Uit die blou van jou nostalgie

Liewe alt-right Afrikanerseun: Kayla Alexander het 'n boodskap vir jou

Illustrasie: Casper Schutte

Illustrasie: Casper Schutte

Ag, hier is ons weer met Apartheid Nostalgie voor jou deur. Die goeie ou dae van drive-ins, suburban bliss (nie die TV-show nie) en FAK-treffers wat jou hart aan die sakkie-sakkie-boere dans kon klop.

Jy onthou seker al die Grens stories wat jou pa en ooms jou vertel het.  Hoe hulle die ape in die oggend skiet, en die aand aan Tante Poppie se boeretroos kon teug.  Jy verlang seker na die dae toe die rooi of groen Jeug Sangbundel die moeilikste keuse was wat jy in die kerk moes maak, en natuurlik om oom Bless se treffers op radio te hoor.

Dit het meer gereën, want die boere kon in Afrikaans bid en die paaie was skoner want die opsigters was wit.  Die somers was lekkerder, want daar was nie van “daai” miere op die strande nie, en dit was lieflik om veilig in jou white-pikket-fence huisie te bly.

Amper vergeet ek, jy kon nog jou huishulp “ousie” noem, en ag, hoe lekker was dit om die honde op die swartes uit te laat?  Jis, en wat van die dae toe vroue nog hul plek geken het?  Hulle wil mos nou net kaalbors protes en gelyke salarisse hê.  En daar was minder moffies, want Boere het mans gemaak!  

Maar… dit was nie so lekker soos wat jy dink dat was nie, my mede millennial. Vir jou is die idee van Afrikaanse Wit Heersing seker iets wat vir jou ’n piepie-styf gee. Maar jy vergeet van die diep, diep seer wat jou geliefde regime nie net aan mense van kleur na gelaat het nie.

Dis mense soos jy wat dink dis okay om Nazi-inspireerde propaganda plakkate op ’n Universiteit se kampus uit te deel, in die naam van die wit Afrikaner. Dis mense soos jy wat Afrikaner-propaganda aan die gang hou (hoes* Maroela Media en Praag). Dis mense soos jy wat dink dis all-fun-and-games om agter jou anonieme twitter-blad vir swart mense te wys jy is steeds baas.

Jy dink daar is ʼn wit genocide, maar voel ’n volle fok vir die duisende verkragtinge en moorde in townships en stede. Wit lewens is seker meer kosbaar, neh? Of is dit All Lives Matter?

Dis mense soos jy wat vergeet van die honderde mense wat gesterf het op die Grens, vir fok weet wat – insluitend jou nefies en ooms.  Jy vergeet van die gruweldade en onreg wat teen jou medemens gepleeg was.  Jy vergeet dat jou geliefkoosde kerke die vleispotte van Egipte gelek het, terwyl duisende arm blankes ook in lokasies moes bly.  Jy vergeet seker van die sanksies, en hoe bankrot en korrup die Apartheid regering ook was. En hoe hulle vroumense mishandel het in die naam van God.  En hoe hulle gay-mense vervolg het.

Ja, jou ma sou nie eens haar liewe Nataniël in die Sarie kon sien nie – want hy is alles wat jou nostalgie haat. En daai Game of Thrones, en die nuwe Fokofpolisiekar-album sou seker nie eens gebeur het nie.

As jy soek na enlightenment of om van die so-called liberals te ontvlug (jy bedoel seker mense wat nie dink Apartheid is iets om te glorify nie), vind jou pad na Noord-Korea.  Kyk hoe lekker is dit om in propaganda en nasionalistiese vreugde te lewe!

Stuur vir my sommer ʼn poskaart as jy daar is. In die naam van nostalgie en die Nuwe Regse Anglo-Afrikaner student.  

Soene xx

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Uit die blou van jou nostalgie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand