Bibi Slippers se Fotostaatmasjien

Bibi Slippers se Fotostaatmasjien
Bibi Slippers - Fotostaatmasjien Cover.jpg

Bibi Slippers se debuutbundel, Fotostaatmasjien, is onlangs in Johannesburg vrygestel. Dit vier die mens en kultuur as fotostaatmasjien en die gedig as foutiewe fotostaat. 

Die bundel is eietyds, met ’n gedig vir elke Instagram filter, emoji’s as emosies en ’n deurlopende fokus op die digitale era se vermoë om perfekte kopieë te maak van… ’n vreemde vrou se tiete op jou boyfriend se foon. 

God en sy kantoorpartytjies (in die hemel op ’n Vrydagmiddag), die verskil tussen alpakkas en llamas en hulle verbinding tot die ewige waarheid, gedigte oor voëls (albei tipes), Jonker as voorbok van Afrikaanse pop en Harry Styles se hare word onder meer op die blaaie gevind. Sosio-politiese elemente kom ook na vore.

Die bundel se tipografie en ontwerp, deur Richard Myburgh, speel met die tema van fotostaatpapier, Xerox masjiene en ’n paper jam.

Klyntji deel drie gedigte as uittreksels van die bundel hieronder.

 

bloukraanvoël

Met apologie aan Bukowski

daar’s ’n bloukraanvoël in my blindederm

wat nie wil weggaan nie. ek sal hom wys.

ek sal sê: kom uit daar, jy mag nie in my

nesmaak nie. ek sal hom uitskop voor hy

hom te diep inskrop, ek sal sy vere pluk

en van hom ’n verestoffer maak ek sal al

hierdie voorgevoelens daarmee wegvee.

ek weier om vir hom woonplek te gee.

ek sou al my blindederm kraanvoël en al

laat uithaal het as ek dit kon bekostig, as

my mediese fonds dit wou betaal maar

hierdie kondisie is nie op hulle boeke nie.

nou sit ek daarmee: ’n bloukraanvoël in my

blindederm en my goeie voornemens.

 

mix tape

1. Klou

Porcupine-ology. Antler-ology. Car-ology. Bus-ology. Train-ology. Plane-ology. Mama-ology. Papa-ology. You-ology. Me-ology. Love-ology. Kiss-ology. Stay-ology. Please-ology. Let’s study class, let’s study class. Sit down.– Regina Spektor

ek wil my hande om

’n kaktus of turksvy

vou ’n anemoon in my

mond hou ek wil jou

ek wil jou

 

ek wil in ’n doringboom

slaap met ’n ystervark

in my arms ek wil leer

hoe om jou hoe om jou

 

ek wil ’n professor word

in die wetenskap van stekels

ek wil jou doringappel

doringpeer stadig maar

seker afstomp seekastaiing

 

stekelrog dennebos

ek wil jou ek wil jou

bot hê en onskerp

armadil-akkedis

 

meidoring lawanaald

as dit onmoontlik is

sal ek wil sag raak

myself spons maak

 

sodat ek aan jou

aan jou kan klou

sonder gevaar

van ’n steekwond

deur die long

 

Die eerste afvallige

op die eerste vrydagaand

was daar ’n moerse office

party in die hemel. niemand

kan meer veel daarvan onthou

nie maar almal weet dat daar tequila

was en dat iemand met iemand

seks gehad het in ’n besemkas

 

daar is baie kak gepraat

om bakke vol kaaskrulle, die raad-

saal was ’n dansvloer en die CFO

het ’n rep gemoer. die sekretaresse

het doosdronk op ’n tafel uitgepass

en die bure het die cops gebel

om te kla oor die geraas

 

tot vandag toe wil niemand erken

dat dit hy was wat die knoppie gedruk het

toe god kaalgat en vrot van die drank

op die fotostaatmasjien gaan sit het nie

 

Lucifer is egter sonder uitbetaling

afgedank


Fotostaatmasjien is te koop teen R200. Die Kaapse bekendstelling vind plaas op die sesde Desember. Info hier.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Bibi Slippers se Fotostaatmasjien gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand