SIEP SÊ GO TO HELL 'RYMKLETS'
(lol ma' ek's ernstig)
“Soe ek was nooit die slimste in my klassie, ma’ fok’it tot vidag hiessie baie in my klassie.” So vertel SIEP (akroniem vir Siel In Elke Persoon), oftewel Martin Muller, die kunstenaar agte die production company, ILL Major. SIEP is ’n rapper, producer, hip-hop-gemeenskapsaktivis en aanbieder van ’n podcast, Potkaas, en radio show, SiepGlad op Radio Eersterivier.
Gebore innie Mosselbaai met wôtels innie Stellenbosch, Eersterivier en nou innie Durbanville, is hy betrokke in verskeie gemeenskapsbevôderingprojekte, insluitend hip-hop-wêkswinkels, Park Jams, aanbiedings by skole en voedingskemas. SIEP as Martin se poging na die greater good is gegrond in sy liefde vi hip-hop. Hip-hop is dus ’n groot deel van sy medium om wys te maak en ’n veskil te maak. Dee ILL Major wil hy die jeug bemagtig.
SIEP se wêk dra ryk boodskappe wat veelsydage wysmaking genereer. Die aktivistiese toon ko stêk dee in sy nambes soes ‘Beklemtoom’ oppie Siel In Elke Persoon-album, wa hy rap oorie sosio-ekonomiese struikelblokke in SA soes armoede en korrupsie. Nog ’n sy an sy wysmaking kom voo innie vorm van sy politieke uitkyk soes op sy radio show Siepglad, wa mense soes Fadiel Adams, die laanie vannie Cape Coloured Congress (’n politieke party wat aanspraak maak oppie regte van Bruin mense), op veskyn. Hy gebruik sy medium ommie stories vannie onderdruktes te vehef en spreek tot sy luisteraars se menswees (sien ook: SIEP se video oor Ashley Kriel, Black Panther Party).
As gesoute rapper het hy sy gelyknamige album Die Siel In Elke Persoon en sy EP Wiskunde agte sy naam. Hy gooi oek van dai SIEP-magic innie projekte van anner kunstenaars, byvoorbeeld in Niko10Long se Longevity en onlangs in Ralf Cyfers se album Oorlog Verf wat ILL Major op Januarie 2021 release het. Regdee Oorlog Verf is SIEP se vingerafdruk oppie nambes: ’n instrumentele melodie wat weef dee ’n kenmerkende hip-hop beat. Die kombinasie vannie twie elemente vorm ’n skepsel wat ’n SIEP-beat maklik uitkenbaar maak. In ‘Beginsels’, byvoorbeeld, wôt SIEP assie artist uitgelig en Martin Muller assie editor, en die spoor van SIEP as producer kom dee mettie kitaar-instrumenteel en ’n hip-hop bass.
ILL Major is gestig in 2010 dee SIEP en vanaf daai tyd het ILL Major al gekoppel met Mr DIY, Breimasjien en soe ante. Volgens SIEP operate ILL Major meer soes ’n NGO as net ’n produksie-maatskappy. Die maatskappy spog met sewe albums , die EP’s, twee films en gemeenskapsprojekte agte hulle naam. Volgens SIEP issie doel agte ILL Major ommie Bruin man se musiek, veral dié wat Afrikaans as medium gebruik, te vat na die next level en ommie jeug te uplift.
Ek het met SIEP gesels oor sy passie vi hip-hop, sy proses en hoe vê dit hom gebring’et.
CHRYSTAL: Hoe het ILL Major begin?
SIEP: Deur brasse wat ’n boodskap het en iets wil doen ter wille van os Bruin, so called Kullid, gemeenskap se vordering. Os het die NGO route getry MAAR… Lang storie kort, hulle het os gerob van dit. Greed en politiek is ’n heavy ding. Hence IMM Pty Ltd.
CHRYSTAL: Wat issie Siep-resep vi ’n lekke nambe?
SIEP: Om die waarheid te sê, dai term ’n “LEKKE nambe” laat my kop pyn. Ek doen nie dai nie, os doen EDUtainment. Miss L Hill het gesê: “See fantasy is what people want, but reality is what they need.” Ek maak elke dag nambes. Baie keer word dit nie eers ge-export na ’n mp3 of wave file nie, soes byvoorbeeld ek kan 10 beats maak dan is vyf fire en die res OK. Ek kan 10 songs maak, dan sal ek net een song gebruik vi ’n projek. Soe daar is nie ’n resep nie, soes gooi eers die uie in nie, cos in art kan ek miskien feel ek wil my uie laaste ingooi vandag, want ek soek ’n crunch effect.
CHRYSTAL: Dit kan gesê wôt dat baie van vidag se rymkletsers beweeg vannie outydse hip-hop-elemente (soes b-boys en dj cuts) af weg. Dit is elemente wat nog stêk dee’kom in jou nambes. Wat issie riede hoekom djy dai elemente eer in jou produksies?
SIEP: FIRST OF ALL is ek DONE met dai term RYMKLETS. SIEP SÊ GO TO HELL “RYMKLETS” (lol ma’ ek’s ernstig). Ek’t vir lank gerun met dit en was ’n voorstaander, MAAR ek is ’n MC/rapper. My ding is woorde en ritme. Kom ons ontleed die woord rymklets. ’n Rym is ’n herhaling van soortgelyke klanke (of dieselfde klank) in twee of meer woorde, gewoonlik in die laaste lettergrepe van reëls in gedigte en liedjies. MC/rapper is orraait, ma’ KLETS… Part twee van die antwoord is… Mense dink hip-hop is rap music, maar rap music is maar net die outcome of result van hip-hop culture. Os het ’n groot taak to keep it together, cos al die elements is separated. As ILL Major events of projects doen, is dai een van os main aims.
CHRYSTAL: In ‘Lat dit juig’ beskryf djy jou taal: “Dialek: Khoi-Coloured, praat ma’net plat Afrikaans, Kombuis-Engels.” Voel djy dis belangrik om jou taal an mense te veduidelik?
SIEP: Dit WAS belangrik vir my, maar nie meer nie. Ek gan mos mal raak as ek vir almal myself moet verduidelik. As jy my feel, sal jy gravitate towards my en as jy my nie feel nie, no hard feelings is dytlik. In terms vannie lyn innie verse, ek sê ma’net jy kan ma’ op jou phone is heeltyd, ek study my taal en geskiedenis van os mense; die original man, Khoi.
CHRYSTAL: In ‘Kom soes jy is’ oppie Siel In Elke Persoon-album sê djy: “Djy biete kom soes djy is, nie kom soes jy willie. Os compromise nie die art vi die tillie.” Innie lirieke kan ek agtekom djy issie bereid ommie integriteit van jou wêk en jou oorspronklikheid te jeopardize vi vannage kroon nie. Is da pressure om te change vi kroon en hoe bly djy getrou an wie djy is en an jou boodskap?
SIEP: Ek was ’n full time artist of at least ek het gedink ek kon doen wat ek doen en GELD maak deur my music, ek kan en ek doen, MAAR is nie ’n ding soos ek kan ’n family sustain en comfy lewe nie. Soe ja, ek sal liewer anne hustles doen om te survive cos vi ’n full time music career in SA sal jy moet compromise en die art eenkant toe stoot vir entertainment. Ek staan nie soe nie.
CHRYSTAL: Kan djy bietjie mee oo’ die ILL Major lab vetel?
SIEP: My lab was nog altyd deel van my huis, ’n kamer of ’n hoekie êrens waar die sound nie baie bounce nie. Alhoewel die goue draadjie dee die meeste vannie projekte wat ILL Major produce het, hip-hop is, is SIEP duidelik dat almal vry is om met hulle te wêk. Hy wil uitbrei en met anne kunstenaars van anne genres oek wêk. Met veskynsels op Carbars, Pasella, A Walk With Mel, Musiek Musiek en kykNET NOU!, seën SIEP meer van osse skerms met sy wêk.
CHRYSTAL: Hoekom dink djy is’it belangrik vi jou om self jou eie produksies, ennie produksies van anner, dee ILL Major te distribute?
SIEP: Os werk met baie ander production companies, os partner. “No man is an island,” sê hullle mos. Maar os moet os product deur ILL Major werk, want is belangrik dat ons dit OWN. Weet jy hoeveel mense is daar buite wat hard werk en musiek maak en hulle own nie eers hulle eie werk nie?
CHRYSTAL: Hoe voel djy oo’ die massamasjien van Afrikaans soesie Afrikaans is Groot-albums en -konserte, ennie groot Afrikaanse radiostasies? Dink jy hulle kan Afrikaanse hip-hop-kunstenaars meer support of voel djy ILL Major se produksies is te alternatief?
SIEP: Die tyd van try om op dai groot platforms te kom, is veby. Ek het besef dat instead van agter goed te chase en jou art te compromise, om by hulle agenda te probeer in fit, is nie die energie werd nie. Ek glo nie hulle het die understanding of volle begrip van die fondasie waarop hip-hop gebou is nie. Os het ’n boodskap en is gewoonlik nie deel van hulle agenda nie.