Tom Jeffery: museumfilosofie oor sosiale en ekologiese geregtigheid

Tom Jeffery: museumfilosofie oor sosiale en ekologiese geregtigheid

Illustrasie: Andries Samuel

Hierdie artikel is ’n vertaalde en aangepaste weergawe van dr Tom Jeffery se ‘Eco-Decolonial Theory and Practice: Revitalising the Agency and Relevance of Museums’ wat oorspronklik in Engels by die Amazwi South African Museum of Literature se Literature, Heritage and Ecology Conference aangebied is. Luister hier na opnames van die aanbiedings. Vertaling deur Elodi Troskie. 


Eko-dekoloniale teorie en praktyk: die herlewing van die agentskap en relevansie van museums

Ons bevind ons in ’n tyd van ’n wêreldwye sosio-ekologiese krisis wat toenemend ’n impak het op elke aspek van ons lewens, vir beide menslike en nie-menslike bevolkings. Dit is duidelik dat sosiale geregtigheid nouliks verstrengel is met ekologiese geregtigheid, en dat daar ’n toenemende dringendheid is vir nuwe vorme van museumdenke en -praktyke waardeur die dinamiese verband tussen sosiale en ekologiese sisteme ondersoek kan word. Daar word geargumenteer dat die dekolonisasie van museums en museumpraktyke meer genuanseerd en treffend kan wees indien dekolonisasie binne hierdie breër krisiskonteks omraam en uitgevoer word. Ek bied hier ’n oorsig van die waarde wat ’n eko-dekoloniale modus van museologie vir museums inhou. Hierdie artikel is gebaseer op navorsing oor die Suid-Afrikaanse museumpraktyk wat ek sedert 2017 doen. (As dit op enige stadium klink asof ek vergesogte stellings maak, kan die volledige nagevorste en uitgebreide idees in my vorige artikels bestudeer word.) 

Deur Suid-Afrikaanse museologie binne die internasionale arena te kontekstualiseer, kan plaaslike en internasionale museumpraktyke mekaar beïnvloed. Menigte van die uitdagings wat ons vandag in die museumpraktyk in die gesig staar, en baie van die probleme wat deur middel van museums in die samelewing uitgelig word, het globale wortels. Dit is daarom belangrik dat ons hierdie breër konteks in gedagte hou, selfs wanneer ons op nasionale, streeks- en plaaslike vlakke te werk gaan.

Dit word algemeen erken dat sosiale verantwoordelikheid die kern van die kontemporêre museum se doelstelling is. In my navorsing het ek met my aanvanklike analise ’n afwesigheid van ekologiese kwessies in die Suid-Afrikaanse museumpraktyk geïdentifiseer, en dus ’n afwesigheid van potensiaal om hierdie situasie op te los. Dit is ’n beduidende probleem aangesien die verhouding tussen sosiale geregtigheid en omgewingsgeregtigheid ’n noodsaaklike grondslag is vir enige sosiaal-verantwoordelike praktyk. In die Suid-Afrikaanse konteks van museumpraktyk, en inderdaad internasionaal, word hierdie verstrengeling steeds dikwels oor die hoof gesien. Dít is dan die breedvoerige probleem wat ek hoop om deur my navorsing en praktyk te help oplos.

Die afwesigheid van ekologiese geregtigheid is gegrond in die historiese en volgehoue natuur-kultuur-dualisme van die museumpraktyk. Om hierdie skeiding tussen natuur en kultuur in museumpraktyke te ontwrig, is noodsaaklik aangesien dit museums verhoed om die nodige genuanseerde reaksies te ontwikkel om by te dra tot oplossings vir die komplekse probleme wat ons vandag in die gesig staar. Dit is met ander woorde dringend om tradisionele maniere van museumdenke en -praktyke uit te daag aangesien hierdie tradisionalisme die agentskap van museums beperk en die relevansie daarvan ondermyn. Heelwat onlangse werk in museologie is ondersoeke van sulke nuwe maniere van dink en werk, veral vanuit die dekoloniale perspektief. ’n Ontluikende navorsingsfokus, veral in die Australiese konteks, beklemtoon ’n ekologiese perspektief in museumpraktyk. Die dekoloniale en ekologiese wendings in museologie bly egter grootliks van mekaar geskei, en in reaksie hierop en in die belang van die ontwikkeling van meer genuanseerde vorme van museumpraktyk, stel ek ’n ekologies-dekoloniale of “eko-dekoloniale” benadering voor wat perspektiewe van sosiale en ekologiese geregtigheid kombineer. ’n Eko-dekoloniale museologie bied potensiaal om die spanning tussen sosiale en ekologiese geregtigheid te bedwing, so ook tussen menslike kultuur en natuur. 

Die omgewingsprobleme wat deur menslike aktiwiteite van produksie en verbruik veroorsaak word, lei tot toestande wat alle lewe op aarde bedreig. Water- en voedselsekerheid word in die gedrang gebring, stygende temperature stel gesondheid en lewensbestaan in gevaar, en bestaansboere sukkel toenemend om voort te leef. Mense en nie-menslike bevolkings word klimaatvlugtelinge aangesien hulle gedwing word om te migreer van omgewings waarin hulle nie meer kan oorleef nie as gevolg van die uitwerking van aardverwarming en klimaatsverandering. Om hierdie en vele ander redes is dit duidelik dat sosiale geregtigheid nou verband hou met ekologiese geregtigheid.

Die dekolonisasieprojek is noodsaaklik en dringend. Die belangrikheid daarvan plaas die museumpraktykgemeenskap se fokus op sosiale geregtheid. Ekologiese geregtigheid, soos ek genoem het, word dikwels oor die hoof gesien. Dit is van kardinale belang vir die relevansie en impak van Suid-Afrikaanse museums dat ons hierdie afwesigheid, hierdie spanning, hierdie dualisme tussen sosiale en ekologiese geregtigheid oplos, en werk aan nuwe vorme van museumdenke en -praktyke wat voortspruit uit die verstrengeling van sosiale en ekologiese prosesse. Dit is onderling gekoppelde stelsels. Inderwaarheid is dit een, uiters komplekse stelsel. Museumpraktyk kan ’n groter impak hê en meer relevant word indien dit gekontekstualiseer, aangepas en uitgevoer word met ’n dieper begrip vir die sosio-ekologiese kompleksiteite van die praktykkonteks.

Voordat ons verder die waarde wat ’n eko-dekoloniale benadering tot museologie vir museums inhou, bespreek, wil ek kortliks kyk na die historiese konteks van museumpraktyk asook die kontemporêre konteks waarbinne ons vandag werk, met ’n oog op die globale raamwerk. Dit word algemeen erken dat die sosiale wetenskappe histories gebaseer is op die idee dat mense apart van, en verhewe bo, die natuur is. Hierdie idee het wortel geskiet in die sewentiende eeu uit die filosofie van René Descartes, en het ontwikkel in wat Donna Haraway die “culturally normal fantasy of human exceptionalism” noem; die mite dat uit alle lewende dinge, die mensdom die enigste spesie is wat nie deel van ’n ruimtelike en tydelike web van interspesie-afhanklikhede is nie. Ons skei onsself van die sisteme waarvan ons afhanklik is vir lewe. Hierdie skeiding is die mens-natuur-dualisme waarop museumpraktyk histories gegrond is, en wat die wetenskappe van die geesteswetenskappe in ons aparte wetenskap- en kultuurmuseums skei. Dit is die volgehoue skeiding wat die begin van die Amazwi Literature, Heritage, Ecology-konferensie gedryf het, en wat ek hoop om te help oorbrug deur middel van die eko-dekoloniale benadering tot museologie.

Paul Crutzen se idee van die “Antroposeen” het internasionaal ’n gewilde raamwerk geraak om ’n geologiese era te verstaan waarin die mensdom ’n invloed op globale, natuurlike sisteme uitoefen. Die diepgaande gevolge van globale kapitalisme dui daarop dat dit miskien meer gepas is om die huidige era as die “Kapitaloseen” te beskou. Jason W Moore skryf dat dit kapitaal is wat die sosiale sisteme dryf waarbinne ons bestaan; sisteme van mag, wins en produksie in die web van die lewe. Moore beskryf die Kapitaloseen as ’n historiese era wat gevorm is deur ’n stelsel waardeur kapitaal nie net opgehoop word nie, maar ook waardeur uitwissing aangedryf word. Die globale ekonomie dryf die dood — maak stáát op die dood — op groot skaal.

Die diepgaande gevolge van globale kapitalisme dui daarop dat dit miskien meer gepas is om die huidige era as die ‘Kapitaloseen’ [eerder as die ‘Antroposeen’] te beskou.
— Tom Jeffery

Die idee van die Antroposeen was veral waardevol daarin om ’n begrip vir die menslike impak op die planeet te populariseer, ook in die ontluikende museologiese benadering tot ekologiese kwessies wat byvoorbeeld gesien kan word in die werk van Fiona Cameron. Die idee van die Kapitaloseen kom egter na vore in die wyses waarop kapitalistiese stelsels en neoliberale denkers staatmaak op die natuur-kultuur-dualisme, dit in stand hou, en dit gebruik om uitbuiting wettig te maak. Deur die aandag op hierdie sisteme te vestig, word emansipatoriese strategieë moontlik gemaak — met ander woorde, die ontwikkeling van nuwe maniere van dink en optree in weerstand teen hierdie onderdrukkende en onwettige sisteme.

In die eko-dekoloniale denkwyse word ’n kritiese perspektief op dualisme in kontemporêre bestuurstelsels beklemtoon. Museums is ingebed in hierdie sisteme en funksioneer onder hulle beheer. ’n Aantal beperkings op museumpraktyk kom na vore uit die neoliberale, kapitalistiese bestuurstelsels wat dit omvou, insluitend die kommodifisasie van erfenis en erfenispraktyk, kwantitatiewe bestuurspraktyk, en ’n fokus op “amptelike geheue” (“official memory”). (Laasgenoemde term verwys na die manier waarop daar dikwels van museums verwag word om ’n amptelike regeringsposisie in hulle uitstallings en openbare programme in te neem.)

Ons moet regtig na hierdie onderliggende sisteme kyk om die volgehoue aard van dualisme in museumdenke en -praktyke te verstaan, en om potensiële maniere te identifiseer om dit te ontwrig. Dit is in die ontwrigting van dualisme dat dit moontlik is om die relevansie en agentskap van museums te verseker, aangesien dit die meer genuanseerde en aanpasbare benaderings toelaat wat nodig is, om die uitdagings wat ons in die gesig staar aan te pak. Hierdie benaderings word dringend benodig in reaksie op die verraderlike maniere waarop die meganismes van ongeregtigheid en onderdrukking as paaie na geregtigheid en vryheid voorgedoen word. Ek sal nou kyk na een só ’n meganisme, wat tot al die verskillende beperkings spreek wat ek hierbo gelys het. 

Kapitalisme is ’n gewelddadige en teenstrydige stelsel van magsverhoudings. Dit is terselfdertyd antroposentries en verontmenslikend, beide histories en in hedendaagse tye. Om kortliks terug te keer na die historiese konteks; kolonialisme is ’n kapitalistiese stelsel wat aanvanklik afhanklik was van die gelyktydige verdeling en uitbuiting van mense en die natuur. ’n Sekere populasie van die mensdom is geskei van en geklassifiseer as “beter” as die natuur, ’n skeiding wat gebruik is om die uitbuiting van die natuur te regverdig. Terselfdertyd is groot getalle mense geklassifiseer as “van die natuur” eerder as “mense”, om die uitbuiting van hierdie mense te regverdig. Hierdie gewelddadige, dualistiese teenstrydighede word steeds toegepas in die era van neoliberalisme, soos Valerie Plumwood opmerk, en wat pynlik duidelik gestel word in Rob Nixon se boek, Slow Violence and the Environmentalism of the Poor (2011). Boaventura de Sousa Santos skryf oor die kapitalistiese, kognitiewe ryk (“cognitive empire”) wat, soos Eureta Rosenberg opmerk, ons vermoë wegneem om enige alternatief te verbeel of voor te stel sonder om uitgemaak te word as wenslik en irrasioneel. 

’n Sekere populasie van die mensdom is geskei van en geklassifiseer as ‘beter’ as die natuur, ’n skeiding wat gebruik is om die uitbuiting van die natuur te regverdig. Terselfdertyd is groot getalle mense geklassifiseer as ‘van die natuur’ eerder as ‘mense’, om die uitbuiting van hierdie mense te regverdig.
— Tom Jeffery

Emansipatoriese neoliberalisme is deel van hierdie kognitiewe ryk. Dit is ’n diepe teenstrydigheid in die kern van kapitalistiese ideologie. Suid-Afrika het byvoorbeeld progressiewe omgewingsbeleide soos die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Wetsontwerp op Klimaatsverandering in plek, maar dit blyk egter retories te wees in die praktyk. ’n Voorbeeld hiervan is die reaksie van Suid-Afrika se minister van minerale en energiebronne, Gwede Mantashe, in die dae onmiddellik ná die United Nation Climate Change Conference (COP-26) in 2021. Soos berig in die Daily Maverick en ander nuusbronne, ignoreer Mantashe die voordelige transaksies wat Suid-Afrika gemaak het om emissies te verlaag en hy ignoreer ook die beduidende potensiaal vir hernubare energie in Suid-Afrika. Sy visie is om Suid-Afrika en ander Afrika-nasies in ​​afhanklikheid van die fossielbrandstofbedryf te behou. Mantashe se optrede is dus ’n illustrasie van die paradoks van emansiperende neoliberalisme. Daar word voorgegee dat verbetering aangebring word, terwyl Suid-Afrika in werklikheid in ongeregtigheid opgesluit bly. Ten spyte van die retoriek van ekonomiese bemagtiging, sal hierdie stelsels die huidige probleme vererger waardeur die armes die ergste geraak word. 

In die erfenisraamwerk kom hierdie paradoks na vore as ’n afwesigheid van sosio-ekologiese sorg vanaf erfenisbeleid en formele erfenispraktyk (teenoor die potensiaal vir aktivistiese erfenispraktyke wat hieronder bespreek word). “Erfenis” word gesien as ’n industrie, waarin sogenaamde optimale prestasie gemeet word in verhouding tot werkskepping, belegging en ekonomiese groei as die enigste oplossings vir maatskaplike probleme. Hierdie ekonomiese fokus marginaliseer spesifiek sosio-ekologiese perspektiewe en kommernisse. Dit blyk dat die beleidraamwerk wat dekolonisasie ondersteun, ’n voorstel is om die ongelykhede en geweld van koloniale, dualistiese kapitalisme teë te werk deur middel van die ongelykhede en geweld van hedendaagse dualistiese kapitalisme. Hierdie paradoksale posisie ondermyn aktief emansipatoriese, dekoloniale potensiaal. Dít is die paradoks van emansiperende neoliberalisme.

Die kritiese eko-dekoloniale perspektief is gegrond in hierdie historiese siening van museologiese dualisme. Dit wys hoe dit voortspruit uit koloniale, kapitalistiese dualisme, en hoe dit in die dekoloniale konteks deur neoliberale ideologie voortgesit word. Eko-dekoloniale denkers beklemtoon dat opeenvolgende manifestasies van kapitalisme die idee van die museum beïnvloed het, en dat dit die skeiding van sosiale en ekologiese geregtigheid genereer, en ook die potensiaal beperk vir ’n museumpraktyk wat mense van agentskap kan voorsien en verseker dat museums relevant is in vandag se wêreld.

Hoe kan die eko-dekoloniale benadering hierdie diepgewortelde historiese en kontemporêre konteks ontwrig? Tydens hulle post-apartheidbestaan het Suid-Afrikaanse museums gesukkel om hulleself te heroriënteer vir nuwe, diverse gehore en ontluikende behoeftes. Hierdie stryd, tesame met die International Council of Museums (ICOM) se huidige proses van herdefiniëring van die museum, verteenwoordig ’n oomblik van vloeibaarheid waarin die idee van museums herverbeel kan word. My voorstel is dat hierdie herverbeelding aangemoedig kan word deur ’n perspektief op die verstrengeling van sosiale en ekologiese geregtigheid. Dit bied ’n vars manier van dink om die voortbestaan van die mens-natuur-dualisme te ontwrig en om museologiese teorie en praktyk uit te brei om die verhouding tussen mensdom en die omgewing as wedersyds-konstruktief te beklemtoon. Dit vorm die grondslag van die eko-dekoloniale modus van museologie.

In die laaste deel van hierdie artikel wil ek fokus op voorbeelde van potensiaal vir praktiese verandering. Deur onderhoude met Suid-Afrikaanse museumwerkers te voer, het twee verstrengelde, praktiese, transformerende padaanwysers na vore gekom. 

Die eerste hiervan is interstisiële (tussenruimte) aktivisme deur museumwerkers. Beperkings soos kwantitatiewe bestuur, die kommodifikasie van erfenispraktyke en ’n fokus op amptelike geheue genereer spanning tussen museums en museumwerkers. Emma Mahony merk op dat daar binne hierdie spanning potensiaal is vir aktivisme wat deur museumwerkers uitgevoer word, deur inwendig verandering mee te bring in die institusionele ruimte. ’n Tussenruimte is ’n skeur of ’n spleet tussen denke en praktyk. Dit is ’n konseptuele ruimte wat gekenmerk word deur spanning en waaruit verandering gegenereer kan word. Hier vorm hierdie ruimte rondom die spanning wat daar tussen ’n museum en sy werkers bestaan. In die praktyk word werkersagentskap beperk deur beleid en die sosio-ekologiese verandering – wat vir die meeste werkers belangrik is en ooreenstem met ’n museum se sosio-ekologiese verantwoordelikheid – word belemmer. Deur werkers se agentskap te beperk, word die agentskap van die museum ook beperk. Werkers se aktiwiteite in openbare programme ís immers die agentskap van die museum. Hierdie spanning word verhoog deur die gelyktydige politieke eise vir die transformasie van museums sodat dit meer verteenwoordigend en relevant word en die oplegging van ’n kwantitatiewe burokrasie wat die kreatiwiteit en hulpbronne beperk wat nodig is om transformasie te bewerkstellig.

Die mate van beperkte agentskap wat ’n individu binne so ’n institusionele struktuur mag voel, manifesteer moontlik in opstand teen sy beperkings. Werkers kan die beperkings van beleid ontwrig en hulle eie beginsels en perspektiewe oor sosio-ekologiese geregtigheid uitdruk in die programme en projekte waarvan hulle deel is. Dit is interstisiële aktivisme. Soos Emma Mahony dit stel, moet sulke aktivisme teen beperkings gesien word nie as ’n aanval op hierdie instellings nie, maar eerder as uitdrukkings van liefde vir dit wat hulle kán wees. Dit is handelinge om te help verseker dat die museum as ’n sosiale struktuur sy sosio-ekologiese verantwoordelikhede nakom ten spyte van die beperkings en teenstrydighede van politiek, beleid en nakoming, en dit is dus ’n handeling wat dui op ’n strewe daarna om die agentskap en relevansie van die museum te laat herleef as ’n sosiale struktuur.

Die tweede roete is ’n praktyk gefokus op gesitueerde narratiewe. Museumpraktyk kan ’n fokus wees op die geleefde ervarings van mensdom-in-natuur. Dit is ’n gesitueerde praktykfokus wat in die werklike wêreld gewortel is. Dit anker eko-dekoloniale museumpraktyke in geleefde ervarings, met die fokus op die verhale van mensdom-in-natuur, terwyl dit ook ’n worsteling teen die sosio-ekologiese krisis is. Hierdie verhale van swaarkry in die werklike wêreld, hierdie gesitueerde narratiewe, vertel die geleefde ervarings van mense in ’n omgewing wat besig is om vinnig te verander. Dit is stories wat museums kan help om hulleself as storievertellers te vestig. Die fokus van hierdie idee is die potensiaal om kennis en betekenis sáám met gemeenskappe te genereer. Deur mede-kurasie van uitstallings en leerprogramme saam met vertellers van gesitueerde kennis, deur mede-betrokke betekenisvorming, kan museums medeskeppers van aktiewe, aktivistiese, sosio-ekologiese kennis word en bydra tot die generering van sosio-ekologiese geregtigheid. Dit stel museumpraktyke in staat om groter agentskap te hê en om meer in staat te wees om agentskap aan die mensdom-in-natuur te bied. Dit bied op sy beurt potensiaal om sommige van die relevansie wat hulle verloor het, terug te bring na museums.

Die rol van gesitueerde narratiewe in die eko-dekoloniale benadering is opsommend om museumpraktyk op mense as komplekse sosio-ekologiese entiteite te fokus. Dit betrek kwessies wat vir mense belangrik is in hulle geleefde ervarings as mensdom-in-natuur en bied dus ’n nuwe manier om museologie te grond in ’n bewustheid van die verweefde aard van menslike en nie-menslike ekologiese gemeenskappe. Die gesitueerde, narratiewe fokus op mensdom-in-natuur is dekoloniaal aangesien dit gemarginaliseerde kennis erken. Dit is ook ekologies, want gesamentlik met die erkenning van hierdie kennis, verdiep dit ons verstaan van die wêreld en van menslike interaksies met die omgewing. Dit hou verband met die grondslag van die eko-dekoloniale denkrigting deur die deurslaggewende begrip dat sosiale en ekologiese geregtigheid diep verstrengel is.

Dekolonisasie en ekologisasie is ewe dringend en ewe noodsaaklik vir die relevansie en impak van museums. Daar is ’n behoefte aan ’n benadering tot museologie wat erken dat sosiale en ekologiese geregtigheid onafskeidbaar is, en wat sosio-ekologiese geregtigheid as die aandrywer vir die ontwikkeling van teorie en praktyk aanneem. Die eko-dekoloniale modus van museologie is só ’n benadering en is spesifiek gefokus op die dekolonisasie van museologie in ’n tyd van sosio-ekologiese krisis. Die Suid-Afrikaanse dekoloniale, museologiese program kan nóg meer effektief raak as dit sy fokus op sosiale geregtigheid uitbrei en aanpas om ’n fokus op sosio-ekologiese geregtigheid te word, en die doel van die eko-dekoloniale is om hierdie uitbreiding te fasiliteer.


Tom Jeffery is die hoofkurator van Amazwi. Hy het ’n PhD in museumstudies voltooi. In sy navorsing stel hy ’n ekologies-dekoloniale, of eko-dekoloniale, vorm van museumfilosofie, -teorie en -praktyk voor, wat die vermoë inhou om die dekolonisasie van museums in ’n tydperk van die sosiale, ekologiese krisis teweeg te bring.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Tom Jeffery: museumfilosofie oor sosiale en ekologiese geregtigheid gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand