Waar standbeelde val kan daar blomme groei
Adele van Heerden se tekeninge heroorweeg geskiedenis
Standbeelde val oraloor die wêreld, hulle word met hyskrane verwyder, met groot aanskouing en vuis-in-die-lug aanmoediging. Dit was die vernietiging van Saddam Hussein se standbeeld in 2003, wat op die Firdos-plein gestaan het, wat Adele van Heerden bygebly het. Sy het veral gelet op die onverwagse plooibaarheid van brons, hoe die standbeeld buig, met 'n ketting om die nek, geen teken van veranderende emosie nie, arm in die lug met 'n saluut tot die heel einde. Die skare val die beeld aan en trek die onthoofde kop deur die strate. Die kunstenaar wou ondersoek instel oor wat súlke emosie ontlok, dit is tog meer as 'n eenvoudige beeld op 'n podium – dit is simboliek, 'n emosioneel-gelaaide objek, kulturele mitologie.
In haar werk word standbeelde van Suid-Afrika, Europa en Amerika as gevonde nuusfoto's kleingemaak na miniatuurbeelde, wat staan tussen blomruikers as speelgoed wat ligweg ondersoek en ontleed kan word, gestroop van hulle monumentale gewig. Die kunstenaar lig uit dat 'n standbeeld die kollektief wat dit verteenwoordig beliggaam, en dat aksie teen standbeelde as 'n verklaring van ideologiese teenkanting gesien word. Nasionale identiteit is soos godsdiens, haal sy aan. Die blomme in die werke hou verband met wat tradisioneel as vroulik en huishoudelik gesien word, en bring die manlike en militaristiese aard van hierdie gedenktekens deur 'n jukstaposisie nog meer na vore, maar sy noem daar is geen afguns hier betrokke nie. Die old boys club kan dit self maar van binne af verteer. Die blomme dien ook as persoonlike herinneringe, 'n nagedagtenis wat by 'n graf neergelê word, aanduidend van 'n vlietende bestaan met sterflikheid as die onbuigbare reël.
Die vernietiging, uitwissing en hervorming van nasionalistiese simbole is 'n integrale deel van die koms van nuwe ideologieë, maar wat presies behels die nuwe? Die herhaling van geskiedenis is onbewus van die mens se gebrekkigheid om nie na sy dade van die verlede terug te keer nie. In hierdie opsig maan standbeelde, nie as monolitiese kraghuise nie, maar as brose merkers van vervloë eras.
In Memoriam, 'n solo uitstalling deur Adele van Heerden wys van 17 Mei tot 14 Junie by die Association of Visual Arts (AVA) Galery in Kaapstad.