Om met pixels te toor: Andre Badenhorst se foto's
In gesprek met die fotograaf by Hell's Kitchen in Melville
Dit is ’n soel wintermiddag in die boheemse buurt van Melville. ’n Geel Tuk-Tuk kom verby gesnel. Shorty, die hawelose digter, bekoor ’n tafel neffens ons met een van haar nuutste skrywes. In ruil kry sy R5 en ’n los sigaret.
Innocent, die boeksmous, sien hoe openhartig die tafel is, en identifiseer ook ’n geleentheid om James Joyce aan die groep te probeer verkwansel.
Om in die ongenaakbare stad van Jozi te oorleef, moet jy kan hustle, en as daar nou een ou is wat weet hoe om te hustle, is dit die fotograaf Andre Badenhorst.
Die kelnerin met die bierbottelbruinoë sit ’n Amstel Lager voor hom neer. Dit is selde dat jy dié boorling van die Goudstad iets anders sien drink – hy sal soms dit afwissel met ’n tequila.
‘Taking Back Sunday’ speel in die agtergrond en Andre gee ’n snorklag.
“Fok, maar die mense hier is bietjie depro vandag.”
Hy haal ’n sigaret uit. Steek hom aan. Bol sy wange en stuur die rookwolk die lug in.
“Ja, my bra. Jy moet kan hustle. Veral as jy ’n fotograaf is. Daar is baie van ons daarbuite. Jy moet uitstaan. Jy moet jou eie styl ontwikkel, en as jy vir jouself werk, ken jy nie so ding soos ’n vakansie nie.”
Andre en sy kiekies is sinoniem met die alternatiewe musieklandskap.
As jy ’n aanhanger van Fokofpolisiekar, aKING, Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf of meer onlangs, die mumble rapper Angie oeh is, het jy al van sy foto’s gesien.
En as hy ’n kunstenaar afneem, kan jy maar weet dit is nie jou alledaagse band-foto waar die voorbok wel, voor staan met gevoude arms en die ander, minder bekende lede agter hom staan nie.
Nee, as Andre ’n shoot doen, word daar gekonseptualiseer, daar word moeite in die sets ingesit, wat hy en sy span spesiaal vir daai betrokke onderwerp bou, en daar word gespeel met bont kleure.
Hy is ’n Picasso van pixels, so gesê.
“Ek dink alles het vir my op skool begin toe ek my suster se kamera gesteel het,” lag hy en skuif die leë Amstel-bottel eenkant toe.
“Ek was 15 en vir die kunsklas het hulle fotografie begin aanbied. My suster het ’n kamera besit terwyl sy op TUT geswot het. Ek het net die kamera geleen, maar ek het groot kak gekry.”
Andre het begin eksperimenteer en sy vriende afgeneem as hulle gaan skaatsplankry het.
“Ek het toe reeds geweet wat ek met my lewe wou doen. Ek het toe al geweet ek wil ’n fotograaf word.”
Ná skool het hy ’n kursus in fotografie by ’n privaat college op Stellenbosch gaan loop.
“Hulle het ’n donkerkamer gehad. Ek het ure daarbinne spandeer en myself geleer.”
Dit was ook hier waar sy paaie met Francois van Coke en kie gekruis het.
“Toe ek op Stellenbosch was, het min mense geweet wie Fokofpolisiekar is. In die jaar wat Fokof begin het, was ek daai ou wat kaartjies met lirieke en stickers van die band uitgedeel het. Hulle het nog nie eens ’n gig gespeel nie.”
Andre het daarna deeltyds by Open Window studeer en troues begin afneem.
“Ek het vir peanuts gewerk, maar dit is waar ek geleer het om met lig te speel. In hierdie tyd het ek steeds passion projects gehad. Ek en my pelle het almal geld saam ingesit om gear te huur of te koop en shoots gedoen waar ons skate.”
In 2008 het hy en sy vennoot Maritsa Bartmann Black Frame Photography begin.
“Ons het steeds hoofsaaklik troues afgeneem, maar ook multimediaprojekte begin aanneem.”
Sy passie vir musiek en skaatsplankry is nie gedemper nie en die alternatiewe wêreld van fotografie het hom geroep.
“Skating en musiek is ’n lifestyle. Hulle gaan hand aan hand. Ek skate al van ek ses jaar oud is en ek het geweet ek gaan nooit van die leefstyl ontslae kan raak nie.
“My eerste big break was toe ek die kans gekry het om The Parlotones se album Antiques & Artefacts af te neem. Daarna het die jobs begin instroom.
“Snake (Jaco Venter) van Fokofpolisiekar het my genader om aKING se album cover te shoot en dit is ook hoe ek by die Blood Brothers Project betrokke geraak het en al die groot name in die musiekbedryf ontmoet het.”
Sedertdien het hy verskeie shoots saam met Francois van Coke, Arno Carstens, Early B, Jack Parow en selfs musiekvideos vir kunstenaars soos Jesse Clegg en Spoegwolf geskiet.
Hy is ook vir die afgelope vyf jaar ’n Fujifilm-ambassadeur.
“Dit het deure vir my oopgemaak om vir groot kliënte soos Pollen Finance, MTN, Vodacom en Nissan te werk.”
Volgens Andre is sy aweregse shoots en unieke konsepte te danke aan sy span.
“Maritsa was nog altyd ’n conceptual genius. Ons sal saam sit en aan ’n konsep dink. Lig is ook baie belangrik vir my. Ek is obsessed met lig.”
Maar moet ook nie dink Andre moet die duurste toerusting en beligting in ’n steriele omgewing hê om ’n goeie foto te neem nie.
Deesdae hou hy ook sy lyf fotojoernalis as hy stories vir Taalgenoot dek.
“Van die situasies kan nogals nerve racking wees,” bieg hy.
“Veral toe ek saam met ’n joernalis ná die onluste in Westbury so paar jaar terug, gangsters gaan afneem het en hulle sommer hulle ysters vir ons gewys het en ’n tikpyp opgesteek het.”
Maar fotojoernalistiek herinner hom aan waar hy begin het as fotograaf.
“Dit vat my terug na my roots waar ek skating afgeneem het. Niks is controlled nie. Jy werk met die lig wat daar is.”
Die voorblaaie van Taalgenoot is ook ’n besondere projek waarop Andre trots is.
Verskeie bekendes soos Elzabé Zietsman, Tinarie van Wyk-Loots, Schalk Bezuidenhout, Tarryn Wyngaard en Neil Sandilands het al op die voorblaaie gepronk.
Sy gunsteling is die voorblad wat hy saam met die akteur Gérard Rudolf gedoen het.
“Dit was my heel eerste shoot vir Taalgenoot. Hy is ’n legend. Ek het met hom op die televisie grootgeword. Dit was amazing om hom af te neem.”
Die glinsterende, groen bierbotteljies begin langs hom ophoop.
Andre steek nog ’n sigaret op.
“Weet jy, deur alles wat ek in die industrie geleer en ervaar het, is daar net een ding wat ek nog vrees – en dit is ’n kwaai skoonma by ’n troue as ek die fotograaf is.”
Hy skuif sy pet reg en wink die kelnerin nader om nog ’n Amstel te bestel.