Waar kuns en kennis mekaar kruisbestuif

Foto’s verskaf
Die Relational Trans-Positions-uitstalling by die Universiteit van Johannesburg
The way we see things is affected by what we know or what we believe. (John Berger, Ways of seeing, 1972:8)
Wat gebeur wanneer ’n kunstenaar se palet mikroörganismes, argitektoniese ruimtes, die menslike liggaam of die onsigbare arbeid van die alledaagse lewe insluit? By die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Fakulteit van Kuns, Ontwerp en Argitektuur (FADA) word die kunswerke nie as ’n geïsoleerde voorwerp aangebied nie, maar as deel van ’n groter netwerk van verhoudings waardeur nuwe betekenis en kennis kollektief ontwikkel, en die maakproses word as deel van die navorsingsondersoek beskou. Die uitstalling Relational Trans-Positions bring die kreatiewe navorsing van FADA se akademiese praktisyns byeen en is saamgestel deur Farieda Nazier, departementshoof en senior lektor in juweliersontwerp en vervaardiging by UJ. Die uitstalling is die eerste van sy soort by UJ, noem Farieda aan my wanneer ek met haar telefonies gesels: Vir die eerste maal fokus FADA op ’n kreatiewe navorsingsuitstalling waar verskeie departemente by UJ saam kuns genereer deur verskillende dissiplines bymekaar te bring.
Farieda spesialiseer in ’n transformerende kunspraktyk wat sy beskryf as ’n navorsingsmetodologie en artistieke proses wat meer doen as om bloot ’n kunswerk voort te bring; dit verander ook hoe die kunstenaar die wêreld verstaan, met materiale omgaan, in verhouding tree tot geskiedenis en het ’n ubuntu-benadering.
Die FADA Gallery is ’n ruimte waarin ’n mens maklik spoor kan verloor; nie net strek die ruimte oor twee verdiepings nie, maar ook verby die grense van kuns, wetenskap, ontwerp en tegnologie. Ek besluit om die uitstalling soos ’n seekat aan te durf: met tentakels wat in verskillende visuele rigtings skiet, op soek na verbande tussen werke wat met die eerste oogopslag min met mekaar gemeen het. Vir visuele veerkragtigheid het ek die kunswerke onder verskeie tematiese tentakels ingedeel, maar steeds het ek per ongeluk John Shirley en Martin Molton misgekyk.
Met die opening loop ek Kim Berman raak, die uitvoerende direkteur van The Artist Proof Studio en my voormalige dosent by UJ, wat my aan die hand neem en aan die kunstenaar Neil Lowe voorstel. Ek het sy T-hemp van ’n afstand reeds raakgesien, nog lank voordat ek ’n glas wyn kon nuttig. Op sy hemp is ’n grafiese voorstelling van die Roomse mitologiese verhaal van die wolf Lupa, met ’n baba wat aan haar tepel hang, in ’n cut-out 1950’s-styl.
As tegnoloog, multimedia-ontwerper en konseptuele kunstenaar, vermoed ek dat selfs sy T-hemp ’n gesprek met sy werk voer – al sou ek dit nie as deel van sy oeuvre beskryf nie. Neil se werk is jazzy, soos sy hemp; daar is ’n ritme in sy komposisies wat van mekaar af bons. Dit sluit beeldhouwerke, videowerke en drukskermkunswerke in. Hy benader sy komposisies vanuit ’n musikale ingesteldheid en plaas lyn, vorm en kleur in ritmiese verhoudings waarin harmonie en dissonansie mekaar afwissel. Neil is verbonde aan die Departement van Nywerheidsontwerp aan UJ, waar samewerking en eksperimentering met materiaal en vervaardigingsprosesse deel vorm van sy kreatiewe wêreld. Mens kan sien Neil het breë belangstellings en die vernuf om met uiteenlopende tegnieke om te gaan, maar sy werk verloor nooit die speelsheid waarmee hy sy ontdekkingsveldtogte aanpak nie.
We never look at just one thing; we are always looking at the relation between things and ourselves. Our vision is continually active, continually moving, continually holding things in a circle around itself, constituting what is present to us as we are. (John Berger, Ways of seeing, 1972:9)
Die verbande wat tussen die werke ontstaan, laat my dink aan Donna Haraway se begrip van tentakulêre denke, soos ontwikkel in Staying with the trouble: making kin in the Chthulucene (2016). Hier nooi sy ons om die wêreld nie as ’n versameling van geïsoleerde entiteite te verstaan nie, maar as ’n netwerk van verweefde lewens, geskiedenisse en materiële verhoudings.
Op die spoor van kuns en mikrobes
Voor my dryf twee ligte miseliumwolke bo blokke wat aanvanklik soos kompos lyk. Dit is egter bakstene, verduidelik Xylan de Jager: sampioenmiselium wat gekweek word tot ’n materiaal wat as bousteen kan dien. Xylan verduidelik aan my dat hy drie jaar gelede met die kunswerk begin het en dat die boustene die resultaat is van ’n massasamewerking van mense: “Everytime you touch it, the bacterial component changes. Bacteria can choose to grow, or not to grow – some grow on top of each other. All of the work is invisible.”
Die verskuiwing van iets wat ek met verval assosieer, na ’n materiaal wat nuwe strukture kan help vorm, laat my anders dink oor die verhouding tussen groei, afval en konstruksie. Xylan se werk verbind sy belangstelling in wetenskap, argitektuur en kreatiewe eksperimentering. In plaas daarvan om die natuurlike wêreld bloot as onderwerp uit te beeld, betrek die werk biologiese prosesse by die verbeelding van moontlike toekomste.
“This installation provokes contemplation of our place within the broader network of life, and how we might reshape our future through synergistic collaborations with the biological world. Exploration of co-created futures implores us to imagine and actively participate in the co-development of our shared future, a future where innovation is elegantly entwined with the wisdom of the natural world,” lees ek in Xylan se artist statement.
Langs Xylan se werk breek daar nog ’n wetenskaplike kunswerk uit van mikroörganismes wat dans op kunsmatige hande. Tobias Barnard is ’n wetenskaplike en akademikus by UJ, waar hy die direkteur van die Navorsingsentrum vir Water en Gesondheid is. Hy het grade in mikrobiologie en biochemie verwerf en spesialiseer in navorsing oor watergehalte, higiëne en mikroörganismes wat siektes kan veroorsaak. Sy kuns dien as ’n visuele bewys van die onsigbare mikrobes wat op alledaagse voorwerpe voorkom, om handhigiëne te bevorder. Die uitdaging van mikrobiologie behels dat daar gewerk word met entiteite wat met die blote oog onsigbaar is, en daarvoor moes hy verskeie konvensionele mikrobiologiese tegnieke aanpas om die toetsing van hierdie idee te vergemaklik.
Xylan en Tobias is nie die enigste twee kunstenaars wat met bio-kuns omgaan nie. Leora Faber is ’n bekroonde kunstenaar, kurator, skrywer en akademikus wat in haar kreatiewe praktyk teoreties en affektief met bio-kuns omgaan. As medeprofessor en direkteur van die Navorsingsentrum vir Visuele Identiteite in Kuns en Ontwerp by UJ, ondersoek sy die wisselwerking tussen kuns, identiteit en visuele kultuur deur biotegnologie en lewende en nielewende materie te gebruik.
Voor my staan yskaste vol huishoudelike voorwerpe wat lyk na Delft-stukke, geskep met behulp van sellulosevesels wat deur bakterieë en gis gevorm word, asook agar waarop lewende, patogene bakterieë groei. Leora maak afgietsels uit agar van die skerwe van Delft-porselein, wat afkomstig is van ’n skeepswrak van die 18de eeu in Kaapstad waarop blou en wit patrone met behulp van patogene E coli-bakterieë aangebring is.
Vir diegene (soos ek) wat nie weet wat agar is nie: Dit is ’n jellie-agtige stof wat uit seewier gemaak word wat in die laboratorium gebruik word as ’n standaardmedium waarop mikrobioloë bakterieë en swamme kweek. Dit word in petribakkies gegiet en voedingstowwe word bygevoeg sodat mikroörganismes daarop kan groei, dus word die mikroörganismes aktiewe medewerkers in die kunsskeppingsproses. Die installasie tref ’n vergelyk tussen Westerse “ontdekkings” gedurende die 17de en 18de eeu; vroeë koloniale ryke; imperialisme; slawerny; koloniale en hedendaagse, globale kapitalistiese netwerke; en bakteriële groei.
Die skerwe is oorblyfsels van die koloniale materiële kultuur wat die VOC saam met slawe na die Kaapkolonie gebring het. Die verspreiding van die bakteriekolonies oor die afgietsels eggo die historiese roetes van kolonisasie en beklemtoon hoe die verskynsels uit die koloniale verlede steeds in die hede aanwesig is en daarin hergroei. Dis ’n komplekse installasie en mens moet snuffel en sif deur feite en geite om die volkome aanslag en omvang van haar werk te verstaan, maar dis verseker die moeite werd om verder ondersoek in te stel om haar proses beter te begryp.
Kuns as die letsels van lyflike inspanning
Aan die een kant van die galery dwarrel oogklappe van die dak af waardeur die besoeker na geometriese mandalas op die oorkantste muur kyk. Eers wanneer ek die werk van nader beskou, besef ek dat die patrone uit die kunstenaar Christa van Zyl se to-do lists en klasnotas ontstaan. Wat aanvanklik soos ’n oefening in orde, ritme en herhaling lyk, begin iets anders suggereer: die voortdurende arbeid wat nodig is om akademiese verantwoordelikhede, kreatiewe praktyk en moederskap bymekaar te hou. Christa is die departementshoof van Grafiese Kommunikasie-ontwerp en doen tans navorsing oor maatskaplik-verantwoordelike ontwerppraktyk, sowel as aksie-gebaseerde navorsing vir haar doktorale studies. Die installasie verwys na die unseen labour wat haar praktyk vereis.
Die mandalas orden die chaos, maar die oorspronklike skrif bly gevestig in die geometriese patrone. Elk van die mandalas word opgedra aan ’n student waarmee Christa gewerk het, ’n klein huldeblyk of sorts van alles wat in so ’n verhouding ingaan. Dit roer my om te dink met hoeveel aandag Christa haarself toespits op haar studente, om hulle chaotiese gedagtes in mandalas te transformeer.
Die performance artist Gavin Krastin gebruik sy eie liggaam as medium om maatskaplike waardes uit te daag, te herontwikkel en te transformeer. Hy is tans die inwonende kunstenaar by UJ en is vroeër die jaar deur president Cyril Ramaphosa vereer met die Orde van Ikhamanga in brons vir sy uitstaande bydrae tot visuele kunste. In 2021 het hy die Standard Bank Young Artist Award vir Performance Art ontvang en in 2023 is hy as beste kurator by die Eastern Cape Provincial Arts and Culture Awards aangewys.
Sy huidige body of work (verskoon) handel oor die oorsprong van name wat hy ondersoek deur middel van tatoeëerink op sy lyf: Die naam Gawain word in groot letters bo sy naeltjie in ink gegraveer. Die naam Gavin word beskou as ’n latere taalvariant van die naam Gawain. Daar is ook ’n literêre assosiasie: Gawain word geassosieer met die beeld van Arthur-die-ridder, wat met moed en eer verbind word, terwyl Gavin die meer moderne vorm van die naam is. Sy liggaam word nie bloot as objek of onderwerp ingespan nie; dit word ook binne hierdie visuele medium as taal, vorm, terrein en konteks ondersoek.
The body is a landscape on which history is written. (Gabeba Baderoon in Visual century: South African art in context, 2011:75)
Leon Krige gee klas in argitektuur by UJ en is ’n fotograaf wie se werk handel oor die vervlegte verhouding tussen stede en gemeenskappe. Die stad se vlietende spore word vasgevang deur die neonligte wat lang strepe deur die lae van sy abstrakte landskappe trek. Daar is iets disco-agtig en futuristies aan die wyse waarop sy lens deur die landskappe breek.
Oupa Sibeko is ’n interdissiplinêre kunstenaar wat beweeg tussen teaters, galerye en akademiese instellings. Hy skep sy werk buite in die publiek, sodat die straat sy werk speels kan infiltreer. Deur performance en die gesprekke wat hy met verbygangers voer, konfronteer sy werk die pyn wat hy op straat teëkom. Die werk wat hier vertoon, is getitel Play Fortress en is oor ’n tydperk van drie jaar geskep. Die komposisie is treffend en kleurryk, met ’n kinderlike optimisme versteek in die straattoneel.
'n Interaktiewe visuele legkaart van matriargale denke
Zinhle Zulu ondersoek die identiteite van Zoeloe-vroue en vestig die aandag op stemme, ervarings en kennisvorme wat dikwels in volksverhale, geskiedskrywing en kulturele narratiewe oor die hoof gesien is. Die werk is geïnspireer deur die Zoeloe-volksverhaal van uMabhebejane en neem die vorm aan van ’n interaktiewe visuele legkaart, met drie vroue wat verskillende lewensfases van vrouwees verteenwoordig: uMakhoti (die pasgetroude vrou), uMfazi (die eggenoot of vrou) en uMameezala (die skoonmoeder). Deur middel van tradisionele Zoeloe-kleredrag en simboliese visuele leidrade, ondersoek die installasie hoe identiteit, vroulikheid en sosiale erkenning binne kulturele kontekste gevorm en uitgeleef word.
Relational Trans-Positions is ’n gewigtige uitstalling wat aandag vereis. Ek dink die waarde van so ’n diverse navorsingsuitstalling is nie net dat dit grense oorskry of verskille versoen nie, maar dat dit ons leer om langer by die verhoudings tussen dinge stil te staan. Sodoende kry ons ’n breër perspektief op hoe hierdie uiteenlopende kennis en kunsvorme met mekaar in gesprek tree.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Waar kuns en kennis mekaar kruisbestuif gehou? Ondersteun ons dan. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




