Marlene Steyn: Between my i's: tussen my oë
'n Onderhoud met vanjaar se Woordfeeskunstenaar
Die Kaapstadse kunstenaar en beeldhouer, Marlene Steyn, is vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfeeskunstenaar met haar uitstalling Between my i’s: tussen my oë.
Op Instagram beskryf Marlene haarself bloot as kunstenaar, met die woorde “Eye want to nose you” onderaan.
Op 35 jaar oud is haar CV indrukwekkend én lank. Van haar werk is in 2017 ingesluit in Phaidon se glorieryke publikasie Vitamin C: Clay and ceramic in contemporary art. Dus nie sommer net “kunstenaar” nie, maar eerder “gesogte en bekroonde kunstenaar en beeldhouer”.
Marlene is op Stellenbosch gebore en woon en werk deesdae in Kaapstad. Sy het ’n graad in die skone kunste aan die US verwerf en ’n MA in skilderkuns aan die Royal College of Art in Londen. In die kunstenaarsbeskrywing in die Woordfeesprogram word daar melding gemaak van hoe sy graag met helder kleure en fantasie speel om beelde in droomagtige landskappe te skep. Die beskrywing gaan voort:
Steyn put inspirasie uit die psigo-analitiese teorie en gebruik herkenbare beelde uit die geskiedenis en popkultuur om die waarnemer bewus te maak van die drange in die onderbewussyn. Haar werk word vergelyk met dié van die Nederlandse meester Hieronymus Bosch, maar sy tree ook in gesprek met ander kunstenaars.
Buiten haar skilderye is Marlene ook bekend vir haar kleibeeldhouwerk. Sy speel vindingryk met vorm en kleur en moedig waarnemers aan om hulle te verlustig in ’n eie speelsheid waarvan hulle dikwels nie eens bewus was nie. Die skaal van haar beeldhouwerke het ’n omvangryke fisieke teenwoordigheid wat die toeskouer dwing tot selfrefleksie.
Soos in haar skilderye, speel sy voortdurend met vorm en kleur, iets wat spreek van spontaneïteit. Haar werk is ingesluit by verskeie versamelings, en onlangse uitstallings sluit in Home bodies by die SMAC-galery op Stellenbosch; die groepuitstalling X PINK 101 in die X-museum in Beijing, China; Non-places in die Powerlong-kunssentrum in Sjanghai; en die Kaapstadse kunsmark in die KIKS.
Op Zeitz MOCAA se webwerf lees ek hoewel haar werk met Hieronymus Bosch vergelyk word, strek haar historiese verwysings baie wyer, omdat Hokusai se Great wave in haar kunswerk The consequence of waving (2016) bespeur kan word.
“Wanneer ons ’n feeskunstenaar kies, kyk ons na ’n verskeidenheid faktore: artistieke integriteit, talent, skaal en omvang van werk, erkenning, unieke styl en bemarkbaarheid. Marlene Steyn voldoen aan al hierdie vereistes,” vertel Saartjie Botha, feesdirekteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, my. “In haar betreklik kort loopbaan is sy reeds ingesluit in internasionale en toonaangewende versamelings. Sy is veelsydig, sy skroom nie om te waag nie en lewer werk wat getuig van die intuïsie en diepgang van ’n ware kunstenaar. Daarby is sy ’n Stellenbosse boorling. Ons is baie trots en dankbaar om haar as feeskunstenaar te kan hê.”
Om meer oor Marlene te leer, gaan lees ek wyd. Keely Shinners skryf vir SMAC Gallery oor Meander me and her (2020):
Marlene Steyn’s work is all about fluidity. Fluid optics. Fluid subjects. Meanings which are fluid and therefore difficult to grasp, which might explain why viewers often call her work surreal. For me, Steyn’s work is less surreal than it is perceptive to fluxes ever-present, but often unseen. It understands embodiment as intrinsically linked to other bodies: human, animal, terrestrial, mythical, and otherwise. The question this body of work – which Steyn began to create during lockdown – asks is, how do we understand embodiment in isolation?
Dit laat my ook wyer kyk na die titels van haar uitstallings: Unbuttoning my belly; Shouty insides; Knot I : I Knot; Your skin is not the best hiding place; You can’t cry when your head is underwater; The end is located underneath her third armpit (if the muscle is flexed); en How cannibals cuddle, ter voorbereiding vir my gesprek met haar.
MARYKE: Jou uitstallings het altyd woordspelings en humor in. Hoe besluit jy daarop?
MARLENE: Ek het ’n vreemde verhouding met taal. Dit het nog altyd vir my gevoel of dit baie beperkend is: Dis ’n orde waar betekenis gegenereer word uit binêre teenoorgesteldes propvol weersprekings, kompleksiteite, drome, waansinnighede en so meer – en ek was nog altyd baie meer geïnteresseerd in die grysblou oseane tussen die pole. Vir my het kuns die krag om te “praat” van wie ons is en hoe ons voel in ons murg. Ek kan skilder hoe ek dagdroom terwyl ek oor ander goed dink, hoe my brein en my hart vassit… Dis nie iets wat maklik in woorde pas nie.
Ek hou daarvan om met woorde te speel soos wat ek met beelde speel. Hoe kan ek ’n woord dissekteer om betekenisse oop te breek? Hoe kan ek taal buig om te raak aan iets daaragter? Die titel is gereeld bietjie speels – dis ’n deur, of deure waardeur toeskouers die werke kan betree. As mens iemand ontmoet, is dit baie keer redelik intimiderend – en ’n bietjie ligtheid of ’n grappie sit jou op gemak en berei jou voor om dieper te delf in gesprekke en interaksies. Titels dien dieselfde funksie vir my skilderye.
MARYKE: Jy het al regoor die wêreld uitgestal – van Sjanghai tot Milaan; Kaapstad tot Londen; Beijing tot Stellenbosch. Wat is die moeilikste plek om uit te stal en hoekom?
MARLENE: Daar’s nie noodwendig ’n “moeilikste” nie – dis wel baie interessant hoe verskillend die reaksie is op dieselfde werke in verskillende lande. Die werke wat bietjie vreemder en donkerder is, word makliker ontvang in Londen en China, en die werke wat byvoorbeeld in gesprek is met Suid-Afrikaanse kunstenaars, soos Pierneef, word meer waardeer hier.
MARYKE: Wanneer het jy geweet jy wil ’n kunstenaar word? Kom jy uit ’n familie van kunstenaars?
MARLENE: Ek kom uit ’n groot familie van uiteenlopende persoonlikhede. My ma is ’n kunstenaar met kos en een van my sussies met woorde. Maar die meeste lede van my familie is redelike reguitdenkers. Ek is een van vier kinders. Teken is van kleins af my obsessie en manier om sin te maak uit die wêreld en om bietjie me-time te kry. Ek het vir ’n oomblik argitektuur oorweeg, omdat ek ook baie van wiskunde en probleemoplossing gehou het, maar met die hulp van aanleg- en persoonlikheidstoetse het ek vinnig besef dat die kunste my rigting is en dat ’n bietjie wiskunde ook help in die wêreld van verf.
MARYKE: Watter kunswerk het jou as kind/tiener aangegryp en jou kop aan die gang gesit oor kuns as loopbaan?
MARLENE: My hart het so bietjie uit my lyf geval toe ek vir die eerste keer Frida Kahlo se skilderye in laerskool gesien het. Daar was hartseer, hoop, pyne, vrouwees, liefde, drome, alles saamgesnoer in ’n oomblik. Ek kon van ’n jong ouderdom daarmee identifiseer. Ek kon ook myself verkyk aan die werk van die surrealiste, die details in Bosch se werke, Gaudí se argitektuur, Escher se onmoontlikhede…
MARYKE: Hoe voel jy daaroor dat mense jou werk vergelyk met Hieronymus Bosch en hoekom sê hulle so?
MARLENE: Wat ’n kompliment! Ek dink komposisioneel, en ons altwee het gereeld ’n oorvloed van fokuspunte en fyn en vreemde details. Ons altwee herhaal en verwring figure en ons werk suggereer ’n droomspasie – of een van die onderbewussyn.
MARYKE: Jy is jonk, maar het ’n baie indrukwekkende, internasionale CV. Waaraan skryf jy jou sukses toe?
MARLENE: Ek was baie geseënd om met die hulp van my ouers en grootouers my meestersgraad in Londen te kon doen, wat baie deure en netwerke vir my oopgemaak het. Maar ek glo dat as mens ’n suksesvolle kunstenaar wil wees, mens die ure moet insit. Ek werk deur vakansies en naweke.
MARYKE: Hoe werk jou denkproses en beplanning vir ’n nuwe uitstalling? Kom die titel by jou op en dan volg die werke, of is dit een werk wat jou inspireer om meer in dieselfde trant te maak wat die titel sal illustreer?
MARLENE: My denke en werke gebeur nooit op ’n voorspelbare wyse nie. Elke kunstenaar se proses sal anders lyk. Ek beplan ook nie my skilderye nie – ek spandeer tyd met die canvas en kyk wat uit wil kom. Ek spandeer ook maande aan my skilderye.
’n Skildery raak soos ’n intieme vriend en tydens al daai weke saam, praat mens met mekaar. Die skildery se titel verander soos wat die skildery verander.
MARYKE: Geniet jy dit om met kykers oor jou werk te gesels, of verkies jy dat hulle hul eie interpretasies maak?
MARLENE: Ek hou daarvan as kykers eers hulle eie interpretasie maak voor ons gesels. Ek is ook ’n een-op-een-geselser en word nogals oorweldig met groot gehore.
MARYKE: Wat was die grootste kompliment en grootste belediging wat jy al oor jou kuns gehoor het?
MARLENE: Vir my is die grootste kompliment as my werk iemand emosioneel maak. Die grootste belediging… Ek kan nie eintlik onthou nie. Ek onthou konstruktiewe kritiek en beskou dit nooit as ’n belediging nie. Ek het wel een keer iemand hoor sê: “The person who made this must have a sick and twisted mind.” Ek het myself gaan voorstel en ons het lekker gesels.
MARYKE: Wat beteken dit vir jou om die Woordfeeskunstenaar te wees?
MARLENE: Ek is nog steeds bietjie geskok en voel baie geseënd en dankbaar vir die uitnodiging. Die Woordfees is ’n hoogtepunt in Stellenbosch en ek sien veral uit daarna dat feesgangers wat dalk meer belangstel in teater/musiek, ook my werk gaan sien. Dan sien ek uit na my werk hang, om saam met my ma en pa ’n paar shows te kyk.
MARYKE: Wat kan feesgangers van Between my i’s: tussen my oë verwag?
MARLENE: Daar gaan ’n warboel van my werke wat oor die afgelope dekade gemaak is, uitgestal word. Feesgangers kan verwag dat hulle na werke gaan loer wat definitief gaan terugloer. ’n Blik in my psige wat hopelik ’n blik in hulle eie psige kan word.
MARYKE: Watter uitstalling in jou loopbaan het jou die meeste gryshare besorg?
MARLENE: Uitstallings gee gryshare. Altyd.
Deep she dive her by SMAC staan egter tog uit: Ek en my span het massiewe beelde gemaak onder ’n baie tight deadline. Mens slaap maar vir ’n paar weke nie…
MARYKE: Op watter een van jou werke en uitstallings is jy die trotsste?
MARLENE: Ek dink my solo booth by MiArt (Milan Art Fair) saam met SMAC Gallery. Daar was bamboes, muurpapier, nette, beelde en skilderye. Die atmosfeer was baie wild en as ek nou terugkyk, besef ek hoe dapper dit was.
MARYKE: Waar kom jou inspirasie vandaan?
MARLENE: Dit vloei uit my uit. Ek dink dit kom van alle komponente in my lewe. Die natuur, tyd saam met my dogter, my verhoudings, kunsgeskiedenis, argitektuur, boeke, dagdroom… Art is life.
Tydens Woordfees 2024 is Between my i’s: tussen my oë elke dag van 09:00 tot 18:00 in die US Museum oop vir die publiek. Daar is ook rondleidings waar jy na Marlene kan luister, terwyl sy haar kunswerke bespreek.
Op 2 Oktober is daar ook ’n gesprek met haar om 14:30 in die US Museum-anneks. Op 4 Oktober om 15:00 verken sy en Lezanne Viviers mode met ’n kunsinslag deur die lens van uitvoerkuns in Oude Leeskamer.