Deleuze en Guattari en die beeld van 'n boom

Deleuze en Guattari en die beeld van 'n boom

Illustrasie: Elzahn Nel

Kunstenaarsnota: “In hierdie kunswerk vorm die plante deel van die mensfiguur. Ek het die kolaneut in die figuur se hande geteken en erikas ingebring, soos wat daar in die skryfstuk bespreek word. Ek wou die werk ’n magiese ondertoon gee en het ’n boom oor die hart gesit in reaksie op die sinsnede: ‘[B]ome word […] as die heiligste wesens beskou.’ Die stokgogga op die skouer simboliseer ’n totale gemak tussen mens, plant en dier.”

Hierdie artikel is ’n vertaalde en aangepaste weergawe van Carol Leff se ‘Follow the Plants: A Deleuzoguattarian Look at Points of Magickal Connection Through Nature and the Green Beings’ wat oorspronklik in Engels by die Amazwi South African Museum of Literature se Literature, Heritage and Ecology Conference aangebied is. Luister hier na opnames van die aanbiedings. Vertaling deur Elodi Troskie. 


Magiese verbintenisse tussen natuur en groen wesens

Hierdie artikel het baie min met Gilles Deleuze en Félix Guattari te doen, en terselfdertyd het dit alles met hulle te doen. Toe ek Deleuze en Guattari vir die eerste keer gelees het, het ek by myself gewonder of hulle miskien hallusinogene sampioene ingeneem het terwyl hulle risome beskryf het (alhoewel, mikologies gesproke, is die miselium van ’n sampioen ’n risomorf, nie ’n risoom nie). Kyk na hierdie woorde uit die inleidende hoofstuk ‘Rhizome’ in hulle boek getiteld A Thousand Plateaus (1980): “Multiplicities are rhizomatic, and expose arborescent pseudomultiplicities for what they are” (bl.8).

Wat beteken dit?

In ’n poging om ’n kortpad te vind om Deleuze en Guattari te verstaan, veertig jaar ná A Thousand Plateaus gepubliseer is, het ek my na die voorwoord van Natania Meeker en Antónia Szabari se 2020-boek getiteld Radical Botany gewend. Hulle wys uit dat hulle boek die verhaal is van ’n reeks verbeelde verwantskappe tussen plante en mense; ’n spekulatiewe vorm van samewerking oor en binne verskeie maniere van bestaan.

Maar hoekom moet dit so radikaal wees? Waar het die menslike samelewing verkeerd gegaan om hulle verbintenis met die natuur te verloor?

Meeker en Szabari beskryf ’n sogenaamde “plant turn” waar die plant na die voorgrond van ’n bepaalde kritiese diskoers beweeg het, en selfs ’n onderwerp van akademiese gesprekke geword het. Met verwysing na Deleuze en Guattari se konsep van die risoom, voeg Meeker en Szabari humoristies by dat hulle nie glo dat hierdie konsep onreg doen aan bome nie, of dat dit enige iemand besonders lief laat raak het vir risomatiese wortelstelsels nie. 

Vergewe my, ek is nie ’n botanis nie, net ’n eenvoudige literêre skolier. Hierdie artikel is daarom meer soos ’n lekker boekklubgesprek (die wyn en eetgoed sal later volg). Nes ’n plant, het hierdie artikel begin as ’n klein saadjie van ’n idee en toe groei dit in onverwagse risomatiese rigtings. Die manier waarop ek ’n Deleuzoguattariaanse benadering aanneem, is gebaseer op hierdie twee klein frases uit A Thousand Plateaus: “We have been criticized for overquoting literary authors” (bl.4); en “[f]ollow the plants…” (bl.11).

Oor die eerste uittreksel: Miskien sal ek ook om soortgelyke redes gekritiseer word, maar wat ek nou gaan doen, is om aanhalings bymekaar te sit wat verwys na plante vanuit verskeie tekste wat ek teëgekom het, terwyl ek terselfdertyd ’n basiese lesing van Jacqui L’Ange se 2015-roman The Seed Thief gaan bied. 

Eenvoudig gesproke, handel dié roman oor ’n soektog. Die botanis-karakter Maddy Bellani reis vanaf Kaapstad na Salvador in Brasilië op soek na ’n skaars saad van ’n fiktiewe boom wat die skrywer Newbouldia mundii noem. Die boom is uitgestorwe in die ontbosde Wes-Afrikastreek vanwaar dit afkomstig is. Newbouldia mundii word in die teks beskryf as die neef van ’n regte boom, Newbouldia laevis, wat ook as die African Border Tree bekend staan. Maddy hoop om die laaste bestaande eksemplare van Newbouldia mundii in ’n tempeltuin te vind onder die beskerming van gelowiges van die Afro-Brasiliaanse kultus, Candomblé. Maddy se taak is om die saad terug te bring van Brasilië na die saadbank in Kaapstad waar sy werk. In haar boek verweef die skrywer die geheime lewe van plante met die moordende, internasionale mark en menslike, geestelike oortuigings. Die roman is ’n beklemtoning van die spanning wat geskep word tussen diegene wat plante vereer en diegene wat in diens van gierige farmaseutiese maatskappye is. In my lesing van hierdie teks sal ek fokus op plante, rituele en magiese kragte, en hoedat dit op verskillende kontinente deur die geskiedenis verbind is.

Baie kortliks moet ek Candomblé en die orixás of gode wat met hierdie geloof verbind word, definieer. Candomblé is ’n sinkretiese Afro-Brasiliaanse, geestelike tradisie, meestal met Joroeba-wortels, wat deur die antropoloog, Paul Christopher Johnson, gedefinieer word as ’n “Brazilian redaction of West African religions recreated in the radically new context of a nineteenth-century Catholic slave colony” (Secrets, Gossip, and Gods: The Transformation of Brazilian Candomblé, 2002). Candomblé behels die verering van verskeie geeste en gode, waarna daar verwys word as “orixás”. Die orixás is goddelike tussengangers tussen God en die mens wat kragtige natuurelemente soos wind, donderweer, weerlig, reën en aardbewings verteenwoordig, soos Carol Dow dit in Secrets, Gossip, and Gods beskryf. 

Van die menigte orixás sluit in Iemanjá (godin van die see), Oxóssi (heerser van die woud en die jag), Ossãe (heerser van die botaniese wêreld), en Xangô (die dondergod). Die Joroeba-ekwivalente van hierdie orixás is onderskeidelik Yemaya, Ochosi, Aja, en Shango, terwyl die katolieke eweknieë onderskeidelik die Virgin Mary, St George, St Sebastian, St Benedict, St Jerome en St Bartholomew is. 

Nes Wole Soyinka in sy latere jare ’n oënskynlike teenstrydigheid tussen die Joroeba-tradisionele godsdiens en christenskap kon versoen, soos Richard Oliseyenum Maledo en Emmanuel Ogheneakpobor Emama in Wole Soyinka se The Road as an Intertext (2020) skryf, erken die Brasiliaanse Candomblé ook so ’n huwelik. In Yoruba Cosmology and Culture in Brazil: A Study of African Survivals in the New World (1979) voer Jacob U Gordon aan dat dit histories deur Afrika-slawe was dat Joroebaanse ikonolatrie na Brasilië vervoer is, en daardie slawe is toe aan die katolieke leerstellings van die Portugese setlaars blootgestel. Gevolglik kon die slawe hulle eie panteïstiese kultuur en identiteit versteek in die Katolisisme van die Brasiliaans-Portugese slawe-meesters, meen Olatoun Gabi-Williams. Selfs in hedendaagse Brasilië sien mens dus steeds die samesmelting van katolieke heiliges met die orixás (of gode) van Candomblé. 

Dit is dan geen toeval dat L’Ange plante soos karakters behandel in The Seed Thief nie, soos gesien kan word in die voorbeelde wat volg. Met verwysing na die “subtlety of fynbos” (bl.40), beskryf die protagonis, Maddy, die saad van ’n erika onder die mikroskoop: “[A]mplified it fluffs up, perfectly round and covered in luxuriant, shockingly pink fur. Such a lascivious little seed! On screen it would be played by a bombshell wearing a fluffy boa and feathered mules; the Marilyn Monroe of seeds, as drawn by Dr Seuss” (bl.41). Die berekende gedrag van sade dui op ’n unieke intelligensie, soos in hierdie gedeelte opgemerk word: “Seeds had propellers before planes did, because all seeds are made for travel. Some corkscrew great distances through the air, some gust like ghosts trailing tendrils. There are seeds that hitch rides in the guts of elephants, relying on pachyderm digestive acids to burn chinks in their carapaces; they’ll sprout when they finally drop to earth, encased in nourishing dung” (bl.86). 

’n Mens moet stilstaan en jou verwonder aan die briljantheid en magie van die natuur wanneer sulke metodes oorweeg word om die voortsetting van plantlewe te verseker. Dit laat my dink aan die werk van Michael Pollan, na wie Jacqui L’Ange in haar roman verwys. Haar protagonis, Maddy, dink by haarself: “We always assume that plant cultivation was directed to suit human tastes and desires. But what if the plants themselves had something to do with it? That’s what Michael Pollan suggested in The Botany of Desire. […] Poor busy bees, they thought they were deciding which flower to choose and which to avoid, but Pollan said the flower traits those bees ‘selected’ over evolutionary millennia were designed by the plants themselves to manipulate bee vanity. Is it so crazy to suppose that we, too, are controlled by plants, and not the other way around?” (L’Ange, The Seed Thief, bl.152).

Gevolglik vra Maddy haar af: “So did I pursue the star seed, or did the seed call me? Had I been summoned to bring it home?” (bl.152). Terwyl sy met haar saadsoektog voortgaan, leer die leser baie oor Candomblé wanneer sy verskeie rituele in die terreiro – of tempel – bywoon waar sy hoop om die skaars saad te vind. Soos ander Brasiliaanse raaiselgodsdienste, vereer die towerpraktyke van Candomblé die natuur en hulle maak dikwels gebruik van plantaardige produkte vir genesingsdoeleindes. Spesifieke plantaardige produkte behoort aan spesifieke orixás. Carol Dow se boek Saravá! Afro-Brasilian Magick (1997) is ’n waardevolle verwysing vir diegene wat hierin belangstel.

In Dow se boek verduidelik sy byvoorbeeld die gebruike wat met die kolaneut gepaard gaan. Die neut van hierdie boom is oorspronklik gebruik om Coca-Cola mee te maak en die sade ruik soos rose, skryf sy. Die neut, wat geassosieer word met die Brasiliaanse orixá genaamd Oxalá (in die Joroeba-geloof bekend as Obatala) het gesondheidsvoordele en seremoniële gebruike. Die kolaneut is welbekend in tradisionele Brasiliaanse en Afrika-seremonies. Die Nigeriese skrywer Chris Abani skryf aan die begin van sy 2004-roman GraceLand: “This is the kola nut. This seed is a star. This star is life. This star is us” (bl.3). Interessant genoeg is die saad wat L’Ange se protagonis in The Seed Thief soek, ook stervormig: “I described the seed that looked like a star. I even shared my hypothesis that it might be one of the plants beloved of Xangô” (bl.165).

Die saad word nie bloot vereer nie, maar bome word ook as die heiligste wesens beskou. Op die eerste dag dat sy die tempeltuin ontdek, vertel Maddy: “There’s something deeply comforting about tree contours. […] In floristic terms, Bahian old-growth forest was as diverse as the fynbos back home. One researcher plotted four hundred and fifty tree species in a one-hundred-square-metre patch of this forest – that’s more than occurs in the whole of North America” (bl.157). Terwyl die karakter Zé, ’n inwoner, vir haar die tempeltuin wys, let sy ’n aantal bome op: “They stood like sentinels at the clearing edge. Glabrous leaves, dark green and waxy, clustered racemes of flowers, tinged with mauve. Newbouldia laevis” (bl.158). 

Die saad word nie bloot vereer nie, maar bome word ook as die heiligste wesens beskou.
— Carol Leff oor Jacqui L’Ange se roman, The Seed Thief

Zé verduidelik aan Maddy dat die boom plaaslik bekend staan as “Akokô”. Interessant genoeg is die boom in Nigerië bekend as die vrugbaarheidsboom, of die boom van die lewe. “‘It’s the cousin of the one I’m interested in [says Maddy]… In West Africa it’s also called the ‘boundary tree’” (bl.158). Zé antwoord: “The Yoruba people also planted them in sacred places […] You would find them outside the homes of kings. It is one of Xangô’s trees. […] Most of Xangô’s plants are tall trees. They are the ones that attract lightning” (bl.158–9).

Die orixá Xangô is die dondergod, en ikonografie wys hoedat hy met ’n leeu aan sy voete sit. Hy word dus ook geassosieer met die katolieke heilige Jerome (wat ’n doring uit ’n leeu se poot getrek het). Later in die roman, wanneer Maddy met die karakter Tia Betinha praat, leer sy by haar van die Iroko-boom, ’n groot hardehout wat oorspronklik van Wes-Afrika afkomstig is: “If you cut a branch from Iroko, you lose an arm. If you cut his trunk, you will lose a leg. There are those who are afraid even to look at Iroko for fear that they will be struck dead” (bl.165). Dan sê sy: “We should hug a tree every day. Every day, we should hug a tree!” (bl.165). 

Die Brasiliaanse Candomblé-praktisyns, soos Tia Betinha, wat die orixás respekteer, is dieselfde as die Joroeba-mense wat glo dat “lewelose” wesens soos bome en plante geeste het wat in hulle woon, en sulke geeste moet gerusgestel word, soos Maledo in Wole Soyinka’s The Road as an Intertext skryf. Dit laat my dink aan ’n 2014-artikel deur Wole Soyinka waarin hy sê: “I must confess to being an unrepentant, even mildly obsessed tree advocate from childhood.” Hy sê verder: “A tree is a tree is a spirit is ancestor is guardian is a deity is shrine.” In haar boek getiteld The Vegetative Soul: From Philosophy of Nature to Subjectivity in the Feminine (2002) skryf Elaine Miller in die inleiding oor die verhouding tussen “natuur” en die menslike kreatiwiteit wat die poging insluit om sin te maak van daardie selfde “natuur”. Dít is moontlik wat die skrywer Jacqui L’Ange in The Seed Thief doen. Na die einde van die boek sê Maddy aan Zé: “‘I don’t know what gives a plant its healing power. Whether it’s in the genetic coding of the plant, or the condition of the soil, or the wordless conversations they have with other plants in their area. We are not yet, perhaps never will be, the alchemists we long to be. Not with the Petri dish and the lab coat. Not with pure science alone.’ Not without some kind of magic, I should have added. ‘But if we don’t save the plant, we’ll never know’” (bl.285). Inderdaad, soos Elaine Miller opmerk:  “The plant is in touch with its origin […] A plant is dispersed, multiple, in many places at many times even as it remains rooted” (The Vegetative Soul, bl.8). Hierdie idee het nouliks te make met die denke van Michael Pollan, na wie ek vroeër in die artikel verwys het. 

Maar nou keer ek terug na Deleuze en Guattari, wie se konsep van die risoom, anders as die groot narratief van boomgroei, geen begin of einde het nie. Nietemin word die wortel, wortelstok en risoom almal uitgebeeld in die beeld van ’n boom. Natuurlik dink Deleuze en Guattari in baie meer detail oor risome, maar tyd laat dit nie toe om dit hier te bespreek nie. 

Miller verduidelik in The Vegetative Soul hoe die plantagtige lesing van letterkunde ryk en gevarieerd kan wees: “A plant-like reading might unfold something like this: one may start with an idea, or start with a very straightforward reading of a text. Then the ‘seed’ metamorphoses into a ‘stem’, ‘node’, or ‘leaf’, and without any specific intention on the part of the author it begins to transform itself into something else. Then a commentary, or a poem, or something overheard contributes to the reading, and it metamorphoses again. One’s final reading will never be final, never exhaustive” (bl.11). 

In die slot van The Vegetative Soul verwys Miller na idees soos Jacques Derrida se “notion of dissemination”, Luce Irigaray se “trope of efflorescence”, en Deleuze en Guattari se “articulation of the rhizome”. Tot slot, wil ek jou dan nalaat met hierdie bietjie Deleuzoguattariaanse wysheid wat ook iets van Walt Whitman se idees bevat: “Many people have a tree growing in their heads, but the brain itself is much more a grass than a tree.”


Carol Leff se poësie en prosa is in verskeie plaaslike en internasionale literêre joernale en bloemlesings gepubliseer. Haar debuutdigbundel, flashes, is in 2009 deur Aerial uitgegee. Sy is die koördineerder van ’n kort aandkursus in kreatiewe skryfwerk by die Institute for the Study of the Englishes of Africa (ISEA), en sy is ook ’n deeltydse dosent by Rhodes Universiteit se MA in kreatiewe skryfkuns-program. Carol het ’n PhD in literêre studies en haar belangstellingsveld is kontemporêre skryfwerk in en van Afrika en die Afrika-diaspora. Haar monografie getiteld The Afropolitan Flâneur in Literature is in Junie 2022 deur Cambridge Scholars Publishing uitgegee. Sy woon saam met haar man, twee honde en ’n kat in ’n piepklein houthuisie versteek in die rivierwoud iewers aan die Sonskynkus. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Deleuze en Guattari en die beeld van 'n boom gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand