Francke Gretchen Crots se bordboodskappe

Francke Gretchen Crots se bordboodskappe

'n Vrystaatse twist op pottebak en vloek

“Jy kan ook maar gerus in jou moer vlieg”; “[e]k kry sommer die fokken horrie piep” en “[e]k voel vandag weer moerse fokken chirpy” is dalk nie wat jy op mooi handgemaakte keramiekborde sou verwag nie, maar dan is daar Francke Gretchen Crots.

Die kunstenaar vertel: “Ek is gebore op 24 Maart 1995 in die vaal askolletjie wat bekend staan as Kroonstad, op die vlaktes van die Vrystaat, waar ek grootword op die plaas Damschrub. Op hierdie einste plaas is waar my bittersoet kultivar van waarneming, beskouings en menings aangeplant is, ontkiem en saadgeskiet het. In my ma Rika Senekal (wat self ’n ongelooflike keramiekkunstenaar is) se ateljee het ek as kind begin speel met klei en vae, onidentifiseerbare gedaantes geskep – hetsy dit nou vreemde figure was of miniatuur koppies en pierings vir voorsienbare feeste of high teas wat ek en my ouer suster vir ons poppe sou hou. Hier voel ek vir die eerste keer vry in die Vrystaat.”

Daarna vertel sy voorts hoe hulle later na Parys – ja, nog steeds in die Vrystaat – verhuis het en hoe sy – teen haar eie ongeloof in – toe weer terugverlang na die vaal vlaktes van die plaas wat sy voorheen só verag het.

Maar klei, modder en klippies bly haar fassineer. As sy nie in die klaskamer hoef te wees nie, bring sy ure in die hoek van hul tuin deur, waar sy modderkrale en plaasopstalle bou met enige ding wat sy daar kan uitgrawe. In haar voorlaaste skooljaar wend sy haar tot kleiwerk en maak potte wat vreeslik geïnspireer is deur Ardmore se werke – maar haar potte het ietwat van ’n Vrystaatse twist, vertel sy met ’n knipoog. Sy verkoop haar potte by ’n plaaslike galerytjie en maak só ekstra sakgeld.

Sy besluit dat die kunste haar toekoms gaan wees en wil by die Tswane-Universiteit van Tegnologie (TUT) gaan studeer waar haar suster Inge mode-ontwerp swot, maar haar pa Pietrich steek vinnig ’n stokkie daarvoor en besluit sy moet ’n graad by Pukke kry – hoewel daar nie kuns aangebied word nie. Sy word gekeur vir ’n graad in grafiese ontwerp, maar haar hart huil. 

Ek wonder hoekom pa Pietrich wou hê sy moet Pukke toe gaan? “In Inge se tyd op TUT was daar redelik baie ontwrigting op die kampus en betogings, wat klasdraf vir die studente moeilik gemaak het. Ek dink my pa was nie lus vir ’n herhaling daarvan nie. Dalk het hy gedink dat as ek op ’n ander plek studeer, dat ons (ek en my sussie) elkeen ons eie identiteit ten volle sal ontwikkel en ons potensiaal ontsluit, sonder om in die skaduwee van die ander een te wees.

“Maar ek dink nie my pa dink só oor dinge nie... Hy is prakties – hy het ’n woonstel in Potch gehad en dit sou hom waarskynlik geld spaar,” vertel sy terwyl sy lekker vir haar opmerking lag.

Sy is doodernstig as sy verklap dat haar pa nie “regtig presies weet” wat sy doen nie. “Ek het een maal vir hom gewys en hy het vir my die leviete voorgelees, toe besluit ek maar dit is beter om hom eerder nie op te saal met my alternatiewe werkslewe nie.” 

Sy erken tog dat sy nie spyt is dat sy by PUK geëindig het nie en beskou dit as ’n voorreg en ’n ervaring wat sy nie sal wil verruil nie. “Maar ek wonder baie keer hoe dit sou wees as ek kuns kon studeer. 

“Ek wonder of ek vroeër my eie stem sou ontwikkel en of ek dalk nie so sinies oor dinge en die lewe sou wees nie, maar dan wonder ek verder en besef dit is first world problems en gaan aan met my daaglikse bestaan.”

Sy vertel verder: “In 2014 begin ek studeer aan die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroom-kampus, waar ek die volgende ses jaar van my lewe spook en spartel om die verdomde papiertjie in die hande te kry, maar tussendeur rebelleer ek teen ontwerp en hustle met die kunste aan die kant. Ek doen dit deur jaarliks in te skryf vir die kampus talentfees se visuele afdeling met keramiekbeelde en wen darem so vier jaar ná mekaar die visuele kategorie. 

“In 2017 vat ek ’n kans om my keramiekbundel wat bestaan uit ’n paar teëls, in te skryf vir die Sasol New Signatures-kompetisie, nadat my illustrasiedosent my aanmoedig om dit te doen. Ek word later daardie jaar in kennis gestel dat my keramiekskepping een van die topsewe-finaliste is in hierdie prestige kompetisie. Ek wen ’n meriete toekenning en is natuurlik hoog in my skik!”

Teen 2019 voltooi sy haar grafiese studies en weer eens – teen haar eie ongeloof in – is dit ’n bittersoet afskeid, want sy het “nogal lief geraak vir die plek en die siele en ja, selfs die kursus.”

Die pandemie breek uit, grendeltyd word aangekondig en uiteindelik kry sy presies wat sy al vir jare wil hê: Ingegrendel en dolgelukkig sit sy kniediep in die klei in Parys saam met haar ma in die ateljee en skep keramiekkuns sonder ’n kommer in die wêreld.

Ma Rika verwys na haar werk as gebruiksartikels, maar Francke dink sy is nederig: “Haar werke is ongelooflike stukke kuns. Ek het absoluut alles van klei en keramiek by haar geleer deur haar stip dop te hou met opgewonde kinderoë. Met elke probeerslag en elke flop en elke gebarste beeldjie of gekraakte bord, het sy kalm al die redes verskaf waarom dit kon gebeur en al die metodes gelys oor hoe om dit te voorkom. Ek dink tog haar grootste lewenswysheid wat sy aan my toevertrou het, is die volgende: ‘My kind, solank jy met jou hande kan werk, kan jy ’n bestaan maak’.” 

Francke vertel voorts: “Ek put inspirasie uit my omgewing, wat van kleintyd af gevul is met wilgerpatroon en Delftborde en eg Suid-Afrikaanse memorabilia, wat in my ma en ouma se huise gepronk het en uitgestal is soos in museums (die ladies het nogal ’n slag met die kuratorskap van binnenshuisversiering in hulle repertoire). Ek sit ’n tong-in-die-kies-spin op alles wat oor die algemeen as ernstig beskou word en maak die lewe só vir myself en ’n paar ander mense ligter en lagwekkend, al is die humor effens donker...”

Sy voeg by daar is ook ’n magdom ander goed wat haar inspireer: Victoriaanse porselein en keramiekware; Afrikaans in sy geheel; die natuur en die blomme in hul tuin; haar katte; haar ma en sussie; lekker alternatiewe musiek; tattoos; goeie dranklabels; borsspelde; geborduurde lappies; antiekeware soos botterkarrings, borde, boeke en hoede en “so af en toe ’n mens wat ek raakloop wat ’n bietjie anders na die lewe kyk”. 

Jy sou haar werk dalk al raakgeloop het in Pretoria by die Association of Arts, in Potchefstroom by EGLAF en Art Young, asook in Stellenbosch by SMAC Gallery. Verder neem sy deel aan groepuitstallings by Saronsberg Kunsteater, Grande Provence in Franschhoek, Hermanus FynArts, Sonderling by die Pretorius Studio in Rosendal en Lush by RK Contemporary in Riebeeck Kasteel.

Haar werk verkoop ook soos soetkoek op haar Facebook-blad en by die Pantsula Gallery in Parys. 

Daar is ’n hele paar Suid-Afrikaanse kunstenaars na wie Francke opkyk: Hylton Nel en Ruan Hoffmann vir hul praktyk in keramiekkuns, ook die skilder Linda Pretorius vir haar spontaniteit en intuïsie in haar werk.

“Ek kyk ook op na my ma. Ek dink juis oor ek al beleef het wat sy self kan vermag en hoe sy as kunstenaar konstant groei en eksperimenteer. Ek dink dit is hoe ek self graag sal wil wees as kunstenaar.”

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Francke Gretchen Crots se bordboodskappe gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand