Wannabe Kewpie in Kaapstad
du toit albertze.jpg

Du Toit Albertze skryf – in Gayle

Dit was ’n Vrydag en Stellenbosch was te veel, as usual. Ek vat die trein, dis ’n uur agter. Ek soek ’n blomme stalletjie, iets met lavender, en daag toe op by sy/haar winkel. Hy/Sy skrik wakker. Ek pose vir sy/haar Instagram story. My Engels raak op en hy/sy wys my na ’n exhibition, hy/sy mompel altyd so ek verstaan die helfte nie, maar ek glimlag dom-verlief. Ek vou ’n vliegtuig met die padkaart wat hy/sy vir my geteken het en verdwaal – met heupe wat swaai. Almal staar na my pienk bloes of hoes vir my cheap sigaretrook. Ek gooi die padkaart in die lug wat vlieg tot teenaan ’n pap plakkaat: Kewpie, Daughter of District Six. ’n Vrou staan voor die hek en ons sukkel om in te kom. Uiteindelik begelei iemand my by die trappe op, nogal beaulah! En toe slat die pienk my...

Haar naam toring uit bo hordes foto’s en die ander geskrifte teen die muur: Kewpie. Ek en my pienk bloes is dadelik tuis, en dis nie sommer ’n gevoel wat ’n mavis soos ék ervaar nie. My hart begin smelt aan my bloes soos ek foto’s van Kewpie sien as klein seuntjie, amper identies aan my eie kleuterfoto’s. Pikkewyn-pakkies met sulke befokte gesiggies. Ons wou nie seuntjies wees nie. Nancy, ons wou gerties wees!

Die jolle by Madame Costello se huis, uit Defiant Desire: Gay and Lesbian Lives in South Africa (1995)

Die woorde “Our world is real. We cannot exist otherwise” van Defiant Desire: Gay and Lesbian Lives in South Africa (1995) weergalm deur my kop soos die uitstalling om my begin dryf, van Kewpie se ballet-skoene tot haar hoë hakke. Sy het in Distrik Ses grootgeword as een van ses kinders. Sy het dans by die Universiteit van Kaapstad geswot en gedroom om ’n beroemde danseres te word. Al het sy dit nooit gemaak na dié verhoog nie, het sy die strate van Kaapstad haar stage gemaak. Foto op foto wys hoe Kewpie die strate deur geparadeer en gepronk het in die blinkste rokke en grootste hare.

Ewe skielik onthou ek hoe ’n trans sister by Stellenbosch se treinstasie uitgejou is. Ek het net staan en toekyk terwyl die woord “moffie” skryn in my ore. “Moffie” is oorspronklik ’n Afrikaanse-Gayle woord vir queer mense. Nie ’n vloekwoord nie.

Vir my was daar voor Stellenbosch eers Springbok gewees. Dít was nog kakker. Ek was die eerste keer ’n moffie genoem voor Sondagskool. Ek was graad een. My ma was die Sondagskool-juffrou. Sy’t nie verstaan waarom ek gehuil het toe sy oor die hemel praat nie. Ek het toe al geweet daar is nie plek vir mense soos ek in die hemel nie, wat nog te praat van Springbok! Skelm het ek maar ma se vlinder night gown aangetrek en my gesig probeer wegvee met haar twee skakerings te lig onderlaag. In Stellenbosch het ek vir my eerste twee jaar baie hard probeer om die cisgender-ding te doen. Eers met ’n Halloween party laasjaar het ek weer die moed gekry om ’n rok aan te trek. Ons was drie en van die enigstes wat opgedress het. Die olga wendy bags (ou wit mans – red.) was oor ons, to say the least!

Ek kyk na Kewpie se sisters. Poeier, pruike, harriet, hakke, glitter, entjies, dora, patsies, spotlights, fights, vriendskap en familie. Nes Piper Laurie met haar extravagant wenkbroue en daai vast kween pose! Nes Kewpie was Piper ook ’n haarkapster in Mitchells Plain. Haar regte naam was Ismail Hanif en sy was die oudste van nege kinders. Piper se familie – behalwe haar pa – het die vroeë tekens van ’n gay identiteit gesien en omarm. Piper het aangedwing om naaldwerk te doen op skool en het al in laerskool haar hare rooi gekleur. Op 14 het sy sommer al grimering begin dra. Dié een was ’n brawe mavis al van kleins af! In 1964 Durban was Piper gearresteer vir “masquerading” of vermomming. Hierdie arrestasie het gelei na Piper se proklamasie dat sy drag voorgestel het aan Durban.

Die jolle by Madame Costello se huis, uit Defiant Desire: Gay and Lesbian Lives in South Africa (1995)

Toe die wendy bags moeg begin raak het om ons te fetishise het dinge begin gewelddadig raak. Stellenbosch se bags verander graag snags in D.F. Malan, Eugène Terre’Blance of Hendrik F. Verwoerd. Wanneer hierdie transformasie plaasvind moet jy maar óf jou vrou staan óf die pad vat, anders help hulle sommer jou eye shadow aan! Ekke het toe meer gereeld Kaap toe begin kom. Die Pride Palace. Ek sou dan eers na Alexander Bar se toilette gaan om my ‘straight drag’ te ontklee en om my fabulous rokkies of bloese aan te trek. In Stellenbosch sou ’n man op straat of in ’n kar al vir my geblaf- of toet het.

In Kaapstad is mense met hulle eie kak gepla. Ek perform dan graag deur Loop- of Langstraat en verbeel my dat Distrik Ses nooit platgeslaan is nie. Ek wil net begin sheila voel, dan onthou ek my Tinder-maat wat van my hou in ’n rok. Daarom is ek hier. Om vir hom/haar soos Kewpie te perform. Ek swaai reeds my heupe op pad na sy/haar vrek-duur klerewinkel. Party hoes, party koes, party sal ek poes. Want weg van Stellenbosch is ek daai vast sister! Die betty bangles het nie tyd om ’n bebaarde seun met sykouse en ’n mini te arresteer nie. Times have changed, goddank!

Dis nou vir ons as Suid Afrikaners. Wat van Tanzanië se moffie jagtogte? Wanneer het ons deel van ’n skattejag geword? Tanzanië se streekskommissaris het ’n publieke aanvraag gemaak dat alle gay persone aangemeld moet word. Hordes queer mense leef nou in vrees, aangesien party van ons nie meer kan wegsteek wie ons is nie.

Tydens Winnie Mandela se hofsaak in 1991, vir die vermoedelike ontvoering en mishandeling van minderjarige seuns, het haar prokureur opgestaan vir haar gewaagde uiting dat sy die seuns gered het van ’n homoseksuele priester, en gesê: “Homosex is not in black culture,” soos vervat in Defiant Desire: Gay and Lesbian Lives in South Africa (1995). Ek wonder nou wat daai tyd se homophobes sou sê as hulle geweet het van Simon Nkoli, Ivan Toms, Linda Ngcobo, Beverly Ditsie, Zackie Achmat, Ayanda Denge, Busi Kheswa, Nthabiseng Mokoena, Melanie Nathan, Noxolo Nogwaza, Sibongile Ndashe, Eudy Simelane, Funeka Soldaat en Kewpie...

Die jolle by Madame Costello se huis, uit Defiant Desire: Gay and Lesbian Lives in South Africa (1995)

Tinder-maat neem my gereeld na die Kimberly Hotel waar ek my verbeel ek is ’n sister in Kewpie se Queens Hotel. Die plek lyk soos ’n kroeg in Springbok en die bartender like my fokkol. Tenminste kyk niemand my snaaks aan nie. Ons kies SZA se Drew Barrymore op die jukebox en vogue al pas dit glad nie by die liedjie nie. Dit voel of ek vir die eerste keer kan asemhaal, dalk ook omdat daar al minder wendy gesigte om my is, of straight gesigte, ek weet nie watter een ek die minste van hou nie. Ek glo nie Kewpie het daarmee gesukkel nie, veral as ek kyk na die foto’s van etes by Madame Costello se huis in Woodstock nie.

Na ’n aand van luister na Tinder-maat se struggling en pynvolle kunstenaarskap en hoe hy/sy nie New York toe kan gaan nie, het die hoop van ’n queer revolusie begin vervaag. Ek het wel aanhou glo dat die bier, dress-up en cuddles genoeg was. Later verkoop ek my kosbaarste bloes, skryf vir hom/haar ’n poem, vat ’n trein, change na my nuwe rokkie en daag op by sy/haar winkel. Soos ek sit en wag vir almal om uit die winkel te syfer, begin ek al meer Griselda word. Ons rook toe sy/haar kak JFK’s buite. Ek lees die gedig. Hy/Sy vra my toe: “Wie wil jy nou eintlik wees?” Ek skud my kop en gaan na die changing room. Trek weer my jean en straightste hemp aan. Sy/Hy trek die gordyn oop. “Jy lyk mooi.” Ek begin toe stap, draai om en blaas ’n soentjie vir hom/haar en Kaapstad.

Dis nie die laaste van my nie, ons sal altyd hier wees.

Ek en Kewpie

Ek en Kewpie

Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Wannabe Kewpie in Kaapstad gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand