Herman Lategan oor Hoerkind: 'dít sal die Afrikaners heeltemal uitfreak'
Nie alle stories het sy boek gehaal nie, want 'die liefde en die lewe is 'n gevaarlike speletjie'
Toe ek na Herman Lategan uitreik oor ’n ontmoeting om te gesels oor sy memoir Hoerkind (2022, Penguin Random House) is een van die eerste boodskappe wat hy vir my stuur: “Ons moet dink aan foto’s en ’n venue. Offbeat. Pruik. Sonbril. Geen fokken mainstream kak nie. Lees solank op oor New Journalism en Gonzo. Let’s go wild.” Ons het nie by die pruik en sonbril uitgekom nie, maar offbeat en glad-nie-fokken-mainstream-nie was hy wel. Ek moes geweet het, want dis presies hoe Hoerkind geskryf is.
Hierdie boek boer al vir weke lank op topverkoperlyste regoor die land. Hy vertel oor hoe hy in 1964 buite die eg gebore is, deur die kerk verwerp is, in losieshuise grootgeword het, mishandel is, digters en skrywers bevriend het, Andy Warhol in New York agtervolg het, in rehabilitasiesentrums was, ’n lewe as ’n skrywer gemaak het en by die End Conscription Campaign betrokke was; dit alles met die aanvang van die “verstedeliking van die Afrikaner” (bl. 10).
Volgens Herman is Hoerkind eintlik ’n aanklag teen die NG Kerk. “Dit was die NG Kerk wat my ma eers ’n ‘hoer’ genoem het, en my ’n ‘hoerkind’ genoem het. Die toekoms van die NG Kerk is nul op ’n kontrak, wat my betref is dit waaroor die boek gaan. In die NG Kerk is apartheid verkondig van die preekstoel af, Sondag na Sondag. En wat my verstom is dat mense wat na die NG Kerk gaan, dit nie besef nie. They don’t acknowledge it, it’s a cognitive dissonance.” Dis nie net die NG Kerk waaroor Herman krities is nie, maar alle instellings waar groepe mense mag en geld het, ten koste van dié wat nie het nie. “[…] Die NG Kerk, die weermag, die skool, alle vorme van gesag met ’n wit gesig en wat suiwer Afrikaans praat, het my laat rebelleer” (bl. 55). Dit is ook meestal hierdie mense met mag en geld wat ’n blinde oog draai teenoor die mense wat nie het nie.
Seepunt lê hom baie na aan die hart, vanweë die goeie herinneringe wat hy daar het vanuit sy kinderdae. “In die 1970’s en 80’s was Seepunt die Manhattan by the sea, omdat daar nog nie iets soos ’n Waterfront was nie” (bl. 38). Dit is hier waar hy saam met sy ma gebly het en haar eksentrieke en oopkopvriende leer ken het. Seepunt wat ’n hawe was vir mense wat op die rand gestaan het, bestaan egter nie meer vir hom nie. “Daar is ongelukkig nou twee faksies in Seepunt. Die een is baie pro-poor en die ander is baie anti-poor. En daar is baie mense wat ingetrek het in Seepunt tydens Covid, soos in die tentedorpe en so aan. Nou is mense kwaad, want hulle dink die arm mense verlaag die eiendomspryse.”
Weer dink hy dat cognitive dissonance hiervoor te danke is. “There is no way of erasing that part of reality, because why we have these poor people on the streets is the invoice that we are paying for apartheid and colonialism. Now you are living in a grand flat in Sea Point thanks to intergenerational wealth. Your parents left you money, so now you can buy a car at university and have a flat of your own. And pay for your studies. You are living a glorious life, thinking you are in fucking Monaco or France. In the meantime the payback is now. Here are the poor people that you are rejecting, so do something about it.”
Alle hoop vir politisering en aktivisme, onder spesifiek Afrikaanse mense, is nie heeltemal vir hom verlore nie, en hy besef ook dat daar steeds baie vir hom is om te verstaan. “Ek vind baie jong Afrikaners baie meer politically astute as when I was young. They were all National Party. En ek was die odd one out met ’n paar ander mense met die ANC, End Conscription Campaign, United Democratic Front. Ons was in die minderheid. Weereens, randeiers.”
Dit is hierdie “ander mense” wat die verhaal van sy lewe tot op hierdie punt so kleurvol maak. Blaai maar net na die agterkant van Hoerkind en lees deur die indeks om ’n idee te kry van die verskeidenheid mense waarmee hy al te doen gehad het. Mark Behr, Sheila Cussons, Koos Kombuis, Ina Rousseau, Pieter-Dirk Uys, en Barend Toerien, om net ’n paar te noem. En dan natuurlik Damon Galgut, die Booker-pryswenner wat sy buurman is, volgens Herman sy “grootste claim to fame”, en die vreemde paartjie wat vir lank in dieselfde woonstelblok as hy gewoon het en later bekendheid verwerf het as Die Antwoord.
Hierdie fassinasie met mense uit alle oorde kan dalk toegeskryf word aan die observasievermoëns wat hy van jongs af moes ontwikkel as iemand wat nog altyd soos ’n buitestander gevoel het. Hy maak dit ook duidelik dat Hoerkind ’n ode is aan almal wat hy al ontmoet het. “Invloede, dit was die goue draad deur my lewe,” skryf hy (bl. 128). Herman is ’n observer at his core omdat hy van die begin af, as ’n randeier, van buite af moes inkyk. (Dalk ook hoekom hy deesdae die doodsberigte vir Rapport skryf. Selfs ná iemand se dood kry hy dit reg om terselfdertyd ’n eerlike en empatiese blik op hulle lewe te rig.)
Hy het begin skryf oor ander mense op sy Facebook-blad, snapshots van die mense rondom hom, en dit het uiteindelik gelei na geleenthede om meer rubrieke te begin skryf. Hy is ’n aanhanger van sosiale media, maar ook bewus van die beperkings en probleme wat daarmee gepaard gaan. “They don’t want bad news on Facebook, on Twitter you can get away with it. Instagram is completely superficial. Ek toets mense, ek eksperimenteer met die medium om te sien wat mense like en nie like nie. En dit disappoint my verskriklik.”
Met die skryf van Hoerkind was dit egter nie so maklik om hierdie eerlike blik wat hy rig op mense in sy sosiale media-plasings en rubrieke, op homself te draai nie. “Dit het oorspronklik begin as ’n roman. Die main karakter is ’n kind met die naam Maans, eintlik Hermanus. Oftewel Herman – ek. Toe ek dit klaarskryf, kyk my redakteur Fourie Botha na my en sê: ‘You are too close to this character.’ Besef jy, jy noem die kind by tye ‘Herman’?” Dis toe dat hy besluit om die roman vir eers op sy te skuif en ’n outobiografie te skryf. “Sodat ek van die kind ontslae kan raak.”
Aanvanklik was die idee om Hoerkind slegs in Afrikaans uit te gee, maar hy werk nou aan die Engelse vertaling daarvan, wat ook meer stories as die oorspronklike gaan inhou. “Kyk, ek is klaar eerlik in hierdie boek. Maar daar is goed wat ek nie vir die Afrikaanse leser kon insit nie.” Volgens hom het hy, so eerlik as wat Hoerkind is, wel ’n mate van sensuur toegepas. “Ek wil nie meerderwaardig klink nie, maar die Afrikaanse milieu is baie eng. Konserwatief, nog steeds. Daar is rowwe goed wat in my lewe gebeur het, wat ek uit hierdie boek moes hou. Ek moes bietjie sensureer – al die blowjobs wat ek gegee het. Die kattemaai en koekeloer, die drug scene.” Hy sê dat hy in die Engelse vertaling dinge gaan byvoeg wat “die Afrikaners gaan upset.” Ter illustrasie vertel hy hoe hy in sy 30’s in Sydney by die Mardi Gras was: “Dit was ’n gay gathering, we were all high on drugs. Daar was ’n man in ’n kilt wat ’n bottel wyn in my hol opgedruk het. So dit sal die Afrikaners heeltemal uitfreak.”
Ten spyte van hierdie mate van sensuur wat Herman op homself geplaas het met die skryf van Hoerkind, bly dit met tye baie moeilik om te lees. Hy skryf oor, onder meer, molestering, hoe sy stiefpa op hom en sy ma geskiet het, en sy tyd in ’n kinderhuis. Dit was nie noodwendig moeilik vir hom om oor hierdie dinge te skryf nie, maar dit was ook nie ’n manier om daarvan te laat gaan nie. “I thought I wrote it out of my system, maar as ek praat oor wat met my ma gebeur het en hoe sy agteruit gegaan het, I am haunted by it still. So yes, I wrote it, but I won’t say it was a cathartic experience.”
Herman skryf oor sy ma en haar vriendekring: “Later in my lewe sou ek besef ’n meesleurende heimwee, ’n gedeelde taal en stories oor droogtes het hulle saamgebind” (bl. 10). Dit is stories – sy eie en die stories van die cast of characters waarmee hy al te doen gehad het, wat Hoerkind so maklik om te verslind maak. Hy vertel hierdie stories met heimwee, maar ook reguit en sonder tierlantyntjies. Hy sê vir die leser: Hier is ek. Hier is al my trials en tribulations. Hier is wat ek dink oor die mense rondom my en oor die samelewing. Hy vra vir die leser om hom vanuit ’n holistiese oogpunt te sien — nie net as die resultaat van dit wat al met hom gebeur het nie, maar ook as ’n mens wat ’n besonderse skill ontwikkel het om ander ook nie net te sien as die somtotaal van hulle titels of ervarings nie. Hy kyk regdeur hierdie dinge.
Dalk is dit wat Hoerkind vir ons leer. Herman is ’n “hoerkind”, maar hy is ook ’n skrywer, iemand wat nie terughou as hy sterk voel oor iets nie, iemand wat empaties is en iemand wat altyd aan die kant van die underdog is. Herman vertel oor ’n man en ’n vrou wat in sy kinderdae gereeld by die Locomotive-hotel saamgedans het nadat hulle ’n Elvis-liedjie versoek het. Die vrou het altyd ná die tyd ’n traan weggevee as sy gaan sit het. “Maar hoekom laat dit haar huil?” vra hy vir sy ma (bl. 33). “Want die liefde en die lewe is ’n gevaarlike speletjie.”