Foto's wat die gees van Oppikoppi vasvang
Ons is bly dat Oppikoppi aanhou verander. Vanjaar was die fees se 24ste bestaansjaar – vir meer oor die geskiedenis van die fees, lees Andries Bezuidenhout se stuk Die poësie van Oppikoppi: Die cool van uncool. Die fees kan gesien word as 'n mikrokosmos van die land, as 'n saadjie wat lankal reeds geplant is, wat nou aandag en liefde nodig het om te groei. Die seisoene gaan nie altyd maklik wees nie. Oppikoppi is nie onvatbaar vir die wêreld buite die plaas se grense nie. Armoede, geweld, ongelykheid en politiek spoel oor, saam met onplesierige karakters wat die vrede kom versteur. Hierdie dinge is nie Oppikoppi nie, dit is nie ons nie. 'n Moeilike taak lê vir die feesbestuur voor, om misdaad te bekamp in 'n plek wat eintlik daar is vir die afbreek van grense. Oppikoppi was nog altyd 'n soort pelgrimstog om jouself te gaan verloor, en in dié stowwerige proses stukkies van jouself weer in te asem. Deur dik en dun.