Biltema (kartema) verkoop presies wat hulle name aandui. Ek kom in April in Edinburgh en sien die kettingwinkel Boots met die onmiddellike verwagting dat dit ’n skoenwinkel is, en besef hoe vinnig ’n mens aan ’n meer letterlike weergawe van betekenismaking kan gewoond raak. Online dating hier is ’n ander ketel visse, en ja, ’n mens sien baie van hulle hier ook op profielfoto’s. Ook dooie moose, dikke goue kettings en ’n wye verskeidenheid headsets – onder andere betwyfelbare sake. Of eerder, dis betwyfelbaar as ’n mens nie uit ’n plaaslike lens van betekenaar-betekenis daarna kyk nie.

Rondom November verlede jaar ontvang almal in Swede ’n opgedateerde geel boekie van dreig-en-doem in die pos. Die boekie, Om krisen eller kriget kommer (as krisis of oorlog kom), is ’n gids om jou voor te berei op wat om te doen wanneer die aartappel die fan strike, en bied onder andere ook ’n lys van voorraad wat nuttig is om in die kas te hou vir ’n tyd van krisis en krieg. Die lysie bied ’n blik op wat ’n “ontwikkelde land” as noodsaaklikheid ag, met als van heuning tot sjokolade en couscous wat die lys maak. Uit my Suid-Afrikaanse verwysingsraamwerk gaar ek samp en droeë lensies op. Die boekie maak my ook baie paranoïes – Swede het by NATO aangesluit, Rusland is basies een groterige woud weg (alhoewel dit tans ’n confusing situasie is), en ek sit in die koue vreemde met my brakkie. Ek stort ’n ruk gelede, pas na die WWE-stoeigeveg van Trump/Vance en Zelenskyy (om die moderne filosoof Jon Stewart se verwysing te leen), en plotseling gaan die krag af. Ná bykans 20 jaar van loadshedding is my eerste gedagte steeds dat dit ’n doodnormale betekenaar is, maar wanneer ek besef waar ek is en die geel boekie onthou, dink ek aan wegkom en wonder ek dadelik waar my paspoort is. Ná ek Trump eers nog ’n maal vloek. Jackson het sy eie aanpassings – honde hier word nie sommer toegelaat om met mekaar te speel of eens hej te sê nie en, soos almal wat hulle honde se bekke gryp en toeknyp wanneer hulle begin blaf hom wys, sy eie kommunikasie en betekenismaking met sy kin moet heroorweeg word. 

Ek dink in prentjies, so die beste manier vir my om vir mense te verduidelik hoe dit is om aan te pas by die lewe en omgewing hier, is om die skuif met die verskil tussen ’n bak vrugteslaai – kleurvolle, chaotiese, heterogene Suid-Afrika – en ’n bak kapokaartappels te vergelyk. Dik, klontvrye, ongesoute, homogene, en partykeer pleinweg boring, kapokaartappels. Die homogeniteit strek verder as mense en taal – as ek in die Kaap in my kar klim en twee uur in enige rigting ry, eindig ek in ’n totaal nuwe landskap. As ek 15 uur met die trein Stockholm toe ry, verander die landskap skaars. Scandi-design is pragtig tot bykans als rondom jou Scandi-design is (maar ek kan dieselfde sê van fake Toskaanse huise wat met cinderblocks in talle Suid-Afrikaanse voorstede gebou is). In Maart 2024 kan ek die maande van wit en grys nie meer uithou nie, en ek wens vir ’n augmented reality headset wat die versmorende grayscale na RGB of CMYK kan verander. Kapokaartappels is moeilik om deur te waad, vir al die sintuie. 

Ek dink in prentjies, so die beste manier vir my om vir mense te verduidelik hoe dit is om aan te pas by die lewe en omgewing hier, is om die skuif met die verskil tussen ’n bak vrugteslaai – kleurvolle, chaotiese, heterogene Suid-Afrika – en ’n bak kapokaartappels te vergelyk.
— Marnell Kirsten

Ek het Luleå besoek voor ek hierheen getrek het – ek het sewe maande voor die tyd hiernatoe gekom vir ’n paar dae vir die laaste onderhoud vir die werk wat ek tans het. Soos enigiemand wat al ooit oorsee getrek het egter kan getuig, is dit totaal anders om permanent iewers te woon as wat dit is om ’n paar dae as ’n toeris daar deur te bring. Maar daar is altyd meer as een waarheid, en ek sal jok as ek sê dis net sleg en altyd net moeilik om hier te wees. Buitendien, dit sal ’n onreg wees teenoor die harde werk wat dit tot dusver geneem het om ’n lewe hier te skep. Om die Noorderligte in hul volle glorie te sien is niks kort van magical nie. Om in die winter, wanneer die weerstoestande net reg is, die volmaaktheid van ’n sneeuvlokkie met die blote oog te kan sien is iets van kinderlike opwinding. Om die drastiese seisoensveranderinge te beleef – in die somer besoek mens die eilande met ’n boot en in die winter stap jy oor die gevriesde see soontoe om waffles te koop – is iets wat mens nie behoorlik kan oorvertel nie. Om in die somer “snags” elfuur te braai en die son sit nog ver bo die horison is ’n luukse andersheid. Om veilig te voel en veilig te wees (krisis en krieg, besides) is ’n voorreg vir die senuweestelsel. Een van my heel gunstelinggoed in die winter is om in die aand in die spierwit bos met Jackson te gaan stap, veral wanneer dit bewolk is. Dis nie nodig vir enige kopligte nie, want die sneeu weerkaats die lig en dis asof ons in ’n snow globe stap. Ons is gewoonlik alleen in die bos en omdat die sneeu klank absorbeer, is als tjoepstil rondom ons. Ek sal waarskynlik nooit ophou om ons daaglikse stappies op die strand te mis nie, maar in die stil, koue, helder donkerte is ’n skuif na die ander kant van die wêreld wel soms glansend die moeite werd.  

Braai in die somer — elfuur die aand

Braai in die winter — amper sonsak teen eenuur

Nog somer vs winter

Die bos in die nag — sonder flash

Sneeuvlokkies

Herfs in Luleå

Die Noorderligte in die buurt


Marnell Kirsten (sy/haar) is ’n PhD-student by Luleå Tekniska-Universitet in Luleå, Swede, en woon sedert September 2023 daar. Sy is ’n scholar van kultuur, mediastudies en kommunikasie, doen soms vryskut-marknavorsing en pen af en toe ook ander gedagtes neer. Haar hond, Jackson, is die liefde van haar lewe en hy is waarskynlik een van die min Africanis-brakkies wat in sy lewe vir beide moose en sebras kon blaf.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Uit die vrugteslaai tot in die kapokaartappels gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand