Sub-kultusstatus Skynmaagde, nou met ekstra eensaamheid!

Sub-kultusstatus Skynmaagde, nou met ekstra eensaamheid!

Foto's: Vivian Bester

Woordsmouse-cum-musikante kappit weer flou

Het jy al ooit per abuis tweelinge vir mekaar verwar en die verkeerde sussie gevry? Kan jy vereenselwig met ’n enkelsyfer-bankbalans? Was jy al die ene Sturm und Drang ná jy ’n extra large salami/veg pizza verslind het? Weet jy ook nie wat die Afrikaanse woord vir ’n ménage à trois is nie? 

Die Skynmaagde het jou. 

Hierdie duo (hulle staan om nine-to-five purposes as Henry Cloete en Wilken Calitz bekend) se tweede EP Nou met ekstra eensaamheid! is onlangs uitgereik en dié woordsmouse-cum-musikante kappit weer flou! 

Die Skynmaagde het destyds roem verwerf met Alombemind en aan bewind (2012) — die eerste post-apokaliptiese Afrikaanse folk-grunge band om die scene te tref, nogal. 

Hier klets hulle oor grootmens-wees, die Pandemie, kommunisme en of Joni Mitchell werklik blue hoort te voel oor haar Spotify-keuses…

MILA: Raaito, eerste dinge eerste: ’n Hutsmerk-Throwback-Thursday-vraag — wat’s die origin story van die naam “Die Skynmaagde”? 

HENRY: Terugwerp-Donderdag, inderdaad! Hoop jy publiseer hierdie onderhoud op ’n Donderdag, anders is hierdie onderhoud ’n ramp. Man, ons het destyds ’n paar liedere begin pleeg, maar nog nie ’n naam gehad nie. Ek het Wilken gebel oor iets, of hy het my gebel oor iets, of ons het mekaar gebel oor iets. Hy het hom in Stellenbosch bevind, op die kampus, en my vertel hy sien wandelende skynmaagde. Ons het toe gedink dit is ’n oulike naam wat beslis vir ons toegang tot die massa-mark sal verseker, asook internasionale faam. Ons was verkeerd. 

MILA: Julle beskryf julleself as ’n “post-apokaliptiese Afrikaanse folk-grunge” band. Hoe sal julle dié genre vir HAT-liefhebbers definieer? 

WILKEN: Post-apokaliptiese Afrikaanse folk-grunge: ’n Musiekstyl wat die nadraai van Armageddon met ongekende akkuraatheid verklank (sien: voortydige grootheidswaan) en steun op Bob Dylan en Nirvana vir haarstyl-invloede. Die term het geensins posgevat by ander soortgelyke groepe nie. Soortgelyke groepe het woordvoerders en beeldpoetsers en ook aanhangers en beleef nooit eensaamheid nie. 

MILA: ’n Mens kan aanvoer julle het kultusstatus bereik met julle eerste EP, Alombemind en aan bewind. Stem julle saam met hierdie waarneming? 

HENRY: Hmm. Waar lê die grense van kultusstatus, en hoe lyk dit? As dit beteken ’n handjievol mense was mal oor ons, dan is dit seker waar, ja. Maar ons het ook darem ’n musiekvideo op ’n nasionale platform gehad (dankie en RIV, MK). Ek ontmoet nog deesdae mense wat sê hulle is/was groot aanhangers, en dis altyd ’n riem onder die hart. Dalk was ons sub-kultus. Of die kultus van die kultus van die kultus. Meta-kultus. 

MILA: ‘Die Kommunissokkie’ het marximale aanhang geniet onder diegene wat ook Bybie se “rokkie [wil] ophef soos die werkersklas”. Is julle steeds trots(kyite) op hierdie tjoen?

WILKEN: Absoluut! Ek kry daagliks oproepe van marxiste wat rooi sokkies aan my probeer verkoop en dan ook sommer ’n oudisie wil aflê om trompet vir die Maagde te speel. Ons is nie gekant teen koperblaasinstrumente nie, maar ons is in der waarheid steeds ná jare op soek na ’n harpspeler. Die talle navrae om saam met ons te jam is als te danke aan ‘Die Kommunissokkie’. As ek reg onthou, is hierdie song iewers in Kloofstraat gekraam. Die vervlegging van skoffel en ’n gefaalde politieke bestel, steeds een van ons gunstelingskeppings.

MILA: Hoe voel dit om ’n “E” (vir “explicit”, mos) langs ’n paar van julle songs te sien pronk op Spotify?

HENRY: Haha, ek het dit self bygesit toe ek dit opgelaai het. Hoe voel dit? Wel, dit is bloot feitelik akkuraat, aangesien daar heelwat “fokke” verskyn. Snaaks genoeg verskyn daar geen “fokke” op die nuwe EP nie, noudat ek daaraan dink. Hmm. Was dit ’n bewustelike besluit? Is dit ’n swaai van die pendulum? Beteken dit die volgende EP/album sal uitsluitlik uit “fokke” bestaan? Ek gaan nou vir ’n jaar na ’n vibracrete muur staar en sal jou laat weet as ’n oomblik van helderheid opduik.

MILA: So gepraat van Spotify: Het julle dit ooit oorweeg om ’n Joni Mitchell/Neil Diamond te pull?

WILKEN: Vryheid van spraak is ’n guillotine wat oor beide links- en regsgesindes se kele blink. Hoe distansieer jy jou van haatspraak op ’n platform wat juis vryheid van musikale spraak bevorder? Na my mening voed die bandwagon-mentaliteit van Mitchell en Diamond die gewas wat Spotify artists juis uit die weg probeer ruim. Majority rules. 

MILA: Julle nuutste EP Nou met ekstra eensaamheid! is onlangs uitgereik. Vanwaar die titel?

HENRY: As ek reg onthou, het die idee vir die titel en die artwork (so ’n slegte 80’s/90’s vibe, waar ’n produk ’n sterretjie op sou kry met “Now with double the battery power!” of wat ook al, saam ontstaan, waarskynlik by ons plaaslike watergat hier in Kleinmond. Ons neem onsself nie te ernstig op as kunstenaars of as mense nie. So die idee van “nou met ekstra eensaamheid” as iets om op ’n produk te plak… Ons het seker gedink dit was snaaks? I dunno. Ek dink wel ons almal het nuwe betekenisse van eensaamheid – die lig en die donker daarvan – geleer met die pandemie. So miskien is die belofte van ekstra eensaamheid tog aanloklik vir die massa-mark. Die probleem is dan seker dat niemand na ’n show toe sal kom nie.

MILA: Lewer asseblief (tog, julle) kommentaar op die uitroepteken in Nou met ekstra eensaamheid!.

WILKEN: Daar was nie plek op die album cover vir ’n megafoonprentjie nie. Ons designer het toe met die briljante idee vorendag gekom om ’n “!” agteraan die titel te plaas. Ek was soos “Wow! Genius”. Almal wil iets verkondig, hetsy mooi tande, ’n aangename persoonlikheid, liefde vir ’n profeet. Die Skynmaagde ontbreek dramaties in hierdie aspekte. Eensaamheid is die nuwe “jy is so wonderlik en ons aanvaar jou as mens”. Waarom dan nie ’n onderstebo “i” om ons slogan uit te basuin nie?

MILA: Het die pandemie-psige enigsins ’n uitwerking op die skepping van Nou met ekstra eensaamheid! gehad? 

HENRY: Ah, ek het jou vraag voorgespring met my vorige antwoord. Ja, dit het beslis. Ook op ’n praktiese noot: Ons wou al sooo lankal weer Die Skynmaagde lewe gee, nuwe dinge skryf en opneem. Maar ons was altyd te besig met die ding of daai ding. Ek dink die pandemie het almal gedwing om hulle lewens in heroënskou te neem, om sekere dinge te prioritiseer, en om dinge wat jy wil doen te doen terwyl daar nog kans is daarvoor. Daarbenewens het Bo Burnham se Inside op Netflix, wat die pandemie en eensaamheid op ’n komiese dog deurdringe wyse uitbeeld, my nogal geïnspireer om weer musiek te maak, en daardeur draak te steek met onsself, die lewe, pligte, al die goeters wat as gewoon en ongewoon beskou word. 

MILA: Extra-large-pizzas-opvreet opsy, wat’s die slegste besluit wat julle al gemaak het? En wat was die silwerrandjie wat julle daaruit geleer het? (Real talk...)

WILKEN: Aandklas 2016, Stellenbosch.

(Drie dae voor optrede) Die Skynmaagde is (effens) in aanvraag onder studente.

“Hey, ek het ’n idee vir ’n song,” sê een van ons. “Befok!” sê die ander een. 

(Tydens gig – chorus van nuwe song) “Kopuleer in A majeur. Urineer in E mineur.” 

(Ter nabetragting) Dit is nie lekker om te sien hoe bykans 100 mense hulle koppe skud en dan hulle weg vind na ’n area in die venue waar Die Skynmaagde se klanke tot ’n minimum gehoor kan word nie. 

Les vir die dag: Moet nooit kopuleer of urineer in ENIGE toonaard nie. 

MILA: Watter raad het julle vir iemand wat ’n tweelingangs-blaps begaan het à la Andriëtte vs Antoinette? (En wat is ’n threesome in Afrikaans??) 

HENRY: Dis als in die lirieke! “As twee meisies DNS deel, tel dit as monogaam.” Probleem opgelos, geen raad nodig nie. 

MILA: In ‘Egskeiding!’ takel julle een van die mees psigologies-uitmergelende ervarings wat ’n mens kan deurmaak. Hoe het julle die balans tussen tragedie en komedie gehandhaaf met die skryf daarvan?

HENRY: Ek sal hier inspring, want ek dink dit was my idee. Dit is/was dalk nie so diep soos dit veronderstel is om te wees nie. Ek is ’n child of divorce en Wilken moes al deur daai proses gaan, so die uitmergelende faktor is iets wat ons albei ken. Maar ek het bloot op ’n dag gedink dit sal interessant wees as mens ’n liefdesliedjie doen, in die styl van iemand uitvra, maar dan eerder iemand vra (of, in die lied se konteks, VERTEL) om te skei. Trouens, ons het dit lank terug oorweeg om ’n musical comedy te skryf en uit te voer, met hierdie lied as die flagship (in daardie stadium het ek nog net die chorus gehad), en die titel: “EGKSEIDING!”. Maar dit het nooit gebeur nie, want pligte. So toe besluit ons om net die lied lewe te gee. Op die ou end speel dit amper meer uit as ’n skets eerder as ’n lied, met die scumbag verteller. Dis hoekom ons dit ook amper ’n teater-effek wou gee, en hoekom dit dus in ’n saloon vibe afspeel. Hoekom in ’n saloon vibe? Dit kan ek eerlikwaar nie antwoord nie. Dit het reg gevoel. 

MILA: Wat’s die lekkerste ding van grootmens-wees? 

HENRY: Poefdoeke ruil. Ha. Nee, as ’n mens dit ernstig moet beantwoord, ek dink dis bevrydend om, hoe ouer mens raak, meer te besef dat min dinge rêrig êrig saak maak. Soos Tim Minchin sou sê: “It’s an incredibly exciting thing, this one, meaningless life of yours.” Daai perspektief raak makliker soos mens gryser word. O, en die stywe lyf elke keer as jy net die kleinste bietjie oefening probeer doen. Dis natuurlik fantasties. 

MILA: Nou met ekstra eensaamheid! het ’n dekade ná Alombemind en aan bewind verskyn. Kan ons julle volgende EP in 2032 verwag?

WILKEN: Die Skynmaagde spaar tans vir looprame. My knie sukkel en Henry se voet bewe. Oor tien jaar spog ons beide met ’n lewenslange siekteverlofbriefie. Imagine: “Hiermee verklaar ek, dr (Shivago/Spock/Khumalo), dat beide Ewig en Blackie aan rumatiek lei en nooit weer hoef te werk nie, maar steeds volle salarisse moet ontvang.” Sodra die onkostes van albei EP’s afbetaal is, sal ons ’n a cappella album uitreik. Want die ritteltits is blykbaar nie bevorderlik vir net een noot strum nie. Dit strum sommer nog ’n duisend vir jou en dan gaan die album te lank wees en studio kostes en, en, en… ☹

MILA: *Djembe roll* Die swanesang van hierdie onderhoud: Hoe voel julle daaroor dat my WhatsApp-status (“Eet jou appels 🍏”) ’n homage aan ‘’n Boodskap van die departement van gesondheid’ is? ;) 

HENRY: Dit laat my bors swel van trots. Of dalk ’n ongeïdentifiseerde infeksie. Ek gaan hou by trots. 

Mila is redakteur van BooksLIVE.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Sub-kultusstatus Skynmaagde, nou met ekstra eensaamheid! gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand