'Hoor ons moeder kreun'

Marelise van Wyk en Gerrit Loots se eko-kunsprojek

17 Panele op Haikoe-ritme is ’n gesamentlike kunsprojek deur kunstenaar Marelise van Wyk en digter Gerrit Loots. In dié uitstalling, waarin vers en grafiese drukwerk ontmoet, word daar besin oor die impak van menslike aktiwiteite op die omgewing.

Die reeks bestaan uit 17 panele. Die vyf-sewe-vyf-struktuur van die haikoe-vers, wat uit drie reëls van vyf, sewe en weer vyf lettergrepe bestaan, word ook as riglyn vir die formaat van die uitstalling gebruik: vyf panele in ’n boonste ry, gevolg deur sewe panele in die middelry, en dan die laaste vyf panele daaronder. Die eerste vyf panele is getiteld Natuur, die tweede groep Menselewens op ons planeet, en die laaste groep Die impak van ons voetspoor

“Hierdie projek tussen digter en kunstenaar het die kreatiewe intertekstualiteit van twee kunsvorme ontgin en hierdeur kon ons eerstehands en met baie bevrediging ervaar hoe die eindproduk in die verloop van ongeveer ’n jaar tot stand gekom het,” vertel Van Wyk en Loots. “Tradisioneel het die haikoe as sewentiende eeuse Japanese vers sonder rym met die natuur geresoneer; tye, seisoene, ervarings. As onderwerp vir dié projek word hierdie tradisionele gebruik van die haikoe gevolg en is die interafhanklikheid van mens en aarde breedweg as tema geneem.”

Hulle verduidelik verder dat die fokuspunt van die reeks gemotiveer is deur die broosheid van ons planeet en die onnadenkende en verrykende aksies van haar bewoners. 

Van Wyk en Loots werk sedert Augustus 2021 aan hierdie projek, wat tydens Woordfees by die Local Works kunsgalery in Drostdystraat, Stellenbosch te sien was. Die volledige digitale uitstalling kan hier besigtig word, waar die kunswerke deur voorlesings van die gedigte deur Loots vergesel word. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van 'Hoor ons moeder kreun' gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand