Dianne Du Toit Albertze herbesoek Afrikaaps
Afrikaaps, die musikale teaterproduksie en dokumentêr bly invloedryk. In die produksie word die geskiedenis van Afrikaans verken in ’n tyd toe dit nog nie so pertinent deel was van die populêre agenda nie. Deur dokumentêre multimedia is die kreole en slawegeskiedenis van Afrikaans op die voorgrond en planke geplaas. Die teaterproduksie se aanslag het jazz, hip-hop, tradisionele musiek, ghoema en reggae betrek, en dis versterk deur dokumentêre beeldmateriaal.
Die saadjie vir die produksie is geplant deur Kyle Shepherd en Jitsvinger tydens hulle optrede by die Bellevue-teater in Amsterdam in 2009. Hierdie optrede sou lei tot Afrikaaps wat vir die eerste keer in 2010 by die Baxter in Kaapstad opgevoer is. Die produksie is daarna opgevoer by die KKNK (2010), op ’n Nederlandse toer (2011), en by Joule City (2012). Die dokumentêre film deur Dylan Valley oor die Baxter- en KKNK-opvoerings, is sedert 2010 telkemale vertoon.
Afrikaaps dra by tot Afrikaans se bevryding van die negatiewe stigma wat daaraan kleef as deel van ’n groter beweging om die taal te herwin. Dianne Du Toit Albertze het opnuut Afrikaaps onder die loep geneem.
Geklassifiseer: Afrikaaps
Kom Khoi San
Toe Lavender Hill se hoërskoolkinners uit ’n show van Afrikaaps kom, sê een meisie: “Ek sallie mee skaam wies om te praat soes ek praat’ie. Ek gaan’ie mee compromise op my taal vi anne mense nie.” Haar woorde bly by my as ek nadink oorie hip-hop-historiese reis waarop os geneem is, vannie onstaan va Afrikaans tot die modern twists, die ups en downs, en finally ’n reclaiming – maar waa pas dit alles in by wat ek op skool geleer is? Moenier Adams sê vroeg innie documentary: “Little did I know that the history I learnt in school was going to be rewritten.”
Die aanvanklike Afrikaaps cast vir die (daai-tydse ABSA) Klein Karoo Nasionale Kunstefees was Jitsvinger (digter/MC), Blaq Pearl (sanger/aktivis), Jethro Louw (Khoi storieverteller/digter), Kyle Sheperd (musical director/musikant), Emile YX? aka Emile Lester Jansen (MC/“Ghetto Superstar” soos Jitsvinger hom noem), Bliksemstraal (B-boy/MC) en Shane Cooper (“beat-maker”); met Aryan Kaganof as dramaturg en Catherine Henegan as regisseur.
Die Afrikaaps-geselskap streef daarna om die onnerdrukte deel vannie taal te reclaim en om ’n groter audience te invite ommie selle te doen. Dit is evident uittie lyrics:
Kom Khoi San kry terug jou land
Coloureds kom van Khoi San verstand
Toeka se tyd toe
Om iets terug te vat, moet daa sekerlik na die wortels va daai iets toe gegaan word. Dis wat die creatives van Afrikaaps gedoen het, en hulle vat os na die héél begin. Patrick Mellet (slave-trade historian) voer aan dat die eerste sprekers van Afrikaans nie die Europeërs was nie, maa drie indigenous historiese figure, naamlik Autshumato, hoof van die Goring-haiqua (ook bekend as Herry die Strandloper), Doman (ook deel van die Goring-haiqua tribe) en dan Krotoa, wat van kleins af (soos die twee bogenoemdes) as fasiliteerder, diplomaat, tolk, vertaler en taalkundige opgetree het.
Neville Alexander, opvoeder en politiese aktivis, sê: “As die Khoi, die San en veral die slawe nie gedwing is om Hollands of Nederlands te leer nie, of te praat nie, dan sou die taal Afrikaans nie ontstaan het nie.” Alexander gaan verder: “Tot en met 1870 is Afrikaans gesien as ’n kombuistaal, ’n Hottentot-taal, ’n taal wat niemand eintlik ernstig opgeneem het nie. Afrikaans was die taal van die bediendes, laer-klas en so aan.”
