Instagram-digters: Love them or hate them?

Instagram-digters: Love them or hate them?

Mariska Bolleurs oor die rebelse tiener van die Afrikaanse letterkunde

Instagram-digters. Love them or hate them, maar die feit bly staan: Instagram-digters verskuif nie net die grense van die drukpers se bykom nie, maar steek ’n soort renaissance in die poësie op.

Die verskynsel van Instagram-poësie, veral in Afrikaans, interesseer my – soveel so dat ek my honneursskripsie daaroor geskryf het. Hierdie essay vloei voort uit die navorsing wat ek vir daardie studie gedoen het. 

Volgens Statista maak ongeveer een biljoen mense maandeliks ’n draai op Instagram, waarvan die grootste groep hiervan tussen die ouderdomme van 18 en 24 is. Hierdie generasie kry ook toenemend blootstelling aan poësie deur sosialemediaplatforms eerder as gedrukte bundels. In Maart 2024 bestaan daar 14,2K #poësie-, 29,7K #digkuns- en 21,3K #afrikaansegedigte-posts op Instagram. Ané Kotzé se @kaalwoorde beskik oor meer as 50K followers en ander e-digters soos @ontmasker en @skilder_met_digkuns oor onderskeidelik meer as 12K en 14K followers. Afrikaanse Instagram-poësie-pages loop oor met comments, likes en shares en gee ’n kopknik aan Kathi Inman Berens se mening: “If ever there were e-literature that could fill a stadium, it’s Instagram poetry.”

Afrikaanse Instagram-poësie-pages loop oor met comments, likes en shares en gee ’n kopknik aan Kathi Inman Berens se mening: ‘If ever there were e-literature that could fill a stadium, it’s Instagram poetry.’
— Mariska Bolleurs

Derdegenerasie-e-letterkunde word gekenmerk aan digital modernism waarin daar wegbeweeg word van die konvensionele kenmerke van taal en vorm, terwyl eksperimentasie en innovasie op die voorgrond geplaas word. Wat hierdie poësie van ander subgenres onderskei, is die moontlikhede waaroor dit beskik wat nie van toepassing op gedrukte poësie gemaak kan word nie. Die gebruik van ouditiewe en visuele elemente is natuurlik kenmerkend van die internet en dit is juis hierdie multimodale aard van digitale letterkunde wat aan lesers ’n interaktiewe en andersoortige ervaring van die poësie bied.

Bibi Slippers maak in 2017 die opmerking: “Instagram is potensieel ’n land van melk en heuning vir digters om belangstelling te kanaliseer in bundelverkope.” Hierdie kommentaar herinner my aan Rupi Kaur se bundel milk and honey (2014, Andrew Andrews McMeel Publishing) wat gepubliseer is nadat Kaur as Instagram-digter bekendheid verwerf het. Die gewildheid van Kaur se Instagram-poësie het ’n beduidende rimpeleffek op die publikasie van haar digbundels gehad. Die vooruitsig is dat die Afrikaanse Instagram-poësie ’n soortgelyke effek op die letterkunde kan hê en dat hierdie kontemporêre poësie tot die bewaring van die letterkundegeskiedenis kan bydra. 

Alhoewel hierdie genre van poësie ontwikkeling en verwikkeling bo alle ander ideale plaas, maak dit homself nie totaal en al van ander genres van poësie los nie. Slippers se onlangse bundel Soekenjin (2023, Tafelberg) is ’n samesmelting van dinge van die internet met die tradisionele formaat van gedrukte poësie. Wedersyds word Afrikaanse Instagram-poësie ook as ’n konvergensie van hierdie twee mediums beskou; die bekendste daarvan die volhou van die estetika: swart letters op ’n wit agtergrond met ’n tikmasjienlettertipe. Ten spyte van hierdie skakelings, daag Afrikaanse Instagram-poësie wel steeds die tradisionele letterkunde soos ’n rebelse tiener uit.

Soos met byna alle dinge onkonvensioneel en kontemporêr, is hierdie subgenre van poësie aanvanklik met agterdog benader. Literêre en akademiese kritiek is meestal te wyte aan die sogenaamde rise of the citizen authors wat formele keuses opsy sit en volgens die hekwagters van die letterkunde die literêre waarde van poësie bevraagteken. Die teensy hiervan is wel die handjie vol mense wat hierdie verwerping van toegangs-, skryf- en skepkriteria as ’n put van onbeperktheid en vernuwing beskou. Diegene wat nie hul oë vir die Instagram-vers rol nie, hou vol dat die toon en estetika daarvan ’n teenmiddel is vir die siniese aard van sosiale media. Die gedagte waaroor beide kante van die gesprek wel saamstem is dat die bestaande literêre raamwerke nie versoenbaar met hierdie virtuele stemme is nie en dat Instagram-digters aan ’n unieke stel kriteria onderworpe is.

Diegene wat nie hul oë vir die Instagram-vers rol nie, hou vol dat die toon en estetika daarvan ’n teenmiddel is vir die siniese aard van sosiale media.
— Mariska Bolleurs

Instagram-poësie word nie aan ’n enkele, beduidende definisie gekoppel nie, maar benewens die estetika gekenmerk aan die toeganklikheid en hanteerbaarheid daarvan – alles wat merkers van die kitskultuur is. Daar is ’n soort gemeenskapsgevoel tussen die hashtags wat vernuwende denke aanmoedig en die onderskeid tussen sogenaamde hoë en lae letterkunde by die deur uitgooi. Een van die opmerklikste kenmerke wat die digitale van die gedrukte poësie onderskei, is die deurlopende interaksie wat tussen leser en skrywer bestaan. Daar is vir my ’n opwinding daaraan om deel te voel van die digkuns en die digter op jou skerm te hê eerder as net agter die pen. Instagram is ideaal vir hierdie groeiende subgenre met sy hashtags, likes en comments, maar ook omdat video- en klankopnames die digter in staat stel om die fourth wall te breek.

Afrikaanse Instagram-digkuns is byna so grensloos soos die internet self. Hierdie gedigte spog met visuele en kreatiewe tipografie van enige en alle soort. Meestal word dit gekenmerk aan eenvoudige verse met kort sinne en minimale lees- en skryftekens. Eenvoudig beteken hier wel, na my mening, nie mindere nie. Die tematiese inhoud strek van die liefde tot die menslike bestaan en innerlike krag; op ’n glyskaal van beeldrykheid. Die sleutelwoord bly toeganklikheid

Afrikaanse Instagram-poësie se bestaansreg is een wat nog nie as ’n algemene sentiment toegeëien word nie en intimideer soms met sy onstabiele en vloeibare aard, maar daar word al meer gewonder of hierdie kontemporêre digkuns ’n bydrae tot die “poësie is dood”-mentaliteit kan wees.

Ongeag blywende kritiek wat hierdie subgenre as ’n lae letterkunde afskryf, is hierdie digters, dromers en denkers besig om plek vir hulle eiesoortige opinies binne die letterkunde te maak – een follower, like en comment op ’n slag.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Instagram-digters: Love them or hate them? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand