Wanneer meisies swem, seuns braai en ons soek vir duiwels om die draai
Tana Pistorius en Armand Rossouw se film is nie so absurd soos die tye waarin ons lewe nie
Dis so half ag die aand, ek sit op my bed met ’n warmwatersakkie. Tana sit buite en rook, by haar flat. Ek vergeet amper van die bekende ongemak en tegniese onderbrekings van Zoom calls soos wat ons dieper en dieper sekere temas verken, soos wat presies dit beteken om kweer te wees in Afrikaans, lesbiërs in film (of, waar de hel is die lesbiërs in film?) en die vryheid van Absurde teater.
Tana Pistorius is ’n jong regisseur/skrywer/aktrise wat deur haar films nostalgiese beelde en Afrikaanse digkuns meng met die Absurde, en (soms) konfronterende temas. Sy vertel dat ’n groot deel van haar proses “is om met my eie historiese trauma te deal, en om dit vir myself uit te figure, soos hoe voel ek daaroor, hoe deal ek met dit, as ’n Wit vrou wat Afrikaans is; hoe gaan ek aan ná ek weet wat ek weet?” Tana het haar honneursgraad by Open Window in 2020 voltooi. Sy is tans besig met haar meestersgraad in film en sy werk as redigeerder in Johannesburg en maak ook visuele kuns en teater. Haar honneursfilm Selfspotret maak nou die festival-rondtes en is gekies vir onder andere die Durban FilmMart (2020) en die UWPG Film Festival (2020), en dit is genomineer vir die Young African Film Makers Award (2021) by die Afrika Film Festival. Sy het ’n groot liefde ontwikkel vir die eksperimentering met collage-films – gevul met haar eie digkuns en ou foto’s van familielede en vreemdelinge. Tana beskryf haar filmstyl as iets tussen Greek New Wave en Afrikaner nostalgie. Sy put inspirasie uit die werk van Aki Kaurismaki, Andrei Tarkovsky, Katinka Heyns en uit haar kinderdae. Die collage-agtige elemente in Tana se filmwerk beskryf sy as die bou van ’n kollektiewe geheue, iewers tussen die hede en verlede.
Ek het onlangs haar nuutste film, Wanneer Meisies Swem, gekyk deur ’n private Google Drive screening. Die film vorm deel van ’n trilogie wat sy saam met haar mede-kweer filmmaker, Armand Rossouw, gekonsepsualiseer, geskryf, verfilm en die regie van behartig het. Armand het ook film by Open Window geswot. In sy werk verken hy Afrikanerangs, die Suid-Afrikaanse jeug-ervaring en die Absurde. Hy is geïnspireer deur die filmmakers Gaspar Noé en Lars von Trier se werk. In Armand se film Wie is Christiaan Olwagen? (2020) kyk hy na hoe kinders in Afrikanerhuishoudings grootgemaak word en hoe dit trauma kan veroorsaak, aan die hand van Christiaan Olwagen, Ingrid Jonker en Walter Battiss se werk.
Wanneer Meisies Swem, Wanneer Seuns Braai (beide vanjaar voltooi) en Wanneer Pappa Slaap en Mamma is Moeg: Onder Draai die Duiwel Rond (laasgenoemde is nog in vervaardiging), is drie selfbefondsde uitdrukkings van kweer-wees, gegrond in elemente van Absurde speelsheid. Die Absurde dien as die raamwerk vir hierdie trilogie waardeur daar gespeel is met moeilike vrae, emosies en ervarings, sonder die pressure om werklik by enige antwoorde uit te kom. “Dit was ’n produk van baie dinge waardeur ek en Armand gegaan het op die tyd, like an expression of queerness. En jy sal sien Wanneer Seuns Braai is so bietjie kitsch, maar ook ’n viering van Afrikaans-wees, al dryf ons baie die spot daarmee – dit is soos ’n collection van memories en Afrikaans-wees in ’n queer spasie.”
Wanneer Meisies Swem se twee karakters word vertolk deur Liza du Plessis (Nina) en Tana self (Esther). Dit begin teen ’n swart agtergrond met ’n feminist take op Genesis 1; “en nie dat Genesis nie feministies is nie, dit is, dit kan wees, as jy dit net so lees, en ek het dit aspris opgejamble.” In plaas van Adam en Eva word jy voorgestel aan Nina en Esther, die lig en die donker, die een uit die ander se ribbebeen geskep. Nina (die lig) is ’n meer bekende beeld van die vrou wat ons al gewoond is om op die skerm te sien, die klein bleek lyfie geraam deur ’n bikini, lang hare, groot brille en baie selfvertroue. Esther (die donker) is bietjie moeiliker om vas te vang, nie die teenoorgestelde van Nina nie, maar liewer in gesprek met haar?
“Jy kort altwee, jy kort Nina en jy kort Esther vir vloei. Nina is die ‘kultuur vir almal’ in terme van dinge wat nie norme challenge nie. Tog is hulle uit dieselfde vlees geskep in hierdie wêreld. Hulle kan nie sonder mekaar lewe nie... Esther is nie ’n duidelike stereotipe nie, Nina s’n is meer prominent.” Die karakter van Esther word ’n ruimte vir die kyker om Nina te sien uit ’n ander oogpunt. Die karakter van Nina, sê Tana, is eintlik baie meer kompleks, en Esther se verhouding met Nina maak dit moontlik om dit te verken.
Die twee karakters is kweer en verlief op/lief vir mekaar. Liefde moes seker duidelik gewees het, met dié dat die een uit die ander se ribbebeen geskep is – ek bedoel wat is meer intiem en sensueel as dit? Maar dubbelsinnnigheid in vriendskappe met vrouens is ’n bekende filmtruuk, so ek het maar dom gespeel tot op die oomblik waar Esther seg: “Soen my,” en Nina sê: “Ek mag nie”.
Die twee karakters is dalk nie so dubbelsinnig as wat hulle nuanced is nie. Tana en Armand wou vir ons ’n liefde uitbeeld wat ons nie verwag nie: “Nina sê op ’n punt sy wil trou en kinders kry, dan sê Esther vir haar, ‘Om vis te vang is soos om vir God te wag.’” Die tyd word opgesny en vertroebel in lukrake oomblikke; in die geïsoleerde ruimte wat in die film geskep is, voel oomblikke soos ’n minuut, ’n dag én ’n week. Ek dink dit was amper soos ’n geskenk van die regisseurs aan die twee karakters; “al is daar baie kommentaar oor die buitewêreld, hoop ek dat dit nog steeds voel soos twee mense wat net speel, en die vryheid het om te speel.”
Daar is vryheid om te speel in kortfilms, maar nie noodwendig in ’n feature film nie. Films oor lesbiërs is min en nie altyd baie goed gedoen nie. En wat van die res van die community? Die ruimte en moontlikhede vir kweer films wat nie net oor Wit gay mans gaan nie, is bittermin in mainstream (Afrikaanse) media: “Dit is wat ek gaan sê daaroor, ek doen my meesters oor dit. Tot my kennis is daar nie ’n Afrikaanse feature film oor ’n queer vrou nie. Daar is kortfilms, maar dis ook in die minderheid, en die ding van kortfilms, in my opinie, is dat jy nie toegang tot dit kry nie. Die publiek kry nie toegang daartoe nie. Die groter deel van Afrikaners sien nooit hierdie films nie, en ek sê nie ek wil dit in enige iemand se keelgat afwurg nie, soos ‘kyk hierdie queer film want jy’s nie fokken woke genoeg nie’, nee, maar daar is nie ’n dualiteit in die industrie op hierdie oomblik nie.” En dit is maar ’n komplekse twispunt.
Mainstream televisie is belangrik, nie net in terme van werk vir die persone wat in die industrie werk nie, maar ook om ’n tipe van ’n kollektiewe verbeelding te skep. Wat sit mens in, en wat hou mens buite?
Gepraat van die kollektiewe Afrikaanse verbeelding, net voor die groot “soen my”-line raak die skrywers aan iets wat nóg moeiliker is om oor te praat in mainstream media as lesbiërs. Ons sien Esther by die dam, terwyl sy vir Nina bekende Bybel-liedjies sing in die genre van heavy metal. Ek lag natuurlik vir hoe vreemd dit is om hierdie liedjies te hoor wat deel gevorm het van my kinderdae, en dan hoor ek: “Hy het die hele wêreld in Sy hand, hy het die hele wêreld in Sy hand, die rassiste en seksiste in Sy hand, hy het ons almal in Sy hand.”
Dit is die mees direkte kommentaar in die hele film. “So dis die hele ding, like ons vat jou vir ’n fok. Jy dink dit gaan ’n subtle kinderliedjie wees, maar dit gaan ook kind of oor historiese trauma wat ons deel, en ons sing hierdie liedjies in die kerk. Dis ’n baie obvious kind of statement. I don’t want to offend anyone by this or make bold statements, maar dis waar, die kerk en die regering in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was eenders, en dis ook waaroor dit gaan, hoe dit nog steeds so is, tot ’n groot mate. Hoe ons na Christenskap kyk en hoe ons na ons land kyk, was op ’n tyd baie eenders gewees aan mekaar, die kerk en die huis is nooit geskei nie.” Die kerk en die apartheidstaat wat hand aan hand gaan, is nie ’n onbekende tema nie, en dit is soms baie duidelik hoe dit nou nog eggo in die manier waarop baie van ons leef.
Wat my getref het, is hoe die geskiedenis nog sit in die kinders se liedjies, en hoe absurd en subtiel hierdie dinge nog is. Nie so direk soos in Tana en Armand se film nie, en nie noodwending net in hierdie spesifieke liedjie nie. Om terug te eggo wat Tana sê, om ’n heavy metal kerkliedjie vir kinders te hoor waarin daar gepraat word oor rassisme en seksisme is nie so absurd as wat dit is dat hierdie goed wegkruip in plekke waar ons nie eers weet om daarvoor te kyk nie.
En dit is presies wat die film doen, jy is nog besig om die een oomblik te lag en terselfdertyd ’n koue rilling agter in jou nek te kry. Hierdie wêreld wat geskep is, kan nooit in totale isolasie bestaan nie, en alhoewel daar ruimte is vir speel en liefhê en absurditeit, is dit ’n fiksionele ruimte wat beïnvloed is deur regte issues. Naamlik: Wat is dit wat ons (wil) uitbeeld, wie het toegang tot watter verbeeldings en wat is die ding wat agter ons staan en ons bang maak? Alhoewel Afrikaanse televisie en film al groot spronge gemaak het, wonder ek wie besluit watse vordering die publiek sal aanvaar? En natuurlik die grootste vraag is, wanneer mens kweer stories aan die publiek voorstel, wat het die mense met al die mag om te verloor? Of liewer, wat sal verlore gaan vir die kweer gemeenskap as daar nie genoeg nuanse en toegang is tot ons stories nie?
Klyntji-lesers wat belangstel om dié film-trilogie te sien, kan aanmeld deur ’n e-pos te stuur aan wanneermeisies.swem@gmail.com. ’n Private voorskou vir 30 mense word gereël, meld dus die naam/name van wie dit wil bywoon, sowel as die kontakbesonderhede van elke belangstellende. Bespreek voor 10 Julie 2021.