Vanaf 1875 het Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) begin om Afrikaans te “standaardiseer” deur Die Bybel te versprei onner mense van kleur. In die proses is heelwat woorde va Maleise en Khoi oorsprong vervang, bv. “dankie” is gebruik in plaas van “tramakassie”. Ander woorde is gehou, soos “eina”, “baie”, “sjambok”, “blatjang” en “soebat”. Die Iziko Slave Lodge Museum het ’n permanente exhibition voorie Lodge waa dié woorde op sementblokke geskryf is. Deurie documentary vind die kyker ook uit dat die eerste geskrewe Afrikaans in Arabiese geskrif is.
In ’n WhatsApp message verduidelik Jethro Louw (die Elder vannie cast) vir my: “Afrikaaps is die next generation van Ghoema-taal. My generation verstaan die taal so oppie Cape flats”. Hy sê ook dat “Afrikaaps” en “Ghoema” beteken om te murmereer, wat beteken om ’n onduidelike klank te maak of ’n weerhoudende uitdrukking van ontevredenheid. Verset.
Die missing link
Ná ’n underwhelming first showing van die produksie waaraan die collective nog die heeltyd werk, het hulle besef iets is missing, of eeder, iemand. Daai ou was Moenier “Monox” Adams. Hy is al van kleins af ’n “Cape flats cooner” met ervaring in Cape Ghoema, Kaapse Klopse en Maleise kore. Adams noem dat baie van sy “Ghoema numbers” connect het met die stories van Jethro Louw. So het hulle toe uiteindelik ’n stem beginte vorm, deur hulle verskillende agtergronde en style te kombineer. Bliksemstraal vat dit so mooi saam wanneer hy hulle en die show beskryf as “’n moerse pot” waaruit “almal gaan eet”. “Ons is hier om te deel met die nasie,” sê hy. Kyle Shepherd meen die toneelstuk het te make met “African consciousness” en sê dat dit ten doel het om “African sound [te] legalise”. Luister beslis na Shepherd se roerende weergawe van ‘Die maan skyn so helder vanaand’.
Ommie vibe te kry va Afrikaaps sluit ek ’n transkripsie in van een van Jitsvinger se gedigte:
Die !gi:xa is nie meer magtig, maar uitgedryf as misterieus en sinister. Nie meer die volksgeneesheer, inteendeel… nou word man en vrou bekeer. Brood en wyn is deel van ’n sekere bloed en vleis ritueel, ge-orkestreer deur ’n sendeling in sy swart karos met sy boek met die rooi tong wat klap – ken hy die bol en knol wat die !gi:xa uit die randjies gaan haal het? Ken hy die jakkalsdans wat ons innie maanlig trans? Stukkend is ons tromme geslaan om nou ’n weg na sy kerk te baan. ’n Monsterieuse gebou tot eer aan sy god deur ons hande gevorm. Nou is ons geklas as arm en stom. Dom.
Wie gaan vir ons die reën bring?
(Uittreksel van ‘Die Reënmaker’ deur Jitsvinger)
* Die volle Afrikaaps-draaiboek is in dele beskikbaar op Herri – deel een, twee, en drie.
Ons maak’it legal
Voorie eerste performance word Jethro Louw gearresteer. Innie documentary sien os hoe Jethrow verdwyn in ’n wit lig en ons vind nie meer uit nie, behalwe dat hy virrie hele Baxter run toegesluit was in Polsmoor oor hy sy kinners beskerm het. Ek wou meer uitvind oor wat gebeur het en het hom ge-whatsapp.
VN 1:
Voor Afrikaaps se opening by Baxter is jy in hegtenis geneem. Was daa enige onnersteuning vi jou in daai tyd gewees?
Jethro Louw: “Ek het ’n domestic violence case. Iemand het in my spasie beweeg en homself geforce in my space in. Twee persone. ’n Man en ’n vrou. Hulle wou my kinners kom kyk het. My tweeling was toe so drie weke oud en my Khoisan protokol sê vi my dat iemand wattie daa by my hys bly nie, kannie my kinners sien nie. ’n Maand issie minste. Eintlik issit agt weke. Die kinners word mos gesmeer met tradisionele middels en dan moet ons ’n ruik kry. Die grootmense se ruik wat dik saam met hulle gan opgroei. Anne mense wattie daa innie ommiddelike omgewing issie, soos familie, maggie eers naby hulle kommie. Maa die twee mense het hulle way geforce tot by my kinners. Ek het hulle gevra om te beweeg en hulle wou nie.
Toe het die hof beslyt ek hettie daai choice om te maakie, dat ek kan beslyt wie ek in my hys en by my kinners kan toelaat nie. Hulle het gesê ek is parmantig. Al sê die wet ek kan beslyt wie in my hys kom. En by the way, assie wet ytvinne jy oortree dan skiet die wet jou of die wet moer jou goed op!
Dit is nou ’n voorbeeld van hoe die system ook dieselle ding weerspieël wat ek vi jou sê. Daai mense wat my skuldig bevind het, hulle issie deel van my kultuur nie. Hulle is mense wat neerkyk op my lewenswyse. Hulle bly nie in my gemeenskap nie.
Hulle het niks met ons te doen nie. Hulle is net besig om ons te judge. Hulle het ’n goeie werk gedoen, want hulle staan in judgement van hierrie gemeenskap. Hulle penalise ons elke kee. Die mense wat in my hys gekom het, verstaan nie protokol nie. Hulle ken net van die penalisation van minder-bevoorregte mense. Die is nie ’n law van kanse nie. Hulle is net doenig met penalisation van mense wat spook om hulle kultuur t’rug te kry. Jy kannie claim op ’n culture nie.
Tien jaar terug was ek ’n goeie voorbeeld van gemaak omdat ek my kultuur beoefen oppie verhoog en in my hys. Daar mag geen trace van my kultuur in hierrie samelewing weesie. Kom ek sê jou, ek is al die afgelope tien jaar op ’n appeal bail en niemand het wee na my saak gekykie. Hoekom? Omdat virrie samelewing is my saak nie va belang nie.”
Die Baxter run moes voortgan, selfs met die gedagte dat ’n lid va hulle collective innie selle is. Either way het hulle die gehore se harte gesteel en gou die media laat gons. Elke koerant, radioshow en tydskrif het oor Afrikaaps gepraat. So was die sukses ook bittersoet.
Dissie myne nie, dissie joune nie
Gelukkig is Jethrow uit op parool virrie KKNK-show se voorbereiding. Almal is nog high vannie buzz ná die Baxter-optrede, maa Catherine wil hê hulle moet aanhou werk aan die craft – hulle is besig om ’n “whole mentality” te change, meen sy. Jethrow lag senuweeagtig tydens ’n smoke break en sê: “Ek wonner of oubaas dit kan handle?”
VN 2:
Uncle Jethrow praat van ’n “oubaas” innie documentary. Hoe sal jy hierrie “oubaas” beskryf en waa sien os nog vi hulle in power?
Jethro Louw: “Ons kom mos nou van ’n sisteem af waar die oubaas nog altyd in beheer is, en die oubaas is die oubaas van slawerny, die oubaas wat ons in ’n system gedruk het waa hy homself as ’n gevangene vasgevang is. Die system is die taal wat ons nou gebruik. Die kreooltaal wat Afrikaaps is, wat Ghoema is, gebruik ons nou om water te skep, om te murmereer, te drink. Nou dié waterskep-item wil ek vat uit die murmereer uit en dan sê ek, ons het die “vessel” nodig, die taal om uit water te drink. Almal moet dit gebruik. Ons gebruik dit in so ’n mate dat ons dit nou ook deel. Nou hoekom? Want ons wil graag deel hê — die taal wat ons geskep het, moet nou vir jou ook bietjie water bring, en ook virrie oubaas water gee, want die ding is nie onse ding nie – dis nie onse ding ALLEEN nie, en dis nie joune ALLEEN nie. Dis ONSE ding. En ONSE ding is nie my ding nie. Dis die collective se ding. En die collective contribute tot groei en tot die nurturing daavan.
Huidiglik is dit so dat die meeste Afrikaners dink dat die glas, die “vessel”, is hulle s’ne ALLEEN om te beheer en te melk. Dan wil hulle net steel uit die kant uit en dan vi ons onderdruk hou. Dis stief, dis stief. Om die creators van ’n ding so te laat voel dat hulle niks en niemand issie, maa die creators willie weet dat hulle die creators issie... Hulle wil maanet deel wees vannie creation. Dis al. Part wees vannie creation, sodat die creation beter kan wees. En daai mense wat ons nou nie wil part maak van die creation nie, hulle maak nou die creation lelik. En ons voel nou lelik, daarom maak hulle vi ons lelik, daarom is ons lelik. Hulle maak vi ons lelik wanneer hulle nie vi ons erkenning gee nie. Kyk, as jy nou nie wil mense se kreatiwiteit verteenwoordiging gee innie taal en in anne vorme vannie kreatiwiteit nie, dan sê jy mos nou daai is afskuwelik, so hulle wil nie die afskuwelike ten toon stel nie. Hulle weetie dit is uit die afskuwelike wat alles mooi kom nie.”
Grondverskuiwend
Jethro Louw: “Toe Afrikaaps nou na KKNK toe gan, toe is ons nog oppie eerste trappie. Toe sê ek nou, ja ons sal maar kyk en toe wragties waar... Ons is nie eers oppie eeste trappie nie. Ons het afgedonner oppie eeste trappie. Ons is nog nêrens nie. Ons is innie wildernis. Ons is wee oppie fringe. Ver oppie fringe.”
Jethrow stel voor dat hulle flyers virrie feesgangers moet gaan ytdeel. Die eerste aandag wat hulle trek is twee outjies wat vi Bliksemtraal innie parking lot kom vra vi “skyf organise”. Hy respond spottend met: “Alles is klaa in my heavens”. Die een hou aan oor ’n “blessing” en hy sal “betaal vir daai blessing”.
VN 2:
Jethro Louw: “Mense voel hulle is in beheer van alles; mense se history, mense se dag tot dag. Daai is nou yntlik die probleem wat white supremacy op ons afgesit het, dat als wat DIE SLAAF create, is nie die slaaf s’n is nie, dit behoort aanie master.”
Jethrow word wee uitgekryt as “Snoop Dogg” voo ’n kekkelende gros feesgangers. Die kamera skuif na hulle onsuksesvolle pogings met judgerige mense en die kinners van Oudtshoorn oppie straat. ’n Groep laaities sit teen mekaar en sing al swaaiend met een plastic cup voo hulle:
Tien sente, twintig sente
dis lekker by die kunstefees.
As sy rol soos ’n bol en spin soos ’n tol
dis lekker by die kunstefees.
In kontras met die anvanklike reaksie op die collective, het hulle in die opvolgende opvoerings gelei daartoe dat tot die suurste gesiggies innie audience hulle hanne geklap het en opgespring het in toejuiging.
VN 2:
Jethro Louw: “Die mense het nog gepraat van ’n kopskyf eendag oppie draadloos. Dis ’n tawwe ding vi ’n Afrikaner om ’n kopskyf te maak, of om ’n peace pipe te smoke. Want dis vi ’n Afrikaner ’n tawwe ding om nie in beheer te weesie.”
Ek dink weer an die gedans en sing vannie leerders va Lavender Hill soos hulle ytstap yt een vannie shows yt. Trots en opgewonde ommie mee skaam te wees oor wie hulle is en hoe hulle klink vi “oubase” nie.
Die youth van Lavender Hill High 2010 sal altyd onthou.
Kyk die volle Afrikaaps-dokumentêre film deur Dylan Valley hier.
Vir meer leesstof kyk na Menán van Heerden se skripsie Afrikaaps: A celebratory protest against the racialised hegemony of 'pure' Afrikaans (2016, Universiteit Stellenbosch).
Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.