Hoe die dice vir die omgewing val

Hoe die dice vir die omgewing val

Grafika: Carla de Beer

'n Persoonlike blik op die klimaatkrisis en die Suidwes-Kaap se brandrisiko

Gooi jy ’n dobbelsteen 100 keer en hy sal jou omtrent 16 keer beloon met ’n ses. Gooi hom en hy land nooit op ’n ses nie, beteken dit nie dat jy ongelukkig is nie – jy word eerder gekroek met ’n ongebalanseerde dobbelsteen wat in die dealer se guns tel. Rofweg só werk die statistiekeanalise van my meesterstesis, behalwe die dobbelsteen is die aarde se weerpatrone en die uitkomste van jou rol is die waarskynlikheid dat die Suidwes-Kaap ongewoon warm raak gedurende die somer-brandseisoen. Lang storie kort, die aarde se dobbelsteen is besig om al hoe meer ongebalanseerd te word, en nodeloos om te sê, nie in die mensdom se guns nie.

In 2009 het ek as negejarige die rolprent 2012 saam met my pa en broer gekyk. Die fliek handel oor die Maya-kalender wat na oorlewering eindig op 21 Desember 2012 en gevolg word deur katastrofiese gebeure en die einde van die mensdom. Ek het onmiddellik begin huil, omdat ek vas oortuig was dat die aarde werklik gaan eindig. Ek het my pa gesmeek dat ons iets daaraan moet doen, anders het ek net drie jaar oor om te lewe. Rondom daardie tydperk het ek ook begin leer van klimaatverandering, en omdat ek grootgeword het in ’n hoogs analitiese en wetenskaplike familie, het hierdie idees vir my saamgesmelt. My vrees vir die einde van die wêreld is dus nou deur wetenskaplikes ondersteun. Deesdae noem mens hierdie vrees klimaatangs; dit is uiteindelik hierdie angs wat my geïnspireer het om klimaatverandering en volhoubare ontwikkeling te studeer.

Tydens my studies het ek die invloed van klimaatverandering op die brandrisiko-toestande van 14 groot vure wat tydens die 2023/24-brandseisoen in die Suidwes-Kaap gebrand het, nagevors. Die studie bevestig dat die Suidwes-Kaap se brandrisiko direk beïnvloed en vererger word deur antropogeniese vrystellings. Met ander woorde, die weerpatrone word deur menslike aktiwiteit verander. Dit beteken nie nét warmer, droër dae nie, maar ook ’n hoër waarskynlikheid dat ons elke jaar ekstreme brandtoestande sal ervaar. Dink byvoorbeeld aan hoe gereeld daar deesdae gepraat word van storms of brande of reënbuie wat voel asof dit nooit in vroeër jare só erg was nie. Al is die 2023/24-brande nie die ergste op rekord nie, was daar ’n beduidende skuif na meer gereelde mega-brande wat groot verwoesting gesaai het. Die toestande vroeg in 2024 tydens die Wolseley- en Hawequas-brande in die Wes-Kaap sou byvoorbeeld volgens my navorsing totaal onwaarskynlik wees indien ons as mensdom nie ons industriële ontwikkeling met dinosourusreste gevoed het nie. 

Groepe wetenskaplikes regoor die wêreld (almal baie slimmer as ekself; Coupled Model Intercomparison Project as ’n prominente voorbeeld) het gewerk om die “normale” dobbelsteen vir ons te simuleer – dit wil sê, hoe sou die aarde se weerpatrone lyk indien die mensdom nie so verwoed die uitlaatgasse van die verbranding van nie-hernubare energiebronne in ons atmosfeer vrygelaat het nie? Dit bevat hipotetiese, gesimuleerde waardes van temperatuur, windspoed, humiditeit en reënval (onder andere). Die werklike waardes word opgeneem met toestelle soos satelliete en weerstasies – dink byvoorbeeld aan die reënmeter in jou tuin, maar toegepas op ’n globale vlak wat oor dekades strek. Vergelyk nou die waarskynlikheid van ’n hipotetiese skroeiwarm dag wat deur wetenskaplike klimaatmodelle geproduseer is, met die waardes wat deur fisiese waarnemings opgeneem is, en jy kry ’n skatting van die mate waartoe antropogeniese vrystellings die waarskynlikheid van ’n spesifieke ekstreme weerpatroon beïnvloed het. 

Hierdie tipe studies word extreme event attribution genoem: hoe mense se fossielbrandstofverbranding bygedra het tot die verergering van hierdie ekstreme weerpatrone. Die metode is al regoor die wêreld toegepas op verskeie klasse van weergebeurtenisse, soos droogtes, hittegolwe, storms, brande, kouegolwe en ekstreme reënval, waarvan die World Weather Attribution-institusie ’n prominente leier geraak het. 

Daar bestaan ’n ryk literatuur wat handel oor die bestuur van fynbos, waarvan name soos Brian van Wilgen en William Bond belangrik is. Fynbosspesies het verskeie evolusionêre aanpassings ontwikkel wat hulle op vele wyses afhanklik maak van brande, maar nie te min of te gereeld nie. Die spreekwoordelike pap moet nie te koud of te warm wees nie, maar nét reg. Die spesifieke navorsingstegnieke, soos in my tesis toegepas, word min deur navorsers in Afrika as geheel gebruik, dikwels omdat daar ’n gebrek aan waarnemingsdata in hierdie streke is, en die feit dat hierdie navorsing gewoonlik uit noordelike lande spruit. My studie (tans nog nie gepubliseer nie) is die tweede studie in Afrika wat ekstreme brandrisikotoestande direk aan antropogeniese uitlatings probeer toeskryf. Die eerste studie is toegepas op een verwoestende brand wat in April 2021 deur Tafelberg en dele van die Universiteit van Kaapstad beweeg het. Die datastelle en metodes verskil egter van my eie navorsing. Waar Zhongwei Liu en kollegas in 2022 in hulle studie bevind het dat antropogeniese vrystellings die waarskynlikheid van die April 2021-brandtoestande met 90% verhoog het, het my studie bevind dat die waarskynlikheid van toestande in 2023/24 tussen 47% en 139% verhoog het. Alhoewel hierdie studies soortgelyke bevindinge weergee, sal daar nog baie werk gedoen moet word om die prentjie van die Suidwes-Kaap, en die res van Suid-Afrika, in te kleur. Wat wel duidelik is, is die erns van hoe vinnig ons besig is om die dobbelsteen van weerpatrone ongunstig te affekteer.

My kinderjare het my nie net hiperbewus van klimaatverandering gemaak nie, maar ook van alles anders wat lewe en krioel op aarde. Ek onthou hoe ek my hand by my pa se Nissan-bakkie se oop venster uitsteek en deur die reine boslug van die Knysnawoud streel. Ek het die reuk van grond diep in my longe ingeasem en vir my pa gesê: “Ek is op my gelukkigste wanneer ek in die bos is.” Tot vandag toe is dit nog waar. 

Gedurende my voorgraadse studies in plant- en dierkunde het ek my lewenslange drang om die natuurlike wêreld te verken, bevredig. Ongelukkig, hoe meer ek myself verdiep het in die onderwerp, het dit al duideliker geraak dat dit nie saak maak hoe lief ék vir die natuurlewe is nie; baie mense, en veral diegene in magsposisies, ag steeds nie die omgewing as inherent waardevol nie. Dit wat tot die natuur se voordeel is, is dikwels in direkte opposisie met dit wat nodig is vir ekonomiese groei – en dit is duidelik wie in hierdie wedren meestal verloor. Ontwikkeling is ’n necessary evil, maar ons moet ons wyse van ontwikkeling aanpas om die welstand van toekomstige generasies te verseker.

Die kern van hoekom volhoubare ontwikkeling noodsaaklik is: om die toekomstige effekte van klimaatverandering te versag (buiten ander belangrike redes soos natuurbewaring, wat na aan my hart lê). Klimaatveranderingsversagting (climate change mitigation in Engels, ’n mondvol in Afrikaans) is tans van internasionale belang en handel oor die beweging na hernubare energiebronne en ’n skuif weg van aktiwiteite wat kweekhuisgasse verhoog, of die aarde se natuurlike kapasiteit om hierdie gasse te verminder, affekteer. 

“Dit wat tot die natuur se voordeel is, is dikwels in direkte opposisie met dit wat nodig is vir ekonomiese groei – en dit is duidelik wie in hierdie wedren meestal verloor.”
— Isabella de Beer

Ontwikkeling, in terme van sowel ekonomiese as menslike groei en stedelike uitbreiding, is oor die jare meestal gedryf deur lande wat tans as “ontwikkeld” beskou word. Hier kan ’n mens dink aan die Europese lande, die Verenigde State van Amerika, Japan, Australië, Kanada en Suid-Korea. Hierdie ontwikkeling het plaasgevind deur intense fossielbrandstofverbranding oor byna 100 jaar, en dis die hoofrede hoekom ons nou in die posisie sit waar volhoubare ontwikkeling ’n algemene term geraak het. 

Daar word egter nou verwag van lande soos Suid-Afrika, wat nog beskou word as ’n “ontwikkelende” land en wat op dieselfde trajek van ekonomiese groei beweeg, om nie dieselfde “goedkoop” energie te verbruik om hul ontwikkelingsdoelwitte te bereik nie. Die lande wat histories verantwoordelik is vir klimaatverandering, preek nou vir die lande wat bykans geen betrokkenheid daarby gehad het nie, dat hulle net met die hulp van volhoubare bronne moet ontwikkel. Die klimaatkrisis word verder gekompliseer deur die feit dat ontwikkelde lande ook beter voorbereid is vir die negatiewe effekte van klimaatverandering, soos rampvoorbereiding en -reaksie, sowel as oor die sistemiese en menslike kapasiteit beskik om by veranderende weerpatrone aan te pas. 

Soos ek hierdie artikel skryf, hoor ek klaar die klimaatveranderingontkenners in my kop skree: Maar die aarde se klimaat verander vanself! Voorbeelde van natuurlike drywing van globale klimaatverandering bestaan wel – byvoorbeeld vulkaanuitbarstings laat gasse vry wat die aarde se atmosfeer beïnvloed, en daar bestaan langtermynsiklusse wat te doen het met die aarde se omwenteling om die son, wat ook die klimaat beïnvloed. Die probleem kom egter met die tempo van vandag se verandering. Die mensdom is besig om die wêreld se klimaat op ’n planetêre skaal te verander, en teen ’n tempo wat die aarde en sy organismes byna nog nooit beleef het nie. Ja, spesies kan aanpas by verandering. Ja, spesies sterf natuurlik uit en nuwe spesies neem hul plek in. Maar daar is ’n beperking op natuurlike, evolusionêre prosesse se vermoë om deur verandering te volhard. Stel jou byvoorbeeld voor ons belangrikste landbougewasse, wat die mae van die wêreld se mense elke dag volmaak, kan nie meer verbou word nie, omdat die klimaat só verander het dat die opbrengste onvoldoende word. 

Nietemin moet ons onsself voorberei op die nadelige gevolge van klimaatverandering en terselfdertyd moet alle lede van die Verenigde Nasies teen 2030 aan die 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoeleindes (VOD) voldoen. Om klimaatverandering te bestry deur aan te pas by verandering en verdere newe-effekte te mitigeer, is maar een doelwit van die VOD en word nie eenparig gesien as die belangrikste doelwit nie. Gelyktydig word daar van lande verwag om die 16 ander doeleindes te bereik, wat verg dat ons globale probleme soos armoede, geslagsongelykheid, wêreldvrede, geregtigheid en hongersnood oplos. Persoonlike optimisme is die reddingsboei in ’n wêreld waar ons almal probeer kop bo water hou. 

Ten spyte van my navorsing, het ek nie ’n oplossing nie. Ek het ongelukkig ook nie op die stadium veel optimisme nie. Klimaatverandering is een van die moeilikste politieke en diplomatieke kwessies wat die mensdom as geheel in die gesig staar. Die wetenskaplike front is nie meer die beperkende faktor nie. Eerder, ’n besluit wat deur een maghebbende persoon gemaak word (byvoorbeeld ons vriend in die Withuis wat van die Parys Klimaatooreenkoms onttrek het), het ’n ongelooflike, massiewe impak op die toekoms van die mensdom. 

In die menslike magshiërargie word verandering top-down aangebring. Daar bestaan wel merkwaardige dryfkrag van onder na bo, soos persoonlike keuses in wat jy dra, wat jy koop, watter kar jy ry (en of jy nie eerder fietsry nie), maar ook groter bewegings soos klimaataktivisme en selfs om nasies en institusies hof toe te vat! In 2019 het Urgenda, ’n Nederlandse klimaataktivismegroep, die Nederlandse regering onder druk geplaas om nasionale en Europese Unie-wette wat uiteengesit is om klimaatverandering te mitigeer, na te kom. Dit was die eerste suksesvolle klimaatveranderinglitigasie waarin ’n land hof toe geneem is, omdat hulle nie voldoen het aan hulle plig om hul burgers te beskerm teen die verergering van klimaatverandering nie.

Wat ek met sekerheid kan sê, is dat ’n mens nooit jou eie klein bydrae in die wêreld moet onderskat nie, soos Dave Pepler ook noem. Ek bedoel dit nie op ’n karmiese wyse nie, maar eerder: Solank as wat daar iemand is wat hoop, is daar altyd ’n kans vir ’n beter toekoms. Think globally, act locally.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Hoe die dice vir die omgewing val gehou? Ondersteun ons dan. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand