Uitgawe 10inarie

Uitgawe 10inarie

Model: Tinarie van Wyk-Loots
Foto’s: Jana Heyns
HMU: Morné Marx
Teks: Bibi Slippers
Direksie: Juanita Køtzé

FLAMING JUNE

So, picture this, nè. Dis hier rondom negentien sestig, een en sestig, en ’n dertien, veertienjarige Andrew Lloyd Webber stap in die Weste van Londen rond. In ’n winkel sien hy ’n painting wat hom op die aangenaamste moontlike manier van binne aan die brand steek. Jy ken die gevoel, right? As jou jong oë so heftig reageer op ’n kleur, en jou sweet ruik soos naartjies? Anyway, nou’s hy all fired up soos ’n klein stoomtrein, tjoeke-paffa hol hy huis toe en sméék sy ouma om vir hom vyftig pond te leen dat hy die painting kan koop. Nou kyk, vyftig pond in die early sixties was not to be sneezed at, maar dis nie dat Ouma Lloyd Webber nie die geld gehad het nie. Nee, sy was net eenvoudig ’n fokken snob, en sê toe vir klein Andrew, “I will not have Victorian junk in my flat.” En dis die storie van hoe Andrew Lloyd Webber nie die eienaar van Flaming June geword het nie, ’n verlies wat seker vandag steeds soos ’n odd reuk aan hom klou... Maar wat weet ek nou, geen mens kan werklik ’n ander se binneste ken nie. Ek bedoel maar net: ek relate op ’n manier met Andrew Lloyd Webber, maar ook met die meisie in die oranje waas van Flaming June, die gloed in haar wange en die gespanne flex van haar voet. Sien, sy weet en ek weet dat daar altyd iemand is wat vir ons kyk, selfs wanneer ons dit nie weet nie, veral wanneer ons slaap.

VIOLET FEMME

As ’n reël bly ek goeie vriende met al my ekse. Dis nie dat ek dink dis verkeerd om heeltemal af te sny en aan te beweeg nie, you do you friend, my ding is meer van ’n kompulsie om te versamel. As jy ook ’n child of the 90’s is sal jy verstaan: hulle is soos ’n stelletjie tazo’s, en ek sal aanhou chips vreet tot ek almal het. Die enigste probleem is, daar is een donder wat my bly ontwyk. Dis meer as ’n dekade later, dude, let it go en kom ons wees vriendelik en nooi mekaar na verjaarsdagpartytjies toe en stel ons troeteldiere aan mekaar voor? Ek kan skaars onthou hoekom dit nie uitgewerk het nie, seker the usual, as ek moet raai, ek was all over the place en altyd laat of nooit betyds nie, depending how you look at it. En my extremes was baie extreme en meeste dae het ek nie geweet wat om met al hierdie energie te doen nie. So, ek kan my indink dat dit nie maklik was nie en ek sê nie ons moes saam gebly het nie. Ek wil net hê ons moet dit agter ons kan sit en in vrede vorentoe kyk. Ek sien Sondag ’n paar mense vir birthday drinks. Ek is vyf en dertig. Dit sal cool wees as jy kan kom. Hierdie is my hond, ek dink sy sal van jou hou. En hierdie is my foto’s van al my ander ekse. Smile, buddy. Ek kort ’n hele stel.

WHERE'S YOUR HEAD AT?

Ek het eenmaal vir twee dae probeer om op te hou dink. Dit was natuurlik ’n disaster. Myne is die bewussyn van ’n meerkat of ’n rot. My gedagtes skarrel. Ek moes leer om myself voor ander te handhaaf, om my liggaamshouding en gesigsuitdrukking onder bedwang te bring, om nie te laat blyk dat daar altyd iets knaag nie. Tussen mense verlaat ek soms my liggaam, en wanneer ek van ver af op die toneel neerkyk, sien ek al my selwe, versplinter, op verskillende plekke in die vertrek. Nuuskierig, versigtig, verskuil, paraat. Die vleissak bly sit, oë verstar of dofweg gefokus op iets in die verte, maar die dele wat aan die dink is is elders, ondersoekend, ’n kolonie op kloutjies wat oor teelvloere klik en aan mense se skoensole snuif. Waaksaam is ’n goeie woord. Ek dink nie ek was al ooit werklik ontspanne nie, want daar is altyd minstens een stuk van my op wag, op die agterpote, met ’n koppie wat die hele tyd eers dié kant toe dan daai kant toe kyk en kyk en kyk want wat as .. wat as... wie weet wat as, maar ek kan bedreiging aanvoel. Ek voel dit nou, en ek waarsku myself met ’n komplekse reeks blaffies, te hoog vir iemand anders om te hoor. Iets ruik af aan hierdie ou se skoenkool. Iets, of iemand, wil ons eet.

NYX

Dit gee my ’n intense pyn in die poes as akteurs lang stories spin oor al die naaaaaaavorsing en vooooooooorbereiding wat in ’n rol ingegaan het. Bly stil, bitch, ek wil niks daarvan hoor nie. Ek wil die bewyse in jou vertolking sien en voel en proe, as jy genuinely goed is, maar spaar my om godsnaam jou hele meta-narrative in die media. Ek sê hierdie nou want ek wil hê jy moet verstaan, wat ek jou nou gaan vertel gaan nie oor my, en hoe ek voorberei het om Nyx in hierdie play te speel nie. Dis net ’n fun stukkie trivia, okay? So, die director het hierdie idee gehad om haar ’n heavy smoker te maak, en dit het sin gemaak vir my, so I went with it, maar terselfdetyd is ek in my eie lewe ingesuig in die hele geskiedenis, binnewerking en minutiae van weird twitter. En as jy enige iets weet van weird twitter, dan ken jy @dril, van die famous corncob tweet? Hy’s in 2017 deur Slate gekies as skrywer van een van die beste sinne van die jaar, saam met mense soos Anne Carson en Ta-Nehisi Coates. Sy heel eerste tweet, in 2008, was net “no”. Dis dit. Dis die tweet. Vroeë aanduiding van die aansteeklike genius van sy latere werk, as jy my vra. Maar die tweet waaraan ek dink, elke keer as Nyx diep aan ’n sigaret trek op die verhoog, met soveel toewyding tot gif, is die een met die intentional typo uit 2012: who the fuck is screaming “LOG OFF” at my house. show yourself, coward. i will never log off. en eers as ek die hele ding vir myself herhaal het, dan blaas ek die rook uit. so.

INFINITY POOL

Die grootste verrassing was hoe vervelig dit voel om ryk te wees. Toe ek ’n kind was en op warm dae met my voete in ons vuil visdam gesit het, het ek gedroom van ’n infinity pool. Ek het gedink as ek eendag groot is, as ek eendag geld het, gaan alles oneindig voel en skoon en helder, die bodemlose belofte van banknootblou, en nie soos die doodloopstraat wat louwarm water en paddavisse in ’n visdam was nie. Wat ek moes leer, uiteindelik, toe ek groot is en geld het, is dat ’n infinity pool net die illusie skep van oneindigheid. Die glas wat dit afsny van die omringende landskap, daardie glas is ’n metafoor vir hoe verveeld en afgesny ek heeltyd voel. En dit, in kort, is hoekom ek begin het om my geld vir die kunste te gee. Die Kunste, haha, met ’n hoofletter, as ek die uitgawe aan SARS verduidelik. Sien, ek kort ’n uitlaatklep, ’n manier om die inhoud van my infinity pool déél te maak van die wyer wêreld. Ek wil hê dat iets uit my moet vloei, al is dit met ’n ompad. Soms as ek alleen in hierdie mansion rondsweef, dans ek, ja, of neurie so paar note. Ek het selfs al ’n verfkwas in die swembad gedip en gekyk hoe die pigment die water vlek. Ek’t dié rok laat maak om my aan daardie oggend te herinner, die waterverf in die infinity pool was ’n hele play.


Deel van die reeks Klyntjies