Queer en Afrikaans: dank vir dié wat opstaan

Queer en Afrikaans: dank vir dié wat opstaan

Die Van Coller-sage teen die agtergrond van Jan Rabie se 'n Vlermuis in die park

“Die ondergaande son verguld die bome van die park en glimlag ’n laaste keer teen die meer se swane en grotte. Op die openbare banke begin die ou here hul koerante en die ou dames hul breiwerk vou om sedig na die versierde ysterhekke van die aandmaal te wandel” (Uit Jan Rabie se Een-en-twintig, 1956, bl. 32). 

Presies so ’n doodgewone laatmiddag was verlede Donderdag, 21 Julie. Dit is nou totdat ek dié opskrif in my wei van die internet raaklees: SJ Naudé kap na Van Coller, vra vir ruimheid in Hertzogprys-toespraak. Nou sal ek maar die toespraak op YouTube moet kyk. Ná die stukkie navorsing lees ek weer die artikel. 10 mense het intussen kommentaar gelewer. Ek lees net die eerste een wat sê: “Van Coller is nie ‘woke’ genoeg nie. Dankie tog daarvoor.” Ek maak my laptopskerm toe en lees eerder verder aan die Jan Rabie-verhaal waarmee ek besig is: 

Skielik stoot ’n vlermuisagtige kop na vore deur die rose, en verskyn ’n ou vrou wat haar arms verontwaardig flap terwyl haar swart doodskleed van ’n rok rondruk bo haar afgesakte kouse. “Pieter! Pieter!” skree sy “Hoe durf jy! Stoute klein duiwel, Jy wéét jy moet huis toe kom!” En terwyl sy naderkom en haar dun nek rek soos ’n pluimveedier met slangagtige bedoelings, mompel sy dreigemente teen een van die kinders (bl. 32).

Dis amper ’n vooruitskouing vir Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé. Daar is 15 kommentare hierdie keer. Ek gaan dit nie lees nie, ek is nie lus vir baklei nie. Maar nou begin my wires cross. Jy wéét jy moet huis toe kom! Ja, ek weet ek moet huis toe gaan. Ek gaan al hoe minder in die afgelope jare omdat ek nie openlik mag praat oor wie ek is nie. “Toe nou, dit ontstel jou pa, dit maak almal ongemaklik, netnou huil iemand weer dan is die hele krismis in sy moer.” Dis meer onskadelik as ek maar bloot ’n toekomstige spinster is, so ’n bietjie van die pad af. “Shame, ons moet haar maar probeer reghelp, ons kyk maar verby haar foute. Sy is tog familie.” Later kry ek weer ’n WhatsApp vir die hoeveelste keer: “Wanneer kom jy kuier? En het jy al ’n boyfriend?” 

Ja, ek weet ek moet huis toe gaan. Ek gaan al hoe minder in die afgelope jare omdat ek nie openlik mag praat oor wie ek is nie.
— Natasha Harmse

Voordat ek kans kry om myself verder te bejammer, sien ek die nuutste: 2 bedank by Akademie ná Van Coller se uitlatings. Die hele storie kom al hoe nader, dit betrek nou my onmiddellike gemeenskap, my eie departement. 112 kommentare. Ek begin van ’n kant af. Soos die mens maar is, haak ek vas by die heel seerstes, lees moedswillig bo-oor die res:

“wanneer gaan mense homoseksualiteit aanvaar...maar ook aanvaar dat dit nie normaal is nie...dan kan ons ook pedofiele aanvaar as normaal...of is daar n verskil...”

“Julle op julle spasie en ons op ons spasie. Kla. ‘julle’ wil ons nou al dwing om te glo dat julle die normaal is. Nee, ons aanvaar julle, maar julle slaan nie die kitaar nie. Wees dankbaar ons aanvaar ‘Julle’. Kla.”

“Het Naudé of sy/haar man/vrou geboorte geskenk aan hulle seun?”

Die laaste een is veral treffend omdat ’n voormalige amperskoonma daarop aangedring het om my ’n “mannetjie” te noem, my maskulien voorkoms skynbaar vir haar een te veel. Sy was wel heel kreatief met haar ander beledigings, soos onder andere “trassie kalbassie” (what even?) en my gunsteling: “Jy lyk soos ’n nat sak vol mis.” Ek wonder steeds presies hoe só ’n sak lyk, maar vermoed dit gaan bloot oor die uitdrukking van afstootlikheid.

Sondagoggend gaan lê ek in my hangmat met die Rapport. Ek wil eintlik net ’n bietjie ontspan, maar helaas, dinge raak net erger: Akademie: Prof dreig met lastereis ná homofobie-herrie. Dan lees ek gretig Sonja Loots se stuk, getiteld Van Coller skaad Afrikaans met sy homofobie. Ek gee my natuurlik weer oor aan die comment section. “Hou my kinders net weg van Loots. Sal hulle verbied om enige iets te kees [sic] wat sy skryf,” waarop iemand antwoord: “Hopelik wanneer hulle oud genoeg is, kan hulle self besluit wat hulle wil kees.” Dis venynig, maar ek lag daarvoor. 

’n Ander een: “Sonja Loots mis die punt!”

“So wat is die punt?”

“'n Kolletjie aan die einde van ’n sin.”

Ek sug. Dinge raak nou kleinlik, my alter-ego begin besef dat sy nie dié stryd gaan wen nie. Sy lê haar wapens neer, waai maar die wit vlag. Laat die massas se oordeel oor my spoel. Ek lees eerder Rabie:

Onder die prieel waar die laaste glanse van die son onmerkbaar op die boog donkerende blare vervaag, ruk sy hom skielik ruweg om en wys na die vier klein regters in die sand. “Kyk!” skree sy, haar arm bewend in selfverdediging gehef. “Kyk! Skaam jy jou nie? Kyk, hulle kyk na jou. Hulle sien jou!” (bl. 32). 

Ek dink aan [die huis] waarin ek grootgemaak is. Waarin ek nooit geldig verklaar sal word nie. Waaruit niemand ope briewe rig om erkenning te gee aan my menswaardigheid nie.
— Natasha Harmse

Maar wag, wat blink nou skielik op die horison? Die US se departement Afrikaans en Nederlands rig ’n ope brief aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Ek lees hoe hulle verklaar dat deernis en respek twee van hulle kernwaardes is en dat hulle daarom “die héle Afrikaanse gemeenskap se taalgebruik, ervarings en literêre produkte as waardevol en geldig [...] erken”. Hulle sê dat Afrikaans binne dié departement ’n huis met baie wonings is. Ek dink aan my eie eertydse huis, die een waarin ek grootgemaak is. Waarin ek nooit geldig verklaar sal word nie. Waaruit niemand ope briewe rig om erkenning te gee aan my menswaardigheid nie. Ek worry skielik geheel en al nie meer oor die snedige kommentaar op LitNet of elders nie. Ek voel nie meer soos ’n enkeling teen die ganse wêreld nie. Hiér is die mense wat ernstig is oor my plek in hulle huis en in hulle taal.


Natasha Harmse is tans ’n meesterstudent aan die Universiteit Stellenbosch. Sy lees graag offensive kommentaar in die media en wend haar dan tot haar sleutelbord.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Queer en Afrikaans: dank vir dié wat opstaan gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand