Gee jou hart (en selfoon) vir Hillbrow
Toeris in my geboorteland
Tik “1 Lily Avenue, Berea” in Google Maps in.
Stel dit op street view.
Trek jou cursor na links.
Wat sien jy?
Vullis? Slaggate? Doringdraad? ’n Verweerde No Parking-teken deurtrek met verslete papiere wat nommers vir aborsies aanbied, en ’n garish, pers plakkaat wat ’n Live Gospel-aand adverteer?
Welcome to Your Perception of Hillbrow, om Phaswane Mpe se seminale 2001-roman Welcome to Our Hillbrow te paraphrase.
En ja-ja, pedante in ons midde. Berea is strenggesproke nie Hillbrow nie, maar die imposante, beton-behemoth by 1 Lily Avenue wat tussen die verwaarloosde park en woonstelle geleë is, het sinoniem geraak met inner city Jo’burg.
Vir menigte word Hillbrow en omgewing beskou as ’n gewelddadige, gevaarlike, dwelmbesmette gebied waar ’n mens nie durf ry nie, by verkeersligte stop nie en — oh my gawd! — vir een oomblik jou kar verlaat nie.
Dit is juis te danke aan dié beton-behemoth dat ek en my vriend Gerrie hierdie wanpersepsie van die ’Brow gaan destabilise — te voet, nogal!
Die 54-verdieping-hoë-spiraalvormige Pontetoring met ’n helderrooi Vodacom-teken wat teen sy kruin pronk, is nie net ’n ikoniese Jozi-skyline-struktuur nie, maar ook die HQ van Dlala Nje.
Hierdie organisasie, wie se naam na “just play” vertaal, is in 2012 gestig om vir die kinders van Ponte ’n omgewing te skep waarin hulle kan leer — en speel.
’n Vertrek op die onderste vlak is omskep in ’n kleurvolle area wat die ene boeke, speelgoed, rekenaars en allerlei paraphernalia is, wat vir kids ’n breë glimlag op hul bakkies sal gee.
’n Safe space aside, bied Dlala Nje onder meer begeleide toere deur Hillbrow aan. Dié dat ek en Gerrie staan en vrywaringvorms teken.
Soos ek en Gerrie vir ons gids wag, gaan swaai ons maar buite ’n gwaai. Van ons vantage point sien ons ’n vertrek met ’n spul Ponte-kinders in judo-gewaad wat al laggend hul judoka se waza’s en dochi’s naboots. (Die klasse word elke Saterdagoggend aangebied, vind ons later uit.)
Ons gids, die opgewekte 25-jarige, Soweto-born-and-bred Sfiso Zikhali, daag op.
Sfiso het onlangs teruggetrek na sy heimat toe na hy vir twee of wat jaar ’n woonstel in Ponte gehad het, vertel hy. (Die huur het tydens die grendeltyd — toe hy geen toere kon aanbied nie en dus finansieel gesukkel het — sy tol geneem, laat weet hy.)
En daar gat ons.
’n Paar strate op en na ietwat van ’n gehygery (die enigste heuwel, belowe!) kom ons tot stilstand.
Sfiso vra dat ons asseblief nie foto’s van die twee geboue weerskante van ons neem nie. Poverty porn mag nie sy lelike kop rear nie, verduidelik hy.
Op ons regterkant is een van vele ge-hijackte geboue wat jy wel in die omgewing sal sien.
Verbrokkelde balkonne. Konka-gevlekte mure. Vensters wat aan’t skerwe is. ’n Pikgitswart ingangsportaal. Die reuk van ammoniak en brandende rommel wat ’n mens meters ver tref.
Op die oorkantste hoek is die oorblyfsels van die destydse Sandringham House wat in vroeër jare deur aktiviste as hoofkwartiere gebruik is, vertel Sfiso. Wat eens ’n weelderyke Victoriaanse huis was, is deesdae ’n bouval: Seile waar die dak moet wees, half afgebrand, geen lopende water nie, ’n lendelam televisieskottel wat teen een van die oorblywende mure gemonteer is.
Ná ’n oomblik van sobering silence is ons weer aan die stap.
Sfiso lei ons deur ’n park, opgeswish met klimrame, buitemuurse gym-apparate en ’n netbalbaan, die skril klank van die fluitjie duidelik hoorbaar tussen die opgewonde krete van die meisies in hul rompies en bibs.
Die speelgebied en toerusting word nie na wense benut nie, laat Sfiso van hom hoor, en die omliggende gebied is notorious vir selfoon-gapsery.
Polisieteenwoordigheid is bra afwesig en die Hillbrowiete moet hulle gereeld na vigilante justice wend wanneer daar ’n misdaad in die strate gepleeg word, vertel Sfiso. Daar’s selfs ’n Zulu/khasi-taal kreet wat geuiter word (wat hierdie mlungu nou g’n justice doen deur dit te probeer spel nie) wat “Pasop! Boef!” beteken om die burgers van die ’Brow bedag te maak op ’n skarminkel in hul midde.
Volgende op die agenda?
“The Gumtree-wall,” skerts ’n diep-in-sy-noppies-oor-hierdie-neologisme-Sfiso.
Julle weet mos: Daardie webblad waar ’n mens derduisende tabs oopmaak op soek na ’n tweedehandse laptop, ’n nuwe hark, ’n voertuig, ’n troeteldier, you name it.
Hillbrow se weergawe van dié website is ’n muur deurtrek met advertensies vasgeplak met bubblegum. (Dink ’n bietjie terug aan hoe die onderste deel van jou skoolbanke gelyk het en ’n mens kry ’n idee van die smorgasbord van borrelgom wat teen die Gumtree-wall pronk...)
In plaas van tegnologie, tuingereedskap en tweedehandse karre adverteer dié muur hoofsaaklik verblyf; die wapperende, wit papiertjies wie se boodskappe in koki geskryf is en deesdae met masking tape vasgeplak is, bied kortstondige blyplek aan, vertel Sfiso.
Wagte wat laat werk en nie taxi’s huis toe kan neem nie. Huishulpe wat laat werk en nie saans ver wil stap nie. Inwoners met ’n spaarbed- of bank wat hulle vir ’n aand of twee kan aanbied.
Hillbrow sien om vir Hillbrow.
Ek loer ’n bietjie nader om van die advertensies behoorlik te lees:
Space available for guys. R1300. Claim and Captain. Contact 083 269 8476.
I AM LOOKING FOR A LADY OR COUPLE AT HIGH HILTON. CALL 083 688 8463.
A small bedroom 1550 call 065 655 2244.
Die Gumtree-wall bly een van die gewildste stops tydens Dlala Nje-staptogte, seg Sfiso. Nes ons volgende bestemming.
“Hillbrow toring bo my uit,” dink ek soos ek na die 269-meter-hoë Hillbrow Tower opkyk.
Het jy destyds daar gejol, sou jy met ’n revolving restaurant gegroet wees; nou is dit ’n telecommunications-toring, ’n blou Telkom-banier wat sy summit omsingel.
Sfiso lyk ewe terneergedruk dat die once-pomp’ing restaurant nou bloot nóg ’n gebou is wat data transmit.
O, en so gepraat van summits:
Soos ons Claimstraat benader (waar Sfiso laat weet dat ek liefs nie in die fietsbaan moet stap nie, aangesien dié hoofsaaklik deur taxi’s gebruik word), pause ons gou buite the one and only Summit Club, oftewel die mees happening stripclub in Hillbrow, à la Sfiso.
(Dié het ek destyds op ’n wille aand saam met my maats Wikus en Adam besoek en ’n stripper ge-short change omdat ek geen kontant byderhand gehad het nie en die ATM stukkend was, maar gelukkig kon Wikus my fooitjie settle voor die bouncer hom tot geweld gewend het. Shot, Wikus!)
Van Claimstraat beweeg ons aan Pretoriastraat toe: Dié wemel van die smouse by wie jy enige vorm van elektronika kan kry. (Selfs pirated DVD’s, seg Sfiso met ’n knowing smile oor die ouderwetse vorm van vermaak. Lekker #ThrowbackThursday daai...)
Ek vra vir Sfiso of ons verversings by die shebeen gaan geniet wat ek destyds as BPhil-joernalistiek-student tydens ’n mediatoer na Johannesburg (wat ook ’n Dlala Nje-staptog behels het) besoek het. (’n Hoogtepunt vir my!)
Sfiso skud sy kop. Ons met spys en drank beloon word terug by Ponte.
Sfiso word gereeld gegroet. Hy is al ’n fixture in die strate van Hillbrow, besef ek soos ek oor ’n plas opgedamde rioolwater spring.
Ons is omring deur kleurvolle art deco-woonstelblokke, hier en daar ’n tuin op die grondvlak sigbaar, en die strate is die ene lewe: Van skoolkinders tot rastafari tot vrouens geklee in tradisionele Afrika-drag.
Die herinnering van my eerste staptog deur Hillbrow tref my van voor af soos ons in ’n straat met kosstalletjies indraai.
Bokkoms, mopane-wurms, morog, pruime, nartjies, piesangs, gebraaide mielies, lollipops: You name it, hierdie tafeltjies het dit.
Dis juis in die straat waar ek tydens ons einste mediatoer besef het that People. Are. Living. Here.
Johannesburg is nie net die ene geboue en paaie nie, maar ook ’n plek waar mense voluit leef, stap en lag. En Hillbrow is die mees tangible ervaring hiervan.
Terug by Ponte word ons na die 51ste verdieping geneem, waar Dlala Nje ’n onthaalarea het wat ’n mens vir private parties kan bespreek, of een van hulle pizza-en-bier-aande kan bywoon. (En ja, daar is ’n hyser.)
Stap jy by die lift uit, word jy gegroet met toegemesselde venters wat in die kern van die gebou inkyk. Hot tip: Moenie te lank na ondertoe tuur nie, want die duiseligheid sal selfs die mees ervare bergklimmer laat swyg.
In die lig, ruim vertrek met tafeltjies, ’n kroeg, locally crafted kledingstukke wat te koop is en asbakkies (indien ’n mens belowe om nie op die vloer te ash nie) word ons met zamalek quarts in boere-porseleinkoppies gelawe. En om die honger te stil? Pap en morog, vir my. Pap en hoender vir Gerrie. ’n Dis wat jou nog lank ná die laaste happie sal bybly, hoor.
Om nie van die uitsig te praat nie...
Kyk jy by tamaai vensters uit, dink ’n mens net “Yoh, maar die plek sit die ‘yoh’ in ‘Yohannesburg’!”
Woonstelblokke, kerke, die Hillbrowtoring, die Sentechtoring, mynhope, parke en ja, selfs die Magaliesberge maak als deel uit van hierdie asemrowende eg-Johannesburgse toneel.
Die pensies is vol, die dors is geles en Sfiso lei ons na die laaste pitstop van ons toer: Die uitgeholde kern van Pontetoring.
Die hyser neem ’n mens net so ver en ’n mens moet die laaste paar verdiepings tot in die groot gat met ’n brandtrap afklim. Met elke tree raak die lug koeler en koeler.
En siedaar: Daar staan jy binne-in die belly of the beast van die mees ikoniese gebou in Hillbrow.
’n Mens moet stadig oor die klippertjies hier, want die grondoppervlak is bra ongelyk; die odd discarded stompie en leë KFC-boks, beentjies gestrooi, maak ook deel uit van die landskap; dit ruik na aarde.
Tonele vir ’n Resident Evil-moewie is hier verfilm, asook Neill Blomkamp se Chappie, kondig Sfiso trots aan.
Vir ’n photo opp kan ’n mens nie nee sê nie, en ek en Gerrie skarrel na ’n rots waar ons star jump-esque poses gooi; die Hillbrowse lig van bo; die Hillbrowse gebou van links, regs, voor en agter.
Die tjerrie op die koek van hierdie ervaring?
’n Rara avis, heldergroen sprinkaan wat welgeluksalig van steentjie na steentjie hop.
(Kyk hoe groot het hy geword! laat Sfiso van hom hoor, want die insek leef al vir ’n geruime tyd binne-in hierdie byna ongenaakbare omgewing. En nee, dié het ongelukkig nie ’n naam nie.)
Vir diegene wat steeds hul bedenkinge oor Hillbrow het, kan ek net seg: Not only are people living here, but grasshoppers too.
Halala, Hillbrow.
Mila is redakteur van BooksLIVE.