Vuurberge en maaneilande

Foto’s verskaf

'n Vulkanoloog se veldnotas vanaf Groot Comore

Die wit minaret van die Badjanani Moskee flits tussen geboue en verlate karre. Die bakkie wat ons by die VN leen, jaag verby die vismark, naby die ou Medina, en ruk tot stilstand langs ’n ou man en sy vissersboot. Die hitte en reuk van vis hang swaar in Moroni. Shafik, ’n kollega van die Karthala Vulkaanmonitorsentrum, kyk opgewonde om na my en sê: “Julle is gelukkig; lyk my ons eet vars tuna op die vulkaan.” Ons almal kyk op na Karthala, wat soos ’n katedraal bo die eiland uittroon.

Karthala is die jongste buitelugvulkaan in ’n groep vulkaniese eilande, nie te ver van Suid-Afrika nie, tussen Madagaskar en Mosambiek: die Jazr al-Qumr, “eilande van die maan” in Arabies (die Comore-eilande). Dis hier op Grande Comore-eiland, waar die locals praat van djinns wat die noodlot tart en omtrent elke agt jaar dit regkry om Karthala se woede te ontlok. Die letsels van Karthala se geweld, met of sonder die hulp van die djinns, neem die vorm van ou lawavloeie aan wat aan die kuslyn hang en die ou uitgebrande huise van die Singani-dorpie omhels. Karthala is nie alleen nie; in die noorde staan La Grille, ’n tweede, minder aktiewe vulkaan wie se uitbarstings vergete is aan die Comorane. In die 1990’s beskryf navorsers soos Bachèlery en kollegas en Allibert en Verin potskerwe wat dateer uit 1080–1340 CE en tussen lae vulkaanas gevind is, wat daarop dui dat mense definitief teenwoordig was tydens La Grille se uitbarstings. Tog is daar bitter min wat ons van dié twee vulkane weet. Wat ons wel kon wys raak, is dat die ligging van die uitbarstings en die uitbarstingstyle van die vulkane hoogs onreëlmatig is. Aangesien Karthala die tweede aktiefste vulkaan in die Indiese Oseaan is, het die Comorane en die Franse (en ek) in 2022 ’n poging aangewend om te verstaan hoe die vulkane werk. Oor ’n tydperk van drie jaar het ons klein span navorsers ’n besonderse geleentheid gehad om die vurige towerspel van die maaneilande se binneste te ondersoek.

Ons benadering as vulkanoloë was soos volg: Een deel van die span het gefokus op wanneer ’n uitbarsting kom. Deur langtermyn- seismiese stasies kan seismoloë magmabewegings onder die vulkaan monitor. Ons deel van die span, met ’n geochemiese agtergrond, se taak was om vas te stel waar en hoe die volgende uitbarsting gaan gebeur. Die beginsel om dit te bepaal is eenvoudig. Die ligging van die twee vulkane en kleiner skoriakegels op die eiland weerspieël die netwerk van ondergrondse magmapype en stollingsones wat magma stoor en na die oppervlak vervoer. Terselfdertyd vertel die samestelling van die gesteentes en gasse ’n storie van die magma se oorsprong, die reis na die oppervlak en hoe die magma kan uitbars. So ’n netwerk kan wyd span, wat daartoe lei dat uitbarstings ’n ent weg van die vulkaan se hoofkrater kan plaasvind. In 1977 het ’n lawagevulde kraak net bo die Singani-kusdorpie verskyn en is die hele dorp vernietig. As mens die netwerk kan bepaal en die aard van die magma karakteriseer, kan jy ’n prisma skep waardeur die werking van die vulkaan bestudeer kan word. Om hiervan sin te maak, was die doel van my doktorale tesis.

’n Week nadat ek die eerste keer in my lewe ’n vulkaan op La Réunion gesien het, vertrek ek en my kollega, ’n nagraadse navorser van La Réunion, saam Grande Comore toe vir ses weke. Ons twee is vooruit gestuur vir voorlopige veldwerk en om voorbereidings te tref vir die res van die ekspedisie – die eerste van drie oor die daaropvolgende twee jaar. Ons bed-en-brekfis word besit deur ’n local en sy familie wat op die eerste aand vra of ons die “snaakse sigarette” rook. Versigtig vir dwelmwette in Comoros (vyf jaar tronkstraf minimum; ek het immers net drie jaar om my tesis te voltooi), besluit ek en my kollega aanvanklik om eerder verantwoordelik te wees. Maar een snaakse sigaret later, spring ons twee en ons nuwe vriend in ’n vreemdeling se Renault en verdwyn die donker Comore-nag in. Duiselig arriveer ons by ons bestemming, ’n oop donker veld langs die see. Soos ons oë aan die donker gewoond raak, neem skadu’s die vorms aan van tafels en mense by ’n informele brochette-restaurant waar sosaties, poetoe (gefermenteerde chillisous), groenpapaya en broodvrug op die spyskaart is. Vir twee donker uur pols ’n halfmaan van 30 mense om die enigste ligbron, ’n klein braaivuur, met marionetpopkokke wat die aand om dans.

Om Karthala se piek (2361 meter) te bereik, sal ’n ervare stapper sowat agt uur neem vanaf die wegspringdorp. Vir die klein weermag van wetenskaplikes, gidse en gereedskap wat saam met ons reis, benodig ons ’n konvooi van drie bakkies teen die berg uit. Met ons bakkies gelaai, is ons op teen die berg om ons veldwerk te begin. Halfpad op teen Karthala ontwikkel een voertuig enjinprobleme en ’n band bars by die ander twee. Die besluit word geneem dat die meerderheid van die span sal agterbly, terwyl ek, my studieleier en kollega Shafik die piek sal uitklim. Opdragte word inderhaas in Frans gegee en ’n gids gooi my klere vinnig uit my waterdigte tas uit en vervang dit met kampgoed en apparate. Ons moet kos en water saamdra vir twee dae. In die opwinding van die oomblik gryp ek drie blikkies niçoise-slaai (sonder ’n blikoopmaker), ’n baguette waarop ek dadelik per ongeluk gaan sit het, een tamatie en 24 Laughing Cow-kasies. Ons vier uur lange tog na bo word boonop deur reën, maaggriep en gesprekke oor die huursoldaat Bob Denard bemoeilik.

As mens uiteindelik die plato naby die piek bereik, wag een van die grootste kalderakomplekse in die wêreld vir jou. ’n Ingesonke oop bek vol skoriakegels en reuselawaskerwe wat van die kratervloer uitsteek. Teen die noordwal van die ommuurde mond is ’n opening, genaamd die Port d’Itsandra (hek na Itsandra), waaruit ou ontsnapte lawavloeie aan die buitewyke van die Itsandra-kusdorpie lek. Die mees onlangse uitbarsting was in 2007 en dit was ’n klein een. Die groter uitbarstings was in Maart en November 2005, waar twee sub- Pliniese uitbarstings (baie gewelddadig) as en paniek oor die hele eiland gesaai het. Soos ons teen die kalderamuur afstap, besef ek dat die eiland tydens ons 2022-ekspedisie al sewe jaar “laat” is volgens sy uitbarstingritme. Asof die djinns my gedagtes lees, begin die vulkaan se seismiese krisis op daardie einste oomblik.

Daardie nag het seismometers van kollegas in Mayotte magma van onder die westelike flank van Karthala gevolg, soos dit na die oppervlak beweeg het. Desperaat soos hulle was om ons te bereik en te waarsku, was daar geen manier om ons te kontak nie. Ons het later uitgevind dat die sterkste aardbewing daardie aand ’n magnitude van drie gehad het (aardbewings in Johannesburg is gewoonlik tussen 2 en 3). Tog het ons wat binne die kaldera geslaap het, niks gevoel nie. Ons fokus was daarop om warm te bly en uit te werk hoe drie mans in ’n tweemantent gaan pas. Ons sluit die eerste aand af met aandete: my spanmaats met hulle easy-to-open sardientjies; ek wat my tamatie soos ’n appel eet, en Karthala wat onder ons begin wakker word.

Laatmiddag die volgende dag, ná ’n beknopte aand in ons tent, staan ons by die hoofkrater Changou Chahale, toe ons die stofwolk en die lang skaduwees van ons span oor die kalderavloer sien aankom. Saam met hulle kom al ons apparate om monsters te neem. Een kollega, ’n vulkaangasspesialis, se apparaat (wat sowat R500 000 kos) kan die samestelling en konsentrasie van gas in situ meet. Ek, ’n geochemikus in gees alleen daai tyd, het ’n R200-graaf en ’n troffel wat ons die vorige dag by ’n hardewarewinkel gekoop het. Die monsters wat ek moet neem, is beide gestolde lawavloeie en tefra. Wanneer magma die oppervlak bereik, bars dit uit as 1) lawa: ’n vloeibare massa of 2) tefra: magma wat fragmenteer in ongekonsolideerde partikels van verskillende groottes (skoria is partikels van 2–9 sentimeter). Die samestelling van lawa en tefra van dieselfde uitbarsting kan dieselfde wees, maar tefra verteenwoordig ’n tweede faset: Die vorm en grootte van tefra kan aandui watter tipe uitbarsting dit was en – belangrik vir ons groep se navorsing – hoe gewelddadig. Verskillende lae van tefra vertel dan so die geskiedenis van ’n uitbarsting, of reeks uitbarstings. Aangesien daar bykans geen historiese aantekeninge van ou uitbarstings is nie, is hierdie metode ons beste opsie om die verlede te verstaan. My doel vir die daaropvolgende sewe dae in die krater was om sulke lae te vind, te beskryf en monsters daarvan te neem om hul samestelling in Frankryk te gaan toets.

“Een kollega, ’n vulkaangasspesialis, se apparaat (wat sowat R500 000 kos) kan die samestelling en konsentrasie van gas in situ meet. Ek, ’n geochemikus in gees alleen daai tyd, het ’n R200-graaf en ’n troffel wat ons die vorige dag by ’n hardewarewinkel gekoop het.”
— François Lötter

Teen dag twee van ons ekspedisie bereik die maaggriep wat die groep teister, ook ons kok. Met min geleentheid (of gewilligheid) om sy hande te was, is dit elke aand ’n ronde Russian Roulette van wie word volgende siek. Teen die vierde dag is die meerderheid siek en neem twee karre af teen die berg. Net ek, een kollega, ’n gids en ons bittereinderkok bly oor. Met ’n sterk vermoede dat ons ingesmokkelde bottel whiskey ons beskerm teen die ergste, is ons van die min wat die semi-vars tunakerrie kon geniet. Elke aand om die vuur ruil ons stories uit van hoe die fumaroles (gas en stoom wat ontsnap van krake) binne die krater sterker raak, dag ná dag. Ons gids sê uiteindelik wat op ons almal se gedagtes is: Daar is ’n uitbarsting op pad. Op dag vyf is ons verbaas om ons studieleier bleek terug op die berg te sien. Die waarskuwings van Mayotte kon uiteindelik ons span bereik. Magma is naby die oppervlak; almal moet af van Karthala af. Ons druk ons tente in hul sakke en spring agter op die bakkie en kyk gereeld oor ons skouers vir ’n uitbarsting wat nooit gekom het nie.

Met almal se oë op Karthala, draai ek en my kollega ons aandag na La Grille in die noorde van die eiland vir ons veldwerk. Dié keer hoef ons nie te kamp nie. La Grille is ’n skildvulkaan met vlak flanke wat bedek is met ’n magdom skoriakegels. Skoriakegels vorm deur ’n enkele, kleiner uitbarsting waar tefra (gewoonlik skoria) opbou en ’n stapel vorm. Die kegels en kleinhoewe wat die vrugbare grond benut, vorm ’n netwerk koppies, ylang-ylangblom en vanillaboonplase wat oor die vulkaan span. Ons het ons les geleer ná ons ervaring op Karthala en neem ekstra spaarbande saam La Grille toe. Op die tweede aand breek ons kar se as halftien op ’n verlate plaaspad in die middel van La Grille. Nie een van ons het sein om iemand te bereik nie. Ons sou twee uur moes terugstap na die naaste dorp om vir hulp te bel. Traag om te begin stap, sit ek, my kollega en ons drywer vir ’n ruk in die donker. Die soet reuk van ylang-ylang dryf deur met ’n warm wind en smoor die soel aand dood. My gedagtes dwaal ver en ek dink aan die Afrikaanse vrou wat gekyk het hoe die gekaapte Ethiopia Airlines-vlug in die see neerstort net noord van waar ons pas was, en vir haar man gesê het: “My engel, wat’s dit?” Ek kyk na ons kar wat op sy hurke sit en kan nie help om dieselfde te dink nie. Ons maak ons pad terug dorp toe en sien langs die pad ’n verminkte civet, waaroor ek maande lank stry dat dit ’n lemur was.

Ná twee weke van geen uitbarstings op Karthala, pak ons op in La Grille en keer terug na Karthala. My kollega wat saam met my in La Grille was, is terug La Réunion toe, en ons groep bestaan nou uit net die nodigste: een bakkie, vyf mense. Hierdie keer breek die nat weer en temperature onder vriespunt byna ons moed. Die laaste aand van ’n andersins gebeurtenislose week op Karthala is ook die koudste. 

Flou oggendreën forseer ons vroegoggend uit ons slaapsakke. ’n Dowwe stilte hang oor die kamp. Een pap baguette en ’n ontbytstafie later, skud ons die ryp en onsekerheid van ons bagasie af en sak af in die kolkende massa mis wat in Karthala se kaldera vir ons wag. Onder die benoude oë van ons gids is daar ’n nuwe en onverwagse bykommer tot ons groep, ’n gewone bontrokkie wat ons van tak tot tak in die doolhof in gevolg het. Asof Karthala iets van ons probeer wegsteek, verdwaal ons op ou voetpaaie al hoe dieper en dieper in die krater in; die stilte slegs onderbreek deur klein rotsstortings net agter die mis. Toe hoor ek dit. Iewers in die verte, ’n klank wat nie hoort nie. Ons almal stop. Uit die mis voor ons hoor ons mense wat sing, kinders wat sing. En toe verskyn hulle: ’n Groep skoolkinders smelt deur die mis en sing en dans in ons rigting. In ’n interaksie wat op die langste 30 sekondes geduur het, omring hulle ons, neem foto’s en verdwyn saam met hul musiek in die mis agter ons. Ek kyk vir my studieleier en toe na ons gids. Iewers regs van ons is daar klippe wat val. Die bontrokkie, steeds op dieselfde tak, hou ons dop. Ek was oortuig dat almal van ons in die gedoemde ekspedisie in die nag sou sterf. Ons groep, Laughing Cow-kasies en al, is in die vagevuur vasgevang. Ná twee lawamonsters besluit ons dit is nou genoeg vir die ekspedisie.

Daar is ’n groep eilande wat bestaan in onverdiende obskuriteit. Dis hier op Grande Comore waar vulkanoloë die noodlot tart en die locals met moeë oë kyk vir die buitelanders wat op hul vulkaan rondhardloop. Grande Comore, sy mense en die netwerk van vuur wat onder hulle voete stroom, is uniek in die wêreld. Sedert 2007 het Karthala nog nie weer ’n uitbarsting gehad nie. Die seismiese krisis van 2022, tydens ons besoek, was ’n fopuitbarsting. Die magma was vasgevang onder die westelike flank van Karthala en is steeds daar. Ons span kon die magmanetwerk bepaal en ook groot dele van die magma se geskiedenis karakteriseer. Danksy almal se bydrae, verstaan ons nou dat die netwerk van magmapype en stollingsones onder Karthala dig uitgelê is en magma maklik vasgevang en gestoor kan word. Die teenoorgestelde is waar vir La Grille, waar ’n eenvoudige netwerk toelaat om kleiner porsies magma reguit te vervoer na die oppervlak. Karthala kan groter reservoirs van magma berg en kan dus uitbarstings ervaar onafhanklik van tektoniese kragte wat die ander eilande (en interessant genoeg, La Grille) se uitbarstings beheer. Benewens in my tesis, is ons bevindinge ook in hierdie akademiese artikel beskikbaar.

“Dis hier op Grande Comore waar vulkanoloë die noodlot tart en die locals met moeë oë kyk vir die buitelanders wat op hul vulkaan rondhardloop. Grande Comore, sy mense en die netwerk van vuur wat onder hulle voete stroom, is uniek in die wêreld.”
— François Lötter

Daar is tans ’n nuwe span navorsers op Karthala, en saam met hulle ’n nuwe doktorale student. En ek weet, soos wat met almal gebeur op Grande Comore, sluk die Pandoraboks-eiland mens in. Gelukkig, as jy vir ’n oomblik jou blik kan wegbeur van bokkoppe wat gesmokkel word, Duitsers wat amper verdrink en drank wat van sekteleiers weggesteek moet word, sien jy ’n wit minaret wat tussen palmblare flits. Die adhan wat deur hul stamme stroom. En Karthala wat soos ’n katedraal bo ons almal uittroon.


Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Vuurberge en maaneilande gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand