Bittereinder vertel 'n wilde storie
Party ingeligde mense weet Bittereinder bestaan uit drie lede, naamlik die Jakkals, die Leeu en die Perske, oftewel Jaco, Louis en Peach. Omdat ons ’n band in Suid-Afrika is, het ons almal natuurlik day-jobs. Oor die loop van die sewe jaar van Bittereinder se bestaan, wat so ’n paar honderd shows insluit, het ons dit so 99% van die tyd reggekry om al drie by al ons shows te wees. Dit klink dalk vreemd, maar daar was een of drie gevalle waar een van ons net regtig nie daar kon wees nie, en die ander twee moes maar ’n plan maak.
In die eerste paar jaar het Peach en Louis saam die beats live gemaak, en later aan het Louis ook begin om live visuals te doen by die shows waar dit moontlik was. In elk geval, seker so in 2011 rond speel ons een aand ’n show in ’n klein myndorpie wat ons liewer nie sal noem nie, (maar waar die honde vir die kinders bang is), en dit draai so uit dat Louis nie by die show kan wees nie.
Die Jakkals en die Perske klim toe in die Jakkals se Golfie en sleep ooswaarts, om te sien hoe ’n twee-man Bittereinder show sou werk – ek dink dit was die eerste een soos dit. Daardie aand staan nog steeds uit as een van die mees bizarre shows in ons altwee se loopbane (ons altwee speel al van 1998 af ons eie songs voor mense in clubs en bars en festivals, so dit staan uit bo 18 jaar en duisende shows).
Aangekom by die venue, en ons sien met verligting ons ou pel Henry van Audiotorch doen die klank, en ons voel effens verlig. Die venue self is redelik vreemd – iewers braai ’n maer skaap op ’n spit, daar’s ’n jukebox met Afrikaanse treffers wat kliphard speel, en almal wat al in die daglig by die venue is en solank bietjie pool speel (ons is vroeg daar vir die sound-check) groet ons met ’n ek-gaan-jou-nou-moer gesig. Ons het naby genoeg aan Waverley en Sunnyside groot geword om die vibe net-net te kan handle en te weet ons moet nie gesprekke begin met grappies oor myndorpe nie. Die eienares van die venue is ’n voormalige (moontlik current, dit was nie duidelik nie) 40-something stripper. Sy is moer vriendelik, baie bly dat ons daar is, en na die sound check bied sy vir ons kos uit die kombuis aan. Ons check ’n paar borde uit die hoek van ons oog en besluit om liewer die Mugg & Bean te gaan besoek. Daar is natuurlik toe nie ’n Mugg & Bean nie en ons tref die KFC.
Die show self is moer weird – in die middel van die show klim ’n ou op die verhoog en begin met Peach te gesels. In die middel van ’n song. Hy vra Peach skree-skree uit oor beats maak ensovoorts, en insist aan die einde van die geselsie om ’n selfie saam met Peach te neem, wat ’n paar keer moet gebeur want sy flash werk nie. Ek sien hierdie alles aan die gebeur agter my op die stage en probeer maar aanhou rap asof dit als deel van die plan is, en Peach doen sy beste om die musiek aan die gang te hou. Die gehoor lyk vir my en Peach soos ’n groep bonsende-zombies; dis een van die weirdste mengsels van really-feeling-it en no-idea-what’s-happening wat ons al ooit by ’n show beleef het.
Ons speel altwee ons treffers en gaan staan na die show by die merch tafel. Ek en Peach sien duidelik hoe ’n ou in ’n wife-beater met ’n paar homemade tattoos ’n Ware Verhaal CD gryp en onder sy hemp indruk, en toe ons altwee op so ’n challenging manier in die oë kyk. Ek en Peach kyk mekaar ook in die oë, knik, en kyk met ’n glimlag terug vir die ou in die vessie. Dit is duidelik in ons al drie se lyftaal dat hy maar daai CD mag kry, on the house. Ek los eintlik baie detail oor ander interessante omgang met die locals uit, maar die klimaks (amper op meer as een manier) van die aand is definitief toe “die betaling” nou moet gebeur, in harde kontant natuurlik. Die eienares (die stripper-tannie) vat verskriklik lank met die cash-up storie, en ek en Peach wag solank in die parkeerterrein, gretig om huis toe te ry na ons donker avontuur.
Ek sit sommer solank in die kar, met my hoodie op, die enjin aan, en duidelike instruksies aan Peach om gou te maak sodat ons kan fokof. Dis bitterkoud en ons is moeg en redelik uitgefreak deur die zombies, en dis nog ’n lang pad huis toe. Skielik verskyn die dame met die geld, asook haar dronk-kwaai boyfriend. Sy begin met Peach te flirt om haar boyfriend kwaad te maak. Dit werk. Ek sit met my hoodie op en rev saggies die Golfie sodat hy nie moet vrek nie. Die boyfriend slur so ’n paar dreigende stellings aan Peach, wie beleefd (en baie skilfully) besig is om vrede te behou asook te vra vir die geld, en skielik, heeltemal onverwags, gryp die venue einenares Peach aan sy broek. Sy steek haar hand (met ’n wad cash) in Peach se broek in, en los die geld net so in sy onderbroek.
Nou klim sy in die Golfie in, en begin my omhels en dankie sê vir ’n amazing show. Ek kyk stip vorentoe met my hande op die stuurwiel en mompel dat dit heeltemal OK is, ons speel graag shows. Net voor dinge heeltemal buite beheer raak, wys Peach hoekom hy een van die beste in die musiekbedryf is. In minder as drie sekondes bewerkstellig hy ’n exit plan. Hy los die geld net waar dit is, koes die boyfriend se (verstaanbare) norsheid, kry dit reg om die tannie by die Golfie uit te kry, klim self in, slat die deur toe, en ons ry blitsvinnig by daai parking lot uit en waai deur die venster vir die karwag wat met ’n verstomde uitdrukking vir ons kyk.
Ek en Louis het ’n EFT gevat vir ons split, Peach het daai cash maar self gehou.