Trompoppie verander 'n elite privaatskool in 'n wildernis
Etienne Fourie se reeks hou die blink kant bo
’n Vliegtuig met ’n span trompoppies val iewers in die Suid-Afrikaanse wildernis. Al wat hulle tot hulle beskikking het, is hulle ritmiese trommusiek; blink, kort rokkies en hulle silwer teelepeltjies... Daar is natuurlik ook ’n goeie skeut oorlewingsdrang in die mix, en die vraag is – wie kom lewendig daar uit? Let the games begin.
Trompoppie is ’n dramareeks met psychological thriller vibes wat sedert Desember op Showmax wys (as jy dit nog nie gekyk het nie, is die hele reeks daar, gereed vir jou volgende binge). Daar is al heelwat opinies en resensies daaroor gepubliseer (hier en hier en hier, byvoorbeeld). Die meeste van hulle is oorheersend positief.
Die reeks volg Luna Verwey, ’n Suid-Afrikaanse Simone Biles of Svetlana Khorkina in the making. Sy dra vaal sweetpakbroeke, geen grimering en klein, onopvallende studs in haar ore. Een van die ander karakters noem haar ’n “hillbilly Barbie” en Melissa Myburgh, wat die rol vertolk, sê sy’s op die oog af ’n “koppie louwarm water”. Jill Peterson (Marion Holm) is die inmengerige ryk tannie met haar naam op haar nommerplaat wat langs die veld vir die ref skree (behalwe dis nie rugby nie en sy’s eintlik regtig classy). Jill is ’n bekende aktrise en sy versamel shiny dinge en shiny mense en Luna is die shiny missing piece in haar aangenome dogter Zanne (Celeste Loots) se missie om die trompoppie-nationals te wen. Luna het groot, duur drome wat buite haar pa, Hugo (Stian Bam), ’n treurende wewenaar, se finansiële vermoëns is. Baie gou verruil Luna haar eenvoudige lewe vir die luukshede wat die Petersons haar kan bied: ’n peperduur privaatskool, ’n huis geknip uit House and leisure en ’n kas vol trendy klere. Maar iewers moet die vliegtuig val – en dit gebeur sommer in die eerste episode al.
Etienne Fourie, regisseur en skrywer van die reeks, kry dit reg om ’n elite privaatskool in ’n wildernis te verander waar dit elke poppie vir haarself is. Vervang die vliegtuig met ’n (in die woorde van een van die trompoppies) “eerlike fout” met sinistere nagevolge en verplaas dit na ’n wildernis amper too close for comfort, en siedaar. Vrugbare grond vir ’n klomp weird goed om te gebeur. Dis ’n show – die doel van trompoppies is immers vermaaklikheid. Dis ’n highly watchable reeks met dramatiese en spannende elemente, alles in die regte proporsies.
TV-drama’s poog gewoonlik om die werklikheid na te boots. Dis wat die genre so aanloklik maak, die feit dat hierdie karakters en gebeure in die wentelbaan van jou dae sou kon bestaan. Trompoppie se dialoog is ’n segetog van outentieke, hedendaagse Afrikaans, min of meer perfek aangepas vir die skerm. Een van die voorste linguiste wat TV-dialoog navors, Monika Bednarek, noem onder andere drie kenmerke daarvan wat dit anders maak as alledaagse taalgebruik.
Eerstens is TV-dialoog gewoonlik emotief, sodat kykers betrek word by die storie en makliker kan volg. Karakters op TV moet hulle emosies verbaal kan oordra, duideliker as wat ons gewoonlik in die werklikheid sou doen (dis soms ’n gesukkel om misverstande te vermy). Bednarek gee twee maniere waarop dit gedoen word: vloek en beskrywende taal (lees adjektiewe). Daar is vloekwoorde in die reeks – maar nie opvallend baie nie. Thomas (Cantona James), ’n vriend van Zanne, sukkel om sy woede te beheer en in een spesifieke scene is dit ’n kakofonie van “fuck, fuck, fuck, fok, fok, fok”, maar dis omtrent die ergste daarvan. Ek’t lekker gelag vir speurder Herselman (Frank Opperman) wat (sommer baie aspris) in verwysing na trompoppies vra: “Wat’s daai kak nou weer?”. Daar’s genoeg vloekwoorde vir die dialoog om natuurlik te klink, maar dis min genoeg dat die ouderdomsbeperking nie 16 oorskry nie. Die vloekwoorde funksioneer uitstekend as karakterisering: Thomas ís ’n “privileged jock met anger issues” (in die woorde van Mindy, die huidige trompoppiekaptein gespeel deur Elzet Nel) en speurder Herselman ís ’n soms knorrige outoppie met min tyd vir tienermeisies (maar wat darem nou en dan ’n prettige vroegoggend whiskey kan inwerk).
Jill se ander aangenome dogter, Elke (Luca Human), is baie lief vir beskrywende taal. Sy noem byvoorbeeld vir Luna ’n “effing Grietjie Gimnastiek” en ook later die “arme, minderbevoorregte, ambisieuse, opportunistiese girl’tjie van die ander kant van die spoor”. Die trompoppies loop ook deur: Hulle word Luna se “blink poppiemaatjies” met “bubblegum IQ’s”. Zanne is haar “silverspoon entitled suster” en ’n “hoërskoolbimbo”. Selfs Jill kry haar beurt wanneer Elke praat oor haar “makabere gebrek aan outentieke emosie” en ’n “gebrek aan selfbeheersing wat die gebruik van botoks betref”. Oor die algemeen is Elke slim, fronsend en beslis nie ’n “emotional support animal” nie. Sy vertel haar pa (Albert Maritz) dat sy meer sien as wat hulle dink en dat dit “een van die min perks van onsigbaar wees” is. Haar dialoog kontrasteer met haar bot, amper ysige geaardheid en bied ’n goeie kykie in haar ware psige. Jy besef later, saam met Jill, dat al haar bytende slimmighede ten spyt, sy eintlik nog ’n kind is.
Bednarek noem tweedens dat TV-dialoog ten doel het om te entertain. Jill is een van my gunstelingkarakters in hierdie opsig. Sy snoer haar mond vir niemand en niks en dit sorg vir top tier entertainment. Elke moet byvoorbeeld gereeld ’n chill-pil in Jill se handsak vat en, wel, chill, want sy is die “buzzkill” vir Jill se Xanax. Vroeg in die reeks tik Jill die hoof (Joanie Combrink) van Deacon College (die privaatskool waar Zanne hoop om die volgende trompoppiekaptein te wees) oor die vingers toe dié reken jy kan nie jou plek in Deacon College koop nie: “Kyk, ek gaan jou nou net daar stop om beide van ons die stank van hierdie spesifieke hoop bullshit te spaar.” As “in beheer” ’n emosie was, was dit Jill Peterson se baseline en haar dialoog beklemtoon hoe koel en berekenend sy seker maak die poppe dans op háár deuntjie.
Vir Jill is die belangrikste ding in die wêreld haar reputasie. Wanneer Luna een middag gaan draf in ’n hempie met geskeurde moue waaroor sy “sentimenteel” is, reken Jill: “Skattebol, daar’s sentimenteel en dan is daar homeless” en dat Luna, sou iemand vra, moet sê dis Balenciaga. Rozanne Els skryf dat Holm Jill “al dente” speel: “Net. Fokken. Reg.” Ek is dit met haar eens. Nes die karakter waarvoor Jill in die storie bekend is, ’n feekserige Veronica, word Jill ’n karakter wat almal “love to hate”: onsubtiel en by tye selfs absurd in die narratief wat sy uit haar bevoorregte, uitspattige lewe vir jou spin.
Bednarek wys derdens daarop dat TV-dialoog ’n “tendency towards coherence” het. Die episodes van Trompoppie wissel tussen 45 en 49 minute speeltyd. As jy “uhm” en “ah” in die dialoog soos wat mense in natuurlike gesprekke doen, gaan jy niks gesê kry nie. Elke sin moet bydra tot die storie. ’n Besonder effektiewe tegniek wat ingespan is om samehang te bevorder, is die gebruik van insetsels wat wys wat op sosiale media gebeur, soos die boodskappe van Luna se pa of die live stream van ’n moord wat gepleeg word. Die teks wat nodig is om belangrike kontekstuele gegewens deur te gee, is korter én dit werk goed om die storie in ’n eietydse milieu te plaas.
Daar is wel ’n paar uitsonderings waar die dialoog juis nie coherent is nie, wat baie effektief werk om jou te verplaas na die tipe situasie wat uitgebeeld word. In een scene voer Carla (Mandri Sutherland) ’n onderhoud met ’n skoolseun oor ’n tragiese insident (alle tekens dui op moord) wat op die skoolgronde gebeur het. Die arme outjie (Thinus Viljoen) verspeel sy oomblik in die kollig met ’n stotterende “Ja, dit was... uhm, hectic” en “daar was bloed... en stuff”. Shame, dude. Daar is ook minder samehang in die dialoog in van die tonele waar speurder Herselman en die misdaadskrywer Madelyn (Daneel van der Walt) onderhoude met die trompoppies voer. Weer eens is dit ’n effektiewe strategie, want tieners wat met die moontlikheid van ’n reeksmoordenaar in hulle midde gekonfronteer word én ’n gewigtige geheim moet bewaar, sal tog nie koelkop en kalm reageer nie?
Terwyl die dialoog vir my presteer ten opsigte van die drama, is dit die ruimte en die gebeure wat sorg vir die spanning. Dink terug aan jou skooldae. ’n Skool is die perfekte ruimte vir scary shit om te gebeur: ’n gebou vol koue kamers en lang gange wat kronkel en doodloop sodat daar ’n oorvloed van wegkruipplekke is. Sportvelde wat verlate lê en wag vir iets om te gebeur. Kleedkamers wat sorg vir fantastiese akoestiek sodat die skoolmeisiegille nét woes en skril genoeg kan weerklink om gehoor te word deur die niemand wat ná skool daar rondhang.
Els meen dat Trompoppie nie geslaagd is as ’n sielkundige riller nie, maar dat die sielkundige aspekte van die karakters en hulle situasies uitstekend verken word. Die reeks is inderdaad nie die vreesaanjaendste TV wat ek al gesien het nie, maar ek dink ook nie ’n volskaalse riller was die doel van die oefening nie. Die spanningselemente in Trompoppie is slim bedink en subtiel toegepas, soos ’n leë sitplek hier en ’n bloedrooi nota daar. Die spokerige title sequence met die vele gesigte van Luna Verwey klim ook ongemerk onder jou vel. Daar is wel grillerige dinge in veral van die latere episodes wat jou laat dink aan Stephen King (en wat, met ander woorde, glad nie subtiel is nie): swartsakke vol verwerkte rou vleis, ’n Barbie-pop wat stelselmatig ledemaat vir ledemaat in stukke gebreek word terwyl ’n kleindogtertjiestem Antjie Krog se gedig ‘Ma’ voordra, ’n troeteldier, ’n wasmasjien... Sonder konteks klink dit vreemd, maar met konteks maak dit jou nogal ongemaklik.
En dan is daar natuurlik die klankbaan wat al die spanningselemente uitstekend komplementeer en beklemtoon. Die klankontwerp is skitterend gedoen deur Jean-Pierre du Preez en die oorspronklike musiek deur Loki Rothman is letterlik die kersie op die chills down your spine-koek. Hy verduidelik in hierdie reel op Instagram hoe hy ’n tikkende klok, vreemde stemme (die “signature sound” van die reeks), kick drums, ’n hartklop, ’n Shepard tone en musiek wat haak, gebruik om by te dra tot ’n dreigende gevoel van angs. Dis ’n onheilspellende twist op ritmiese trompoppiemusiek, en dit werk. Volpunte.
As vermaak vir jou op ’n strenger intellektuele vlak lê, is daar ook baie in die show om te unpack. Kyk net na die uitbeelding van die gebruik van sosiale media en die impak daarvan op tieners wat reeds onder onnatuurlike druk verkeer. Daar word subtiele kommentaar gelewer oor geld, oor wat dit vir jou kan koop (of nie kan koop nie). Jy sal ’n indringende sielkundige ondersoek kan loods na die gedaantes wat brose tieners kan aanneem in die aangesig van trauma en druk. Verhoudingsstrukture tussen jong mense is ook onder die vergrootglas. Trompoppie is interessant en kompleks, maar bowenal cosy en lig en lekker. Fourie slaag in sy doel om ’n “liefdesbrief aan gehore” te skryf: Daar is regtig iets vir almal om te geniet, van die vlymskerp dialoog en die creepy skoolgange tot die ominous musiek.