In gesprek met Amy Jephta, director en medeskrywer van Barakat

In gesprek met Amy Jephta, director en medeskrywer van Barakat
Foto’s: Lindsey Appolis (verskaf)

Foto’s: Lindsey Appolis (verskaf)

Finally 'n accurate representation van wat ôs al vi generations ken

Imagine jy kô hys toe ná ’n kak dag. ’n Dag waa jou baas heeldag geskellit oo hoe jy jou wêk moet doen, tewyl hy nie syne doenie. Jou favourite meal as ’n kind, wat net jou ma of ouma kan maak, wag byrie hys en jy en jou beste vrin iet en lag, oo niks en alles, en die trane rol en jy is happy in daai moment. Ôs ammel ken daai feeling. Daai is ’n barakat: ’n blessing wat kô vannie Arabic woord, “barakah”. 

Ek gesels met Amy Jephta, die trailblazer agte Barakat (2020) wat onlangs in plaaslike teaters begin wys het. Barakat, volgens Amy, gaan oor ’n familie van vie broers wat deal met hulle issues ná hulle ma beslyt om wee te trou. Hulle kô hys toe vi Labarang en die conflicts is eintlik maa ’n eye-blind virrie feit dat hulle nog rou is ná hulle pa se dood.

IMG_3500.JPG

Amy vattie industry by storm en is oek die vrou wat responsible is vi al my festival tags wat sê “Veronique Jephta”. Toe die credits rol vi Barakat en ek ytstap yti theatre Vrydag, toe vra ieman vi my of ek en Amy familie is, toe sê ek ja. En ná dié interview, gat jy vestaan hoekô ek soe op Amy se naam lieg.

To be honest, mettie recent violence wat experience wôd in Palestine, issit moeilik ommie lig aan die einde vannie tonnel te sien. Om bietjie warmte te voel in ’n wêreld wat soe gemaklik en vinnig koud kan raak. Barakat bring daai mettie performances van onner andere Vinette Ebrahim, wattie rol van Aisha Davids, die matriarch, vertolk met passie en liefde en met haa oë express sy ’n 1000 words. Quanita Adams is ook innie film te sien as skoondogte, Ra-eesah, en in my opinie speel sy basically haaself. Funny, well-layered en sy issie op haa bek gevallie. Nog anne bekende gesigte is Mortimer Williams, Danny Ross, Keeno-Lee Hector en June van Merch. 

IMG_3144.JPG

Amy issie director en medeskrywer van Barakat en is oek die draaiboekskrywer agter Die Ellen Pakkies Storie (2018) en die co-director van Skemerdans (2021), die onlangse Cape Flats neo-noir op Showmax, gemaak saam met Ephraim Gordon, die producer van Barakat. Die film is geskiet in Januarie 2020 en is completely on location gedoen in Athlone Gatesville en anne surrounding areas innie Kaap. Iets wat ôssie baie sien nie. Vrydae het hulle nie geskiet nie, ommie Muslim Cape Malay-gemeenskap en geloof te respekteer. By die onlangse Idyllwild Film Festival in LA het Barakat vyf toekennings weggevat, vir die Best International Feature Film, die Best Ensemble Cast, die Best Supporting Actor vi Mortimer Williams, die Mary Austin Award vi Excellence in Directing en die Best Original Score-runner run vi Kyle Shepherd. Barakat het oek die Best Editing en Best Production prize gevat byrie 2020 Motion Pictures International Film Festival. En as dit jou nie impress nie, moet jy wiet Barakat hettie Best Narrative Award gevat byrie Reel Sisters of the Diaspora Film Festival and Lecture Series 2020. Klaa watit soe is!

IMG_2974.JPG
IMG_3106.JPG

VERONIQUE: Amy, baie geluk mettie internasionale sukses van Barakat. Die movie is nou in local movie theatres virrie laaste twie wieke van Mei 2021. Sit allie voorafgaande sukses ekstra druk oppie performance vannie movie, of tune jy allie geraas yt?

AMY: Nogal nie! Ek wag al soe lank vir die movie om hys toe te kom, dit voel vir my dit het al regoor die wêreld gespeel. Ek is excited vir hierdie homecoming en virrie mense vir wie die film gemaak is, om uiteindelik die storie te ervaar en vir my te sê of ekkit reg gedoen het. No pressure!

VERONIQUE: Wat wassie inspirasie agte Barakat, en watte keuses het gelei tot spesifiek ’n matriarch en haa vie seuns? Vetel oek vi ôs mee vannie casting process en hoe jy dit reggekry het om soe ’n perfect cast bymekaa te kry?

AMY: Deel vannit was uit my eie lewe uit: my ouma self het vier kinders, drie seuns, en dit was om te imagine hoe os eie familie met dit sal deal as sy nou moet besluit sy wil wee trou. En die inspirasie kom ook van ek wat graag ’n storie in die Moslem-tradisie wou vertel. Of ’n storie wat daai wêreld en lewe uitbeeld op ’n mooi manier.

Os het geskryf met hierdie cast se stemme in mind, van die begin af. Die dag toe ammel ommie tafel sit virrie eerste read through, wassit duidelik dat ons ’n regte familie bymekaar gesit het.

VERONIQUE: Die inciting moment innie movie waa Aisha die nuus briek, wôd hantee met humor. Dis vi ôs ’n coping mechanism. Was dit ’n tipe van ’n ode an mense van kleur en hoe ôs smile en lag deurie heen en wee?

AMY: Absoluut. Os wiet mos ons mense diffuse dikwels tense situasies deur te lag of ghaai te maak. Os likes mos nie in emotional of awkward oomblikke sit nie (ek generalize, maar ek praat spesifiek van my eie familie). Al die humor in die movie kom uit pyn en tragedie uit. En van dit spin ons iets lig. So ja, humor is definitief ’n coping mechanism, innie storie en in life.

VERONIQUE: Toni Morrison het eenkee gesê: “I didn’t want to speak for Black people and I want to speak to, and to be among them… it’s us. So the first thing I had to do was eliminate the white gaze.” Issit veilig om te sê jy hettie selle gedoen, veral met betrekking tot die subtitles innie movie?

AMY: Ek wil first of all die movie gemaak het vir “ons”. Vir die mense wat uitgebeeld word oppie screen. Soe ja, ek wou nooit explain of educate vir ’n buite-oog nie. As jy nie deel is van hierdie gemeenskap nie, is jy genooi, met plesier, na die Davids-gesin se huis. Maa os gaan nie vi jou ’n orientation gie nie, en os gan ookie osself plaas in relation tot jou nie. Val net in.

As jy nie deel is van hierdie gemeenskap nie, is jy genooi, met plesier. Maa os gaan nie vi jou ’n orientation gie nie, en os gan ookie osself plaas in relation tot jou nie. Val net in.
— Amy Jephta
IMG_3473.JPG

VERONIQUE: Die theme vannie outsider kô sterk voo, veral deurie karakters Albertus en Gwen. Sou jy sê dit spreek tot hoe die Muslim Cape Malay-gemeenskap marginalized was en nog by tye is in Kaapstad en veral in die Suid-Afrikaanse film- en TV-bedryf? Watter preconceived narratives oorie Muslim Cape Malay-gemeenskap en mense oppie Cape Flats wou jy ytdaag met dié draaiboek? 

AMY: Ek dink dit spreek tot hoe tight-knit hierdie gemeenskap is. En hulle moes wees, om te oorleef en hulself te protect. Dis maa ’n natural instinct om ’n “us” en ’n “them” te skep, al is daai boundaries hoe onsinnig.

Die idee dat Bruin-wees altyd moet gaan oor kwessies van violence of stryd, dat dit altyd moet gaan oor life and death issues. Os kan ook te doen wees met klein, intimate conflicts, ’n mens se gedagtes is nie noodwendig elke oomblik besig om te dink yoh die lewe is swaar nie. Ek wiet daai’s ’n reality van Bruin-wees in Suid-Afrika, maar dissie os enigste reality nie. 

Die idee dat Bruin-wees altyd moet gaan oor kwessies van violence of stryd. Os kan ook te doen wees met klein, intimate conflicts, ’n mens se gedagtes is nie noodwendig elke oomblik besig om te dink ‘yoh die lewe is swaar’ nie.
— Amy Jephta

VERONIQUE: Barakat issie eeste Labarang movie in Suid-Afrika. Innie storie reimagine Aisha haa nuwe normal deu liefde te vind. Die seuns sukkel bietjie meer as sy, maa kô daa. Sien jy innie toekoms mee stories soes Barakat wat marginalized cultures innie centre plaas waa dit nie commercialized wôd nie?

AMY: Ek hoep rerig soe. Daa’s so baie sub-cultures of lewens wat aan die fringes van ons society bestaan en nog nooit ’n spotlight gegee is nie. Ek dink die lenses waardeur mens stories sien in Suid-Afrika, moet verander waar en hoe dit kan, en ek het ook groot trust in jong stemme om daai narratives te verander.

VERONIQUE: Daa isse stêk band tussen die verlede, hede en oek die toekoms innie storie. Dis asof allie karakters moet unlearn to become. Wassit jou manier ommie intergenerational trauma te besweer en aan te spreek, veral mettie vie seuns en hulle persoonlike liewens? 

AMY: Ja, my werk deal dikwels met die idee van “looking back to move forward”. Daa’s baie unaddressed traumas in os gemeenskappe, dis vir seker. Daa’s goed wat os inherit van os ouers af wat nooit mee ge-grapple word nie, en dan word daai goed aangepass na die volgende generation. Een van daai goed is hoe ons praat oor ons gevoelens. Hoe om eerlik te wees daaroor. In die movie is baie van die idees rondom patriarchy: die idee van die man as die head of the house, die idee van manne wat hulle territory protect (en hulle sien daai territory as hulle ma) — al dit wou ek op ’n sagte manier challenge. Maa baie van daai issues is ook omlat die karakters nooit met die verlies van hulle pa ge-deal het nie. Os wiet ook soms nie hoe om te grieve nie.

In die movie is baie van die idees rondom patriarchy: die idee van die man as die head of the house, die idee van manne wat hulle territory protect (en hulle sien daai territory as hulle ma) — al dit wou ek op ’n sagte manier challenge.
— Amy Jephta

VERONIQUE: Jou wêk spreek tot socio-political issues in Bruin gemeenskappe. Van Soldaat (2017) tot Die Ellen Pakkies Storie, Skemerdans en nou Barakat. Wat is volgende vi Amy Jephta? 

AMY: Daa’s nog soema baie stories, en invalshoeke vi daai stories, wat ek wil vertel. Ek wil oek graag net stories vetel van hoe ons liefhet. ’n Lekker romantic comedy.

VERONIQUE: My gunsteling-line innie movie is wanneer Aisha vi Yaseen sê: “Nou bring jou onnebroekies.” Wat was jou gunsteling? 

AMY: Vir my issit Boeta Maan se lyn: “Skinne jong, ek luister.” Dis in sy delivery — os ammel ken soe ’n boeta wat net reg staan vi ’n lekker skinnestorie. Ek self is altyd game vir ’n (good-hearted) skinnebekkie-moment. Daai karakter is my spirit animal.

VERONIQUE: Aangesien jy vi ôs sulke lekke movies en cringe-worthy stories skep, wat binge Amy Jephta oppie oomblik?

AMY: Ek’t nou net baie laat verlief geraak op Bridgerton. Ek love sulke uitbundige, melodramatic stories. Dis vi my relaxing om daai een te binge-watch met ’n lekker koppie tee.

IMG_3511.JPG
IMG_3512.JPG
IMG_3062.JPG
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van In gesprek met Amy Jephta, director en medeskrywer van Barakat gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand